
Vers en Klank
740 episodes — Page 6 of 15

Vers en klank 28 September 2021
Luister verder na gedigte uit 'n pragtige bundel wat onlangs uitgegee is deur Turksvy Publikasies met die titel. MASKERS EN MURE. Dit bestaan uit 142 gedigte, en is saamgestel deur Daniel Hugo en Francois de Jongh. In Hugo Theart, artistieke direkteur: KKNK, se woorde: "Maskers en mure is 'n uitsonderlike digbundel wat 'n blik gee op 'n waterskeidingstyd toe die wêreld deur 'n pandemie lamgelê is. Die emosies en perspektiewe van 142 uiteenlopende digstemme maak hiervan 'n tydkapsule vir toekomstige lesers. Hoofsaaklik bekende digters, maar ook nuwes, neem ons op 'n emosionele reis waarmee ons eie ervaring van Covid-19 sal resoneer." Johann Nel en June van Merch is die voorlesers.

Vers en klank 21 September 2021
Luister na gedigte uit 'n bundel wat onlangs uitgegee is deur Turksvy Publikasies met die titel, Maskers en Mure. Dit bestaan uit 142 gedigte wat saamgestel is deur Daniel Hugo en Francois de Jongh. In Hugo Theart, artistieke direkteur: KKNK, se woorde: "Maskers en mure is 'n uitsonderlike digbundel wat 'n blik gee op 'n waterskeidingstyd toe die wêreld deur 'n pandemie lamgelê is. Die emosies en perspektiewe van 142 uiteenlopende digstemme maak hiervan 'n tydkapsule vir toekomstige lesers. Hoofsaaklik bekende digters, maar ook nuwes, neem ons op 'n emosionele reis waarmee ons eie ervaring van Covid-19 sal resoneer." Ons gaan twee programme afstaan om te luister na die verse uit hierdie bundel. Johann Nel en June van Merch is die voorlesers.

Vers en klank 14 September 2021
Luister na gedigte oor kindwees, groei en grootword, ouer wees, ouer word (in jare) en die siklus van die lewe. Ma en dogter Riélle en Karli Heine lees die verse voor. Die verse is gedig deur Annesu de Vos, Antjie Krog, Lina Spies, Ingrid Jonker, Ina Rousseau, N.P. van Wyk Louw en Charlene Truter. Jy kan ook uitsien na klanke deur Koos du Plessis, Karen Zoid, Laurika Rauch, Frieda Kruger, Stef Bos en Breyten Breytenbach.

Vers en klank 7 September 2021
Waldemar Schultz lees gedigte deur Magmoed Darwiesj, soos vertaal deur Bester Meyer. In 2009 verskyn Breyten Breytenbach se bundel oor Magmoed Darwiesj: oorblyfsel / voice over wat hierdie Palenstynse digter aan ‘n Afrikaanse en Engelse leserspubliek bekend stel. Sopas verskyn Bester Meyer se Die vlug van ‘n vreemdeling, vertalings van Darwiesj in Afrikaans met inleidende refleksies deur Breytenbach en ‘n nawoord deur Shahd Abusalama. Meer as twintig digbundels en tien prosawerke verskyn uit hierdie krities bekroonde digter se pen en hy word beskou as die stem van sy mense en 'n legende. Sy verse het wêreldwyd aanklank gevind by verskillende groeperinge en word deur sowel arbeiders as skoolkinders voorgedra. Die vlug van ‘n vreemdeling beslaan meer as 300 bladsye en vir die eerste keer kan die Afrikaanse leser die trefwydte en impak van die werk van hierdie belangrike digter in sy spreektaal ervaar. Dis uitgegee deur Naledi en 'n kragtige stuk werk. In Joan Hambidge se woorde: "Bester Meyer se vertalings is aangrypend-mooi."

Vers en klank 31 Augustus 2021
Ons luister ons na verse en liedjies deur Koos Kombuis, of André Letoit (die skuilnaam wat hy vroeër gebruik het). Pieter van Zyl skuif agter die mikrofoon in en lees enkele van sy gunsteling gedigte uit drie van Letoit/Kombuis se bundels voor. "Eers was daar André le Roux du Toit wat in 1981 saam met Daniel Hugo, Peter Snyders en Etienne van Heerden in Brekfis met vier sy poetry die wêreld ingestuur het." Onder die skuilnaam André Letoit het Suburbia in 1982 en 'n tweede druk daarvan is in 2003 uitgegee. Hierdie bundel is toe gevolg deur Die geel kafee in 1985. In Dewald Koen se woorde: "Allawêreld! Daar kom Afrikaans se eie Beat generation-poet toe na vore met sy lekker loslit vrye verse vol surrealisme en dekadensie." In 2018 verskyn die bundel Vandag wil ek my blou skoene dra.

Vers en klank 24 Augustus 2021
Susanne Beyers skuif agter die mikrofoon in en lees enkele van haar gunsteling gedigte voor. Jy kan uitsien na verse deur Marlene van Niekerk, Elisabeth Eybers, Wilma Stockenström, Antjie Krog, Lina Spies, Luuk Gruwez, Philip de Vos en Olga Kirsch.

Vers en klank 17 Augustus 2021
Ons hoop dat hierdie aflewering ʼn eerste van sy soort sal wees in ʼn reeks wat fokus op plekke en streke wat as tema of gebeureruimte dien in die poësie van ʼn verskeidenheid Afrikaans digters – op die digterskontreie van Afrikaans, as’t ware. Jy kan uitsien na gedigte deur De Waal Venter, Totius, D.J. Opperman, S.J. Pretorius, Heidi Papadopoulus-Pienaar, Lewies Botha, Barend Toerien, I.L. de Villiers, Elisabeth Eybers, Emma Bekker.

Vers en klank 10 Augustus 2021
Chris van Niekerk skuif agter die mikrofoon in en lees enkele van sy gunsteling gedigte voor, met toevallig (of nie?) die leitmotif van die liefde. Jy kan uitsien na verse deur Breyten Breytenbach, N.P. van Wyk Louw, Ronnie Belcher, Peter Blum, Tessa Louw, Henning Pieterse, Churchil Naudé, M.M. Walters en Jeanne Goosen.

Vers en klank 3 Augustus 2021
Ons luister na gedigte deur Willem de Swyger. Hy is ’n voltydse regsgeleerde en ’n deeltydse sanger-liedjieskrywer, wat saam met sy gesin in die Eikestad woon. Nic de Jager lees 'n paar van sy verse voor. Ons hoor ook verse begelei deur musiek, en toonsettings en liedjies op sy album, Kaalvoet, wat in 2020 die lig gesien het. As jy vir Willem vra hoe hy oor die album voel, haal hy graag die woorde van Beethoven aan: “Uit die hart het dit gekom, mag dit weer die hart bereik.”

Vers en klank 27 Julie 2021
Juanita Swanepoel lees gedigte voor van Olga Kirsch, die Jodin wat in Afrikaans gedig het al het sy die grootste deel van haar lewe in Israel deurgebring. Daniel Hugo skryf: “Die Afrikaanse digkuns is einde(r)loos en verryk deur sy “balling”digters: Elisabeth Eybers, Breyten Breytenbach, Barend J. Toerien, P.J. Philander, Sheila Cussons. Ook Olga Kirsch is meer as net ‘n “oorwinteraar in die vreemde”; sy is ‘n digter vir alle seisoene.”

Vers en klank 20 Julie 2021
Ons bring hulde aan een van ons grootste skrywers en digters, Petra Müller, wat in Junie 2021 oorlede is. Jy kan uitsien na 'n wye verskeidenheid van gedigte en kort prosa deur Petra Müller wat voorgelees word deur Juanita Swanepoel, Margot Luyt, Anna-Mart van der Merwe, Joanie Combrink, Rolanda Marais, Marion Holm, Cintaine Schutte, Karli Heine, Elmari Johnson, Lise-Mari van Wyk en Jana Kruger.

Vers en klank 13 Julie 2021
Rolanda Marais lees gedigte voor uit Kameleon deur die Belgiese digter Charlotte van den Broeck. Die bundel is uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo. Kameleon is van den Broeck se bekroonde debuutbundel en bevat 'n reeks oënskynlik naïewe maar ironiese, speelse en subversiewe gedigte wat 'n meisie se identiteitsoektog na vrouwees karteer. Dit 'n ontdekking van die lyflike en van taal, en delf deur herinneringe, landskappe en vorms.

Vers en klank 6 Julie 2021
Dann-Jacques Mouton lees gedigte voor uit Nathan Trantraal se kort, maar kragtige oeuvre. Woorde soos "aangrypend, eerlik, sonder sentimentaliteit, skokkend, skreeusnaaks en ontroerend" word gebruik as Trantraal se poësie bespreek of beskryf word. Die gedigte kom uit die bundels Chokers en Survivors, Alles het niet kom wôd en Oolog.

Vers en klank 29 Junie 2021
Eben Genis lees gedigte uit die bundel, Weerbare weemoed, deur die Belgiese digter Luuk Gruwez, vertaal uit die Nederlands deur die bekroonde digter en letterkundige Hennie van Coller. “Lesers (en veral poësieliefhebbers) is Van Coller groot dank verskuldig dat hy dié ‘sprong in die duister’ gewaag het, want in sy vindingryke vertalings in Weerbare weemoed word die vele fasette van Luuk Gruwez se eiesoortige digterstem – die weemoed, wanhoop én waansin; die heimwee, maar ook die ironie – in klinkende Afrikaans vasgelê.” - Prof. Thys Human, letterkundedosent, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

Vers en klank 22 Junie 2021
Jana Kruger lees gedigte uit regsgeleerde en musikant, Bester Meyer, se debuutbundel, die Testament. Hy is in Alberton gebore. Hy studeer regte by RAU, en word daarna ’n prokureur by ’n firma in Kaapstad wat destyds opgetree het as Nelson Mandela se regsverteenwoordiger. die Testament is uitgegee tesame met ses toonsettings van onder andere Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker, getiteld Musiek vir jou ure.

Vers en klank 15 Junie 2021
Daar was al heelparty digtende dokters in Afrikaans en alhoewel sommige bekend is vir sogenaamde mediese poësie waarin die mediese veld betrek word, dig ander gewoon oor die lewe en die dood en die liefde en al die groot temas. Alhoewel daar ongeveer 17 digtende dokters is wat gepubliseer is in Suid-Afrika, kan jy uitsien na gedigte deur Eugéne Marais, Henk Rall, Phil du Plessis, Gilbert Gibson, Len S. Louw, Hennie Nortjé, Ilse van Staden en Hendrik J. Botha. Johann Nel gaan die gedigte voorlees.

Vers en klank 8 Junie 2021
Die digter, akademikus en literêre kritikus, Joan Hambidge, gesels oor haar nuwe bundel, NOMADIESE STERRE. Sy lees ook gedigte uit hierdie besondere bundel voor. Johan Myburg merk op: “Wat deurgaans opval is Hambidge se omgaan met “hartenswoorde”: woorde wat ʼn duidelike persoonlike betekenis het, maar só geboetseer word dat dit die leser toelaat om ʼn eie “hartensbegrip” daaraan te koppel. Wat veel vreugde bied is die spel en dikwels speelse manier waarmee sy omgaan.”

Vers en klank 1 Junie 2021
Cintaine Schutte lee gedigte voor uit Irize Loots se debuutbundel, Vlieg vorentoe. Irize is in Johannesburg gebore. Sy studeer musiek aan Unisa en verwerf 'n BA en diploma in verhoogbestuur aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy woon sedert 1993 in Amsterdam, waar sy 'n Gestaltterapiepraktyk het, klavierles gee en deeltyds by 'n uitgewer van wetenskaplike, tegnologiese en mediese tydskrifte werk. Haar debuutroman, Dromers, van 2018 word in 2020 vir 'n ATKV-woordveertjie genomineer.

Vers en klank 25 Mei 2021
Luister na gewyde gedigte, soos opgeneem in die woordkunsprogram God, die digter. Helena Conradie en Christa Thom gesels oor hierdie projek, en lees van die mooiste gewyde gedigte in Afrikaans voor. Jy kan uitsien na gedigte deur Joan Hambidge, D.J. Oppperman, Sheila Cussons, N.P. van Wyk Louw, Susan Smith, Donald Riekert, S.J. Pretorius, Jan Swanepoel, Olga Kirsch, Wilma Stockentröm, George Louw en T.T. Cloete.

Vers en klank 18 Mei 2021
Chris van Niekerk lees verse voor uit die bundel, Alles keer om - Tomas Tranströmer in Afrikaans, vertaal deur De Waal Venter. Tomas Tranströmer, 'n Sweed en een van die grootste Skandinawiese digters ooit, slaag daarin om belewenisse wat vreemd en angswekkend kan wees, aan te bied asof dit alledaags is en hy gee dit 'n soort liriese skoonheid, gestroop en minimaal, maar besonder kragtig. Sy poësie lei die leser tot 'n punt waar die werklikheid met verrassende onverwagsheid "omkeer", iets anders beteken en beskryf as wat die leser verwag. Die motivering vir die Nobelprys wat hy in 2011 ontvang het, het dié woorde ingesluit: hy gee ons vars toegang tot realiteit. 'n Skynbaar gewone situasie word meteens asemrowend anders. De Waal Venter het sowat 135 vertaalde gedigte ingesluit in hierdie bundel en lewer hiermee 'n uitsonderlike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde.

Vers en klank 11 Mei 2021
Luister na verse uit Marlise Joubert se tiende digbundel, disteltyd, uitgegee deur Protea. Joubert neem in hierdie bundel bestek op haar lewe: die verouderingsproses met gepaardgaande fisieke aftakeling en verlies, maar ook besinning oor familie, eie kinderjare en die onlangse inperking, beurtkrag en geweld. Dis gedigte met ’n sterk poëtiese en visuele inslag en word gekenmerk deur ’n introspektiewe, selfs nostalgiese, toonaard. Soos die distel as onkruid ’n saadpluim lewer wat lig, dartelend en lieflik is, is hierdie gedigte ook. Disteltyd is ’n bundel wat weens die geskakeerdheid daarvan ’n belangrike bydrae lewer tot die steeds groeiende korpus van laatwerke; gedigte wat meestal ontroer weens die menslikheid en humor daarin verwoord, maar terselfdertyd ook die leser konfronteer met die maatskaplike onregte kenmerkend van ons tyd.

Vers en klank 4 Mei 2021
Akademikus en digter Bernard Odendaal gesels oor sy nuutste digbundel, NOOTVAT. KWASHAAL. STAPEL. In sy eerste bundel sedert hy in 2007 met Onbedoelde land gedebuteer het, besin Bernard Odendaal oor woordkuns, Afrikaans en die voortbestaan daarvan; gedenk hy die heerlikheid én verganklikheid van die mens, die natuur en die liefde; registreer hy maatskaplike verwording. ’n Verlore jeugwêreld en vriende word onthou; daar word gedink aan kinders wat in diaspora verkeer. Stemminge, toonaarde en digvorme wissel mekaar af. Joan Hambidge som haar resensie oor hierdie bundel kort en kragtig op: "Slim en ontroerend." Sy sê voorts: "Bernard Odendaal het met sy tweede bundel die noot hoog ingesit, maar nêrens word 'n vals klank geuiter nie. Dit is sterk kwashale wat hier van stapel gestuur word." Of soos Marlies Taljaard haar resensie begin: " 'n Deurwinterde bundel van 'n meesterdigter."

Vers en klank 27 April 2021
Die aktrise, aktivis, dramaturg, teaterskepper en nou ook digter, Veronique Jephtas, gesels oor haar debuutbundel, Soe rond ommie bos. Veronique verteenwoordig die kraakvars stem van 'n nuwe generasie Afrikaanssprekendes, die sogenaamde "born frees", gebore ná 1994, wat grootgeword het in 'n land met meer geleenthede vir almal, maar waar die wonde van die verlede halsstarrig bly sweer. Soe rond ommie bos is die kreatiewe voortsetting van 'n ryk tradisie protespoësie in Afrikaans. Jephtas verbeel haar 'n gemeenskap wat vry is van gesprekke wat rondom die bos loop, en so in die gees van Vryheidsdag is dit uiters gepas om hierdie gedigte te hoor.

Vers en klank 20 April 2021
Hennie Meyer praat oor sy digbundel, Winkel van wanklanke. Dis sy debuutbundel, en hy skram nie weg daarvan om met groot figure in die Afrikaanse digkuns en internasionale kunstenaars soos Jackson Pollock, Picasso en Yves Klein in gesprek te tree nie. Dit is veral ’n konseptuele bundel, wat die idee van wat ’n bundel is of kan wees, bevraagteken.

Vers en klank 13 April 2021
Roeline Daneel lees gedigte voor uit Riana Scheepers se debuutbundel, Met die taal van karmosyn. Dis in 2001 uitgegee deur Human & Rousseau nadat sy alreeds goed gevestig was as prosaskrywer in die Afrikaanse literêre wêreld. Haar Katrina-stories het haar in ander opsigte 'n gewilde outeur gemaak, terwyl sy as rubriekskrywer in die dagpers breë bekendheid geniet het.

Vers en klank 6 April 2021
Jani Greeff lees van haar gunsteling gedigte uit haar hoërskooldae voor. Jy kan uitsien na gedigte deur Antjie Krog, Ingrid Jonker, Elisabeth Eybers, Totius, N.P. van Wyk Louw en Breyten Breytenbach.

Vers en klank 2 April 2021
Herdenk Goeie Vrydag saam met ons digters. Marion Holm, Kay Smith en Anrich Herbst is die voorlesers. Jy kan uitsien na gedigte deur Susan van Zyl, I.L. de Villiers, Arina Prinsloo, Lucas Malan, Ingrid Jonker, Cas Vos, Lina Spies, Linda Rousseau, Adam Small, W.E.G. Louw, Sheila Cussons en N.P. van Wyk Louw.

Vers en klank 30 Maart 2021
Die rapper en digter Churchil Naudé lees van sy gedigte voor, en vertolk van sy gedigte saam met musikante Riku en Jackie Lätti. Die gedigte kom uit sy nuwe digbundel Drol innie drinkwater. Theunis Engelbrecht skryf op die flapteks: Churchil Naudé vlek nie net ongeregtighede, blinde vooroordele, maatskaplike probleme en die stommiteite van die mensdom vlymskerp oop nie, maar drink ook deur tot diep in die hart van gewone mense se swaarkry en drome. Die stories wat hy vertel bly by 'n mens spook lank nadat jy dit gelees en gehoor het.

Vers en klank 23 Maart 2021
Martelize Kolver lees gedigte voor uit Susan van Zyl se debuutbundel Sporofoor. Vir Susan grens misterie, soos ook humor, aan die absurde en dit is hierdie realiteit waarbinne spore uitgewys word wat deur die geskiedenis van die mensdom getrap is. En waar daar vanuit hierdie perspektief gekyk kan word na hedendaagse, poëties gestruktureerde, reddingsboeie.

Vers en klank 16 Maart 2021
André Weideman lees gedigte voor uit die bekroonde digter Louis Esterhuizen se elfde digbundel Die gladde stiltes in glas. Nini Bennett skryf in haar resensie: "Dit is duidelik dat ’n ervare digtershand hier werksaam is en dat die bundel konseptueel, sowel as in die fynere detail, deurdag en afgerond is. En of die digter se boustof nou klip, grond, rots, bouvalle, holtes grond of geogliewe is, hy skep poësie daaruit. Selfs die oerprosesse van verwering en erosie word veredel in dié verse. In geheel gesien: Die gladde stiltes in glas is ’n kosbare – nee, noodsaaklike – toevoeging tot die poësieliefhebber se boekrak." En Louise Viljoen: "Die gladde stiltes van glas is ‘n sterk bundel wat intrigeer vanweë die rykmetafore, die emosionele diepgang en die weiering om komplekse gegewens tot enkelvoudighede te reduseer. Dit is ‘n bundel wat met elke herlees nuwe perspektiewe sal open."

Vers en klank 9 Maart 2021
Amor Tredoux lees gedigte voor uit Eunice Basson se tweede digbundel, By die dag, wat verlede jaar verskyn het. Dit handel oor die skoonheid en besondersheid van die alledaagse bestaan en die wonder van die kleine moment. Basson se woordskilderye is klankryk, organies en intuïtief, maar is ontdaan van sentimentaliteit – klein stillewes en portretstudies van stadstuine, voëls, ’n Life Esidimeni-slagoffer, Dimitri Tsafendas, ’n transitorooftog, Poppie van der Merwe, en kring wyer uit na die honde van Delhi, die papawerbruid van Afghanistan en Alan Kurdi. Soos te verwagte van ’n kunshistorikus tree die digter ook op natuurlike wyse met die beeldende kunste in gesprek. Elke gedig is gestroop, maar dawer lank by die leser.

Vers en klank 2 Maart 2021
Digter Ernest Loth lees gedigte voor uit sy debuutbundel, Uit hierdie Valkenburg, wat hy in die grendeltyd geskryf het. Dr. Jan Daniels skryf in die voorwoord: Uit hierdie Valkenburg ontleen sy titel aan die openingsreël uit Ingrid Jonker se gedig, Ontvlugting. En dit is nie om dowe neute nie. Beide Loth en Jonker deel herinneringe aan Valkenburg – maar elkeen verwoord 'n eie unieke ervaring daarvan. Dit is moeilik om die gedigte te lees sonder dat dit die leser intens ontroer. Die digbundel spreek tegelyk van waardering en ontluistering, van lief en leed, en van belydenis. Maar dit spreek ook van maskers wat die lewe soms op die mens afdwing – ongevraagd en onverdiend.

Vers en klank 23 Februarie 2021
Die literator, dosent, resensent en digter Bernard Odendaal is in die ateljee, en ons luister na gedigte oor vrugte. Jy kan uitsien na gedigte deur Ina Rousseau, D.J. Opperman George Weideman, T.T. Cloete, Lucas Malan, Uys Krige, Breyten Breytenbach, N.P. van Wyk Louw, Wilma Stockenström, Marlene van Niekerk, Sheila Cussons en Boerneef.

Vers en klank 16 Februarie 2021
Gideon Lombard lees gedigte voor uit die bundel LIEFDE, MISKIEN deur Herman de Coninck, vertaal deur Daniel Hugo. Die Vlaamse digter Herman de Coninck (1944-1997) staan bekend as die man was sy volk geleer het om poësie te lees. Hy was bekend as digter, kritikus en joernalis. Kenmerke van sy werk is die alledaagse tema, die verrassende gesigshoek, die praatstyl, die oorspronklike beeldspraak en versagtende ironie. In die inleiding van 'n latere bundel, Die Lenige Liefde, noem Daniel Hugo hom: “die onvergelyklike digter van die vergelyking”, en noem dat daar in sy versamelde gedigte nie minder as 18 gedigte staan wat met die woord “zoals” begin.

Vers en klank 9 Februarie 2021
Wessel Pretorius lees gedigte uit Marius Crous se vierde digbundel, Tussenganger, wat in 2020 uitgegee is. Louis Esterhuizen skryf: Tussenganger is 'n digverweefde, deurgekomponeerde en uitdagende teks wat die leser nie net met die totaliteit van sy/haar menswees konfronteer nie, maar ook dwing om afstand te doen van geykte opvattings en veral verwagtings. (Dis natuurlik die grootste uitdaging vir mense! "We will rather be ruined than changed" soos W.H. Auden gesê het.) En dan skryf Louis: Nog selde was TS Eliot se uitspraak "Genuine poetry moves before it is understood" só van toepassing as met hierdie gedigte.

Vers en klank 2 Februarie 2021
Ons neem afskeid van RSG se geliefde Margot Luyt, alhoewel haar invloed en mentorskap van vele asook haar kenmerkende stem altyd met ons sal bly. Jy kan van Margot se gunsteling gedigte en gedigte wat ons aan haar laat dink, hoor. Verse deur César Vallejo (vertaal deur Uys Krige), D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, Antjie Krog, Gertruida Kamfer, George Weideman, Petra Müller, Sheila Cussons, Clinton V. du Plessis, Boerneef en N.P van Wyk Louw. Die voorlesers is Nic de Jager, Chris van Niekerk, Simoné Benjamin, Dean Balie, Joanie Combrink, Susanne Beyers, Daniel Hugo, Bernard Odendaal, Pieter van Zyl, Anrich Herbst, De Klerk Oelofse, Anna-Mart van der Merwe, Shirley Ellis en Johann Nel.

Vers en klank 26 Januarie 2021
Die skrywer, boekeredakteur, vervaardiger, aanbieder en nou ook digter, Gerard Scholtz, lees haikoes voor uit sy nuwe bundel, Stipstaar. Dit is uitgegee onder die druknaam Fluisterbos. Dit bestaan uit 122 haikoes in die tradisionele Japanese vorm, en reis deur ’n zen-landskap van die ontstaan van alle dinge af en strek van 'n teer verwondering oor die natuur en liefde, die mens se plek in die kosmos, aftakeling en verwoesting van emosies en landskap, tot 'n verlange om alles weer nuut en die mens en natuur weer een te maak soos oorspronklik.

Vers en klank 19 Januarie 2021
Richard van der Westhuizen lees gedigte voor uit die bekroonde digter Johann de Lange se dertiende bundel, Die meeste sterre is lankal dood, asook na 'n paar van die kwatryne ingesluit in sy bundel, Duimnaelsketse, wat beide in 2020 verskyn het.

Vers en klank 12 Januarie 2021
Luister na uittreksels uit die digter, sangeres en musikant Jolyn Phillips se nuutste bundel Bientang. Dis ’n epiese gedig waarin die raaisel van Bientang, ’n Khoi Strandloper wat in die vroeë 1900’s in ’n grot in Hermanus gewoon het, ondersoek word. Elodi Troskie skryf in 'n artikel in die onafhanklike webjoernaal Klyntji: "In haar teks verken Phillips die legende van Bientang, die laaste Strandloper, en gee so gestalte aan ’n deel van die geskiedenis wat nie skriftelik verewig is nie." Jolyn lees self die gedigte voor.

Vers en klank 5 Januarie 2021
Ons bring hulde aan digters wat in 2020 oorlede is. Ons groet hulle, maar neem hulle verse met ons saam die nuwe jaar in. Jy kan uitsien na gedigte deur Jeanne Goosen, M.M. Walters, Gisela Ulyatt en Christine Barkhuizen-le Roux. Susanne Beyers lees die gedigte voor.

Vers en klank 29 Desember 2020
Nic de Jager lees gedigte uit Cas Vos se mees onlangse bundel, Beskut teen vrese, 'n uiters relevante bundel vir die tydsgees waarin ons leef.

Vers en klank 25 Desember 2020
Ingeperk vir ons ... a thrill of HOPE, the WEARY world REJOICES ... so lui die woorde uit die bekende O Holy Night. En hoe vuisvoos is ons wêreld nie na hierdie jaar nie! Hoe desperaat vir 'n sprankie hoop. God - die Een wat onbegrensd is, wat sonder perke is - het gekies om ingeperk te word vir ons. Hy het, in soveel woorde (maar veel meer met sy dade) vir ons kom sê: Dit is, alles in aggenome, goed om mens te wees. Dit is allerverskriklik, maar dis ook ontsagwekkend. En dít is ons hoop! Dit is hoekom hierdie moeë mensdom, selfs na 'n jaar soos hierdie, steeds kan sê: God is mét ons. Chris van Niekerk, Simoné Benjamin, Dean Balie en Juanita Swanepoel lees die gedigte voor.

Vers en klank 22 Desember 2020
Luister na gedigte en toonsettings uit Christine Barkhuizen-le Roux se laaste bundel, Skynskadu. Christine is op 18 November 2020, op haar 61ste verjaardag, oorlede. Joanie Combrink lees die gedigte voor, en die toonsettings word uitgevoer deur Babette Viljoen, Olga Leonard en Trudie Prinsloo.

Vers en klank 15 Desember 2020
Johann Nel bring hulde aan die digter, dramaturg en satirikus, M.M. Walters, wat vanjaar in die ouderdom van 91 oorlede is. Johann lees van Walters se gedigte voor, en vertel meer van hierdie merkwaardige mens wat al by geleentheid as "ketter" afgemaak is, en by 'n ander geleentheid as "profeet" vereer is. 'n Mens sou hom kon beskryf as die hofnar van die Afrikaner-samelewing.

Vers en klank 8 Desember 2020
Luister na gedigte uit Lynthia Julius se debuutbundel, Uit die kroes. Julius was die wenner van die AVBOB-digkunskompetisie in 2018. Bernard Odendaal skryf: "As postapartheid-nasaat van 'Ouma Xhau' kom vertolk hierdie Namakwalander en Kimberliet in 'n sprankelende Omgangsafrikaans die vlees en bloed van 'bruin' wees in Suid-Afrika. Sy loop haal dit in die Kaapse Kompanjiestyd met sy slawernyvergrype, en loop met raaktraptreë deur die eeue daarmee om dit in vandag se steeds rasbehepte dae te kom staanmaak. Jy gaan regop sit, jou mond gaan waarskynlik oophang, ander kere gaan jy jou kop wil vasgryp, plek-plek sal jou lagspiere rimpel, of jou traankliere stuiptrek. Onbewoë sal jy nié bly nie." En sy is maar net 25.

Vers en klank 1 Desember 2020
Luister na 'n tweede aflewering van gedigte en gesprekke met wyle George Weideman, digter, skrywer en akademikus en geliefde mens. Sy woorde hou aan om "doepa vir die droefte" te wees en die onderhoudende manier waarop hy kan gesels en waarhede in storieformaat deel, is helend. Jy kan ook toonsettings en voorlesings van Weideman se gedigte deur Annalise Wiid, Helena Conradie en Francois le Roux (die HA!man) hoor.

Vers en klank 24 November 2020
Luister na gedigte en gesprekke met wyle George Weideman, digter, skrywer en akademikus en geliefde mens. Sy woorde hou aan om "doepa vir die droefte" te wees, en die onderhoudende manier waarop hy kon gesels en waarhede in storieformaat deel, is helend. Jy kan ook toonsettings en voorlesings van Weideman se gedigte deur Annalise Wiid, Helena Conradie en Francois le Roux (die HA!man) hoor.

Vers en klank 17 November 2020
Laurinda Hofmeyr, veral bekend vir haar toonsettings van gedigte, is by geleentheid “die wonderkind van toonsettings” genoem. Sy gesels oor haar proses, die gedigte wat haar inspireer en ons luister na ‘n paar van haar mooiste toonsettings.

Vers en klank 10 November 2020
Die jong digter Ryan Pedro gesels oor sy debuutbundel, Pienk Ceramic-hondjies, wat pas verskyn het. Antjie Krog skryf: "'n Nuwe generasie aan die woord ... weerloos en aangrypend." En Nathan Trantraal: "Pienk ceramic-hondjies is geskryf mettie craftsmanship vanne violin maker, ennie cool vanne underground hip-hop artist. Net toe Afrikaanse literatuur dink sy hys is nou wee in order, kom Ryan Pedro veby en skyf ie furniture."

Vers en klank 3 November 2020
Erica Wessels lees gedigte voor uit Carina Stander se digbundels, Die vloedbos sal weer vlieg en Woud van nege en negentig vlerke. Joan Hambidge skryf: Hier is 'n digter wat eg metafories dig, suiwer is en op 'n eerlike wyse met die lewe en spiritualiteit in gesprek tree. Ons het 'n terugkeer na die eenvoudige, uitstulpende, bykans magiese vers. En Henning Snyman: Hier is iemand wat self die rotskuns skep en nie nog 'n digter wat óór die rotstekening skryf nie. Sy dig ru, sy dig wreed, sy dig loutere skoonheid en diep emosie. Dit maak haar werk so fris en gelaai met energie.