
Radioteater
382 episodes — Page 5 of 8

ERFPORSIE deur Ronel Mostert
Lilian is 'n bobaas-sjef wat oorreed word om haar suksesvolle bistro te verruil vir 'n posisie by 'n gastehuis op 'n spoggerige wynplaas. Gou blyk dit 'n positiewe verandering te wees, as sy nuwe hoogtes bereik met haar verruklike geregte... Maar is alles so idillies as wat dit voorkom?

KAREL SE OUPA deur Retief Scholtz
Negejarige Karel du Toit kan met sy oupa oor enige iets gesels. Oupa Karel beantwoord rustig sy kleinseun se vrae, behalwe een vraag wat hy nie weet hoe om te antwoord nie. Met gesprekke wat nie meer vermy kan word nie, en die realiteit wat ongenooid aan die voordeur klop, raak die aand vir almal betrokke een wat hulle nooit sal vergeet nie. Karel se oupa is ʼn stuk wat met deernis delf in die lewe van ʼn gesin. Dit steun op die gedagte dat ouers nie veronderstel is om hulle kinders te begrawe nie, en dat spyt dikwels te laat kom. Gebaseer op die idee, konsep en inspirasie van Kosie Smit.

OUMA OP HAAR BESEM deur Annika Swanepoel
Die liefde tussen twee jongmense kom te staan voor 'n toets van ouerdruk en vorige verhoudings. Wanneer Marinda, 'n duikinstrukteur, en Jay-Z, 'n sakeman wat eintlik wil skilder, se liefde in gedrang kom, deel Marinda se Ouma 'n belangrike les met Jay-Z se beherende ma. Sal dit genoeg wees om hulle liefde te red, en sal Jay-Z mans genoeg wees om te veg vir die een waarvoor hy lief is?

KLIPPE WAT VAL deur Philip Rademeyer
Abrie en Kannetjie het saam grootgeword op ‘n afgeleë plaas. Kannetjie se geestesgetremdheid en die feit dat Abrie die seun van plaaswerkers was, het nie gepla nie. Hulle was boesemvriende. Toe gebeur daar dinge, en Abrie is weg stad toe. Jare later, toe Kannetjie se ma op sterwe lê en niemand anders na hom kan omsien nie, keer Abrie terug plaas toe. Tydens die dinamika wat volg word universele menslike gedrag in hierdie aangrypende verhaal uitgebeeld.

WILHELM TELL deur Friedrich Schiller
Goewerneur Gessler se perderuiters jaag 'n boer tot in die meer, maar die Switserse baasskut Wilhelm Tell probeer die man red. Dit lei tot 'n onderonsie tussen hom en die goewerneur. Die boere, jagters en vissers is eenvoudige, godvresende mense wat glo dat elkeen sy menseregte uit die Hand van die Skepper ontvang. Geen keiser of koning kan hulle hul vryheid skenk nie. Tell word deur die goewerneur uitgedaag en gevra om 'n appel van sy seun se kop af te skiet. As Tell nie daarin slaag nie, sal sy eie kop moet rol...

ANDERS GEVEER deur Sophia van Taak
'n Tienerseun met met Aspergersindroom begin 'n ongewone vriendskap met 'n moeilike ou man op 'n klein plattelandse dorpie waarheen hy en sy enkelma verhuis. Nadat hulle vir die hoeveelste keer van vooraf moet probeer om in te pas en 'n bestaan te maak, voel hulle algaande meer tuis en leer die seun alles oor vlugduiwe by die ou man. Die vriendskap neem egter 'n tragiese wending.

DIE SELLE deur Herman Cronjé
'n Welgestelde, spoggerige vrou kom te hore van 'n rewolusionêre prosedure waarvolgens die kloning van 'n mens vervolmaak is deur varke te transmuteer om uiteindelik die voorkoms en persoonlikheid van 'n gasheer-mens aan te neem. Sy is ongelukkig getroud met 'n bombastiese narsis, en besluit om die nuwe prosedure (sonder haar man se medewete) op die proef te stel...

ONTRUIM deur Esta Steyn
Manus en Willemien is sewentig, en moet hulle groot huis opgee en afskaal. Om weg te gooi en op te pak nadat hulle hulle lewe lank versamel het, is nie maklik nie. Hulle het soveel goeie herinneringe, maar in die proses ontdek hulle ook 'n paar lelike geraamtes, en vlam ou verwyte weer op.

LIEWE PYNAPPEL deur Anna Greenfield
Elsa is hoogswanger, en haar ginekoloog het voorgestel sy begin skryf vir "Pynappel" (Elsa se naam vir haar baba omdat sy nie die geslag wil weet voor die tyd nie) om haar gewaarwordinge en gevoelens in hierdie tyd met haar te deel. Die idee is om dan die briewe as e-posse te stuur na 'n rekening toe, en om eendag, as haar kind 18 is, vir hom of haar die wagwoord te gee sodat hy of sy die briewe kan lees. Elsa is amper 30 en enkellopend nadat die pa van haar kind die pad gevat het toe hy hoor sy is swanger. Dan is daar ook nog die vreemdeling wat oor haar pad kom en heeltyd in haar pad bly...

MIKE EN MAVIS deur Wessel Pretorius
Mavis Kellerman, ʼn weduwee wat haarself afgesluit het van die wêreld, behalwe vir haar e-posse met haar dogter, en haar weeklikse kerkdiens, ontvang 'n uitnodiging vir die opening van 'n nuwe bioskoop wat spesialiseer in klassieke rolprente. Die eienaar, Mike Lewis, is 'n eksentrieke jongkêrel met ʼn ewige romantiese siel. Mavis besef gou dat Mike daarop uit is om haar hart te wen, en bevind haarself aan die ontvangkant van ʼn vryery in haar herfsjare, wat afspeel oor ʼn reeks romantiese afsprake. Wat sy egter nie weet nie, is dat sy en Mike 'n geskiedenis deel wat lank voor die uitnodiging al begin het. ʼn Romantiese en ouwêreldse komedie wat die hartsnare sal roer.

ELKE POT deur Perdita van Dijk du Bois
Martie, 'n kunssinnige en verfynde vrou in haar vyftigs, is verbaas en effe onthuts dat haar jonger laatlam-suster vir haar probeer man soek. Wanneer sy uitvind dat haar sus kanker het, verander dit die prentjie. Tydens die dinamika wat volg, word universele menslike gedrag uitgebeeld in 'n teer verhaal van liefde en menslikheid in die aangesig van die dood.

GEBLIK deur Esther von Waltsleben
Die grootbaas van De-Lish besluit om sy franchise se sakebelange te beskerm, en stuur sy seun en jong ambisieuese werksvriend na Blikfontein om op die De-Lishrestaurant daar te spioeneer. Slim vang sy baas wanneer die twee jong jukkerige mannetjies met hulle eie agendas hulle vasloop teen die restauranteienaar en sy oorlede vrou se twee dogters. Die twee jaag die hormone behoorlik op, en Abel se tweede vrou laat ook nie op haar wag om dalk in die guns van die jong mans te beland nie.

ROAD TRIP deur Corné Joubert
Twee vroue wat ry agter vryheid aan. Een pad wat lelik skeefloop.Jana en Stephanie, stadsmeisies en beste vriendinne, vat die pad die Karoolandskap in om hulle koppe skoon te kry en nuwe avonture te beleef. Die avontuur wat hulle inwag, is nie heeltemal die soort wat hulle in gedagte gehad het nie. Daar skuil meer om die volgende draai as net rustige plase met hubare boere.

LIGTER AS DIE WIND deur André Kotzé
Dirk Ligter was 'n berugte skaapsteler uit die Hantam se wyk. Hy het van plaas tot plaas beweeg, soms fluks gewerk, al wat vroumens is, beïndruk, dikwels skaap gesteel, geslag en gebraai, maar nooit sommer homself laat vang deur die polisie nie… ten minste nie as hulle hom te perd probeer jaag het nie. Daarvoor het hy te vinnig gehardloop. Maar soms, net as hy wou, het hy hom laat vang, en self aangemeld vir sy straf vir die jongste skaapstelery. Mettertyd het skaapsteler skaapwagter geword, filosoof, spekskieter en vrye bandiet. Boerneef het vir Dirk leer ken, en sy jakkalsstreke en ramkieversies opgeteken.

DIE JUDASBOK deur Dalene Matthee
ʼn Jong bruin man raak in die jare tagtig verlief op 'n wit onderwyseres. Weens apartheidswetgewing is hulle verhouding nie net gedoem nie, dit is onwettig en strafbaar. Die paartjie beplan om hulle in Londen te gaan vestig, maar eers wil die jongman sy ma, 'n kombuishulp op 'n plaas in die Klein-Karoo, gaan groet. Sy besoek het verreikende en onvoorsiene gevolge vir al die betrokkenes...

NOG NET TWEE WEKE deur Helena Hugo
Esta is sewentien, en haar ouers se enigste kind. Sy is mooi, slim en talentvol. Haar toekoms blink, maar dan tuimel haar drome inmekaar. Moet sy haar ouers in haar vertroue neem of nie? Die uitkoms verg byna bo-menslike dapperheid en die grootste opoffering denkbaar.

DIE VOËLHOK deur William Oosthuizen
'n Polisie ondersoekspan probeer die oorsaak van die dood van 'n bejaarde vrou bepaal, wie se lyk in 'n voëlhok in die agterplaas van haar huis gevind is. Wanneer wyle Edith Visagie se seun, Niel, uit Kanada aankom vir sy ma se begrafnis, blyk dit gou dat sy pa, Bertus Visagie, nie regtig jammer is sy vrou het hom ontval nie. Het hy haar hulpkrete daardie koue nag geïgnoreer, of was daar dalk iets meer sinister wat haar dood veroorsaak het?

DIE FIETSTOER deur Joa Bekker
Wat het hulle besiel? Oom Jannes op 64 (Dirk Stoltz) en die bloedjong Chilli op 22 (Christopher van der Westhuizen) besluit om per fiets saam deur die Karoo oor Prins Albert na George te ry. Hulle gee hulleself net tien dae tyd om die rit te voltooi. Elkeen het sy eie motief oor waarom hy op die toer gaan. Kort voor lank blyk dit dat nie elkeen is wie hulle voorgee om te wees nie, en aan die einde van die toer wag daar 'n reuse verrassing op hulle...

SOEK deur Madeleine Volschenk
Letsie verdwyn spoorloos uit 'n gastehuis op die Kaapse platteland. Wat het met haar gebeur? Die ander gaste leer mekaar en die eienaars beter ken terwyl hulle bespiegel oor haar en die land se veiligheid. Wanneer Hester Ruiters by 'n plattendse gastehuis kom kuier om te skryf aan haar eerste boek, verdwyn een van die ander gaste en kry sy baie idees vir haar nuwe boek. Is Letsie in gevaar? Het sy dalk iemand spesiaals ontmoet? Of is dit net nog 'n misdaadstatistiek vir Suid-Afrika?

DIE TESTAMENT deut Rhona Peens
Oom Josef Rossouw sterf, en sy familie en werkers word na die prokureur se kantore genooi sodat die testament vir hulle gelees kan word. Daar is miljoene rand in die boedel, maar dan word oom Josef se lys voorwaardes gelees... Skielik klink die belofte van 'n stewige erfporsie eerder na 'n nagmerrie, en veral Herman en Katinka se dogter, Zenobia, begin kapsie maak. Oom Josef dirigeer die gebeure meesterlik uit die graf, want hy wil seker maak dat sy familie nie die geld sal gebruik om hulle lewe te verwoes nie. Die drama neem 'n interessante en onverwagse wending, en wys op die waarde van gesinsbande en om die belangrike dinge in die lewe met jou geliefdes te deel.

LAAT HERFS deur Richard van der Westhuizen
Andrew Beyers se lewe het, soos die meeste mense s'n, nie heeltemal verloop soos wat hy graag sou wou hê nie. Dan ontmoet hy, heel toevallig, 'n sprankelende jong kunstenaar, en sy verander sy lewe ingrypend…

ONTYDIGE TYDINGS deur Albert Short
Ontydige Tydings is 'n opvolg op 'n Voorlopige Begrafnis. Dis alweer begrafnistyd, maar die kis is swaar en die begraafplaas lê ver op 'n hoogte. Dan bedink iemand 'n plan. Dalk kan hulle die kis sommer met die lugballon soontoe vlieg? Dis veilig. Niks kan verkeerd gaan nie. Of kan dit?

WAAR IS TOMAS? deur Zoë Ras
Emma le Roux is 'n jong versorger wat na 'n bejaarde wewenaar, Giel Vermaak, moet omsien. Hulle verhouding is uit die staanspoor problematies. Tog kom Emma gou agter dat haar tyd saam met Giel haar lewe handomkeer gaan verander. Giel neem mettertyd vir Emma op verskeie avonture, wat haar dwing om haar verbeelding op speels dog kragtige maniere te gebruik. Emma leer dat 'n mens se verbeelding jou kan laat lag en huil, maar ook genees. En sy besef hoe belangrik die literatuur vir die mensdom in sy geheel is.

DIE REINE WAARHEID deur Eleanor Lombard
Wanneer 'n poskantoorwerker in 'n klein dorpie 'n storie oor een van die inwoners oorvertel, kry die storie stertjies by en word dit al hoe meer sensasioneel soos dit versprei. In 'n verrassende wending sorg die slagoffer later vir komiese gevolge.

KOLSKOOT VISAGIE deur Christopher Joynt
Hierdie drama vertel die tragiese verhaal van Barend Visagie en sy seun, Willie. Dit speel in 1948 in die Swinburne-distrik af. Hoewel dit n fiktiewe storie is, is die drama is geskoei op die Suid-Afrikaanse volkslegende waarop C.M.van den Heever sy gedig, Waar ruwe rotse, gebasseer het.

DIE GANG deur Joe Kleinhans
Die dag nadat wewenaar Jakob Swart by die Tuisbes-tehuis intrek, word hy in 'n kantoor betrap waar hy, selfoon in die hand, in 'n kabinetlaai krap. Dis in dieselfde tyd waar daar 'n veldtog in die plaaslike koerante losbars oor die agteruitgang in die tehuis, met stawende foto's. Matrone Malan kan nie anders as om te dink dat Tuisbes met hulp van binne gesaboteer word nie. Jakob is en bly haar verdagte nommer een. En waar Matrone altyd in die gang hoor wat aan die gebeur is in die tehuis, swyg die gang skielik soos die graf…

SKINK VIR MY 'N WHISKY deur Deon Johnston
Die bestuurder van 'n supermarkgroep word koelbloedig deur 'n gemaskerde rower doodgeskiet, enkele dae voor sy tweede huweliksherdenking. Vir sy jong weduwee is die skok en verlies te groot, en sy pleeg selfmoord. Haar broer sweer om die skuldiges aan die pen te laat ry. Hy roep sy jarelange vriend en privaatspeurder se hulp in. Die vriend se lewe is egter in 'n warboel as gevolg van sy leefstyl, en die ondersoek neem 'n onverwagte wending...

HITTEGOLF deur Martyn le Roux
Fanus en Linda Vermaak woon in Belville saam met Fanus se ma en hulle twee “amper groot” kinders. Die “koors” van aardverwarming slaan toe wanneer die noodlot dit so wil hê dat klomp dinge op een baie warm dag skeefloop. Die gevolg is 'n absurde kruis met realisme in 'n sitkom-styl tragiekomedie wat kontemporêre temas soos dwelms, drank en dobbel aanraak. 'n Lag met 'n traan daarby.

KOP deur Schalk Schoombie
Set Niemand is 'n belowende pianis. Hy word gediagnoseer met 'n vernietigende siektetoestand wat sy liggaam aanval. 'n Russiese gimnas word breindood verklaar en siedaar, Set se kop word op die gimnas se lyf oorgeplant deur 'n span Suid-Afrikaanse geneeshere in Moskou in die Kremlin. Aanvaar die kop en die lyf mekaar? Hoe reageer die medici daarop? En wat van eie belang? Is dit moontlik en volhoubaar?

‘N POPHUIS deur Henrik Ibsen
Noora Helmer kan as 'n tipiese bedorwe en opgepiepte ryksmansvrou beskryf word. Haar man, Toorwald, is 'n bankbestuurder en hulle huwelik lyk op die oog af gevul met geluk. Maar op Oukersaand klop 'n skuldeiser aan Noora se deur en eis sy pond vleis. Dit bring haar nie net in konfrontasie met haar man nie, maar ook met haarself. Sy besef dat sy tot dusver net almal se speelding was. 'n Skadelose poppie. Tog is dit nou tyd om groot te word...

'N VOORLOPIGE BEGRAFNIS deur Albert Short
'n Man skryf 'n brief aan sy naasbestaandes om te vra dat hulle hom hierdie keer met die nodige respek sal begrawe. Waarom word hierdie man twee keer begrawe, en wat het fout gegaan tydens die eerste begrafnis?

ROMMEL, ROMMEL deur Lee Doubell
Drie gesoute rowers – of is dit dalk eerder veteraantronkvoëls – beplan hulle eerste rooftog in twee jaar ná hulle laaste besoek aan die staatshotel. 'n Naïewe jongman, kraakvars van die plaas af, word aangestel om 'n swaarvragmotor in die rooftog te bestuur. Aanvanklik word die jongman met groot agterdog bejeën, maar uiteindelik moet hulle erken dat hulle 'n goeie belegging in die plaasjapie gemaak het. Of hulle die keer daarin sal slaag om met die grootste buit in hulle rowersloopbane die gasvryheid van die staatshotel vry te spring, sal egter net die tyd kan leer.

VLERKE VIR JASON deur Janine van der Linde
Die verhaal belig die wrede situasie waarin die mense van die Kaapse vlakte hulleself bevind, die angs waarmee 'n moeder terugkeer van die werk af as sy haar kind tuis moes los, en haar stryd met die gevolge van 'n doodgewone Saterdaguitstappie. Hierdie drama is met die tweede prys in RSG en SANLAM se radiodramaskryfkompetisie van 2017 bekroon.

SPRINGGETY deur Sophia van Taak
'n Talentvolle haikoedigter en kopieskrywer wat sukkel met depressiewe gedagtes, besluit sy het genoeg gehad van die lewe. Sy hou egter nie rekening met haar nuwe buurman en sy sagte hart nie. Wanneer Lena Dreyer leer om die lewe te aanvaar vir wat dit is, vind sy haarself weer op die pad van hoop en nuwe vriendskappe. Die lewe het egter ander planne met haar...

OORLEWING – C-BLOK deur Erica Harris
Daniel en Klara bly in dieselfde woonstelblok waar 'n eksentrieke hawelose ou vrou gereeld met haar winkeltrollie vol nuttelose stofgaarders kom smous. Sy blyk egter oor veel meer te beskik as net haar trollie vol negosieware. Haar ryk lewenservaring het 'n blywende en ingrypende invloed op die twee jongmense, wie se lewens skynbaar nie volgens plan verloop nie.

QUINTIN ROY EN DIE PAASHAAS deur Helena Hugo
Speel die Bybelse oorsprong van die Paasgebeure nog die rol wat dit behoort te speel, of word dit vertroebel deur heidense simbole en fantasieë oor die Paashaas en sy ware? Quintin Roy is 'n jong akteur wat sy bes doen om sjokolade te verkoop en kinders gelukkig te maak. Maar dan kom hy te staan teen ouddominee Broderick en die waarheid…

SJARRAP EN EET JOU KOS! deur Ilné Fourie
Al ooit gewonder hoekom mense kelners word? Of wat deur hulle gedagtes gaan, veral as hulle met dom vrae bestook word? Of hoeveel dit van 'n kelner verg om net 'n klein gunsie vir iemand te doen, soos om 'n foto (of ses) te neem? Maak nader kennis met die psige en die stresvolle lewe van 'n kelner.

DIE NAG VAN DIE WYSES deur Zenobia Kock
Die drama, wat die derde plek behaal het in die RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie vir 2015, handel oor ʼn wanaangepaste oujongnooi (wat sommige simptome toon van Asperger se sindroom) wat die wêreld van ʼn afstand beloer. Dan gebeur iets wat haar buitengewoon laat optree en almal rondom haar verstom. Dit is ʼn soort Kersverhaal met heelwat kinkels en onthullings.

SEA POINT MANSIONS deur Annemarie Roodbol
In 'n deeltitel-woonstelkompleks in Seepunt vind die inwoners uit dat die deelnemingskwota nie volgens die deeltitelwet toegepas word nie. Omdat 35% van die gebou uit winkels bestaan. en die residensiële en kommersiële komponente dus verskillende belange het, is daar gedurig konflik tussen die inwoners.

SPIEËLBEELD deur Ronel Mostert
Andrea is een van 'n tweeling wat altyd aan die korste ent trek. Haar liefde vir haar suster maak dat sy gereeld toegee, aanvaar, die ander wang draai en keer op keer vergewe. Maar waar trek sy die streep en wanneer is genoeg, genoeg? Nadat die lewe en haar tweelingsuster haar weer eens teleurstel, gaan kruip sy by 'n vriendin weg om haar wonde te lek. Sal sy die lewe, die mense naaste aan haar en die liefde weer 'n kans gee? Lê die antwoord in die hoeveelheid kere wat jy val, of die hoeveelheid kere wat jy opstaan?

AKWARIUS deur Marion Erskine
Baasspeurder Sakkie Joubert het al 'n hele paar reeksmoordenaars aangekeer. Dis sy spesialiteitsgebied. maar die laaste een, die een wat hy ten alle koste wil vastrek voor hy aftree, bly hom ontwyk. Dit word 'n dodelike kat-en-muis-speletjie tussen die jagter en die gejagte.

DIE JUDASBOK deur Dalene Matthee
ʼn Jong bruin man raak in die jare tagtig verlief op 'n wit onderwyseres. Weens apartheidswetgewing is hulle verhouding nie net gedoem nie, dit is onwettig en strafbaar. Die paartjie beplan om hulle in Londen te gaan vestig, maar eers wil die jongman sy ma, 'n kombuishulp op 'n plaas in die Klein-Karoo, gaan groet. Sy besoek het verreikende en onvoorsiene gevolge vir al die betrokkenes...

…MY SKUILPLEK DIE KAAPSE STRATE deur Ilona Edwards
'n Jong seun wie se ouers in die tronk is, besluit om die pad te vat omdat hy reken dis beter om op straat te woon as om heeltyd deur sy ouer broer afgeknou te word. Hy word deur bendelede geteiken, en ondervind 'n paar dinge waarop hy nie gereken het nie. Hy word deur 'n inisiasie geneem, wat hom laat terugverlang na sy veilige huis by sy ouma.

VERGELDING deur Susan Gaigher
Wanneer iemand jou van jou kosbaarste besitting ontneem, per ongeluk of deur nalatigheid, en dit verander die res van jou lewe: wat doen jy? Vergewe jy of laat jy toe dat die boosheid in jou oorneem deur jou te wreek? Indien jy wraak kies, kan vergelding ooit regverdig word? Wat sou jy kies?

DOP deur Retief Scholtz
'n Oud-Spoorwegwerker, Frank, en 'n jong kroegman, Tim, neem jou saam in 'n hartroerende ontbloting van hulle siele in 'n kroeg waar brandewyn nie brieke het nie. Frank, wat afgetree is, vier sy skrikkelverjaarsdag, maar daar is min vreugde in die aand. Hy, sy pa en sy pa se pa was almal Spories wat uit die arm deel van die dorp gekom het. Frank se idiomatiese taalgebruik sorg vir komiese momente en lei ook tot verskeie voorvalle wanneer die generasiegaping aanvanklik 'n kloof vorm tussen Frank en Tim. Tim is amper 30 jaar jonger as Frank. Hy is as tiener Australië toe, en het weer terggekeer na sy hartland. Hartland kry 'n dubbele betekenis, want beide se harte word oopgevlek voor mekaar en voor die luisteraar. Jou hart sal geroer word deur die newels van die aand. Frank en Tim se storie, gebind met musiek van Kerkorrel, sal jou diep ontroer. Pas op vir taalgebruik indien jy 'n sensitiewe siel is.

LOTSBESTEMMING deur S.D. Fourie
Liefde is ongetwyfeld een van die heel belangrikste dinge in enige mens se lewe. Wat van liefde met die eerste oogopslag? En is ouderdomsverskil werklik belangrik? Die drama speel af in 1881 op 'n skip. Dit is 'n intrige tussen 'n beeldskone, onervare jong meisie en die veel ouer skeepskaptein.

DIE MOOI MEISIES VAN BITTERFONTEIN deur Perdita van Dijk du Bois
Dit is die verhaal van 'n groep vroue van die plaas Bitterfontein, wat oorgelewer is aan die behoeftes van die werkgewers. Die skrywer hanteer die probleme waarin so 'n geslote gemeenskap, wat afhanklik is van mekaar, met groot insig en geen sentiment nie.

MYMERINGE VAN 'N OU MAN deur Dolf van Niekerk
Die 88-jarige Johan gesels met sy versorger, Dalene, en mymer: “Ek het altyd gedink die lewe is 'n wonder, en die dood 'n misterie. Nou dink ek dis andersom. Die lewe is 'n misterie, die dood 'n wonder. En hier is ek nog…” Ons leer ken ons Johan as kind, later student en jong man, en nou as bejaarde wat so tussendeur sy lewe en liefdes 'n sinvolle legkaart van al sy mymeringe probeer maak.

SAND deur George Weideman
Petra en haar ma Ragel woon op die afgeleë plaas Waaisand in die dorre streke van Namibië naby Sossusvlei. Petra se pa het weggeloop toe sy nog 'n baba was, en sy koester steeds 'n wrok teen hom oor hierdie verraad. Sy verwag dat hy tog eendag sal terugkeer, soos 'n misdadiger terugkeer na die toneel van die misdaad. Twintig jaar later kom 'n sekere Herman by die plaas aan, op soek na 'n potjie robyne waarvan die triekster-figuur, die swerwer Sysie, hom vertel het. Petra lê hom voor en skiet hom dood, waardeur 'n onreg van die verlede reggestel word en die bewyse deur die sand toegewaai word... Dit is 'n spanningsdrama, waarin die sielkundige impak van onreg op die mens ondersoek word, met motiewe soos gierigheid, wraak en selfsug wat ook aangeraak word.

DAGBOEK VAN ‘N WURM deur Martyn le Roux
“Liewe Dagboek, Ek weier om 'n slagoffer van my omstandighede te wees...” Cassandra Viljoen is n belowende jong liggaamsbouer wat die sportsoort gebruik om bo haar omstandighede uit te styg. Nie almal in haar familie ondersteun haar egter nie. En dan is daar haar albatros...