PLAY PODCASTS
Radioteater

Radioteater

382 episodes — Page 4 of 8

DIE KAPTEIN EN SY VROU en DIE SPOOK VAN TANT LETJIE deur I.D. du Plessis

Wanneer laas het jy ‘n goëlstorie gehoor? Die eerste mimidrama is ‘n Russiese periodestuk wat in 1852 in ‘n dorpie buite Moskou afspeel. Die Kaptein en sy vrou beeld ‘n plattelandse bestaan uit waar goëlery gebruik word om ‘n gesin uit hulle huis te verdryf. Eers word militêre mag gebruik om dit te bestry, en dan word wywater aangewend wanneer die Roomse Priester, Vader Victor, die vertrekke wil reinig. Die tweede minidrama verskuif die toneel na die Oos-Kaapse platteland in 1920. Die Spook van tant Letjie is ‘n perd van ‘n ander kleur. ‘n Jong onderwyser by ‘n plattelandse skool kry huisvesting op ‘n plaas in ‘n huis vol vreemde geluide. Magshebsug en beheer oor ander kom hier ter sprake. Skakel die ligte af en luister in die donker – jy sal nie spyt wees nie, net bang!

Dec 3, 20201h 9m

BOETIE ONTMOET 'N ALIEN deur Johann Smith

Stel jou voor: ‘n Doodgewone Suid-Afrikaanse plaas. Een van die gesinslede het pas teruggekeer uit die buiteland, en is redelik rebels. Die skoolseun in die gesin worstel met allerlei probleme wat nie eers die internet kan oplos nie. En dan is die ouers erg bekommerd oor hulle kinders se geestelike en emosionele welstand. Op ‘n dag is daar ‘n klop aan die deur. Daar staan ‘n vreemde, bleek man, en hy praat ‘n rare taal in ‘n vreemde elektroniese stem sonder dat sy mond beweeg! Het hy oplossings vir sekere aardse probleme? Hoe gaan hy dit aan die gesin oordra? Het hy goeie bedoelings, of is hy van iewers anders met verskuilde motiewe? Pietie Beyers is die alien, Luan Jacobs die seun met die emosionele probleme, Izél Bezuidenhout die meisie met die humeur, Christine Voorendyk die bekommerde ma en Anton Schmidt die verwarde pa. Hierdie radiodrama was ’n finalis in RSG en Sanlam se radiodramaskryfkompetisie van 2019.

Nov 26, 202052 min

LIEFDE IS 'N ROOS deur Tennessee Williams

Serafina Delle Rose is ‘n Italiaanse Amerikaner en ‘n passievolle, wispelturige, middeljarige vrou wat hard probeer om haar dogter volgens die Katolieke geloof groot te maak. Hulle woon in Mississippi, maar ná die afsterwe van haar man, besluit sy om haarself af te sonder. Sy verwag Dat haar dogter ook die luike dig moet sluit en nie enige verhoudings moet aanknoop nie. Maar dan ontlok ‘n man met ‘n tatoeëermerk ‘n rits herinneringe. Anna-Mart vertolk die rol van Serafina, met Frieda van den Heever as haar dogter in hierdie argiefdrama. Die ander spelers in die sterbelaaide rolverdeling sluit in Stian Bam, Marlo Minnaar, Brendon Daniels. Joanie Combrink, Deirdre Wolhuter, Ivan Abrahams, Martelize Kolver, Hannah Borthwick, Lulu Botha en Tinarie van Wyk Loots.

Nov 19, 20201h 11m

'N TWEEDE KANS deur Ronel Mostert

'n Liefdesverhaal wat aanklank sal vind by diegene wat in die liefde ontnugter is, maar wat dan, sonder dat hulle dit verwag, 'n tweede kans op geluk kry. Leah se grootste begeerte word werklikheid - sy is swanger. Haar vreugde is egter van korte duur wanneer die pa van haar kind en haar werkgewer saamspan om haar te ondermyn. Haar ma, Wilna, se steun is van onskatbare waarde. Die spelers is Karen Wessels, Rina Nienaber, Paul Lückhoff, David Louw, Eloise Cupido, Heidi Mollentze en Donovan Pietersen.

Nov 12, 20201h 0m

JOHANNA SE ELVIS deur Hendie Grobbelaar

Johanna Apolis is ‘n voorslag as dit kom by die uithaal van blinklywe. Dis haar ambisie om gereken te word onder die vistermanne deur die heel grootste vis van almal te vang. Sou dit haar beskore wees? En teen watter prys? Jy hoor Simoné Benjamin as Johanna. Dann-Jacques Mouton van Noem my Skollie-faam maak sy buiging voor die radiomikrofoon as haar sagmoedige man, Gert. Zenobia Kloppers speel Mattie. Denver Vraagom is Jan Baartman. En jy hoor die stem van Neels Coetzee as Oumeneer. Johanna se Elvis was 'n finalis in die RSG/Sanlam Radiodrama Skryfkompetisie van 2019.

Nov 5, 202053 min

NAG VAN DIE VER MUSIEK deur Engela van Rooyen-Linde

Andries Smith is emosioneel afgestomp teenoor sy gesin, bestaande uit sy vrou Alet, en hulle tweeling, Larry en Lara. Wat sou die rede daarvoor wees? Is dit omdat hy net sy ma, Gloria Smith, se woord kan neem vir wat met sy pa gebeur het, of het dit iets te doen met die beertjie-musiekboks wat hy sukkel om oop te kry. Weet Gloria meer as wat sy voorgee? Die spelers is Dawid Minnaar, Henrietta Gryffenberg, Luan Jacobs, Ansu Visser en Elzabé Zietsman.

Oct 29, 20201h 4m

HUISHOU deur Philip Rademeyer

Twee wit vroue in Kaapstad wil ‘n swart kind aanneem. Die ouer vrou, Dirkie, is ‘n lektor in sosiologie en dryf die aannemingsproses. Dirkie wil sorgvuldig, noukeurig ‘n huis opbou en vol maak, en dink ook hulle het ‘n politiese plig om by te dra tot die nuwe Suid-Afrika (“dis oor jou white guilt,” terg haar vrou). Die jonger vrou, Hester, is ‘n loskop wandelaar. Sy ontvang ‘n oproep wat haar dwing om na haar ouerhuis terug te keer. Die naweek op haar plattelandse tuisdorp dompel haar in ‘n identiteitskrisis, en sy begin wonder oor haar wortels en Afrikaner-erfenis. Soos beide vroue vasklou aan hulle beginsels en verbete baklei om deur die ander gehóór te word, word hulle verhouding en liefde op die spel geplaas. ‘n Drama oor verhoudings, die soeke na die “ek” in die “ons”, en mense wat verby mekaar praat. Nadia Valvekens vertolk die rol van Dirkie en Cintaine Schutte dié van Hester.

Oct 22, 20201h 17m

DIE PRYS deur Joey van Niekerk

Susan Pretorius, tuisteskepper en ywerige lid van die VLU, wen ’n koekbakkompetisie met ’n droomprys – een wat sy en veral haar man, Hermaans, nie verwag het nie. Toe ontdek hulle dat sy dit eintlik glad nie verdien nie. Hulle besef oneerlikheid is nie die moeite werd nie, al is die prys ook hoe aanloklik! Maar wat nou gemaak? Die spelers is Rika Sennett, Martin Jansen, Ronel Korb en Lochner de Kock.

Oct 15, 202056 min

MOF EN SY MENSE deur C.J. Langenhoven

Frikkie van Zyl en sy aangenome suster, Poppie, woon op 'n plaas in die Klein Karoo tydens die Spaanse griepepidemie van 1918. Frikkie tree op as versorger op buurplase, en met sy terugkeer bring hy 'n klein hondjie as geskenk vir die gestremde Poppie saam. Ten spyte van al die teenspoed wat oor hulle pad kom, vind hulle troos in mekaar en in die hondjie se teenwoordigheid. Die spelers is Wessel Pretorius, Karli Heine, Susanne Beyers, Carel Nel, Pierre Nelson, Charl van Heyningen en Dean Balie.

Oct 8, 20201h 12m

BLOEDMAAN deur Martyn le Roux

Bloedmaan is is die opvolg van die veelbekroonde BLOEDLYN (2015). Die storie neem ons na die hartjie van die Tankwa-Karoo. ʼn Groot skroef is los in die Sutherland-omgewing. Dit lyk of ʼn reeksmoordenaar daar bedrywig is. Een van die moorde volg egter nie die patroon nie, en lyk baie soos ʼn herhaling van die 'wolfmoorde' wat destyds in die Boland gepleeg is - ʼn onaangename herinnering wat die polisie en baie ander eerder sou wou vergeet of in ʼn bottel iewers in ʼn kroeg sou wou verdrink… Die rolle word vertolk deur Robbie Wessels, Neil Sandilands, Christine Voorendyk, Johny Klein, Francois Stemmet en Solomon Cupido.

Oct 1, 20201h 30m

‘N TRAGIESE KÊREL, TEEN WIL EN DANK deur Anton Tjechof

Anton Tjechof, Russiese dokter en dramaturg en kenner van die mens en sy pyne, ondersoek die pyne van armsalige huishouer en eggenoot, Iwan Iwvanowietsj. Hy is stuurgoed, nie slegs vir sy eie vrou en pantoffelregering nie, maar sommer die hele dorp se vrouens as hy 'n slag stad toe kom. Nico Luwes, wat die stuk verwerk het vir die radio, speel Iwan, terwyl die rol van sy stadsvriend, Alexey met die simpatieke oor, vertolk word deur Johann Nel. Hierdie RSG produksie is moontlik gemaak deur 'n borgskap van Nasionale Kunsteraad.

Oct 1, 202026 min

OU WYNTOON EN DIE WEERLOSE KREATUUR deur Anton Tjechof

Anton Tjechof, Russiese dokter en dramaturg en kenner van die mens en sy pyne, gee vir ons met Ou Wyntoon en die Weerlose Kreatuur 'n kykie in die geesteslandskap van 'n jiglyer. Kistoenof, die bankbestuurder, het hom die vorige aand vergryp aan te veel rooiwyn, en dra nou die gevolge van sy vergryping. Sy lyding word haas ondraaglik wanneer 'n 'weerlose' kliënt met onredelike eise haar opwagting by die bank maak. Die 'weerlose kreatuur' word deur Esther von Waltsleben gespeel. Pochatkin, die jong bankassistent met 'n versigtige houding, word vertolk deur Jan-Hendrik Opperman. En Johann Nel gee lewe aan Kistoenof, Ou Wyntoon. Cassi Lowers versorg die produksie tegnies. Hierdie RSG-produksie is moontlik gemaak deur 'n borgskap van die Nasionale Kunsteraad.

Sep 24, 202032 min

DIE AASVOËL deur Elton Louw

’n Man sit rustig en rugby kyk, wanneer ’n jong inbreker hom onkant betrap. Die twee mans wil mekaar aan die keel gryp, maar besef dat hulle baie meer in gemeen het as wat hulle ooit sou kon raai… Die storie gaan oor menslikheid en kyk na van die sosiale kwessies aan wat baie mense daagliks in die gesig staar, naamlik werkloosheid en armoede. Wat as die lewe jou so druk dat ‘n misdaad soos inbraak die enigste opsie is? Die storie verduidelik ook wat dalk kan gebeur as mens op die verkeerde tyd op die verkeerde plek bevind, of dalk die regte plek op die regte tyd? Die storie sorg vir ’n verrassende kinkel. Die spelers is Denver Vraagom en André Samuels.

Aug 29, 202047 min

BLOMME VIR DIE WINTER deur NP van Wyk Louw

Blomme vir die winter speel af in Parys, Frankryk, en is 'n verhaal oor onbeantwoorde liefde. 'n Man koop blomme vir 'n vrou wat hy eendag per toeval raakgeloop het, maar soos water, glip sy keer op keer deur sy vingers. Hoe bewys hy aan haar dat hy werklik vir haar omgee en vir haar lief is? Die spelers is Richard van der Westhuizen, Rina Nienaber, Bettie Kemp, Leona Rich en Francois Stemmet. Die regisseur is Robert Young. Young het in Julie 2020 sy tagtigste verjaardag gevier.

Aug 20, 202048 min

MIKE EN MAVIS deur Wessel Pretorius

Mavis Kellerman is 'n weduwee wat haarself afgesluit het van die wêreld. Sy e-pos slegs haar dogter en gaan nog kerk toe. Dan word sy na die opening van 'n nuwe bioskoop wat spesialiseer in klassieke rolprente, genooi. Die eienaar, Mike Lewis, is 'n eksentrieke oujongkêrel met 'n ewige romantiese siel. Mavis besef gou dat Mike daarop uit is om haar hart te steel en bevind haarself aan die ontvangkant van 'n vryery in haar herfsjare. Hierdie is 'n gewilde argiefdrama, wat in Afrikaans en Engels aangebied word. Die akteurspaar Elize Cawood en Wilson Dunster speel die hoofrolle.

Jul 25, 202040 min

KRAG deur Lee Doubell

Dit is 2020. Suid-Afrika is vir die derde keer in grendelstatus, en die landsburgers is siek en sat vir die virus en die rigiede regulasies. Hester is 'n noodlynoperateur wat sedert die begin van die derde inperkingstyd besonder hard werk. Tussendeur al die oproepe waaraan sy gewoond is, kom daar een laatmiddag 'n oproep deur van 'n bejaarde vrou wat 'n noodgeval beleef. Sy't probleme met haar krag, en Hester moet uiteindelik protokol laat vaar om die tannie te help... Die rolle word vertolk deur Karen Wessels, David Louw, Johny Klein, Elize Cawood, Mari Molefe van Heerden en Botha Enslin.

Jul 2, 20201h 2m

ELLA SE PERDE deur Charles J. Fourie

Die bekroonde toneelstuk is spesiaal vir die radio verwerk, en handel oor die “perdevrou van die Overberg”, Ella Gordon Dove Colston. 'n Legende van die Hemel-en- Aarde-vallei kry hier roerend nuwe lewe.

Jun 25, 20201h 0m

DIE BLIKSLIM deur Martyn le Roux

'n Savant wat rolprente, van die draaiboeke tot die vervaardigers en akteurs, soos die palm van sy hand ken, ontmoet 'n aanvallige nagraadse sielkundestudent tydens 'n rolprentvertoning. Aanvanklik is hy vir haar 'n interessante gevallestudie, maar kort voor lank ontwikkel daar 'n hegte vriendskap tussen hulle, wat haar lewe permanent sal verander. Savantsindroom is 'n toestand waarin iemand met 'n beduidende verstandelike gestremdheid sekere vermoëns ver bo gemiddeld toon. Een van die bekendste rolprente oor 'n savant is Rain Man met Dustin Hoffman in die hoofrol. Die rolle word vertolk deur Pietie Beyers, Cindy Swanepoel, Rina Nienaber, Mari Molefe van Heerden, Johny Klein en David Louw.

Jun 18, 20201h 24m

DIE LYK deur Karin du Toit

'n Aksiebelaaide donker komedie oor 'n graf, 'n kis en 'n lyk... Trudie word jare lank fisies en emosioneel deur haar man aangerand. Een aand, tydens 'n hewige argument, gebeur daar iets wat vir Trudie en haar volwasse seun, Francois, opsaal met 'n “massiewe probleem.” Die rolle word vertolk deur Elzabe Zietsman, Cobus Venter, Ria Smit, Eloïse Cupido, Hannes Müller, David Louw en Mari Molefe van Heerden. Karin Du Toit is 'n oogkundige van Vanderbijlpark, en hierdie is haar debuutradiodrama. DIE LYK is die algehele wenner van RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie 2019.

Jun 11, 20201h 4m

AS 'N KIND KOM KUIER deur Zelda Bezuidenhout

Die bejaarde Elna Smit-Smith is ernstig siek. Haar kinders is te besig om haar dikwels te besoek, en haar versorger, Vanessa, word 'n hegte vriendin. Hulle word een aand verras deur 'n onwelkome gas, en terwyl Vanessa haar bedenkinge het, begin Elna die jong man uitvra oor sy lewe. In weerwil van Vanessa se aanvanklike vooroordele, word hy 'n gereelde besoeker en 'n belangrike deel van Elna se lewe.

Jun 4, 20201h 6m

KOUE KAIINGS deur Lee Doubell

'n Spookstorie met 'n verskil… Vyf jong mans is in die laat jare 70 op pad na Upington om vir hulle nasionale diensplig aan te meld. Hulle is almal kleurvolle uiteenlopende karakters wat nie besef wat vir hulle voorlê nie. Die intrige is meesleurend, amper filmies, en dit is 'n verhaal gevul met humor en nostalgie.

May 28, 202055 min

DIE HUISBESOEK deur Wilmi Wheeler

Celia roep in die vroeë oggendure die hulp van hulle jong dominee op die dorp in. Sy het pas ontdek dat haar man, Paul, 'n verhouding het. Terwyl die dominee vir Celia probeer oorreed om nie haar man om die lewe te bring nie, dink sy terug aan gebeure uit hulle verlede.

May 21, 202053 min

MY MENSE deur Dot Serfontein

“Uit die keur van Serfontein se werke neem Antoinette Kellerman jou met deernis terug na die skrywer se kosbare beskrywings van haar ouers, haar soms eksentrieke Serfontein-familie en haar jare op die plaas as jong kind en later as joernalis, getroude vrou, versorgende moeder en ouerwordende dame. Lekker aardse koekemakranka-kosgoed vir die siel,” skryf die dramaturg Nico Luwes.

May 14, 202046 min

TEERLING 3: DIE WIEL DRAAI deur PG du Plessis

Een van die gevierde dramaturg PG du Plessis se ses kort Teerling-dramas wat voor 'n gehoor tydens die KKNK op Oudtshoorn opgeneem en uitgesaai is. Met Stian Bam en Tinarie van Wyk Loots.

May 7, 202028 min

WOLF-WOLF HOE LAAT IS DIT? deur Hennie Aucamp

Dit is reeds meer as vier dekades sedert Hennie Aucamp se absurde eenakter op 'n verhoog in Stellenbosch gedebuteer het. Die veelbekroonde radiodrama-regisseur Margot Luyt het die stuk vir die radio verwerk en 'n groep van Suid-Afrika se teater-veterane byeengebring vir 'n roerende opvoering oor die mens se stryd teen tyd. Met Louis van Niekerk, Wilna Snyman, Lida Botha, Trix Pienaar, Kitty Albertyn, June Seymour, Neels Coetzee, Marga van Rooy, Juanita Swanepoel & Deidre Wolhuter. Klavier: Albie van Schalkwyk. Wyle Kitty Albertyn sal onthou word vir haar rol as Hybie in die radioverhaal Die Du Plooys van Soetmelksvlei. Sy was 92 jaar oud tydens die opname van hierdie radiodrama. Luyt het die geskiedkundige opname van Wolf-wolf hoe laat is dit? as “Die dag van die legendes” beskryf.

May 7, 202026 min

VERGIFNIS deur Charles J. Fourie

Muriel, 'n ouerige vrou, kom woon op Touwsrivier. 'n Jong werker help haar in die tuin en steel haar beursie, omdat hy ook graag iets luuks en lekkers by die vulstasie wou gaan koop om te eet. Hy spandeer 'n nag in die tronk, en Muriel trek die saak van diefstal teen hom terug, mits... Wie is die eksentrieke vrou en hoekom het sy op Touwsrivier kom aftree? Muriel lei 'n protesoptog van Touwsrivier na die Parlement in Kaapstad. Die jong man wat haar in haar huis beroof het, het ingestem om haar in die rolstoel na Kaapstad te stoot waar sy die toenemende misdaad en gebrek aan werksgeleenthede vir jongmense onder die regering se aandag wil bring. Tydens hulle reis sluit al hoe meer mense by hulle aan en word dit 'n kleurvolle optog vir verandering.

Apr 30, 202058 min

GENADE deur Marita van der Vyver

Kas Stuurman is 'n afgetrede koerantman en lief vir woordspeletjies, wyn, blokkiesraaisels en sy vrou. Door Stuurman is 'n afgetrede Afrikaans-onderwyseres en lief vir lees, reis, dans en haar man. Hulle seun, Vic, woon in Kalifornië en is ver van sy geliefde ouers wanneer hulle lewens stadig maar seker begin verbrokkel weens Door se stadige agteruitgang. June van Merch kan as Door Stuurman gehoor word met Charlton George as Kas. Marvin-Lee Beukes vertolk die rol van Vic. Genade is met die tweede prys bekroon in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie vir 2015.

Apr 23, 20201h 6m

SJARRAP EN EET JOU KOS! deur Ilné Fourie

Betree die gedagtewêreld van die kelner om vanuit daardie uiters intieme kennismaking, die (on-)heilige, nooit gehoorde dinge (met apologie aan N.P. van Wyk Louw) hóór wat kelners moontlik hulle klante hardop sou wou toesnou. Vrae soos: Wat het julle wat lekker is? Of: Waar kan ons sit waar dit nie so warm is nie? Of: Wat is in julle lemon meringue? Die vrae is genoeg om enige moeë kelner teen die mure uit te dryf!

Apr 16, 202040 min

DIE LEË GRAF deur Helena Hugo

In die Paastyd herleef ons opnuut die kruisdood van Jesus, maar ook sy opstanding. Vir Nikodemus gaan dit gepaard met 'n geloofstryd. Kan hy sy posisie in die Sanhedrin prysgee om Jesus openlik te bely, of skuil hy vir die res van sy lewe onder die dekmantel van die nag? Die spelers is Richard van der Westhuizen, Lochner de Kock, Francois Stemmet, Ria Smit, Pietie Beyers en Charlie Bougeunon. Helena Hugo het die regie behartig.

Apr 10, 202053 min

DIE GOUE KRING deur Uys Krige

Hierdie argiefdrama is 'n liriese en poëtiese drama oor die geliefdes Ferdinand en Isabella wat graag wil trou, maar dan daag 'n aantreklike jong man op. Hy is op soek na Moeder Mart, maar weier om te sê hoekom. Die aktrise Hannah Botha vertolk die rol van Violetta. Botha was onder andere bekend om haar rolle in die TV-reekse Nommer Asseblief, Agter elke man en Egoli. Die Goue Kring handel oor die kringloop van die lewe en dood en is geskoei op 'n legende uit die Portugese literatuur. Die temas sluit in die mens se hoogmoed en luiheid; en hoe die lewe geen sin het sonder die dood nie. Die ander spelers sluit in Douwlina Grobler, Andre Stolz. Matthys du Toit en Frans Kalp. Die verhoogstuk is vir die radio verwerk deur Hermien Dommisse. Die regisseur was Evert Snyman. Uys Krige sou in Februarie 2020 sy 110de verjaardag gevier het. Hy is met die Hertzogprys bekroon vir sy dramas.

Apr 9, 20201h 19m

MIKE EN MAVIS deur Wessel Pretorius

Mavis Kellerman is 'n weduwee wat haarself afgesluit het van die wêreld. Sy e-pos slegs haar dogter en gaan nog kerk toe. Dan word sy na die opening van 'n nuwe bioskoop wat spesialiseer in klassieke rolprente, genooi. Die eienaar, Mike Lewis, is 'n eksentrieke oujongkêrel met 'n ewige romantiese siel. Mavis besef gou dat Mike daarop uit is om haar hart te steel en bevind haarself aan die ontvangkant van 'n vryery in haar herfsjare. Hierdie is 'n gewilde argiefdrama, wat in Afrikaans en Engels aangebied word. Die akteurspaar Elize Cawood en Wilson Dunster speel die hoofrolle.

Mar 26, 202040 min

FAAN SE TREIN deur Pieter Fourie

Faan woon saam met sy pa en hulle huishoudster, Truia, in 'n klein Karoodorpie waar hy heeltemal begogel word deur treine. Faan word erg deur die skoolseuns gespot en soms raak hy self die spoor effe byster. Sy pa en die dominee dreig hom. As hy hom nie gedra nie, sal hy weggestuur word… Dis 'n aangrypende drama wat aan die rolprent, Forrest Gump, herinner.

Dec 25, 201945 min

DIE ENGELTJIE WAT AGTERBEBLY HET deur Piet Cillié

Trinkie en Sussie hou saam met hulle ouers somervakansie by Willie se Baai. Op die vooraand van Kersfees neul hulle oudergewoonte vir 'n Kersverhaal, want Pappie se stories is, anders as die wat mens in boeke kry, altyd amper die waarheid... Gou sit hulle vasgenael deur die storie van die engeltjie wat aarde toe gekom het om saam met die engelekoor te sing by die geboorte van die Jesuskind, en toe, ewe stout, agtergebly het, om vir twee duisend en 'n bietjie jare die aardbol te omswerf!

Dec 24, 201921 min

DIE KRISMISBOKKIE deur Audrey Blignaut

Die verhaal speel af in Bredasdorp gedurende die vyftigerjare. Christopher is 'n hipersensitiewe natuurkind wat moeilik aanpas op die dorp. Hy dreig telkens om weg te loop plaas toe, tot sy pa eendag by die huis aankom met 'n geskenk vir hom – 'n klein blou duikertjie, wat Christopher se lewe handomkeer verander, tot groot verligting van die res van die gesin. Maar die lewe gee en die lewe neem.... En Kersfees draai heel anders uit as wat enigeen kon voorspel het.

Dec 24, 201922 min

MAN OP DIE MAAN deur Helena Mellet

Op 'n plaas op die Kaapse platteland boer Charl en sy dogter Carli met 'n klomp beeste. Die ander dogter, Bella, is die eienaar van 'n galery op Stellenbosch. Sy kom kuier vir 'n naweek op die familieplaas. Mina, die plaashuis se huishoudster, en Bella deel 'n geheim oor die “man op die maan” – een wat hulle met niemand deel nie, tot iets gebeur wat almal tot in hulle fondamente skok. Intussen het Carli 'n ogie op die nuwe veearts op die dorp, en gaan kuier dalk te gereeld om “raad te kry” vir haar beestetrop. Hennie se ma dink Charl is 'n goeie vangs, maar sal hy die beleefdheid beantwoord? Waar is Carli en Bella se ma? En wie is die man op die maan?

Dec 19, 20191h 10m

KULKIEKIES deur Deon Johnston

Hannes is glad nie beïndruk met sy ma se alewige foto's van hom op haar Facebookbladsy nie. Om die waarheid te sê, hy pes dit! Een aand is daar huismoles by die bure, en Hannes verfilm die hele petalje met sy selfoon en plaas dit op sy eie sosiale media. Waar trek mens die streep met foto's en video's van jou kinders (en jou bure) op sosiale media? Wanneer word menseregte aangetas, of jou reg op privaatheid? Dikwels kan onskuldige handelinge lei tot groot tragedies.

Dec 12, 20191h 10m

DIE TJELLO deur Michiel Potgieter

'n Begaafde tjellis verbreek sy kontrak met die Sinfónica de Galicia in Spanje, vlug na sy ouers se plaas en kruip in sy kamer weg. Niks of niemand kan hom uit sy depressie lig nie, maar toe ontdek hy 'n antieke tjello op die solder van sy oupa se huis en vind sy ander helfte.

Dec 5, 20191h 4m

KORPORAAL LEMMER EN DIE ROWERS deur Bun en Heléne Booyens

Jy ontvang jou oproepinstruksies om as voyeur saam met die rowers in te val wat aanmeld in die weermagkaserne. 'n Briljante teks deur die pa en dogter Booyenskombinasie wat jou met deernis, nostalgie en soms afgryse sal vervul. Die sluier op lewe in die sewentiger- en tagtigerjare van nasionale dienspligtiges word gelig op 'n manier wat weergaloos is. Elke karakter wat geskep is vir hierdie verbeelde wereld word voortreflik uitgevoer deur 'n stewige span akteurs soos Gerard Rudolf, Anrich Herbst, Leon Kruger, De Klerk Oelofse, Wessel Pretorius, Andre Terblanche, Conradie van Heerden en Jacques Bessinger. Regisseur Johan Rademan neem die vierde muur as't ware weg met sy styl van regie, en maak jou deel as voyeur in die intieme omgewing van die jong weermagrekrute.

Nov 28, 20191h 15m

DOLLER AS KOPAF deur William Oosthuizen

Freek is verveeld in die tehuis waar hy woon, en besluit om vir hom 'n “speelding” te bestel, al twyfel sy vriende Dawid en Hardus oor die waagstuk. Dit maak veral vir die kuise Mara die josie in, en sy en die ander vroue probeer hulle bes om die stukkie tegnologie te saboteer. Terwyl hulle reken Freek is besig om kêns te word, beraam hy 'n plan wat Mara heeltemal onkant betrap. 'n Vrolike, vermaaklike drama propvol kinkels.

Nov 21, 20191h 6m

KOELKOP deur Leon van Nierop

'n Gesin word gedwing om vir 'n naweek in 'n afgeleë plaashuis deur te bring. Daar is geen internet- of selfoonontvangs nie. En die sosiale-media-verslaafde seun, Chase, kry onttrekkingsimptome en begin ineenstort. Dit gebeur kort nadat sy beste vriend selfdood gepleeg het nadat hy te lank aan die internet verslaaf was en skielik daarsonder moes leef. Nou moet 'n gesin 'n naweek oorleef, waarin hulle liefde vir mekaar tot die uiterste getoets sal word met 'n seun wat paniekaanvalle begin kry. Hulle leer van voor af hoe sterk 'n gesin se liefde vir mekaar moet wees om hierdie eietydse uitdaging te oorleef. Met Hans Strydom, Janine Opperman en Christopher van der Westhuizen.

Nov 14, 20191h 0m

GROOTPAD NA KLEINKOP deur Lee Doubell

Grootpad na Kleinkop is 'n intieme dog onthutsende radiodrama oor 'n getroude paar, Gawie en Susan, wat 'n plaasaanval beleef. Die bejaarde paar word oorrompel en in die kattebak van hulle motor geboender. In hierdie beknopte ruimte na wie-weet-waar word hulle met hulle eie verhoudings en sterflikheid gekonfronteer. Al is dit 'n traumatiese belewenis, bied Doubell se verhaal ook helende salf. Beleef saam met hulle hierdie senutergende ervaring, asook die vrees, magteloosheid en geloof en hoop in 'n situasie wat net te dikwels in Suid-Afrika ervaar word. Dit is nie geskik vir sensitiewe luisteraars nie.

Nov 7, 20191h 1m

STILLE WATERS deur Anton Treurnich

Anna van Rooy sterf op 'n klein dorpie in die Karoo. Dit dompel nie juis die mense van die dorpie in rou nie. Sy was immers nie 'n gewilde inwoner nie, en het skynbaar oral waar sy gaan vyande gemaak. Dis wanneer die bewyse daarop dui dat sy nie dood is aan natuurlike oorsake nie, dat die inwoners van die dorpie in rep en roer is. Almal word skielik verdagtes, want elkeen het 'n verskuilde rede gehad om Anna te wou wegmaak. Frederick, die dominee, het geen geheim gemaak daarvan dat Anna hom grensloos irriteer nie. So ook nie Sune, die eienaar van die handelshuis nie. Rowena, die politieke raadslid, en Anna het ook nie om dieselfde vuur gesit nie, en Arend Onderstroom, die enigste nuwe inkommer, se motiewe kom ewe verdag voor. Niemand se verweer en verskonings hou water nie, behalwe die van sersant Ronnie Malan, wat nie verdink word van enige vuil spel nie, en dan ook as selfaangestelde speurder aan die stuur van die ondersoek staan. Dinge is nie altyd soos wat dit lyk nie...

Oct 31, 201953 min

DIE BLIKSLIM deur Martyn le Roux

'n Savant wat rolprente, van die draaiboeke tot die vervaardigers en akteurs, soos die palm van sy hand ken, ontmoet 'n aanvallige nagraadse sielkundestudent tydens 'n rolprentvertoning. Aanvanklik is hy vir haar 'n interessante gevallestudie, maar kort voor lank ontwikkel daar 'n hegte vriendskap tussen hulle, wat haar lewe permanent sal verander. Savantsindroom is 'n toestand waarin iemand met 'n beduidende verstandelike gestremdheid sekere vermoëns ver bo gemiddeld toon. Een van die bekendste rolprente oor 'n savant is Rain Man met Dustin Hoffman in die hoofrol. Die rolle word vertolk deur Pietie Beyers, Cindy Swanepoel, Rina Nienaber, Mari Molefe van Heerden, Johny Klein en David Louw.

Oct 24, 20191h 24m

DROSTERS deur Herschelle Benjamin

Michelle is alweer besig om te dros, of in haar eie woorde: “ek staak skool...” Haar maats Ruben, Sammy-Jo, Nicolaas en Pietie word egter vir die eerste keer, en uit die bloute na haar huis genooi vir 'n partytjie. Hier ontdek hulle 'n heel ander Michelle en 'n “geheim” wat 'n reuse-impak op hulle lewe het. Die spelers is Greteli Fincham as Michelle, Graeme Watson as Ruben, Adri Waterboer as Sammy-Jo, Angelo Bergh as Nicolaas en Francois van der Merwe as Pietie. Die stuk is 'n opdragwerk deur Herschelle Benjamin, bekend om die bekroonde verhoogstuk In Slavenhuis 39. Die drama is in samewerking met die ATKV en die Nasionale Toneelspelkompetisie geskep.

Oct 17, 201926 min

DIE PRYS VAN GLO-STOF deur Retief Scholtz

Hierdie darma bied aan hoërskoolleerders die unieke geleentheid om hulle talente voor die mikrofoon te wys. RSG, ATKV en die Nasionale Toneelspelkompetisie bied met trots 'n tienerstorie aan waarin individualisme, koppigheid, voortvarendheid en dryfkrag lei tot 'n baldadige avontuur. Vier deelnemers aan die Toneelspelkompetisie speel die rolle van drie uiteenlopende kinders en 'n elf wat in 'n bos verdwaal, en dan desperaat na 'n slaapplek soek met die hulp van 'n kaart. Maar hoe gemaak as die spulletjie nie kan ophou met argumenteer nie? Meningsverskille en selfbeeldprobleme staan vierkantig in die pad om hulle doel te bereik. So beland hulle al bakleiende in die vreemde woonplek van 'n ou man met spesiale kragte, so wys soos die geelhoutbome van die Knysna Bos. Met die hulp van atmosferiese byklanke, en die samewerking van die bekende akteur Tobie Cronje, word nuwe jong talent opgelei in die fynere kunsies van radiodrama. Minke Marais is Lila, 'n beterweterige beheervraat wat dink sy is in beheer van die groepie. Sy kry stewige teenkanting van Tim, gespeel deur Matian Barnard, 'n rugbyspeler met 'n vrees vir spinnekoppe. Saam met hulle is CJ (Brandon Eloff), 'n perfeksionis wat altyd by die feite hou, maar wat nie noodwendig rigting kan hou nie. En dan is daar Timmy, gespeel deur Julian Robinson. Hy is 'n vlieënde elf wat die kinders omklits met sy lewensenergie. DIE PRYS VAN GLO-STOF sal jou nie net laat skater van die lag nie, maar ook in wonderwerke laat glo. Die stuk is spesiaal deur Retief Scholtz vir hierdie leerders geskryf.

Oct 17, 201931 min

OP DIE PAD NA ACAPULCO deur Chris Barnard

Simon en sy vrou, Mia, swerf deur 'n oorloggeteisterde land op pad na Acapulco, 'n simbool van die paradys of utopie. Die paradys bly onbereikbaar en hulle bly uitgelewer aan die geweld, maar die hoop hou hulle tog aan die gang. Die tragiese radiodrama word 'n skrikwekkende voorstelling van hoe magteloos mens teen oorlog en geweld is, waar die vlug weg daarvan nie help nie, maar teengeweld ook nie. Op die pad na Acapulco word in 1974 ingeskryf vir die hoog aangeskrewe internasionale Italia-prys, en is ook in Engels, Frans en Serwies vertaal.

Oct 10, 20191h 0m

DIE VROU OP DIE SKUIT deur Elise Muller

'n Gesin neem hulle jong onskuldige huishulp, Bessie, saam met vakansie na Duinebaai. Sy sien vir die eerste keer die see, ry vir die eerste keer op 'n boot en ontmoet 'n jong boer en visserman, wat haar lewe onherroeplik verander. Die gesin keer na agt jaar weer terug na Duinebaai, en spoor vir Bessie weer op. Tot hulle verbasing moet hulle hoor dat haar lewe, noodgedwonge, 'n heel ander wending moes neem.

Oct 3, 201948 min

BESOEK VAN DIE GRENSBREKER deur Manie Groenewald

Die radiodrama is 'n verhaal oor drie susters, hulle onsekerhede en hulle diepste geheime. Die rolle word vertolk deur Elma Potgieter, Karen Wessels en Heidi Mollentze. Na hulle ma se dood kry 'n besoek van 'n man wat nie is wat hy voorgee nie. Dit verander hulle lewens ingrypend, en stel hulle in staat om hulle drome te verwesenlik.

Jun 27, 20191h 0m

GERT GARRIES - ‘N BAAISIEKEL BLUES deur Pieter Fourie

Gert Garries wat in opdrag van RSG Drama deur Eben Cruywagen van verhoogteks na ‘n radioteater getransponeer is, bring amper ‘n derde dimensie na vore uit die oorspronklike Leroux-stof wat herbewerk is deur Fourie en dan nog ‘n bietjie genre-bemesting gegee word deur Cruywagen via sy aanpassing vir die radiomedium, sodat ‘n vrugbare uitvloeisel tot wasdom kom as radioteater. Die verteller/regisseur, vertolk deur Chris van Niekerk, lei juis die drama in met die volgende dialoog: “Ek is die regisseur van die gebeure wat oor die volgende uur of wat gaan ontvou. ‘n Baldadige reaksie , kan jy maar sê, op Magersfontein, o Magersfontein! deur die gevierde Afrikaanse skrywer, Ettienne Leroux. En heel gepas…lig ek u in, want nie almal kan die lewe so fyn waarneem soos ek nie…sit ek baie gemaklik en ietwat uit die oog sodat ek nie my karakters in my verhaal intimideer nie, in ‘n opvouseilstoel soos die wat tradisioneel op ‘n filmstel tot beskikking van die regisseur is.”

Jun 20, 20191h 23m

AFKOELING deur Martyn le Roux

Die Vermaak-gesin is in 'n doodloopstraat. En dit is steeds snikheet in die Kaap. Amanda is in matriek, sy verwag 'n baba en is geskors. 'n Dwelmbaas is op die gesin se spoor en soek die boks met sy “ware”. Arme Danie se studies is opgeskort en hy sit sonder werk. En boonop het ma Linda en ouma hul laaste bietjie geld uitgedobbel. Om alles te kroon, het pa Fanus toe nie die bure se kefferbrak Elvis geskiet nie. Maar wat het van Fanus geword? En wat was daardie skoot wat in die waenhuis geklap het?

Jun 13, 201949 min