
Vers en Klank
740 episodes — Page 4 of 15

Vers en klank 8 Augustus 2023
Sophia van Taak gesels Tom Dreyer oor sy debuutbundel, Nou in Infrarooi. Dreyer lees van sy gedigte uit dié versameling voor, en Riku Lätti verskaf agtergrondmusiek.

Vers en klank 1 Augustus 2023
Luister na die derde en laaste aflewering in die reeks oor insekte. Die gedigte word voorgelees deur Joanie Combrink, Marlo Minnaar en Lochner de Kock.

Vers en klank 25 Julie 2023
Luister in die tweede aflkewering in ’n reeks van drie oor insekte na gedigte oor dié insekte wat in ons tuine leef – die kewers, bidsprinkane, slakke en wurms… Die voorlesers is Marlo Minnaar, Joanie Combrink en Lochner de Kock.

Vers en klank 18 Julie 2023
Luister na die eerste in ’n reeks van drie programme oor insekte. Sophia van Taak kyk na gedigte oor die insekte wat ons in ons huise aantref – muskiete, kakkerlakke, muggies en motte… Die voorlesers is Marlo Minnaar, Joanie Combrink en Lochner de Kock.

Vers en klank 11 Julie 2023
Sophia van Taak en die voorleser Ronel Geldenhuys sit die reeds oor die dood voort. Daar is gedigte deur onder andere Jeanne Goosen, Lucas Malan en Wilma Stockenstrom.

Vers en klank 4 Julie 2023
Sophia van Taak roer ’n gewigtige tema aan - die dood. Ons sterflikheid is vir die meeste mense ’n ongemaklike gedagte, een wat jou selfs bang maak. Wat het ons digters hieroor te sê? Hoor hoe húlle die dood probeer uitpluis. Die voorleser is Ronel Geldenhuys.

Vers en klank 27 Junie 2023
Laasweek, toe die groot kouefronte die land so hard getref het, het Sophia van Taak en die voorleser Marlo Minnaar op Vers en Klank reggesit met die ’n rits mooi gedigte oor onweer en storms. Vanaand sit dié twee die tema voort, met Marlo wat gedigte oor die reën voorlees.

Vers en klank 20 Junie 2023
Ons luister na gedigte oor storms en onweer. Daar is heelwat verse deur Ina Rousseau en D.J. Opperman, asook gedigte deur Daniel Hugo, Fanie Olivier en Celest Fritze om na uit te sien. Die voorleser is Marlo Minnaar.

Vers en klank 13 Junie 2023
Wonder jy party dae: Het die lewe dan hoegenaamd betekenis? Of is dit maar net ’n vervelige gesukkel van geboorte tot die dood? Toemaar, jy’s nie alleen nie! Karli Heine lees gedigte voor deur talle digters wat dié onsekerheid deel.

Vers en klank 6 Junie 2023
Sophia van Taak blaai deur M.M. Walters se debuutbundel, Cabala. Walters word beskou as die grootste satirikus in die Afrikaanse digkuns, en het met sy vlymskerp waarnemingsvermoë en raakvatwoorde menige heilige koei in ons kultuur bygekom. Die voorleser is Johann Nel.

Vers en klank 30 Mei 2023
In die tweede aflewering oor briewe is daar gedigte deur Hennie Aucamp, Barend J. Toerien, T.T. Cloete en Breyten Breytenbach. Die voorleser is Chris van Niekerk.

Vers en klank 23 Mei 2023
In die eerste van twee programme oor briewe, luister ons na gedigte deur onder andere Jannie Malan, Elisabeth Eybers en Fanie Olivier, soos voorgelees deur Susanne Beyers.

Vers en klank 16 Mei 2023
Koos du Plessis was eerstens bekend as musikant. Maar dié geliefde liedjieskrywer was ook ’n digter uit wie se pen daar twee bundels verskyn het. Ons luister na sy mooi musiek én gedigte, soos voorgelees deur Johann Nel.

Vers en klank 9 Mei 2023
Komende Sondag is Moedersdag – ’n feesdag ter ere van al die ma’s en oumas. Karli Heine lees pragtige gedigte voor oor dié spesiale vroue in ons lewe.

Vers en klank 2 Mei 2023
Pieter van Zyl terug in die ateljee om vir ons nog pragtige verse oor die herfs voor te lees. Jy kan uitsien na gedigte deur onder andere Lina Spies, S.J. Pretorius, Fanie Olivier en Johann de Lange.

Vers en klank 25 April 2023
Ons is nou pens en pootjies in die herfs, en Pieter van Zyl lees gedigte voor oor hierdie mooi tyd van die jaar.

Vers en klank 18 April 2023
Glo jy in engele? Luister na gedigte oor dié beskermers, boodskappers en begeleiers van die geesteswêreld. Die voorleser is Susanne Beyers.

Vers en klank 11 April 2023
Jana Kruger lees gedigte voor uit Sheila Cussons se debuutwerk, Plektrum, en Sophia van Taak verken van die deurlopende temas in Cussons se digkuns waarmee ons reeds in hierdie eerste bundel kennis maak.

Vers en klank 7 April 2023
Chris van Niekerk en Susanne Beyers lees gedigte vir Goeie Vrydag. Daar is ook die aangrypende 14 Stasies van die Kruis-vertolking deur orrelis Winand Grundling.

Vers en klank 4 April 2023
Ons omarm beurtkrag deur te luister na gedigte oor kerse en kaggelvuurtjies - dié dinge waartoe ons ons wend wanneer dit skielik koud en donker word. Die voorleser is Johann Nel.

Vers en klank 28 Maart 2023
In die vierde en laaste aflewering in die reeks oor voëls kan jy uitsien na gedigte deur Antjie Krog, Tom Gouws, Susan Smith en Karel Prinsloo. Die voorleser is Ronèl Geldenhuys.

Vers en klank 21 Maart 2023
Ons die reeks oor voëls voort. In hierdie uitsending val die fokus op roofvoëls, en jy kan uitsien na gedigte deur onder meer Dolf van Niekerk, N.P. van Wyk Louw, S.J. Pretorius en Ernst van Heerden. Die voorleser is Chris van Niekerk.

Vers en klank 14 Maart 2023
Ons sit die reeks oor voëls voort. Jy kan uitsien na gedigte deur onder meer Tom Gouws, René Bohnen, Boerneef, Totius, Martjie Bosman en Petra Muller. Die voorleser is Jana Kruger.

Vers en klank 7 Maart 2023
In die eerste aflewering van 'n reeks oor voëls, luister ons na gedigte oor tuinvoëls – die soorte wat in die bome in en om jou tuin woon, asook die pluimvee in die agterplaas. Die voorleser is Chris van Niekerk.

Vers en klank 28 Februarie 2023
Ons blaai deur Elisabeth Eybers se debuutbundel, Belydenis in die Skemering. Hierdie versameling het verskyn toe Eybers 21 jaar oud was. Dit was ook die heel eerste bundel uit die pen van ’n Afrikaanse vrouedigter. Die voorleser is Jana Kruger.

Vers en klank 21 Februarie 2023
Luister na die laaste van drie aflewerings oor die lewe en werke van die digter Uys Krige. In hierdie uitsending val die fokus op twee van Krige se groot liefdes: die see (waaroor hy baie gedig het) en die vertaling van Spaanse gedigte. Die voorleser is Eben Genis.

Vers en klank 14 Februarie 2023
Luister na die tweede aflewering in ’n reeks van drie oor die lewe en digkuns van Uys Krige. Die voorleser is Eben Genis, en ons luister ook na klankgrepe uit die argief van ’n onderhoud wat 50 jaar gelede met Krige gevoer is.

Vers en klank 7 Februarie 2023
Vandeesmaand fokus ons op die lewe en werke van Uys Krige, die Goue Seun van die Afrikaanse literatuur. Die voorleser is Eben Genis. Ons luister ook na klankgrepe uit die argief van ’n onderhoud wat 50 jaar gelede met Krige gevoer is.

Vers en klank 31 Januarie 2023
Skakel in vir ’n tweede skoot groot skrik, wanneer ons na nóg van Dean Balie se voorlesings van gedigte oor spoke en ander grieselrige gedaantes luister. Laasweek het ons die grootmense banggepraat; vanaand is dit die kinders se beurt.

Vers en klank 24 Januarie 2023
Dean Balie lees ons lekker bang! Die program is propvol gedigte oor spoke, dierasies en dinge wat jou in die donker bekruip. Skakel in… ás jy dapper voel!

Vers en klank 10 Januarie 2023
Ons gesels oor Eugene Marais se lewe, luister na Wessel Pretorius se voorlesings van sy gedigte, en ook na ’n paar toonsettings van sy werk.

Vers en klank 3 Januarie 2023
Sophia van Taak en die voorleser, Marion Holm, blaai deur ’n paar bundels om te sien wat ons digters oor die ou- én nuwejaar te skryf gehad het.

Vers en klank 27 Desember 2022
Ons rek daardie lekker somer-see-gevoel vir oulaas uit. Luiter na gedigte oor strandsambrele, sandkastele, branders duik én mense kyk, soos voorgelees deur Susanne Beyers.

Vers en klank 25 Desember 2022
Christelle Webb Joubert lees ‘n paar ouer digters se gedigte voor oor Kersfees in hierdie spesiale Kersdagaanbieding van Vers en Klank. Die samesteller is Ina Strydom.

Vers en klank 20 Desember 2022
Die feestyd is vir baie mense eerder ’n voostyd, veral in die dolle week voor Kersfees. Hoor wat ons digters hieroor te sê het! Die voorleser is Wessel Pretorius.

Vers en klank 13 Desember 2022
Ons digters is gewoonlik baie ernstig, maar hulle kan beslis ook ’n bietjie bolla losmaak! Ons lag 'n slag net lekker vir gedigte wat snaakse stories vertel, of komiese toneeltjies skets. Die voorleser is Marion Holm.

Vers en klank 6 Desember 2022
Luister na gedigte oor ontmoetings. Sommige daarvan is ’n blye weersien met ’n ou vriend, ander ’n gemaklike oomblik in die geselskap van iemand met wie jy toevallig paaie kruis. En dan is daar ook daardie bisarre interaksies met vreemdelinge, wat ’n mens laat wonder: hoe het ek hier beland? Die voorleser is Johann Nel.

Vers en klank 29 November 2022
Karli Heine lees gedigte oor dié dinge wat ons gewoonlik miskyk en mis-ruik omdat ons nie aldag oplet nie.

Vers en klank 22 November 2022
Antjie Krog gesels oor ouer word, wat haar steeds aanspoor om te skryf, én oor ’n splinternuwe digbundel uit haar pen genaamd, Plunder. Sy lees ook van haar eie werke voor.

Vers en klank 15 November 2022
Antjie Krog was die afgelope jaar baie bedrywig. Daar’s ’n pragtige nuwe kinderverseboek uit haar pen genaamd Vetplantfeetjies, en sy was ook die samesteller van ’n bundel getiteld Mixtape van die Liefde - ’n bloemlesing van Afrikaanse liefdesgedigte.

Vers en klank 8 November 2022
In die derde en laaste aflewering in ons reeks oor troeteldiere, is daar gedigte uit doeriejare van CJ Langenhoven, pragtige verse oor katte deur hulle grootste aanhanger, Lina Spies, ’n gevatte vertaling van ’n Duitse gedig oor ’n worshond. Die voorleser is Johann Nel.

Vers en klank 1 November 2022
Luister na die tweede aflewering in ’n reeks van drie oor troeteldiere. Daar is gedigte deur Jeanne Goosen, Stephan Bouwer, Marlise Joubert en Daniel Hugo. Die voorleser is Susanne Beyers.

Vers en klank 25 Oktober 2022
Die volgende paar weke se programme handel oor troeteldiere, daardie getroue, viervoetige vriende met wie ons ons lewe deel. In die eerste aflewering luister ons na Albert Maritz se voorlesing van gedigte oor katte. Die digters aan die woord is onder meer Barend Toerien, Lina Spies, Daniel Hugo, Stephan Bouwer en Peter Blum.

Vers en klank 18 Oktober 2022
Het jy geweet dat sowat vyfmiljoen Suid-Afrikaners niks het om vandag te eet nie. Wêreldwyd gaan slaap bykans 830 miljoen mense elke aand sonder ’n krieseltjie kos in die maag. Luister na Albert Maritz se sielvolle voorlesings van gedigte oor dié deel van die samelewing wat ons so maklik miskyk – die boemelaars en bergies, die haweloses en dié wat honger ly. Dít ter herdenking van Wêreld-voedseldag.

Vers en klank 11 Oktober 2022
Vers en Klank is steeds die ene bloeisels en nuwe lewe, met die tweede aflewering in ’n reeks oor die lente. Jy kan uitsien na gedigte deur onder meer C. Louis Leipoldt, Ina Rousseau, Elisabeth Eybers en Barend Toerien. Die voorleser is Karli Heine.

Vers en klank 4 Oktober 2022
Die dae is nou so aangenaam. Oral bot bloeisels, jasmyn tuimel oor tuinmure en ’n mens kan sommer ruik dit is weer lente! Ons luister na gedigte oor dié lieflike tyd van die jaar. Die voorleser is Karli Heine.

Vers en klank 27 September 2022
Sophia van Taak gesels met digter Ashwin Arendse. Sy inspirerende debuutbundel, Swatland, het in 2021 by Kwela Boeke verskyn. Ashwin is ’n digter wat nie doekies omdraai nie. Sy verse is eerlik, ontnugterend en iets verfrissend in Afrikaans. Jy kan ook uitsien na Afrikaanse kletsrymtreffers deur kunstenaars soos Hemelbesem, Die Twaalf (van Kariega in die Oos-Kaap) en ’n nuwe stem, Roda Tabakan, uit die suide van Namibië.

Vers en klank 20 September 2022
Suid-Afrika se pragtige natuurskoon is een van ons grootste skatte, en dit is daar vir almal om te geniet – maar vir hoeveel generasies nog? Hoor wat die digters te sê het oor besoedeling en omgewingsbewaring. Ronel Geldenhuys lees die gedigte voor.

Vers en klank 13 September 2022
Ons vier in September Suid-Afrika se ryk en diverse kulture onder die vaandel van ons erfenis. Afgesien van ons ryk kulture en tale, is Suid-Afrikaners se heel grootste erfenis die land se natuurskoon. Maar ons pas nie dié erfenis so mooi op nie. Wat sal oorbly vir die volgende geslag? Luister na gedigte oor besoedeling en natuurbewaring, en waar die mens in dié prentjie inpas. Die voorleser is Ronèl Geldenhuys.

Vers en klank 6 September 2022
Die vorige twee weke het ons geluister na gedigte oor hoe die skemerte daal en dit nag word. En nou… wel, nou kom die son op! Ja, jy kan inskakel vir gedigte oor die dagbreek deur Ina Rousseau, Daniel Hugo, De Waal Venter en Breyten Breytenbach. Die voorleser is Daneel van der Walt.