
Vers en Klank
740 episodes — Page 2 of 15

Vers en klank 10 Junie 2025
Daniel Hugo vertel van sy 17de bundel, Kategismus. Dis ’n versameling propvol temas waarvoor Hugo al oor die jare bekend geword het: hy dig oor die Godheid, die digkuns self, die natuur, die liefde vir sy beminde en – ná sy onlangse 70ste verjaarsdag – ook oor die mens se sterflikheid. Maar meestal is dit ’n bundel “vol verwondering oor die hier en nou”, soos daar op die agterflap geskryf staan.

Vers en klank 3 Junie 2025
Cintaine Schutte vier die lewe in volkleur met gedigte oor kleure.

Vers en klank 27 Mei 2025
Sophia van Taak praat met prof. Joan Hambidge oor haar nuutste digbundel, Asindeton. Dit is haar 27ste bundel, en in hierdie versameling is daar weer bekende Hambidge-temas soos die skilderkuns, reise en digterskap ter sprake. Sy skryf ook, ná ’n loopbaan van nagenoeg dertig jaar aan die Universiteit van Kaapstad, oor aftrede, lewenshoofstukke wat tot ’n einde kom, en die die paradoks van tyd.

Vers en klank 20 Mei 2025
Ons vier herfs met pragtige gedigvoorlesings deur Roeline Daneel.

Vers en klank 13 Mei 2025
Sophia van Taak gesels met digter Martina Klopper oor haar tweede bundel, Kuborg. Dis ’n fassinerende versameling gedigte waarin menselike verhoudinge en herinneringe deur die metafore van masjiene verwoord word. Die bundel doen ondersoek na daardie dinge in ’n mens se verlede wat jou op ’n sekere manier “bedraad” en “geprogrammeer” het. Sy probeer ook uitpluis of ’n mens patrone wat so diep vasgelê is, kan herskryf.

Vers en klank 6 Mei 2025
Sophia van Taak en Cintaine Schutte maak voorbrand vir die viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar op 8 Mei.

Vers en klank 29 April 2025
Sophia van Taak en voorleser Johann Nel gooi ’n Kaapse draai met gedigte oor Tafelberg, die koloniale era aan die Kaap, die hawe én ander grepies uit dié stad se verlede.

Vers en Klank 22 April 2025
Op Vers en Klank saam met Sophia van Taak kom die reeks oor die digter C. Louis Leipoldt vanaand tot ’n einde. Maar: daar is nog heelwat lekkertes om na uit te sien! Die drie lesers – De Klerk Oelofse, Nicole Holm en Anrich Herbst – deel gedigte uit die laaste vier albums uit Leipoldt se pen, en ons luister ook na toonsettings van sy gedigte deur Gert Vlok Nel en Jannie du Toit.

Vers en klank 18 April 2025
Luister na gedigte deur onder meer W.E.G. Louw, Isak de Villiers, Sheila Cussons en Ernst van Heerden. Die voorlesers is Johann Nel en Jana Kruger.

Vers en klank 15 April 2025
De Klerk Oelofse, Nicole Holm en Anrich Herbst lees in die derde program van 'n reeks van vier oor C. Louis Leipoldt, gedigte voor uit sy 1923-bundel, Uit Drie Wêrelddele.

Vers en klank 8 April 2025
Sophia van Taak en die span voorlesers is by die tweede program in ’n reeks van vier oor die lewe en werk van die digter, joernalis, mediese dokter en koskenner, C. Louis Leipoldt. Daar is gedigte uit sy bundels, Dingaansdag, en Uit Drie Wêrelddele, soos voorgelees deur Nicole Holm, Anrich Herbst en De Klerk Oelofse.

Vers en klank 1 April 2025
Die digter, C. Louis Leipoldt, was ’n fassinerende, baie individualistiese en – in sommige se oë – selfs ’n eksentrieke man. In die eerste program in ’n reeks van vier oor hierdie groot figuur in die Afrikaanse letterkunde, is daar nie minder nie as drie voorlesers: De Klerk Oelofse, Nicole Holm én Anrich Herbst. Hulle lees gedigte voor uit Leipoldt se debuutbundel, Oom Gert vertel en Ander Gedigte.

Vers en klank 25 Maart 2025
Ronèl Geldenhuys lees gedigte voor oor geure, klanke, reuke, smake… alles wat jy met jou sintuie ervaar. Veral Sheila Cussons het baie oor haar sensoriese waarnemings gedig. Daar is ook gedigte deur T.T. Cloete, Meyer van Rensburg, Ingrid Jonker en George Weideman.

Vers en klank 18 Maart 2025
In die vorige aflewering het Jana Kruger en Anrich Herbst gedigte oor Johannesburg se verlede voorgelees – verse wat verduidelik hoe die goudstormloop tot die ontstaan van ’n wêreldstad gelei het. Hierdie keer vertel die gedigte wat ná die goudkoors verby was, van Johannesburg oorgebly het.

Vers en klank 11 Maart 2025
As ’n mens deesdae na Johannesburg kyk, is dit moeilik om te glo dat dié wêreldstad in die laaste sowat 140 jaar van ’n enkele delwerskamp gegroei het tot wat dit vandag is. Sophia van Taak en voorlesers Jana Kruger en Anrich Herbst delf diep in Jozi se verlede en karakter. Daar’s gedigte oor die goudkoors en die ou dae se lewe aan die Witwatersrand om na uit te sien.

Vers en klank 4 Maart 2025
Ronél Geldenhuys lees gedigte voor oor kinders, spesifiek oor hoe hulle onblusbare energie en bandelose menswees ons inspireer om die wêreld ook weer ’n slag soos húlle te sien: as ’n wonderlike plek, vol moontlikhede en magic.

Vers en klank 25 Februarie 2025
Die maand waarin die liefde op elke manier gevier is, is amper verby. Voorleser Nicole Holm roer die hartsnare vir oulaas met voorlesings van die allermooiste Afrikaanse liefdesverse. Daar is werke deur Antjie Krog, Luis Esterhuizen, Ronelda Kamfer, Bibi Slippers en Pieter Odendaal.

Vers en klank 18 Februarie 2025
Luister na die allermooiste gedigte oor blomme! Daar is verse deur Petra Müller, Johann Lodewyk Marais, Marlene van Niekerk, Ina Rousseau en nog ’n hele paar ander groot digters. Die voorleser is De Klerk Oelofse.

Vers en klank 11 Februarie 2025
Laasweek het ons geluister na gedigte wat die see se wonders en geheimenisse beskryf. Hierdie keer handel die gedigte oor sy verwoestende krag, en die gevare wat die dieptes inhou. Die voorlesers is Albert Maritz en Karli Heine.

Vers en klank 4 Februarie 2025
Sophia van Taak verken in die eerste van twee aflewerings saam met voorlesers Karli Heine en Albert Maritz die wonders en geheimenisse van die oseaan, asook die dramas wat op die oppervlak, en diep onder die branders, afspeel.

Vers en klank 28 Januarie 2025
Vir party mense is dit ondraaglik om alleen te wees. Ander verkies weer hulle eie geselskap. Joanie Combrink verken albei kante van eensaamheid – die selfbejammering van ongeliefd en vergete voel, én die lekkerte van nie gepla word nie.

Vers en klank 21 Januarie 2025
Sommige van ons digters het só ’n groot bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer, dat ánder digters hulle in gedigte begin vereer het. In die tweede aflewering van ’n reeks oor hierdie huldeblyk-verse, is die voorlesers Susanne Beyers en Pieter van Zyl.

Vers en klank 14 Januarie 2025
Sommige van ons digters het só ’n groot bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer, dat ánder digters hulle in gedigte begin vereer het. In die eerste aflewering van ’n reeks van twee oor hierdie huldeblyk-verse, is die voorlesers Susanne Beyers en Pieter van Zyl.

Vers en klank 7 Januarie 2025
Johann Nel lees gedigte oor reptiele voor. Jy sal verbaas wees oor hoe baie van ons digters oor die verkleurmannetjie, oftewel die trapsuutjies, geskryf het! Veral Ernst van Heerden het heelwat oor reptiele gedig – dink maar aan sy baie bekende gedig oor die bergskilpad. Een van die verse waarna jy kan uitsien, is ’n baie komiese verhaaltjie wat C. Louis Leipoldt oor ’n likkewaan en ’n krokodil geskryf het.

Vers en klank 31 Desember 2024
Sophia van Taak en Albert Maritz hou ’n lekker partytjie, vol heildronke op die Ou- én die Nuwejaar!

Vers en klank 25 Desember 2024
Susanne Beyers en Pieter van Zyl lees gedigte voor oor die feesgety. Daar is ook pragtige sang deur die Vox-kamerkoor van Pretoria, onder leiding van Franco Prinsloo.

Vers en klank 24 Desember 2024
Heelwat Afrikaanse digters weet hoe dit voel om oorsee in die vreemde te sit en ‘n bietjie eensaam te wees, en om al die bekende dinge van die huis te mis. Digters soos Elisabeth Eybers, Breyten Breytenbach, Barend Toerien en Sheila Cussons, om ‘n paar te noem. Karli Heine lees hulle gedigte voor oor die lewe in ‘n ander land, en ook hoe verblydend dit is om van tyd tot tyd oor Afrika te kan terugvlieg huis toe.

Vers en klank 17 Desember 2024
Joanie Combrink neem ons op ’n heerlike ontvlugting na ’n hele klomp seevakansiedorpe langs die kus.

Vers en klank 10 Desember 2024
Is dit vir jou ook so vermaaklik om mense te kyk? Om vreemdelinge op straat of in ’n restaurant dop te hou, en dan vir hulle ’n storie uit te dink – ’n lewe, ’n werk, ’n blyplek… Susanne Beyers lees gedigte voor oor sulke karakters wat ons digters se verbeelding aangegryp het.

Vers en klank 3 Desember 2024
Cas Vos het vroeër vanjaar weer ’n digbundel die lig laat sien. Dié een se naam is WISSELENDE STEMMINGE. Daarin dig hy, onder meer, oor die toestand van menswees, musikante, ánder digters en die liefde. Johann Nel is die voorleser.

Vers en klank 26 November 2024
Rudolph Willemse, ’n digter van Riebeek-Kasteel, gesels or sy derde bundel, SWARTLAND, wat onlangs by Turksvy Publikasies verskyn het. Saam met sy vorige twee bundels, KWEEKSKOOL en MIDDELMAN, vorm dit ’n trilogie waarin die digter sy verskillende lewensfases verken.

Vers en klank 19 November 2024
Sophia van Taak gesels met Alwyn Roux, ’n dosent aan UNISA se Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, oor sy eerste digbundel, WEERSKYN, wat vroeër vanjaar by Protea Boekhuis verskyn het.

Vers en klank 12 November 2024
Sheila Cussons het gesê dat kunstenaars met ’n “primitiewe oog” na die wêreld kyk. Daarmee het sy bedoel: die oopheid, die verwondering wat ’n kind nog het. Luister na gedigte oor skilders, etsers en beeldhouers wat dinge ánders gesien het. Die voorleser is Hannah Borthwick.

Vers en klank 5 November 2024
Digter Lynthia Julius gesels oor haar digbundel, Kinderlê. Haar eerste bundel, Uit die kroes, het in 2020 verskyn. In hierdie tweede versameling is die gedigte nou ryper en meer deurleef. Sy praat openhartig oor haar tyd in ’n psigiatriese hospitaal, die vreugdes van ma-wees, maar ook die tragedies van menswees. En so tussendeur is daar lekker Nama-stapmusiek uit die Noord-Kaap waar Lynthia vandaankom.

Vers en klank 29 Oktober 2024
Wat maak van ’n gedig ’n ballade? Sophia van Taak verken die ballade as digvorm. Pieter van Zyl is die voorleser, en daar is ’n hele paar lekker, klassieke Afrikaanse gedigte om na uit te sien, soos D.J. Opperman se Ballade van die Grysland en S.J. du Toit se vertaling van Die Elwekoning.

Vers en klank 22 Oktober 2024
Hannah Borthwick lees gedigte voor oor kosmaak, padstalprodukte en ander lekkernye wat jou mond laat water!

Vers en klank 15 Oktober 2024
Wêreld-kosdag word op 16 Oktober gevier. Wanneer laas was jy honger? Vir die meeste van ons is dit ’n heel onbekende gevoel, iets wat jy dalk nog nooit ervaar het nie, maar meer as 700 miljoen mense het daagliks nie genoeg om te eet nie. Luister na gedigte wat ’n mens ’n slag net jou seëninge laat tel. Die voorleser is Hannah Borthwick.

Vers en klank 8 Oktober 2024
Die boek, Piaf en Brel – Luisterryk!, bevat ’n stuk of vyftig Afrikaanse vertalings, of omdigtings, van die Franse liedere van Edith Piaf en Jacques Brel. Met die herdenking van Brel se dood op die 9 Oktober 1978, luister ons na ’n paar van dié befaamde Belgiese sanger se lirieke, soos voorgelees deur Johann Nel. Jy kan ook uitsien na die musikant Herman van den Berg se vertolkings van ’n paar van Brel se liedjies.

Vers en klank 1 Oktober 2024
Sophia van Taak en De Klerk Oelofse klim in ’n pendeltuig en gaan verken die buitenste ruimte deur die woorde van ons digters. Daar’s gedigte oor sterre, die maan, ruimtesendings, komete en konstellasies. En, natuurlik, ’n groot skoot verwondering oor al die ongelooflike dinge wat ons in die naghemel kan waarneem.

Vers en klank 24 September 2024
Sophia van Taak gesels met die drukgrafiese kunstenaar, Christiaan Diedericks. Christiaan het onlangs sy debuut as digter gemaak toe hy saam met die bekende digter, Melanie Grobler, ’n bundel geskryf het. Die bundel heet Vlindervreter, en bevat verse oor die oorloë in Oekraïne en Gasa, asook oor Hindu heilige manne, Zanzibar, en hoop en genesing.

Vers en klank 17 September 2024
Vrydag 20 September is Wêreld-Opruimingsdag. Die Verenigde Nasies het ’n paar jaar gelede met dié inisiatief begin om mense aan te spoor om rommel op te tel en hulle omgewing skoon te hou. In aanloop tot dié globale skoonmaakdag, luister ons na Ira Blanckenberg se voorlesings van gedigte oor die natuur en omgewingskwessies.

Vers en klank 10 September 2024
Sophia van Taak gesels met Riku Lätti oor sy eerste digbundel, TABOEK, wat onlangs die lig gesien het.

Vers en klank 3 September 2024
Ira Blanckenberg lees gedigte oor die wind voor.

Vers en klank 27 Augustus 2024
Eben Genis lees gedigte voor uit Fanie de Villiers (ook bekend as Kleinboer) se tweede bundel, Erf en Elders.

Vers en klank 20 Augustus 2024
Sophia van Taak gesels met Maritha Broschk oor haar debuutbundel, WANNEER WOORDE ASEMHAAL. Dis ’n bundel wat handel oor beroemde vrouefigure, die kunste, die siektes van ons tyd, eg Suid-Afrikaanse maatskaplike kwessies en ook meer universele temas soos verlies, ouerskap en die onsterflike drome wat elke mens vir hom- of haarself koester.

Vers en klank 13 Augustus 2024
Sophia van Taak gesels met digter Danie Marais oor sy jongste bundel, EK EN JY BESTAAN NIE. Die skrywer en dosent, Francois Smith, het oor hierdie versameling verse gesê: “Dis ’n bundel wat jou bring by die gevoel dat petrol-en-vuurhoutjie die enigste opsie is, en jou dan ’n spierlewendige sprong woorde in die hand druk!”

Vers en klank 6 Augustus 2024
Ons herdenk Vrouedag met ’n spesiale bloemlesing van gedigte deur vrouedigters oor al die stadiums in ’n vrou se lewe. Die voorleser is Karli Heine.

Vers en klank 30 Julie 2024
De Klerk Oelofse lees gedigte oor die stadslewe voor.

Vers en klank 23 Julie 2024
Johann Nel lees van sy gunsteling gedigte oor klippe voor. Jy sal verbaas wees hoe baie van ons digters vreeslike mooi verse oor hierdie onderwerp geskryf het!

Vers en klank 16 Julie 2024
Sophia van Taak gesels met die digter Hennie Nortjé oor sy derde digbundel, Noord van Malelane. Dit is vol gedigte wat deur die Krugerwildtuin geïnspireer is.