
Radioteater
382 episodes — Page 3 of 8

WAAR IS ELLIE PAUW? deur Hendie Grobbelaar
Toe Wilhelm Pauw eers laat in sy lewe uitvind hy het 'n dogter, begin hy na haar soek. Omdat hy desperaat is, is sy metode onortodoks. Daar is net twee mense wat hom kan help met sy soektog - Sophia Marais, 'n verbitterde, ongelukkige vrou, vervreemd van haar dogter, met 'n geheim wat haar gewete opkeil - en Gwen Lotter, 'n vrolike, boheemse vrou wat ook met 'n geheim saamlewe. Die twee is beste vriendinne. Gwen kan nie verstaan hoekom Sophia so behep is met dominee Thinus Smit, 'n skynheilige rokjagter nie. Sophia het egter haar redes. Wilhelm benader hulle met 'n ompad. Hy kry sy antwoord, en die twee vriendinne is ook uiteindelik eerlik met mekaar. Maar hoe pas Madame Helena, die geheimsinnige fortuinverteller, by die prentjie in? Die spelers is Rina Nienaber, Elma Potgieter, Heidi Mollentze, Lochner de Kock, Anton Schmidt en Eloise Cupido. Hendie Grobelaar het al verskeie radiodramas vir RSG geskryf, insluitend Sterrereën en Johanna se Elvis. Waar is Ellie Pauw? was ‘n finalis in vanjaar se radiodrama-skryfkompetisie.

‘N WARM WIND OOR DIE VLAKTES deur Richard van der Westhuizen
‘n Man stop by die hotel in ‘n klein dorpie in Namakwaland, en betaal kontant vir ‘n kamer vir vyf aande. Hy is hier met ‘n doel. In die warm, stowwerige windverwaaide wêreld ontmoet ons die garage-eienaar met sy werkswinkel, waar allerhande dinge reggemaak word, die windmaker dwelmhandelaar en sy pêl wat misbruik maak van die jongmense se ledigheid, die behulpsame hotelbestuurder, en die vriendelike Rosie wat by die hotel werk, maar tot baie meer in staat is. Wanneer hy vyf aande later stil-stil vertrek, is die dorpie nooit weer dieselfde nie. Die spelers is Chris van Niekerk, Simone Benjamin, Charlton George, Dean Balie, André Samuels, Chloe van Rooyen en Pieter van Zyl.

HENDRIK SE HISTEREKTOMIE deur Ilné Fourie
[Wenner van RSG en NATi se eerste Kwartkomedie-skryfkompetisie vir komiese radiodramas] Dr. Marais is ’n veearts op ’n klein dorpie wat ’n tydelike ontvangsdame, Marietjie, in diens geneem het. Haar eerste dag verloop, om die minste te sê, minder geslaagd. Koos se hond, Buffel, het sy nuwe bakkie se sleutels ingesluk, en Dorette se hamster het oornag agt kleintjies gekry. Dit, terwyl dr. Marais ’n besige dag in die teater het en nie kans het om aandag aan enige diere, behalwe noodgevalle, te gee nie. Marietjie gebruik haar inisiatief, maar slaag slegs daarin om die veearts, Koos én Dorette lelik om te krap! Die spelers is Richard van der Westhuizen, Marissa Claasen, Anrich Herbst en Nicole Holm.

DIE RARE JACOBS deur Melt Sieberhagen
[Naaswenner van RSG en NATi se eerste Kwartkomedie-skryfkompetisie vir komiese radiodramas] Herman is ’n onvergenoegde, middeljarige sakeman wat ná meer as drie dekades nie die bevordering kry wat hy meen hom toekom nie. Iemand van die straat af, ’n meneer Jacobs, word as sy bestuurder aangestel. Wat Herman nog erger laat voel, is dat hy bloot ’n e-pos gestuur het om die man geluk te wens met sy aanstelling. Intussen is die veel jonger Donovan en Bianca Jacobs op pad terug huis toe ná ’n misverstand met ’n gatsby-aand by vriende, waar Donovan dog dis ’n viering van die Gatsby-karakter met kleredrag van daardie era. Bianca voel verneder en dring aan om huis toe te gaan. Hulle verdwaal en toe hulle by ’n huis stilhou om hulp te vra, is dit juis by Herman en Heleen se huis wat die nuwe bestuurder enige oomblik verwag… Die spelers is Albert Maritz, Rolanda Marais, Dean Balie en Kay Smith.

EERBARE INTENSIES deur Benjamin Kock
Katrien is ’n 27-jarige aktuaris wat baie bekommerd is oor haar ouers, Basie en Ella, twee sout-van-die-aarde plaasmense wat na Italië gereis het, maar toe skielik verdwyn het. Uiteindelik spoor Katrien hulle per telefoon op waar hulle baie opgewonde vir haar vertel hoe heerlik hulle kuier by Lorenzo se ouers, Luigi en Sofia, in Palermo, Sisilië. Lorenzo is ’n jong man wat Katrien op die internet ontmoet het, wat baie graag by haar in Suid-Afrika wou kom kuier. Basie en Ella het toe heimlik besluit om dié jong man én sy ouers te gaan ontmoet om seker te maak hulle is goeie mense. Hulle is só ingenome met die Italianers, dat hulle sommer al begin reëlings tref vir die troue! Hoe meer opgewonde Basie en Ella raak, hoe meer bekommerd raak Katrien, omdat sý besef dat die weelde en die rykdom waarin Luigi en sy familie leef, spruit uit Luigi se bande met die Mafia! Die spelers is Marissa Claasen, Richard van der Westhuizen en Susanne Beyers.

KAMMA SPESIALE VRIENDE deur Niel Steenkamp
Frans en Anita loop mekaar in ’n supermark raak, begin gesels en kom tot die gevolgtrekking dat Frans se weduwee-ma en Anita se wewenaar-pa albei die behoefte het om weer iemand spesiaal te ontmoet. Hulle erken dat hulle ouers baie hardkoppig is en nie ’n ontmoeting met iemand ter wille sou wees nie. Só spreek Frans en Anita toe af om te maak asof hulle op mekaar verlief geraak het, om op dié manier hulle ouers aan mekaar voorgestel te kry. Min weet hulle dat hulle ouers mekaar op skool reeds geken het, maar toe kontak verloor het. In die proses van maak asof, raak Frans en Anita toe régtig verlief op mekaar. Die spelers is Albert Maritz, Jane de Wet, Rolanda Marais en De Klerk Oelofse.

DIE SWERFJARE VAN POPPIE NONGENA deur Elsa Joubert
Die verhaal handel oor die lewe van Poppie Nongena. Dit vertel hoe sy as ma rondgeskuif is weens die politieke stelsel van die tyd, en die besluite wat sy ter wille van haar kinders se opvoeding moes neem. Dit beeld haar innerlike stryd uit oor die besluite wat sy telkens moes neem. Elsa Joubert se gelyknamige roman het in 1978 verskyn. Dit is verskeie keer bekroon, en in meer as 13 tale vertaal. Ses jaar ná die verskyning van die roman, is die boek deur deur Sandra Kotze vir die verhoog verwerk. Die verhoogweergawe is later deur Suzanne van Wijk vir die radio verwerk. Hierdie weergawe is in 2006 deur Margot Luyt opgevoer. Zenobia Kloppers kan in die naamrol gehoor word. Nic de Jager is die verteller, Poppie se broer Mozi is vertolk deur Christo Davids en Hoedjie deur Marlin Balie. Ander spelers is André Rossouw, Johan Botha, Lida Botha, Ivan Abrahams, Sizwe Msuthu, Shaun Arnolds en Juanita Swanepoel.

BOETIE KOM KUIER deur Thomas van Niekerk
Hierdie lighartige komedie was deel van die RSG/Nati Kwartkomedie-skryfkompetisie. Hope misverstande, vooroordele en mistasting loop uit ‘n verrassende ontknoping. Die akteurs is Sandra Prinsloo, Frans Swart, Marissa Claasen en Philru van Achterberg.

DIE NAGBESOEKERS deur Albert Short
Twee ou mense wat naby ‘n begraafplaas woon, word toenemend met die dood gekonfronteer. Aanvaarding en ontkenning word aanvanklik ‘n speelbal tussen die twee, maar dan gebeur dít wat geen mens nog kon systap nie… Die akteurs is Elma Potgieter en Frans Swart.

ONVOLTOOID deur Ayden Kruger
Danel, ‘n sielkundige, meen sy het ‘n goeie lewe en ‘n gelukkige huwelik. Maar dan kom sy een dag vroeg tuis en betrap haar man, Bertus, saam met ‘n ander vrou in hulle bed. Sy vlug na haar Pa toe. Hulle het mekaar vir bykans 10 jaar nie gesien nie, en Danel is nie daarvan bewus dat haar Pa siek is nie. Sy weet ook nie dat hy sy huishulp se kleinkind versorg nie. Danel en haar Pa moet die brûe na mekaar herstel, en in die proses leer sy ook dat vergifnis heling bring. Die spelers is Heidi Mollentze, Lochner de Kock, Shemaine Harris, Kaz McFadden, Lelia Etsebeth en Renske Jacobs.

SONDESEEP deur Susan Marais
‘n Gesiene inwoner van ‘n plattelandse dorpie iewers in die Noord-Kaap verdwyn te midde van die gemeentesusters se beplanning van ‘n kerkbasaar, ter ondersteuning van die kontrei se verarmdes. Aan die spits van hierdie filantropiese poging is Mevrou Dominee, kranige boerseepkookster. Maar is sy inderdaad besig met die Hemelse Koninkryk se werk? Die rolverdeling is Susanne Beyers, Johann Nel, Frieda van den Heever, Dann-Jacques Mouton, Antoinette Kellerman, Kay Smith en Anrich Herbst. Cassi Lowers was verantwoordelik vir die tegniese versorging. Sondeseep was ‘n finalis in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie van 2020.

DIE MAGRIETJIE deur Jenny Pieterse
'n Weduwee sukkel om oor haar man se dood te kom. Haar buurvrou sien om na haar Pa, wat terminaal siek is weens kanker. Dan kruis die twee se paaie en hulle word op onverwagse wyse by mekaar se lewe betrek. Dis ‘n verhaal oor die trauma van verlies, en heling deur medemenslikheid. Die spelers is Rika Sennett, Eloise Cupido, Luan Jacobs, Donovan Pietersen, Duncan Johnson en Renske Jacobs.

DON JUAN deur Moliére
Hierdie argiefproduksie word uitgesaai ter viering van die Franse dramaturg, Moliére, se geboorte in 1622, vanjaar 400 jaar gelede. Molière was ‘n akteur, dramaturg en digter, en word beskou as een van die belangrikste skrywers in die Franse en wêreldletterkunde. Sy werk is in verskeie tale vertaal, insluitend Afrikaans, en word steeds in Frankryk opgevoer. Die spelers is Louis van Niekerk, Dana Niehaus, Christine Stevens, Miems de Bruyn, Franz Marx en Pieter Hauptfleisch. (Opgeneem in 1973)

KINDERS deur Erica Harris
Natasha kry onverwags toesig oor haar tienerseun, Tiaan. Nie sy of haar lewensmaat Bella is egter gereed vir die verantwoordelikheid nie. Die spelers is Nadia Valvekens, Cintaine Schutte, Eloff Snyman, Roelien Daneel, Dan-Jacques Mouton en Charl van Heyningen.

NAAND, JOSEF deur Albert Short
‘n Man verdwyn soos ‘n groot speld terwyl hy oor 'n uitgestrekte vlakte reis. Die enigste mense wat op die vlakte bly, is twee ou tannies in ‘n afgeleefde huisie. Beide is in hulle 90’s. Maar hulle weet niks… of so sê hulle wanneer die polisie bel om hulle daaroor te vra. Die spelers is Elzabé Zietsman, Rina Nienaber, Charlie Bougeunon en Eloise Cupido. Albert Short het die tweede prys in RSG en Sanlam se Radiodramaskryfkompetisie in 2021 gewen met hierdie drama.

STERSTOF deur Cecelia du Toit
Dit is 2052 en twee mense word na Mars gestuur om daar kos te verbou. Wanneer hulle egter tydens die sending wakker word, kom hulle met ‘n skok agter dat hulle na ‘n heel ander plek op pad is. Die spelers is Rolanda Marais, Jane de Wet, Charlton George, Wilhelm van der Walt en Anrich Herbst. Die drama het die derde prys gewen in RSG en SANLAM se Radiodramaskryfkompetisie in 2021.

WAAROM, HERE? deur Joey van Niekerk
Die drama vertel die verhaal van Saggeus, die tollenaar. Hy was in jy jeug opstandig omdat hy nie kon deel hê in die voorspoed en rykdom wat regeringsgesindes te beurt geval het nie. Toe word hy ‘n tollenaar, en word ryk en magtig. Toe hy Jesus van Nasaret een dag ontmoet, verander sy lewe. Met Luan Jacobs, Jakkie Groenewald, Estel de Beer en Johny Klein.

DIE DOOD VAN BITITI deur Adriaan Havenga
'n Wildsplaas... 'n Familieplaas... 'n Erfplaas... Dis waar die verhaal afspeel. En, soos dit maar dikwels met familie gaan, is daar onderlinge jaloesie en afguns. Daar is ook struwelinge tussen suster en broer. En 'n moeilike ma, die matriarg, wat almal na haar pype wil laat dans. 'n Nuwe leeuwyfie word afgelewer op die plaas. Haar naam is Bititi. Die leeu word gebruik om moeilikheid te maak vir sekere familielede... Met katastrofiese gevolge. Die spelers is Rina Nienaber, Anton Dekker, Anton Schmidt, Heidi Mollentze, Ilse Klink, Izel Bezuidenhout en Donovan Pietersen. Adriaan Havenga is die wenner van RSG en SANLAM se Radiodramaskryfkompetisie in die afdeling Jong Skrywer.

DIE VUURVLIEGDIEF deur Madeleen Welman
‘n Hartroerende verhaal wat die storie van die onwaarskynlike ontmoeting tussen Ria (‘n angstige, afhanklike vrou in haar tagtigs) en William (n deurwag by ‘n winkelsentrum) vertel. ‘n Diep band wat agtergrond en kultuur oorgrens, word binne ure gevorm. Die soort band wat net in die dal van doodskaduwee gesmee word. ‘n Eietydse Barmhartige Samaritaan speel hom af in en om ‘n hysbak in ‘n besige winkelsentrum met priesters en leviete wat haastig en onnadenkend verby beweeg, en een mens wat bly. Eenvoudig bly. Bly sit. En só iemand se lewe red. Die akteurs is Marion Holm, Dean Balie, Waldemar Schultz, Cintaine Schutte en Carel Nel.

DIE WILDSBOUDJIE deur Fritz Steyn
Die lollery begin wanneer dominee Gompul ongemaklike vrae het oor ‘n wildsboudjie wat spesiaal vir hom voorgesit word. Hy kuier op die plaas van Sarel du Plessis en sy dogter Lettie. Sarel wil die onderwerp van die oorsprong van die wildsboud vermy, en probeer elke keer die gesprek in ‘n ander rigting stuur. Want die jagseisoen is toe – en Sarel weet hy is in die moeilikheid as iemand uitvind hy het ‘n bok geskiet. Dan begin die buurman, Abel Potgieter, ook vrae vra. Daar is meer geheime as wat dit op die oog af lyk. Wanneer die polisieman ook opdaag, raak sake net verder deurmekaar. Die rol van Sarel du Plessis word vertolk deur Dana Niehaus; sy dogter Lettie is Bettie Kemp, die dominee is Kosie Eloff; die buurman Abel is Hennie Oosthuizen en Elsa is Janine Pretorius. Die stemme van Lochner de Kock en Charl van Heyningen kan ook gehoor word.

EN DAAR WAS SKAAPWAGTERS deur NP Van Wyk Louw
Drie skaapwagters pas skape op in die Roggeveld, iewers tussen Calvinia en Sutherland, enkele dae voor Kersfees. Dis in die jare vyftig. Dis baie droog. Abram, Japie en Izak se hoop dat hulle vir Kersfees huis toe kan gaan, vervaag want Herklaas, Izak se Pa, sê hulle moet in die veld bly om te voorkom dat die skape vrek weens droogte en gebrek aan weiding. In die aanloop tot Kersfees sien Japie saans ‘n lig wat al helderder word. Eers bly hy stil, maar vertel later vir die ander daarvan en hulle begin dit ook sien. Dan kom Herklaas op Oukersaand by die ander drie in die veld aan. Hulle beleef ‘n vreemde ervaring. En dan gebeur ‘n wonderwerk... Die teks kom oorspronklik uit Van Wyk Louw se prosabundel, Maskers van die Erns. Met Simon Bruinders, Luan Jacobs, Johny Klein en Richard van der Westhuizen.

SIEN JOU WEER GISTER deur Niel Steenkamp
Twee akademici, een by 'n universiteit en een by 'n privaatinstansie, wedywer om die eerste te wees om 'n suksesvolle tydmasjien te bou. Die spelers is Jakkie Groenewald, James Borthwick, Lochner de Kok, Karin Retief, Christo Compion, Luan Jacobs en Lelia Etsebeth.

DIT KLINK NA DONDERWEER deur Maria Vos
Die verhouding tussen ma’s en dogters is uniek, en soos die jare aanstap verander die verhouding deurentyd. Dogters word groot. Ma’s ontdek ‘n lewe onafhanklik van hulle kinders. Dit is ‘n kuns om die verhouding suksesvol te bestuur, en genade as ma’s en dogters deur al die jare vriende kan bly. DIT KLINK NA DONDERWEER is ‘n lighartige familie-komedie wat dalk net ‘n klein bietjie hoop kan bring. Dit was ‘n finalis in die RSG/Sanlam radiodrama-skryfkompetisie van 2020. Die spelers is Susanne Beyers, Vicky Davis, Cintaine Schutte en Riaan Visman.

HYGEND HENNIE deur Joe Kleinhans
In sommige huise word troeteldiere soos kinders behandel – en die dierekinders smokkel maklik met hulle eienaars se koppe. Die troetelhoenderhaan, Hennie, veroorsaak konsternasie. Sy eienaar, Saartjie Serfontein, beland in die hospitaal, en ‘n vriendin moet Hennie oppas. Sy bly egter in ‘n kompleks met streng reëls. ‘n Knorrige skrywer verkla haar by die voorsitter van die kompleks. En dan begin die vonke spat. Met Karen Wessels, Charlie Bouguenon, Ria Smit, Rina Nienaber en Simon Bruinders.

ONDER DIE APPELLIEFIEBOS deur Marlise Joubert
‘n Sensitiewe tiener beplan ‘n begrafnis vir haar geliefde kat op hulle plaas. Haar broer bou die kissie, en haar beste vriendin staan haar by. Ma Hanna bekommer haar oor haar dogter – sy kom depressief voor, die kommunikasie tussen hulle het verswak en die kind se skoolwerk gaan agteruit. Sy probeer vergeefs uitvind wat dit is wat haar dogter so kwel. Die spelers is Elanza Swart, Wilhelm van der Walt, Erica Wessels, Kayla van der Merwe, Eugenie Wiggins, Chloe van Rooyen en Cole Wessels.

KRONKELPAD deur Ronel Mostert
Lize Rademeyer, ‘n beelskone meisie met ‘n gebroke hart, bevind haar op ‘n gevaarlike plaasgrondpad sonder petrol en oënskynlik ‘onder die invloed’ wanneer Hugo Naudé, die dodelik aantreklike eienaar van die plaas, op haar afkom. Hy is woedend wanneer hy verneem dat sy in diens geneem is as in-huis fisioterapeut deur sy eiewys sussie, Mijke, wat die gebruik van haar bene verloor het weens ‘n motorongeluk op dié einste verraderlike pad. Die spelers is Amalia Uys in haar radiodramadebuut, Jacques Bessinger, Roeline Daneel, Zenobia Kloppers, André Samuels, Ira Blankenberg en Petrus du Preez. Cassie Lowers is verantwoordelik vir die tegniese versorging.

DONKERHOEK deur Nicola Hanekom
Op die plaas Donkerhoek in Kannaland speel ‘n sombere verhaal af tydens ‘n verwoestende en verterende brand, aangehits deur ‘n wraaksugtige piromaan. Sy skielike verskyning na jare se afwesigheid, krap ou wonde oop. ‘n Raaiselagtige kinderdood, seksuele afdreiging, verwerping en disfunksionele gevolge lei tot ‘n rillerverhaal wat jou vasgenael voor die radio sal hou. Die spelers s June van Merch, Zenobia Kloppers, Charlton George, Frieda van den Heever, Anrich Herbst, André Samuels en Pieter van Zyl. Waarskuwing: Nie vir sensitiewe luisteraars aanbeveel nie, weens taalgebruik en volwasse temas.

WILDE ALS deur Wessel Pretorius
Hilde Kraus, ‘n legendariese skrywer in haar sestigs, sonder haarself in ‘n plaashuisie in die Karoo af om haar finale, outobiografiese roman te skryf, jare na haar laaste poging. Sy wroeg deur die kronkelpaaie van haar geheue om sin te maak van die goeie en die slegte, sodat sy dit uiteindelik in haar boek kan verwoord. Om haar te help om feite van fiksie te skei, “ontbied” Hilde haar eertydse minnaar en muse, Paul Naudé, vir die laaste keer. Só word sy gekonfronteer met pynlike sleutelgebeure in haar verlede. Die rolle word vertolk deur die akteurs wat in die verhoogproduksie te sien was. Jana Cilliers is Hilde Krauss, en Dawid Minnaar speel die rol van Paul Naudé.

HEMELBLOU deur Isabel Martinson
Amanda Nel en Karoli Vermeulen ontmoet mekaar op 'n parkbankie op 'n wolklose dag. Amanda is op dié spesifieke dag al vir twee jaar 'n weduwee. Sy het nog nie haar verlies verwerk of daarmee leer saamleef nie. Nie net die verlies van haar eggenoot nie, maar ook in 'n sekere sin dié van haar jeug... want is weduwees dan nie veronderstel om oud te wees nie? Karoli, daarenteen, is die verpersoonliking van jeugdige, byna naïewe lewensenergie. Sy stel opreg belang in Amanda en haar "donkerte", soos Karoli dit noem, en so begin 'n baie onwaarskynlike vriendskap tussen 'n terughoudende ouditeur en 'n borrelende aktrise. Hemelblou is 'n verhaal oor lewe ná die dood, liefde vir een mens wat geleidelik deur Liefde se alchemie omvorm word in liefde vir alles en almal. Die akteurs is Mariechen Vosloo, Elanza Swart, Albert Pretorius en Dean Balie. Regie: Frieda van den Heever.

NAG KARLIEN deur Bettie Kemp
Tevore het jy hulle altyd op DEURNAG OP RSG gehoor. Omroepers wat luisteraars, veral die Siele op Wiele, geselskap hou. Bettie Kemp, wat vroeër jare die skof gereeld waargeneem het, het ‘n radiodrama geskryf oor haar wedervaringe in die ateljee wanneer sy so alleen daar sit. Wat die drama spesiaal maak, is Karlien se obsessie met een spesifieke luisteraar wat telkens SMS’e stuur. En sy reaksie op wat sy sê. Die spelers is Bettie Kemp, Janine Opperman, Anton Schmidt en Sulette Minnaar.

GREEN ROOM deur Ilne Fourie
Die drana speel af in ‘n green room waar menige akteurs al meer tyd spandeer het agter die verhoog as op die verhoog, tydens repetisies om iets te drink, te gesels, deur woordrepetisies te gaan en mekaar se lief en leed te deel. Hierdie magiese ruimte word slim benut deur die skrywer, tydens ‘n verhoogrepetisie van Daar woon mense daar, een van Athol Fugard se nie-politiese dramas. Die rolle van Don en Millie word gespeel deur die akteurs Barry (Cobus Rossouw) en Isabelle (Antoinette Kellerman). Dié twee se rakleeftydperk staan einde se kant toe. ‘n Mens word met heimwee en deernis vervul oor die bydrae wat soveel kreatiewes agtergelaat het, maar ook weerloos laat in hulle latere jare.

OOM WILLEM SE BANKIE deur Magdel Brand en Appel van Rensburg
Waarskuwing: Die volwasse tema en van die taalgebruik mag sensitiewe luisteraars aanstoot gee. Dokter Willem Oberholzer se lewensverhaal lees nie soos die deursnee mens s’n nie. Om die waarheid te sê, min mense het begrip vir die dilemma waarmee hy vir meer as drie dekades moes saamleef. Ná sy aftrede bevind dié vooraanstaande sielkundige hom eensklaps op die rand van die samelewing, want ook mense wat hy intiem geken het, het nie begrip daarvoor nie. Selfs sy enigste kind wil niks met hom te doen hê nie. En dan daag Alma op ’n dag op en vra of sy maar op sy bankie, wat uitkyk oor die pragtige blou water van die Indiese Oseaan, mag kom sit. Hy voel die angs in hom opstoot, want die afgelope agt jaar al lewe hy op straat. Hy kan nie meer normaal met mense kommunikeer nie. Nog minder vertrou hy hulle. Met Barry Tolmay, Magdel Brand, Barbara McArthur, Anelle Engelbrecht, Doné van den Bergh, Driekus Joubert, Chanelle Matthee en Helmi White. Behalwe Barbara McArthur, maak al die akteurs hulle debuut in RSG se Radioteater.

KLIPGEBEDE deur Schalk Schoombie
Waarskuwing: Geweld en kru taal. Marina en haar seun, Gerbrand, is slagoffers van gesinsgeweld. Marina vertel haar lewensverhaal aan haar vriendin Katryn, en herleef so die gebeure wat tot hulle huidige omstandighede gelei het. Die spelers is Elma Potgieter, Rika Sennett en Anton Schmidt.

BOERETROOS deur Erica Harris
Jongmanne, wat opsoek is na hulle identiteit en plek in die samelewing, se herhaalde kwaaijongstreke word al hoe meer gewaagd, en lei uiteindelik tot moord. 'n Talentvolle siniese joernalis stem teensinnig in om agter die kap van die byl te kom, en sy probeer help om die moordenaars aan die kaak te stel. Die spelers is Karen Wessels, André Stolz, Rina Nienaber, Johny Klein, Kaz McFadden en Denver Vraagom.

AS IS VERBRANDE HOUT deur Janine van der Linde
Hester se man se laaste versoek was dat sy as gestrooi moet word op sy geliefde plaas in die Noord-Kaap, waar hulle lank terug gewoon het. Die droogte het hulle gedwing om die plaas te verlaat, met hartseer gevolge. Hester word op die rit vergesel deur haar dogter, kleinseun en ‘n wyse Nama-vrou wat vroeër op die plaas gewerk het. Dit word ‘n reis vol verrassings. Die spelers is Susanne Beyers, Frieda van de Heever, Johann Nel, June van Merch en Wilhelm van der Walt.

DAAR'S IETS OMTRENT DAISY deur William Oosthuizen
Die inwoners van Aftreeoord Vredendal is terug, en hierdie keer met meer opwinding. Let wel… dis ‘n aftreeoord en níé ‘n ouetehuis nie, want daarvoor is hierdie klomp gans te jonk. Wel, dalk nie almal nie… In Doller as kop-af het Freek gedink dat ‘n opblaaspop net die ding is om dinge bietjie op te kikker. Hierdie keer sorg hy vir baie meer opwinding… ‘n kaalfoto… vir ‘n kalender… om geld in te samel. En asof dit nie genoeg is nie, kom krap Daisy ook dinge vir vriend Hardus om… Die spelers is Bettie Kemp, Louis van Niekerk, Ria Smith, Lochner de Kock, Rika Sennett, Rina Nienaber, Elzabé Zietsman en Tobie Cronjé.

SPOOKTREIN deur Albert Short
Een maal per jaar hou hy stil met dik rookwolke wat stoom... die spooktrein. Twee dolverliefde spookjagters besluit om die trein daardie aand op ’n syspoor op Bronkhortspruit in te wag... want hy kom net op daardie spesifieke aand. Dan hou die trein stil... die deur gaan oop... Wat hierna gebeur kon die twee verliefdes nie in hul wildste drome verwag nie... Cindy Swanepoel, Louis van Niekerk, Sulette Thompson en Casper Lourens kuier tussen die spoke.

DIE BEGRAFNIS deur Rudie van Rensburg
‘n Langdradige lykbesorger, ‘n Pretoriase paaldanseres en ‘n skottel sousboontjiebredie is maar ‘n paar van die dinge wat ‘n weduwee beproef met die ter aardebestelling van haar ontslape eggenoot... In die rolverdeling is Antoinette Kellerman, Zenobia Kloppers, Margit Meyer-Rodenbeck, Roeline Daneel, Petrus du Preez en Gerard Rudolf.

DIE LAASTE WOORD deur Lee Doubell
Die drama speel oor drie tydperke af. Kom verlustig jou in ‘n eeu se omswerwinge van Eugene Marais se geliefde en alombekende gedig, Winternag. Eers die oordadige vertolking in 1938, dan die realistiese, naturalistiese 2021, en uiteindelik die gefabriseerde rekenaarstemme in 2138. Drie akteurs, Rolanda Marais, Jacques Bessenger en Deon Lotz vertolk die rolle van 10 akteurs in drie tydvakke. Nie net word vaardighede uit die boonste rakke ten toongestel nie, maar word die spelers direk gekonfronteer oor hulle loopbane vandag. Is die menslike vlees besig om ook op kreatiewe wyse “oorgevat” te word deur IT, robotika en algoritmes wat algoritmes kan lees, verander en selfs oorskryf om emosies te simuleer? Een van die akteurs hou die sleutel tot ‘n moontlike uitkoms in die wedloop tussen Masjien en Vlees. Kom ervaar drie ateljees se klanke en werksaamhede in drie tydsgewrigte.

ROTS VAN VERSKRIKKING, saamgestel uit die werk van Eugène Marais
Die bekroonde regisseur Ilsé van Hemert se verhoogproduksie, Uit die bloute, het in die jare 90 landwyd opslae gemaak. Hierdie werk, saamgestel uit die skryfkuns van die digter en joernalis Eugène Marais het so diep in kunstefeesgangers se harte gekruip dat dit later herleef het met ’n heel nuwe rolverdeling. Luister nou na hierdie sonderlinge produksie met Anna-Mart van der Merwe, Gys de Villiers en André Odendaal. Hierdie radioverwerking bevat ook die musiek, toonsettings en verwerkings van Marimba! (Abraham en Lizanne Helberg). Twee kortverhale van Marais kry verbeeldingryk gestalte in hierdie musikale drama. “Die lied van die reën” vertel die storie van die soeke na water en in “Salas y Gomez” word ’n jong boer vir maande vasgekeer op ’n rotslys, en hy moet al sy kragte inspan om fisiek en emosioneel te oorleef. Die plaaswerf, die berge van Mamatola en die diepste emosies van die karakters word deur musiek en byklanke ingekleur. Naas Van der Merwe en De Villiers kan Jahn Beukes gehoor word, wat die slaginstrumente bespeel. Die geselskap het self die byklanke behartig, en Ansa du Toit het die musiek opgeneem.

MAKKIE ONTHOU deur Adelle van Wyk
Die drama is die wenner van die RSG/SANLAM Radiodrama-skryfkompetisie van 2020. Makkie Ghall word deur die polisie ondervra nadat ‘n lyk in haar werkgewer se swembad ontdek is. Vyftien jaar later maak ‘n vreemdeling onverwags sy verskyning, en kort daarna begin Makkie vreemd optree. Die waarheid kom mettertyd uit wanneer ‘n jong vriend en haar susterskind Makkie se storie begin ontrafel. Die spelers is June van Merch, Simoné Benjamin, Dann- Jacques Mouton, André Weideman en Marcel van Heerden.

STERREREËN deur Hendie Grobbelaar
Die drama het die tweede prys ingepalm in die RSG/SANLAM Radiodrama-skryfkompetisie van 2020. 'n Student se ma vra hom om haar huis op te pas terwyl sy oorsee is met vakansie. Dis 'n gulde geleentheid vir sy pêlle om die huis op horings te neem. Waarop hy egter nie gereken het nie is 'n beeldskone, eksentrieke meisie se bekoring met die misterie vir die buitenste ruim. Dit lei daartoe dat hy 'n klap van die heelal kry, en selfs met 'n pratende kat sit... of is dit alles die uitwerking van eksperimentele daggarokery?! Die akteurs is Luan Jacobs, Claudia Jones, Donovan Pietersen en Christo Compion.

MORGENSTER deur Philip Nolte
Dit is 2040 en Suid-Afrika is onherkenbaar. ‘n Dispotie. Die post-pandemie regering het ekonomieë verander en kontroleer die land met ‘n diktatorshand. Provinsies is geskrap. Mure is rondom metropole gebou om die rykes en die armes te skei. Aardverwarming het veroorsaak dat somer verdwyn het, en dat winter die wêreld deur die jaar omhels. In die armsalige uitstedige uitbreiding, Morgenster, is die inwoners desperaat en moedeloos in die gehawende omstandighede van hulle bestaan. So ook die middeljarige pessimis, Benjamin, wat elke aand op ‘n straatbankie voor ‘n kafee slaap. Een aand val daar ‘n jong engel, Azrael, met net ‘n wit onderbroek per ongeluk uit die hemel, en Benjamin help hom onwillekeurig om terug te keer hemel toe. Maar hierdie reis tussen twee vreemdelinge word onopsetlik Benjamin se redding van sy bestaan. Benjamin se verlede word sy hede, sy toekoms verander en sy menslikheid word bevraagteken. En hy mag nie van Lucy vergeet nie... Die akteurs in die rolverdeling is: Johann Nel, Gideon Lombard, Kay Smith, Jana Kruger en Antoinette Kellermann.

HULLE NOEM HOM MAMBA deur Adriaan Havenga
Wenner van die prys vir Beste Jong Skrywer in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie van 2020.Elbie is ‘n kranige skrywer wat hoop om haar eerste boek te publiseer. Vanaand se afspraak met ‘n uitgewer kan haar en haar seun se lewe heeltemal verander. Alles moet reg verloop. Sy moet net gou winkel toe ry om bestanddele vir ‘n dis te koop – op die donker kronkellende paadjie tussen die dorp en haar kleinhoewe. Die tema van vrees en die verlammende effek daarvan op ons lewens word verken. Die spelers is Joanie Combrinck as Elbie, Wilhelm van der Walt as haar seun Lian, Andre Samuels as die Uitgewer, en Nadia Valvekens en Kay Smith in twee ander rolle.

DIE KLEED deur Joey van Niekerk
Die drama handel oor ‘n gesin se ervarings voor en gedurende die Joodse Pasga, en hulle persoonlike geloofstryd en -insig. In die sterbelaaide rolverdeling kan die stemme gehoor word van Anton Dekker, Ria Smit, Lochner de Kock, Paul Lückhoff, Johny Klein, Elma Potgieter en Pietie Beyers.

PAP EN KAVIAAR deur Isabel Martinson
Die drama is die wenner van die merieteprys in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie van 2020. Die Bennets, Koba en Loek, gaan ontmoet hulle aanstaande skoonmense in die stad, Leana en Marius Fitzwilliam. Stella, hulle dogter, is van plan om met Gerber Fitzwilliam te trou. Tydens die besoek spat die vonke, want Leana en Marius is nie een wat hulle voorgee om te wees nie. Die moedswillige Loek Bennet kom te staan voor die grootste selfverwyt van sy lewe… Die spelers is Elma Potgieter, Karen Wessels, Anton Schmidt, David Louw, Heidi Mollentze en Anton Dekker.

DOLLER AS KOPAF deur William Oosthuizen
Freek is verveeld in die tehuis waar hy woon, en besluit om vir hom ‘n “speelding” te bestel, al twyfel sy vriende Dawid en Hardus oor dié waagstuk. Dit maak veral vir die kuise Mara die josie in en sy en die ander vroue probeer hulle bes om die stukkie tegnologie te saboteer. Terwyl hulle reken Freek is besig om kêns te word, beraam hy ‘n plan wat Mara heeltemal onkant betrap. ‘n Vrolike, vermaaklike drama propvol kinkels. Die sterbelaaide rolverdeling in hierdie argiefdrama bestaan uit Louis van Niekerk, Tobie Cronjé, Paul Lückhoff, Rina Nienaber, Ria Smit, wyle Elize Cawood, Rika Sennett en Heidi Mollentze.

BRING VIR CARLI deur Janie Lighthelm
Tehan Kriel is ‘n geniale student wat oor die tou trap in sy eerste jaar op kampus. Tien jaar later lyk die lewe heeltemal anders vir hom. Hy is 'n doktor. Hy en sy vrou het drie kinders. Om die uitdagings van die lewe te hanteer, neem hy sy ontvlugting in die luister na musiek, maar sal dit genoeg wees om hom staande te hou? Die spelers is Melt Sieberhagen as dr. Sebastehan (Tehan) Kriel, Rolanda Marais as sy vrou Loura, asook Susanne Beyers, Deon Lotz en Karli Heine.

HALLELUJA AMEN deur Ilne Fourie
Dit is ‘n baie belangrike dag vir Broer Gawerjal Grootwoord. Die nuwe dominee op die dorp, ds. Hendrik Hermanus Haasbroek, word vandag verwelkom, en Broer Gawerjal het besluit om dit op ‘n gepaste wyse in te wy met lofgesang en hallelujas. Die kerkkoor het ‘n noodvergadering waar daar besluit gaan word wat hulle moet sing om die nuwe dominee te laat tuis voel. Daar is egter een probleem – die kerkkoor kan glad nie sing nie… Boonop is daar slegs drie lede, en sedert hulle ontstaan het geen nuwe lede kom aanmeld nie. Tussendeur ‘n toondoof-dowe orreliste, ’n alkoholiese alt, ‘n suurpruim sopraan en ‘n Skouspel-sokkie-boob-bokkie moet arme Broer Gawerjal bontstaan om die spul te beheer en te laat harmoniseer. Die rolverdeling is Broer Gawerjal Grootwoord - Ivan Abrahams, Koster Karel - Royston Stoffels, Hannah Hooglied - Celeste Matthews Wannenburgh, Bettie Bas - Annelize van der Ryst, Poppie Prinsloo - Esther von Waltsleben en Tannie Annie - Zenobia Kloppers.

DIE MASJIENTJIE deur Joe Kleinhans
Beatrice Nortje is ‘n werklose boekhouer en enkelouer van ‘n twintigjarige verstandelik gestremde seun, Damien. Haar posisie raak al hoe meer benard as dit duidelik word dat Damien ernstig siek is. Waar sal uitkoms vandaan kom? Van Pastoor Glen Jansen, kerkleier op Lasarusfontein? Of van oorlede Scott McFadden se raaiselagtige masjientjie? "Geloof en werke... wat beteken die een sonder die ander" is die vraag wat sy gedwing word om haarself te vra. Gerwen Weinheimer maak haar buiging voor die mikrofoon in die rol van Beatrice. So ook Jolene Martin as die empatieke Tammy Willemse. André Samuels gee stem aan nutsman Jimmy Truter. Glen Jansen, die pastoor met ‘n paar geraamtes in sy kas, word vertolk deur Chris van Niekerk, terwyl Robin Smith Beatrice se oorlede minnaar, Scott McFadden, speel. Zenobia Kloppers en Cantona James is Ma Frances en die verstandelik gestremde Damien Nortjé.