
Vers en Klank
740 episodes — Page 5 of 15

Vers en klank 30 Augustus 2022
In die tweede van drie programme oor die Skemeraand, die Nag en die Dagbreek luister ons na gedigte oor die nag, en daardie dinge wat in die klein uurtjies gebeur. Die voorleser is Johann Nel.

Vers en klank 23 Augustus 2022
In hierdie eerste van drie programme oor die Skemeraand, die Nag en die Dagbreek luister ons na gedigte oor die skemer, die sogenaamde “goue uur”, wanneer die voëls terugkeer na die bome waarin hulle slaap, die skaduwees lank uitrek, en uiteindelik met die donkerte saamsmelt. En die mense moeg by die huis kom. Die voorleser is Johann Nel.

Vers en klank 16 Augustus 2022
Hierdie tyd van die jaar vier die mense van Japan die Fees van Obon, waartydens hulle hulle voorsate herdenk. Ons hou ’n Obon-fees in die kleine, met gedigte oor die voorvaders en voormoeders.

Vers en klank 9 Augustus 2022
Die digter Anita van der Walt was sowat twee jaar gelede in die Vers en Klank-ateljee om oor haar debuutbundel, HIERDIE MAANDAG IS ABSTRAK, te gesels toe ’n onvoorsienbare mediese noodgeval haar in die hospitaal laat beland. In dié week se program is Anita terug in die ateljee, nóg ’n digbundel ryker en reg om oor haar skryfwerk en nuutgevonde lewenslus te praat.

Vers en klank 2 Augustus 2022
In Deel 2 van ’n program oor die digter Petra Müller luister ons na aktrise en regisseur Joanie Combrink se voorlesings uit verskeie van Müller se digbundels, en na argiefopnames van die digter waarin sy van haar eie werk voordra.

Vers en klank 26 Julie 2022
Die joernalis, manuskripkeurder, skrywer en digter Petra Müller wat in 2021 oorlede is, sou vandeesweek 87 jaar oud geword het. Ons luister na Joanie Combrink se voorlesings uit verskeie van Müller se digbundels, en na argiefopnames met die digter waarin sy van haar eie werk voordra. Dit is die eerste deel van twee programme oor Petra Müller.

Vers en klank 19 Julie 2022
Nelson Mandela is op 18 Julie, ’n 104 jaar gelede, in die Oos-Kaapse dorpie Mvezo gebore. Ons luister na gedigte oor dié geliefde leier. Heelwat daarvan kom uit die pen van Antjie Krog, tesame met werke van Marius Titus, André Boezak, Clinton V. du Plessis en Vincent Oliphant.

Vers en klank 12 Julie 2022
Die grootwordjare is nie maklik nie, en vir elke onskuldige kind lê daar iewers langs die pad ’n stadium van ontnugtering voor. Luister na gedigte oor dié moeilike lewensfase se warboel emosies en soeke na begrip. Jy kan uitsien na treffende verse deur Lynthia Julius, André Trantraal, Corné Coezee en Hannes Visser. Die voorleser is Kay Smith.

Vers en klank 5 Julie 2022
Die afgelope naweek het 2022 sy halfpadmerk verbygesteek. Ses maande is al weer in ’n oogwink verby, en ’n mens kan nie help om te wonder nie: Waar loop die tyd met ons heen? Ons luister na gedigte oor die tyd – die verloop daarvan, die vrees daarvoor, hoe ons maar gereeld bestekopname doen om te kyk of ons nog byhou, en ook darem “van tyd tot tyd” dit regkry om in die kosbaarste van alle tye – die hede – teenwoordig te wees. Die voorleser is Susanne Beyers.

Vers en klank 28 Junie 2022
Die seevaarders van ouds was sekerlik van die dapperse mense ooit. Om die ongekarteerde stormsee aan te durf, het vir sommige groot rykdom bekom, maar ander het nooit weer aan wal gestap nie. Luister na verse oor die rampe waardeur ’n paar skeepskapteine en hulle bemannings getref is. Jy kan uitsien na verhalende gedigte oor die volksheld Wolraad Woltemade, die groot, wit walvis Moby Dick se skrikbewind en natuurlik ook daardie spookskip, die Vlieënde Hollander. Die voorleser is Anrich Herbst.

Vers en klank 21 Junie 2022
Die tweede aflewering van gedigte oor die winter en sy storms, soos voorgelees deur Elsabé Daneel. Jy kan ook uitsien na meesterlike toonsettings van gedigte deur Eugéne Marais, H.A. Fagan en Koos du Plessis.

Vers en klank 14 Junie 2022
Die winter is nou werklik op ons! Teen die kus langs sak swaar buie uit, en die binneland bibber van die koue! Pak jou kaggelvuurtjie, skink ietsie warms en luister na gedigte oor storms en gure weer. Die voorleser is Elsabé Daneel.

Vers en klank 7 Junie 2022
Wat skryf ons digters oor die digkuns? Hoe kom hulle aan die dinge waaroor hulle verse skryf? En hoe skep ’n mens iets uit die niet? Luister na gedigte oor die skryf van gedigte deur, onder andere, Cas Vos, Breyten Breytenbach, Elisabeth Eybers en Uys Krige. Die voorleser is die aktrise Nicole Holm.

Vers en klank 31 Mei 2022
Die digter T.T. Cloete is op 31 Mei 1924 gebore. Verlede week het ons die eerste aflewering van ’n tweeledige program oor Cloete se lewe en nalatenskap uitgesaai. Nou kan jy vir die tweede hoofstuk inskakel. Ons luister ook na argiefopnames van onderhoude met die digter waarin hy van sy eie werke voordra. Die voorleser is prof. Bernard Odendaal.

Vers en klank 24 Mei 2022
Die digter T.T. Cloete is op 31 Mei 1924 gebore. In aanloop tot dié dag, kan jy inskakel vir die eerste van twee programme oor Cloete se lewe en digkuns. Ons luister ook na argiefopnames van onderhoude met die digter waarin hy van sy eie werke voordra. Die voorleser is prof. Bernard Odendaal.

Vers en klank 17 Mei 2022
Vir ons hier in die Suidelike Halfrond, is dit nou die jaargety wanneer die sikliese verloop van lewe baie opvallend is. Die herfs is nie so baldadig soos die lente nie, maar die verandering in die natuur is ewe radikaal. Ons besing dié seisoen se lof. Jy kan uitsien na gedigte deur Breyten Breytenbach, N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Barend J. Toerien en Lina Spies. Die voorleser is die akteur en regisseur Albert Maritz.

Vers en klank 10 Mei 2022
Met dié dat ons binnekort die enigste algehele maansverduistering van die jaar kan waarneem, is Sophia van Taak ’n bietjie met die maan gepla. Jy kan uitsien na gedigte deur I.D. du Plessis, Carina Stander, Andries Bezuidenhout en Elizabeth Eybers. Die voorleser is die aktrise Susanne Beyers.

Vers en klank 3 Mei 2022
Die tema is die Krag van Verbeelding. Ons maak so dikwels op die digters staat om die realiteite waarmee ons worstel in woorde raak te vat. Om die lewe af te kook tot ’n stropie wat ons makliker kan afsluk. Maar dit is nie ál wat die digter doen nie. Hulle is ook die mense wat ver buite die grense van die realiteit gaan dwaal, in ’n gans ander landskap waar vreemde skepsels hou en alle dinge moontlik is. Dis dáár waarheen hierdie verse jou lei. Daar is gedigte deur onder andere Ingrid Jonker, Antjie Krog, Ernst van Heerden, Elodi Troski en Jeanne Goosen.

Vers en klank 26 April 2022
Frieda van den Heever lees gedigte voor uit Hilda Smits se bundel, mag die diep slaap jou dan, wat in 2021 deur Protea Boekhuis uitgegee is. Smits se debuutbundel is bekroon met die Ingrid Jonker-prys vir poësie in 2017 en hierdie tweede bundel van haar word eweneens met groot lof ontvang deur die literêre gemeenskap. Dit is 'n bundel wat die leser boei en uitdaag, aan die raai hou, verwar, verdwaas en doelbewus sonder die gewone krukkies laat waarmee ons gedigte verstaan, skryf Hein Viljoen. Joan Hambidge beskryf dit as 'n verruklike bundel.

Vers en klank 19 April 2022
Die digter Colin Steyn gesels oor sy debuutbundel, Staf sonder maat. Colin is bekend met kontraste, en verlies aan verskeie fronte het deel van sy reis geword. Hy was van jongs af lief vir taal en om ervarings te verwoord. Dit was egter eers ná die heengaan van sy lewensmaat van 32 jaar dat hy meer ernstig begin dig het. Dit het gou uitgekring na ander temas wat hom na aan die hart lê. Geloofsperspektiewe, lyding en lewensopvattings was onafwendbaar deel daarvan. Hy is ondersoekend van aard en glo dat moeilike vrae veel meer tot die sin van die lewe bydra as maklike antwoorde.

Vers en klank 15 April 2022
In hierdie spesiale Goeie Vrydag program met gedigte en voorlesings deur van ons grootste digters en skrywers, herdenk ons die kruis as teken en oordink wat dit vandag steeds vir ons beteken. Jy kan uitsien na gedigte deur N.P. van Wyk Louw, Sheila Cussons, Lina Spies, I.L. de Villiers,W.E.G. Louw, Eveleen Castelyn, Koos van der Merwe, Linda Rousseau en Cas Vos. Johann Nel, Marion Holm, Susanne Beyers, Kay Smith en Chris van Niekerk is die voorlesers.

Vers en klank 12 April 2022
In 2017 is die AVBOB Poetry Project bekend gestel wat ‘n uitlaatklep bied aan digters wat die behoefte voel om hulle emosies oor die verlies van ‘n geliefde in woorde uit te druk. Sedertdien kan digters in alle amptelike tale jaarliks deelneem aan ‘n kompetisie waarvan die wenners ‘n kontantbedrag ontvang. Hulle wengedigte verskyn dan in druk in die I wish I’d said-bundels. Richard van der Westhuizen en Antoinette Kellermann lees gedigte voor uit die bundels I wish I'd said Vol. 3 & 4.

Vers en klank 5 April 2022
In 2017 is die AVBOB Poetry Project geloods, wat ‘n uitlaatklep bied aan digters wat die behoefte voel om hulle emosies oor die verlies van ‘n geliefde in woorde uit te druk. Sedertdien kan digters in alle amptelike tale jaarliks deelneem aan ‘n kompetisie waarvan die wenners ‘n kontantbedrag ontvang. Hulle wengedigte verskyn dan in druk in die I wish I’d said-bundels. Richard van der Westhuizen en Antoinette Kellermann lees gedigte voor uit die bundels I wish I'd said Vol. 1 & 2.

Vers en klank 29 Maart 2022
André Samuels lees gedigte voor uit die bundel, Heenkoms, deur Meyer van Rensburg. Meyer het na 'n lang stilte van 38 jaar hierdie tweede bundel die lig laat sien in 2021. In hierdie bundel word geworstel met die sin van die lewe en die ouderdom. Joan Hambidge skryf in haar resensie: "Daar is wat hierdie leser betref nie een swak vers in die bundel nie. Welkom terug, Meyer van Rensburg! Dit is ‘n loflike publikasie en dank aan Imprimatur wat dit gepubliseer het."

Vers en klank 22 Maart 2022
Eben Genis lees gedigte voor deur Clinton V. du Plessis. Du Plessis word dikwels beskou as een van Afrikaans se mees onderskatte digters. Hy skryf toeganklike, deernisvolle verse en alhoewel hy lanklaas gepubliseer het, het hy vele volgers op Facebook, en plaas hy gelukkig baie van sy gedigte daar. Hy is 'n rekenmeester met 'n kop vir syfers en 'n hart vir woorde.

Vers en klank 15 Maart 2022
Die digter en akademikus, Bernard Odendaal, is in die ateljee saam met Frieda van den Heever vir nog 'n aflewering van 'n reeks wat fokus op plekke en streke wat as tema of gebeureruimte dien in die poësie van ʼn verskeidenheid Afrikaanse digters – op die digterskontreie van Afrikaans, as’t ware. Die tema en gedigte wat ons gekies het, het te make met die lieflike Overberg - dié keer die kusgedeeltes. Jy kan uitsien na gedigte deur Rosa Smit, Ronelda Kamfer, Wilma Stockenström, Wium van Zyl, Chris Lombard, Marlene van Niekerk, Marius Swart, D.J. Opperman, André le Roux, Francois de Jongh, Jolyn Phillips, Peter Blum, Uys Krige en Gerard Scholtz.

Vers en klank 8 Maart 2022
Ons luister ons na gedigte en liedjies uit die pen van Hanru Niemand. Hanru is 'n boorling van die Paarl, en 'n kliniese sielkundige wat in Durbanville woon en werk. As veelsydige Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, geniet hy groot agting onder musiekliefhebbers en -kenners ter plaatse en oorsee. Van sy werk is al in Russies vertaal. Benewens 'n besondere passie vir musiek, klop sy hart ook veral sterk vir Afrikaanse letterkunde en digkuns. Verskeie van sy gedigte is al in die literêre tydskrif, Ons Klijntjie, gepubliseer. Hy is ook lid van die Oopmond-span, 'n groep digters en musikante wat improvisasievertonings hou. Hy het al verskeie albums en kortspelers uitgereik. Dean Balie gaan die verse voorlees.

Vers en klank 1 Maart 2022
Akteur en dramaturg Wessel Pretorius lees van sy gunsteling verse voor. Jy kan uitsien na gedigte deur Pieter Odendaal, Sheila Cussons, Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Johan Myburg, Wilma Stockenström en Loftus Marais.

Vers en klank 22 Februarie 2022
Die bekroonde digter, omroeper en vertaler, Daniel Hugo, lees verse voor uit die tien bundels wat hy uit Nederlands vertaal het in Afrikaans. Daniel se vertalings van Vlaamse en Nederlandse skrywers se werk word beskou as baanbrekerswerk en verruim die Afrikaanse digkuns. Sy vertalings is teksgetrou, dog soepel en bied aan Afrikaanse lesers 'n wonderlike geleentheid om toegang te verkry tot werk wat ons andersins dalk nooit sou hoor of lees nie.

Vers en klank 15 Februarie 2022
Juanita Swanepoel lees liefdesgedigte voor uit Cas Vos se bundel, ONDER DIE VLERKE VAN JOU LIEFDE. Daar is 'n vertaling van die Hebreeuse Hooglied in Afrikaans, asook liefdesgedigte uit antieke Egipte. As slotbeweging dek die digter se eie liefdesgedigte die skoonheid van die liefde met verwondering oop.

Vers en klank 8 Februarie 2022
Die digter en akademikus, Bernard Odendaal, kuier in die ateljee vir nog 'n aflewering van ʼn reeks wat fokus op plekke en streke, wat as tema of gebeureruimte dien in die poësie van ʼn verskeidenheid Afrikaans digters – op die digterskontreie van Afrikaans, as’t ware. Die tema en gedigte wat ons gekies het, het te make met die lieflike Overberg. Jy kan uitsien na gedigte deur Daniel Hugo, Ronelda Kamfer, Petra Müller, Pirow Bekker, S.V. Petersen, Melanie Grobler, Marlene van Niekerk, Breyten Breytenbach, Gerhard Bothma en P.J. Philander.

Vers en klank 1 Februarie 2022
Die akteur, musikant en stemkunstenaar Pieter van Zyl lees van sy gunsteling verse voor. Jy kan uitsien na gedigte deur Totius, Sheila Cussons, Petra Müller, Carina Stander, Adam Small, Breyten Breytenbach asook Shakespeare-sonnette in Afrikaans vertaal.

Vers en klank 25 Januarie 2022
Die sielkundige en visuele kunstenaar Gerhard Barkhuizen lees gedigte voor uit sy debuutbundel, SMEE, uitgegee deur Turksvy Publikasies. Daniel Hugo skryf: "In sy debuut as digter ontgin Barkhuizen onder meer die wisselwerking tussen woord en beeld. Net soos metaal kan woorde gesmelt, gegiet, gesmee en gesweis word om nuwe en verrassende vorms te skep. Die afgebeelde kunswerke in die bundel is almal van sy hand. Benewens die beeldende kuns handel sy gedigte ook oor ervarings uit sy nomadiese jeug, sy buitelandse reise en praktyk as sielkundige. In Smee is 'n ambagtelike en woordvaardige kunstenaar aan die werk. Dit is verse dié waaruit die vonke spat."

Vers en klank 18 Januarie 2022
Die aktrise en stemkunstenaar Roeline Daneel lees van haar gunsteling verse voor. Jy kan uitsien na gedigte deur Zandra Bezuidenhout, Ronnie Belcher, Gert Vlok Nel, Antjie Krog, Hilda Smits, Fanie Olivier, Breyten Breytenbach en Lina Spies. Waarskuwing: Daar is een gedig is waarin kru taal gebruik word. Dit word tydens die program ook aangekondig.

Vers en klank 11 Januarie 2022
Johann Nel lees verse voor uit 'n digbundel met die titel, Liedjies Liedjies, uit die pen van Nachoem Wijnberg en vertaal uit die Nederlands deur Daniel Hugo. Wijnberg het sedert sy debuut in 1989 reeds 18 digbundels en vyf romans gepubliseer. Hy word as een van die belangrikste eietydse digters in Nederlands beskou en is al dikwels bekroon vir sy werk, o.a. in 2018 met die P.C. Hooft toekenning vir sy oeuvre as geheel. Wijnberg se poësie word gekenmerk deur helder, byna deursigtige taal. In Liedjies is daar 'n durende soeke na die woorde waarmee ragfyne verhoudings, vervlietende oomblikke en eenvoudige dinge bestendig kan word: die geur van appels, 'n tuin, 'n voël in die lug, 'n sonsondergang, die nabyheid van mense. Liedjies moet soms herstel wat gebreek het, soms die vergeet besweer, soms naboots wat net half onthou word.

Vers en klank 4 Januarie 2022
Skrywer en digter De Waal Venter gesels oor en lees gedigte voor uit sy nuwe bundel Vrugbeginsel. De Waal het in verskeie genres gepubliseer: poësie, kinderboeke, jeugromans, TV- en radiovervolgverhale, film, literêre kortverhale en verhoogdrama. In 1984 het hy ’n erepennning ontvang vir sy radiodrama, Die werklike Buys Buys. Sy ander radiodramas het ook Idem-pryse verower. Sy jongste digbundel, Oop sirkel, het in 2017 verskyn en ’n bundel verse van Pablo Neruda wat hy uit Spaans vertaal het, Vandag is boordensvol, het in 2019 verskyn, albei by Naledi. In 2020 word die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Prys vir Vertaalwerk aan Vandag is boordensvol toegeken. In 2020 gee die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns sy bundel vertaalde gedigte van Tomas Tranströmer, Alles keer om, uit.

Vers en klank 28 Desember 2021
Susanne Beyers gedigte voor uit 'n nuwe bundel deur Margaret Cordier. Dis getiteld, Buigbreek, en is uitgegee deur Cordis Trust Publikasies. Margaret Cordier het haar vormingsjare in die Noord-Kaap en Namakwaland deurgebring, en in die dorpie Alexanderbaai grootgeword. Later, op Roedtan, het sy vier kinders grootgemaak, twee maal die Comrades gehardloop en tweekamp gedoen, en ook haar graad aan Unisa met sielkunde en kriminologie as hoofvakke voltooi. Sy skryf geleentheidsgedigte en prosa, en voer dit op as monoloë. Margaret het na ’n tyd van omwenteling uit die Wes-Kaap na Pretoria verhuis, waar sy haar tyd as enkeling gebruik om te draf, dig en skryf. Dis Margaret se debuutbundel en dit verwoord 'n onvoorspelbare lewensreis skeppend-byna beeldend.

Vers en klank 25 Desember 2021
In hierdie spesiale uitsending van VERS EN KLANK en KORTOM vier ons Kersfees met gedigte en verhale van ons grootste digters en skrywers en musiek van oraloor. Susanne Beyers, Waldemar Schultz, Cintaine Schutte en Pieter van Zyl is die voorlesers. Jy kan uitsien na gedigte en stories van Linda Rode, N.P. van Wyk Louw, Pieter G.R. de Villiers, I.L. de Villiers, D.J. Opperman, Zandra Bezuidenhout, J.B. Wellekens en Daniel Hugo, Cas Vos, Donnay Torr, Marlise Joubert, Attie van der Colff, Antjie Krog, Bernard Odendaal, Fanie Olivier en Olga Kirsch.

Vers en klank 21 Desember 2021
Martelize Kolver lees van haar gunsteling gedigte deur Elisabeth Eybers voor. Eybers word deur Antjie Krog beskryf as "ons grootste digteres". Eybers kon soveel ervarings, emosies, nuanse, 'n hele lewe in woorde beskryf. Met die ontvangs van die Hertzogprys in 1971 sê Elisabeth Eybers: “Poësie is ’n eensame besigheid, maar dit het die vermoë om mense nader aan mekaar te bring en om hulle wesenlike verwantskap te bevestig.”

Vers en klank 14 Desember 2021
Die Pool, Jerzy Koch, is 'n vertaler, digter, akademikus en hoof van die Afdeling Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies by die Adam Mickiewicz-Universiteit in Poznan. Hy is ook die skrywer van 'n omvattende literatuurgeskiedenis oor Afrikaans. Hy besoek Suid-Afrika gereeld sedert 1992, en het die Afrikaanse taal sodanig sy eie gemaak dat hy dit vlot praat en gedigte daarin skryf. Hy gesels oor en lees gedigte voor uit sy nuwe digbundel, Pleks van plaas, en hy lees ook 'n paar ongepubliseerde gedigte voor. Pleks van plaas is 'n versameling unieke gedigte oor plekke (in Europa en Suid-Afrika) en verplasings tussen kontinente, soos beleef deur die poliglot Jerzy Koch.

Vers en klank 7 Desember 2021
Die akteur en musikant, Dean Balie, skuif agter die mikrofoon in en lees enkele van sy gunsteling verse voor. Jy kan uitsien na verse deur Adam Small, Thomas Deacon, Pieter Odendaal, Elisabeth Eybers, Petra Müller, T.T. Cloete, I.D. du Plessis en Jeanne Goosen.

Vers en klank 30 November 2021
Musikant en kunstenaar Lizanne Barnard het tydens die inperking 'n uitnodiging aan die wye publiek gerig om vir haar gedigte en foto's te stuur sodat sy liedjies daarvan kan maak. Die uiteinde is 'n gepubliseerde bundel en foto-ervaring, Skeppers. Lizanne, wie se musiek jy ook in die vorige program geskoei op Lidi de Waal se werk gehoor het, het heelparty van hierdie gedigte getoonset, en jy kan dit ook in hierdie program hoor.

Vers en klank 23 November 2021
Ons luister na enkeleverse van die beeldhouer, kunstenaar en digter Lidi de Waal, wat deel is van 'n gewilde verhoogproduksie, 'n Bêreboksie vol vlerke. Dis pretensielose, gevoelvolle gedigte. Ira Blankenberg, wat dit op die verhoog vertolk, skuif agter die mikrofoon in. Die musiek is getoonset deur Lizanne Barnard, en is geskoei op Lidi de Waal se gedigte.

Vers en klank 16 November 2021
Petrus du Preez lees gedigte voor uit die Vlaamse digter, Eddy van Vliet, se bundel Na die wette van afskeid en herfs, in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo. "Van Vliet is een van die kragtigste stemme in die Nederlandse digkuns van ná die Tweede Wêreldoorlog. Sy gedigte word gekenmerk deur universele temas soos die liefde en dood. Sy gedigte is intens outobiografies, veral ten opsigte van die afwesige vader. Die digter is ’n romantiese genealoog wat diep put uit ’n veelbewoë lewe, maar hy bly weerbaar met ironie en selfrelativering." – Yves T’Sjoen (Universiteit Gent)

Vers en klank 9 November 2021
Albert Maritz skuif agter die mikrofoon in en lees enkele van sy gunsteling verse voor, asook 'n paar gedigte uit sy eie pen. Jy kan uitsien na verse deur Charles Fryer, Breyten Breytenbach, D.J. Opperman, N.P. van Wyk Louw, Peter Snyders en Jeanne Goosen.

Vers en klank 2 November 2021
Die bekroonde digter en vertaler, Daniel Hugo, se sewentiende digbundel, Klinkklaar, is vanjaar uitgegee. Hy lees gedigte daaruit voor. Martjie Bosman skryf: ’n Nuwe digbundel van Daniel Hugo is altyd te verwelkom, nie alleen omdat hy so ’n produktiewe skrywer is nie, maar ook omdat sy arbeid op verskillende terreine rakende die letterkunde hom een van die bekendste kolporteurs van die Afrikaanse digkuns maak, iemand wat vandag baie deur die digkuns benodig word. Nini Bennett sluit haar resensie oor Klinkklaar so af: Met hierdie bundel lewer die digter ’n klinkklare bewys van ’n soliede digterskap. Dit is ’n bundel wat as ’n hoogtepunt in Hugo se oeuvre geboekmerk kan word, maar ook vir die liefhebber van poësie baie vreugde sal verskaf.

Vers en klank 26 Oktober 2021
Die Suid-Afrikaanse digter, Carina van der Walt, wat in Nederland woon, is in die ateljee. Sy en Frieda van den Heever gesels oor haar debuutbundel, Landluisteraar. Die bundel bestaan uit gedigte wat geïnspireer is deur kunswerke van die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe. Sy kuns het 'n besonder poëtiese kwaliteit. Die gedigte het ontstaan gedurende die jare wat Carina aan Stilspraak, 'n monografie oor Van der Merwe, geskryf het. Saam vertel dit 'n verhaal van tuiswees in, en uitreik na die landskap. Dít is die kwesbare wêreld wat ons daagliks dra en ons ruimte bied om te bestaan. Jy kan uitsien na toeganklike verse sonder vals sentiment asook musiek wat geskoei is op hierdie verse deur Mart-Marie Snyman met o.a. Anna Davel, Stefan van Zyl en Mariette Snyman as kunstenaars.

Vers en klank 19 Oktober 2021
Marion Holm skuif agter die mikrofoon in, en lees enkele van haar gunsteling verse voor - "inklusiewe gedigte wat gewone mense ook kan verstaan." Jy kan uitsien na verse deur C. Louis Leipoldt, W.E.G. Louw, Ronelda S. Kamfer, Erns Grundling, Joan Hambidge, Stephan Bouwer, Sydda Essop, Vincent Oliphant en Adam Small.

Vers en klank 12 Oktober 2021
Digter en akademikus Bernard Odendaal kuier in die ateljee vir nog ‘n aflewering van ʼn reeks wat fokus op plekke en streke, wat as tema of gebeureruimte dien in die poësie van ʼn verskeidenheid Afrikaans digters – op die digterskontreie van Afrikaans, as’t ware. Die tema en gedigte wat ons gekies het, het te make met ons buurland, Namibië. Jy kan uitsien na gedigte deur Daniel Hugo, Martjie Bosman, Len S. Louw, Lucas Malan, Hennie Aucamp, Hewitt Visser, Johann Lodewyk Marais, Marié Blomerus, George Weideman, Hans du Plessis, Joan Hambidge, Kobus Lombard, Bernard Odendaal en Chris Lombard.

Vers en klank 5 Oktober 2021
Ons luister na gedigte uit 'n nuwe bundel wat onlangs uitgegee is deur Human & Rousseau. Derde gety is uit die pen van Zandra Bezuidenhout. Dit is heel gepas Zandra se derde digbundel. Haar pragtige debuutbundel, Dansmusieke, is in 2001 met die Ingrid Jonker-prys bekroon, waarna 'n tweede bundel, Aardling, in 2006 verskyn het. Nini Bennett skryf in haar resensie: "Zandra Bezuidenhout se nuwe bundel Derde gety getuig van beleë poësie wat bekoor in 'n bedaarde en sober gang. Die taalgebruik is vindingryk maar helder, en die gedigte getuig van 'n besonderse poëtiese vakmanskap." Om reg te laat geskied aan hierdie poëtiese vakmanskap, moes 'n ander vakman of eerder -vrou, ingeroep word hiervoor. Antoinette Kellermann, wat ook deesdae by die see bly, lees vanaand se gedigte voor.