
Vers en Klank
740 episodes — Page 7 of 15

Vers en klank 27 Oktober 2020
Die skrywer, digter, sanger en teoloog Koos van der Merwe is in die ateljee. Hy is veral bekend vir sy tydskrifrubrieke en Afrikaanse vertalings van Leonard Cohen en Bob Dylan se werk. Hy lees gedigte voor uit sy bundels, en ons luister na van sy selfgeskrewe liedjies asook 'n vertaling van 'n Leonard Cohen-lied.

Vers en klank 20 Oktober 2020
Antoinette Kellermann lees gedigte voor uit Antjie Krog se oeuvre. Krog is nie net 'n briljante digter is nie, maar is ook al 'n kulturele bemiddelaar genoem. Ons vier 50 jaar van haar digkuns. Haar eerste bundel het in 1970 verskyn toe sy 18 jaar oud was. Krog verjaar ook hierdie week, so dis 'n dubbele viering.

Vers en Klank 13 Oktober 2020
Anrich Herbst lees gedigte voor uit Gelykmaker - Covid 19 gedigte, saamgestel deur Fanie Marais. Dis opgedra aan slagoffers van Covid-19 en aan elkeen wat deur 'n ondenkbaar veranderde leefwyse ingrypend geraak is sedert Maart 2020. Die gedigte waarna ons luister is verskillende mense se perspektiewe op die inperking en grendeltyd wat Covid-19 tot gevolg gehad het asook die hartseer, afsondering en die verlies aan lewe en werk. Om vir 'n oomblik stil te staan voor die gejaagdheid ('n virus van 'n ander aard) ons weer beetkry en nie te vergeet nie. Nie vas te klou nie, maar te ont-hou wat met ons gebeur het. Om ons bewus te maak van die wye spektrum van belewenis wat mense het. Soos iemand gesê het: Dis dieselfde storm, maar ons is nie almal in dieselfde bootjie nie.

Vers en Klank 6 Oktober 2020
Waldemar Schultz lees gedigte voor uit Johan Myburg se Uittogboek, wat vanjaar met die Hertzogprys bekroon is. Die digter is vir baie van ons luisteraars geen onbekende nie omdat hy ook op Skrywers en Boeke gesels rakende internasionale letterkunde. Hy is verder ook kunsskrywer. Uittogboek is Myburg se vierde digbundel. Hy het 25 jaar gelede ook die Eugene Marais-prys met sy bundel Kontrafak gewen. Soos Tom Gouws in sy resensie skryf: Myburg is 'n digter wat hom langsaam haas - hy word bepaald nie deur 'n publikasiewaansin gedryf nie - maar dis absoluut die wag werd.

Vers en klank 29 September 2020
Chris van Niekerk lees gedigte oor diere uit die bloemlesing, Faune, saamgestel deur T.T. Cloete. Daar is verse van Totius, C.L. Leipoldt, J.F.E. Celliers, C.M. van den Heever, W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Uys Krige, Elisabeth Eybers en B.J. Toerien.

Vers en klank 22 September 2020
Die akteur, skrywer, regisseur, vervaardiger en musikant Gideon Lombard deel sy daaglikse ritme en ervaring aan die hand van gedigte deur Lina Spies, Joan Hambidge, Loftus Marais, Carel Anthonissen, T.T. CLoete en Louw Venter.

Vers en klank 15 September 2020
Rolanda Marais lees gedigte oor kleur en ons digters se kleurryke waarnemings. Daar is verse deur Wilma Stockenström, Sheila Cussons, Petra Müller, Johann de Lange, H.J. Pieterse, Ingrid Jonker, Eveleen Castelyn en Johannes van Jerusalem.

Vers en klank 8 September 2020
Die gedigte waarna ons luister, gaan oor die sintuie en ons digters se sintuiglike waarnemings. Dean Balie lees verse van Ingrid Jonker, Sheila Cussons, Petra Müller, Jeanne Goosen, Peter Blum, George Weideman, Nathan Trantraal, De Waal Venter se vertalings van Pablo Neruda en Adam Small.

Vers en klank 1 September 2020
Dis Lentedag, en ons luister na gedigte oor lente, blomme, tuine en nuwe groei. Jy kan uitsien na gedigte deur Ingrid Jonker, Sheila Cussons, A.G. Visser, Martjie Bosman, Petra Müller, Zandra Bezuidenhout, C.M. van den Heever en Johann de Lange. Karli Heine is die voorleser.

Vers en klank (NP van Wyk Louw) 27 Augustus 2020
Dis NP van Wyk Louw-maand op RSG, en in hierdie spesiale uitsending van Vers en Klank luister ons na van sy poësie en toonsettings wat geïnspireer is deur sy gedigte, asook grepe uit sy prosa. Wessel Pretorius gaan die gedigte voorlees en jy kan uitsien na toonsettings deur Herman van den Berg, Laurinda Hofmeyr en Leon Gropp.

Vers en klank 25 Augustus 2020
Dis Vrouemaand, en ons luister na gedigte deur vroue, oor vroue. Die gedigte kom uit 'n nuwe bundel,Vers en Vrou uitgegee deur Human & Rousseau. Jy kan uitsien na gedigte deur Petra Müller, Lina Spies, Wilma Stockenström, Ina Rousseau, Amanda Strydom, Jelleke Wierenga, Corne Coetzee, Carol Clark en Marlise Joubert. Marion Holm is die voorleser.

Vers en klank 18 Februarie 2020
Dis Vrouemaand, en in Augustus se uitsendings luister ons na gedigte deur vroue, oor vroue. Die gedigte kom uit 'n nuwe bundel, Vers en Vrou, uitgegee deur Human & Rousseau. Jy uitsien na gedigte deur Ronelda S. Kamfer, Bibi Slippers, Ingrid Jonker, Mari Grobler, Diana Ferrus, Jolyn Phillips, Shirmoney Rhode, Corlia Fourie en Petra Müller.

Vers en klank 11 Februarie 2020
Dis Vrouemaand, en in Augustus luister ons na gedigte deur vroue, oor vroue. Die gedigte kom uit die bundel, Vers en Vrou, uitgegee deur Human & Rousseau. Jy kan uitsien na gedigte deur Marlise Joubert, Lina Spies, Rosa Keet, Sheila Cussons, Wilma Stockenström, Joan Hambidge, Ronel Nel, Antjie Krog, Riana Scheepers en Olga Kirsch. Martelize Kolver is die voorleser.

Vers en klank 4 Februarie 2020
Dis Vrouemaand. Luister na gedigte deur vroue, oor vroue. Die gedigte kom uit 'n nuwe bundel, Vers en Vrou, uitgegee deur Human & Rousseau. Cintaine Schutte lees verse van Fransi Phillips, Marlise Joubert, Bibi Slippers, Antjie Krog, Petra Müller, Corne Coetzee en Sarina Dönges.

Vers en Klank 28 Julie 2020
Luister na enkele van die mooiste toonsettings in Afrikaans. Jy kan uitsien na gedigte deur C. Louis Leipoldt, Ingrid Jonker, N.P. van Wyk Louw, Adam Small, W.L. van der Merwe, Antjie Krog, Koos du Plessis en Petra Müller. Die uitvoerende kunstenaars is Gert Vlok Nel, Laurika Rauch, Leon Gropp en Anna Davel, Tygerberg Kinderkoor, Inge Beckmann, Dean Balie, Laurinda Hofmeyr, Koos du Plessis en Lize Beekman.

Vers en Klank 21 Julie 2020
Luister na gedigte uit T.T. Cloete se tiende digbundel van 2014, Karnaval en Lent. Dit is 'n tydlose bundel wat vrae vra oor die aard van die mens, die aarde en die dood. De Klerk Oelofse lees 'n paar van sy gunsteling gedigte uit hierdie omvangryke bundel deur sy gunsteling digter voor.

Vers en Klank 14 Julie 2020
Joanie Combrink lees gedigte oor die winter deur van ons land se mees deurwinterde digters. Jy kan uitsien na gedigte deur Petra Müller, Wilma Stockenström, Marlise Joubert, George Weideman, N.P. van Wyk Louw, Sheila Cussons en Elisabeth Eybers.

Vers en Klank 7 Julie 2020
Pieter van Zyl lees gedigte voor uit die digter en sanger, Gert Vlok Nel, se debuutbundel, om te lewe is onnatuurlik, waarvoor hy in 1995 die Ingrid Jonker-prys ontvang het. Soos Joan Hambidge skryf: "Gert Vlok Nel het met een digbundel kultusstatus bereik." Dis 25 jaar later, maar steeds is die tydlose gedigte daarin aangrypend.

Vers en Klank 30 Junie 2020
Tinarie van Wyk Loots lees gedigte voor uit die literêre vertaler, dosent en digter Gisela Ulyatt se debuutbundel, Die waarheid oor duiwe, wat vanjaar verskyn het. "Die bundel is 'n besondere versameling verse oor kortstondigheid, broosheid en verganklikheid" - Amanda Lourens.

Vers en Klank 23 Junie 2020
Petru Wessels en Carel Trichardt lees goue gedigte, meestal klassiek en baie bekend, met hier en daar 'n uitsondering. Jy kan uitsien na gedigte van Antjie Krog, Hans Andreus, Ina Rousseau, Totius, Breyten Breytenbach, Theunis Engelbrecht, D.J. Opperman, Boerneef, Ingrid Jonker, N.P. van Wyk Louw, Jan F.E. Cilliers en Philip de Vos.

Vers en Klank 16 Junie 2020
Petru Wessels en Carel Trichardt lees goue gedigte voor, meestal klassiek en baie bekend, met hier en daar 'n uitsondering. Jy kan uitsien na gedigte van Breyten Breytenbach, Totius, Lina Spies, Eugene Marais, N.P. van Wyk Louw en Mardene Marais.

Vers en Klank 9 Junie 2020
Nicole Holm lees gedigte voor uit Jeanne Goosen se laaste bundel wat vroeër vanjaar verskyn het: Het jy geweet ek kan toor? Die digter, dramaturg, kabaret-, prosa en rubriekskrywer is verlede week oorlede.

Vers en Klank 2 Junie 2020
Danie Marais, bekroonde digter, skrywer, joernalis, radio-aanbieder, musiekkenner, ensovoorts, lees van sy ongepubliseerde en nuwe gedigte voor.

Vers en Klank 26 Mei 2020
Luister na 'n verskeidenheid gedigte deur 'n verskeidenheid digters, voorgelees deur verskillende lesers. Ons noem dit grendelgedigte. Elke voorleser het 'n gedig of twee gekies wat vir hom of haar iets besonders beteken in hierdie tyd van inperking. Jy kan uitsien na gedigte deur Petra Müller, George Weideman, Breyten Breytenbach, Herman de Coninck, Antjie Krog en H.A. Fagan. Die voorlesers is Anna-Mart van der Merwe, Sophia Passerini, Albert Maritz, Gideon Lombard, Jana Kruger en Marion Holm.

Vers en Klank 19 Mei 2020
Luister weer na 'n verskeidenheid gedigte deur 'n verskeidenheid digters, voorgelees deur verskillende lesers. Ons noem dit grendelgedigte. Elke voorleser het 'n gedig of twee gekies wat vir hom of haar iets besonders beteken in hierdie tyd van inperking. Jy kan uitsien na gedigte deur Donald W. Riekert. Sheila Cussons, Antjie Krog, Danie Marais, Carina Stander, Stephan Bouwer, Wilma Stockenström en Walter Brueggemann. Die voorlesers is Joanie Combrink, Jani Greeff, Wynand Kotze, Erica Wessels, Pieter van Zyl en Susanne Beyers.

Vers en Klank 12 Mei 2020
Luister na nog 'n verskeidenheid gedigte deur 'n verskeidenheid digters voorgelees deur verskillende lesers. Ons noem dit sommer grendelgedigte. Elke voorleser het 'n gedig of twee gekies wat vir hom of haar iets besonders beteken in hierdie tyd van inperking. Jy kan uitsien na gedigte deur Gerard Scholtz, Carina Stander, Hilandi du Toit, T.T. Cloete, Zandra Bezuidenhout, Ingrid Jonker, N.P. van Wyk Louw en Ronelda S. Kamfer. Die voorlesers is Ronel Geldenhuys, De Klerk Oelofse, June van Merch, Roeline Daneel, Rolanda Marais, Dean Balie, Wessel Pretorius en Ira Blankenberg.

Vers en Klank 5 Mei 2020
Luister na gedigte deur 'n verskeidenheid digters, voorgelees deur verskillende lesers. Ons noem dit Grendelgedigte. Elke voorleser het 'n gedig of twee gekies wat vir hom of haar iets besonders beteken in hierdie tyd van inperking. Jy kan uitsien na gedigte deur Hilandi du Toit, T.T. Cloete, Elisabeth Eybers, Ilse van Staden, Antjie Krog, Ina Rousseau en Loftus Marais. Die voorlesers is June van Merch, Anrich Herbst, Martelize Kolver, Cintaine Schutte, Roeline Daneel, Johann Nel en Elsabe Daneel.

Vers en Klank 28 April 2020
Luister na gedigte oor digterskap, en verse van digters in gesprek met ander digters. Vele gedigte word geïnspireer en opgedra aan ander digters, en ons luister na enkele van die op eie bodem. Jy kan uitsien na gedigte deur Adam Small, Lina Spies, Pieter Odendaal, Izak de Vries en Daniel Hugo.

Vers en Klank 21 April 2020
Die bekroonde digter Nathan Trantraal kuier by Friede van den Heeerv in die ateljee om gedigte voor te lees uit sy nuwe bundel, Oolog. Iemand beskryf dit so: "Trantraal vind poësie waar ander digters te bang is om te soek."

Vers en Klank 14 April 2020
Bekroonde digter Ronelda S. Kamfer gesels en lees gedigte voor uit haar nuwe (vierde) bundel, Chinatown. Hierin bied sy opnuut poësie met 'n emosionele slaankrag wat die leser nie onaangeraak sal laat nie. Geslagspolitiek word ondersoek deur 'n vrouestem wat opklink teen die patriargie. Kwessies wat deel vorm van die huidige sosiopolitieke diskoers – vrouemishandeling, rassisme en armoede – kom aan die bod, maar word met 'n diep menslikheid hanteer.

Vers en Klank 10 April 2020
Oordink en herdenk Goeie Vrydag saam met ons digters. Chris van Niekerk en Susanne Beyers is die voorlesersvan gedigte van Breyten Breytenbach, I.L. de Villiers, Arina Prinsloo, Lucas Malan, Ingrid Jonker, Cas Vos, Lina Spies, Linda Rousseau, Lea Rossouw, Adam Small, W.E.G. Louw, Sheila Cussons, I.D. du Plessis en N.P. van Wyk Louw.

Vers en Klank 7 April 2020
Pieter van Zyl lees gedigte voor uit Cas Vos se elfde bundel, Vlug van die gees. Resensent Dewald Koen skryf: "Die bundel as geheel fokus veral op menslike verganklikheid, die ars poëtika en faktore wat mense daagliks affekteer soos 'n gebrek aan liefde en deernis, verlies, siekte en die sosiale uitdagings wat ons in die gesig staar." 'n Bundel vir die tyd waarin ons ons tans bevind.

Vers en Klank 31 Maart 2020
Luister na wonderlike, klankryke gedigte uit Thomas Deacon se nuwe bundel, Duifiedorings. In Breyten Breytenbach se woorde: "Die man se menslikheid, oopheid vir ander en vir die omgewing, die rykheid en tekstuur van sy woorde en daarom sekerlik van sy kennis - is wonderlik om in te neem. Hy raak vir my op werklik inspirerende maniere aan wat dit beteken om digter te wees in hierdie land. En met die voelers en die sap en die sintuie van die digter maak hy die land 'n werklikheid, syne en daarom ons s'n, wat soveel verder gaan as grense en klimate." Dean Balie, wat die landskappe wat Deacon in die bundel beskryf soos die palm van sy hand ken, lees die gedigte voor.

Vers en Klank 24 Maart 2020
Die digter en vertaler, Daniel Hugo, gesels oor, en lees gedigte voor uit die nuwe bundel wat hy vertaal het, DIE SINGENDE WÊRELD. Die oorspronklike bundel is geskryf deur Marc Tritsmans, 'n Vlaamse digter en wetenskaplike. Dit spreek veral ekologiese kwessies aan. Joan Hambidge skryf in die resensie: "Dis 'n bundel vir George Claassen en predikers. Vir gewone lesers en poësieliefhebbers. Nog 'n bundel wat die vertaalskat vir Afrikaanse lesers verruim met dank aan die vertaler en Naledi."

Vers en Klank 17 Maart 2020
Die digter Diana Ferrus lees gedigte voor uit haar roerende bundel, Die vrede kom later, wat opgedra is aan haar pa. Die gedigte handel oor die post-traumatiese stres wat soveel mans ná die Tweede Wêreldoorlog deurgemaak het, en hoe dit op intieme vlak hulle gesinne beïnvloed het met hulle terugkeer huis toe.

Vers en Klank 10 Maart 2020
June van Merch lees gedigte en los gedagtes van Jeanne Goosen.

Vers en Klank 3 Maart 2020
Rolanda Marais gedigte uit die Antjie Krog se pragbundel, Fynbosfeetjies, met illustrasies deur Fiona Moodie. Dit bestaan uit 16 gedigte gebaseer op allerlei fynbosspesies wat elk geassosieer word met 'n unieke fee.

Vers en Klank 25 Februarie 2020
Martelize Kolver lees gedigte met die tema, DIGTERS IN GESPREK MET HEILIGES. Mense wat, in Adam Small se woorde, deurdrenk is van ware menslikheid. Jy kan uitsien na gedigte deur Cas Vos, Koos van der Merwe, Johann de Lange, Sheila Cussons, I.L. de Villiers, N.P. van Wyk Louw, Ina Rousseau, Tom Gouws, Clinton V. du Plessis en Mellet Moll.

Vers en Klank 18 Februarie 2020
Amor Tredoux lees gedigte oor grond. Digters herinner ons telkens daaraan om naby die grond te leef, ons behoefte aan grondbesit en ons eie grondigheid. Jy kan uitsien na gedigte deur Cas Vos, Pieter Odendaal, Koos van der Merwe, Antjie Krog, Ingrid Jonker, Daniel Hugo, Gilbert Gibson en T.T. Cloete.

Vers en Klank 11 Februarie 2020
Jana Kruger lees gedigte oor reën, wat vir Suid-Afrikaners 'n spesiale bekoring inhou en 'n gans ander betekenis kry, veral in 'n tyd wanneer groot dele van die land gebuk gaan onder droogte. Jy kan uitsien na gedigte deur C. Louis Leipoldt, Nini Bennett, Hilda Smits, Petra Müller, Cas Vos, Pieter Odendaal, Koos van der Merwe en Ingrid Jonker.

Vers en Klank 4 Februarie 2020
Anrich Herbst en Roeline Daneel lees gedigte oor wind, wat nie eintlik 'n lied in die hart bring by meeste mense nie, maar wel gedigte uit ons digters se penne laat vloei. Jy kan uitsien na gedigte deur Cas Vos, Marlise Joubert, Zandra Bezuidenhout, De Waal Venter, Daniel Hugo, Pieter Odendaal en Koos du Plessis.

Vers en Klank 28 Januarie 2020
Bome het 'n onbeskryflike uitwerking op die mens se psige waaroor ons digters so dikwels skryf. Joanie Combrink en Charlton George is die voorlesers van gedigte deur Adam Small, Marlise Joubert, Antjie Krog, De Waal Venter, Hilda Smits, Louis Esterhuizen, Christo van der Westhuizen, Jan de Bruyn, Daniel Hugo, Nini Bennett en Johann de Lange.

Vers en Klank 21 Januarie 2020
Luister na gedigte oor berge, daardie fassinerende landskappe wat so bepalend is vir lewe. Wessel Pretorius is die voorleser. Jy kan uitsien na gedigte deur Breyten Breytenbach, Pieter Odendaal, De Waal Venter, Ronelda Kamfer, Marlise Joubert, Daniel Hugo en Louis Esterhuizen.

Vers en Klank 14 Januarie 2020
Luister na van die mooiste gedigte deur Petra Müller wat vanjaar 85 jaar oud is. Dit sou baie moeilik wees om die Afrikaanse digkuns en boekebedryf in sy geheel sonder haar in te dink. Die verse waarna jy kan uitsien, kom uit die bundels Die aandag van jou oë en Om die gedagte van geel. Juanita Swanepoel is die voorleser.

Vers en Klank 7 Januarie 2020
Digter Hannes Visser praat oor sy bundel DIE JAAR TOE PA... wat in 2019 uitgegee is. Dit is 'n roerende terugblik op sy lewe. Dit is die jaar 1967. 'n Tienjarige seun in 'n disfunksionele mynwerkshuis op die Wesrand is aan die woord. Met gestroopte verse vertel hy van die mense wat instaan, en help om sin te gee aan wat om hom gebeur. Deur hierdie gedigte ervaar die leser die absurditeit van die staatstelsel in die jare sestig en die wyse waarop 'n kind sin maak van wat in die grootmenswêreld aangaan.

Vers en Klank 31 Desember 2019
Die digter-akademikus Hein Viljoen gesels oor sy nuwe bundel, Brisant, wat vanjaar verskyn het. Dit is 'n lang verhalende (epiese) gedig en bied 'n kykie in die alledaagse lewe en minder alledaagse fantasieë van Jan Human, 'n universiteitsdosent. Dis vol subteks, interteks, vuur, en dalk 'n bom of twee wat bars.

Vers en Klank 24 Desember 2019
In hierdie spesiale uitsending van VERS EN KLANK vier ons Kersfees met gedigte van ons grootste digters en musiek van oraloor. Johann Nel, Elsabe Daneel en Dean Balie is die voorlesers. Daar is gedigte van Wynand Retief, Sheila Cussons, Antjie Krog, Adam Small, Lina Spies, Jeanne Goosen, Eveleen Castelyn, NP van Wyk Louw, Diana Ferrus, Donald Riekert, Rene Bohnen, Francilie Hoek, Johann de Lange, Uys Krige, Daniel Hugo, Bernard Odendaal, Fanie Olivier, Clinton V. du Plessis en Rien Joubert.

Vers en Klank
Die pianis en performance poet, Lara Kirsten, praat oor haar lewe as rondreisende kunstenaar, wat sommer enige plek op 'n fiets sal klim en dit ry, 'n klavier sien en dit speel, 'n verhoog skep uit 'n klip en begin dig. Lara lees so van haar innigste gedigte oor Afrika, oor musiek en oor haar geliefdes voor.

Vers en Klank
Chris van Niekerk lees verse deur een van ons veelsydigste skrywers en digters, Dolf van Niekerk, wat vanjaar 90 jaar oud geword het. Ons gaan luister na gedigte uit sy laaste bundel, Berigte uit die skemerland, wat vanjaar verskyn het, en na 'n paar verse uit sy vorige bundel, Portrette in my gang.

Vers en Klank
Die digter en sangeres, dosent en woordswerwer, Jolyn Phillips, gesels oor haar debuutbundel, Radbraak, wat in 2017 verskyn het en vanjaar benoem is vir die Ingrid Jonker-prys. Volgens die bekroonde digter, Petra Müller, is Radbraak 'n klein aardbewing van 'n bundel, en dat die digter die engel in die klip beet het. Phillips is 'n jong stem in Afrikaans wat gehoor móet word. Jy kan ook uitsien na 'n hele paar snitte waar Jolyn van haar verse voorlees, en Riku Lätti die agtergrondmusiek maak.