
Radioteater
383 episodes — Page 2 of 8

WRINGKRAG KINNERS deur Hein Henry Poole
Op ‘n plattelandse dorp is daar ʼn diep geheim wat John Junior en Nessa gaan skok. Hulle ouers verkies om dit stil te hou, omdat dit regtig nie saak maak nie. John Junior, nes die res van die gemeenskap, is versot op vinnige motors. Junior kry ʼn geleentheid om by ‘n motorwerktuigkundige ‘n ambag te doen. By sy huis, sukkel hy om sy groot liefde uit die kloue van sy neef, ʼn groot bendeleier, te red. Wat dit moeilik maak, is dat sy ware liefde, Nessa, aan dwelms verslaaf raak, en hy alles in sy vermoë doen om haar te probeer red. Die polisieman is kop in een mus met die bendeleier. Die skok wat die ouers tref wanneer hulle sien hoe die lewe hulle kinders insluk, ruk die mat onder hulle voete uit. Die akteurs is Hein Poole, Veronique Jephtas, André Samuels, Lee-Ann van Rooi, Cole Wessels, Albert Maritz en Merlin Balie. Die regie is behartig deur Frieda van den Heever.

DIE WEGRAPING VAN TANNIE KLEINTJIE DU PREEZ deur Fanie Viljoen
Tannie Kleintjie du Preez, die matriarg van die plaas Galilea, kry ’n onverwagse oorvalling by die hoenderhokke. Sy is met die helm gebore, en jaag almal op die plaas op hol want vandag, glo tannie Kleintjie, is dit die wegraping. Selfs die diere op die plaas is onrustig en kan dit aanvoel. Maar hoe maak mens gereed vir die wegraping? Sal dit werklik gebeur? Wie is gereed daarvoor, en wie nie? En hoe sal die persoonlike onderstrominge op die plaas die gebeure na ’n spits dryf? Met Joanie Combrinck, Dirk Stoltz, Barbara-Marie Immelman, Zenobia Kloppers, Chloe van Rooyen en Anton Treurnich. Die regisseur is Anrich Herbst.

DIE SPREEKKAMER deur Almero Welgemoed en Pietie Beyers
Die kompleksiteit van mense se verhale wat in 'n sielkundige se spreekkamer ontvou, is unieke verhale met 'n universele tema - om te behoort, om veilig te wil wees, om lief te hê, om seer te kry. Dit is amper 'n afloer-ervaring, 'n kans om mense se verhale te hoor wat gewoonlik agter toe deure plaasvind. En hopelik vind die luisteraar hoop en empatie agter daardie deure. Die spelers is Anton Schmidt, Deon Coetzee, Heidi Mollentze, Erin Patience en Rico Immelman. Almero Welgemoed het oorspronklike musiek vervaardig vir die opname. Die regisseur is Pietie Beyers.

HAMLET deur William Shakespeare
Hamlet moet sy pa, Ou Hamlet, se dood wreek. Hy word besoek deur sy pa se gees wat deurentyd by hom spook om die opdrag uit te voer. Dit bring Hamlet in konflik met homself, en deur die verloop van die drama speel sy kontrasterende emosies teen mekaar af tot ‘n klimaks wat op die grootste tragedie uitloop. Sy verhouding met familie, naastes en vertrouelinge is deel van die reis waarop Hamlet moet gaan in ‘n poging om sy vader se dood te wreek. Die spelers is Chris van Niekerk, Annette Engelbrecht, Johan Botha, Johannes Slabbert, Jan Cronjé, Joey de Koker, Jan Schutte, Lochner de Kock, Roelien Spruyt, Theo Conradie en Johan van Wyk. Die regisseur is Leon van Nierop.

DINK JY DAREM NOG AAN MY? deur Francois Bloemhof
Leandri kom per trein aan op die klein dorpie Stilwater. Die plan is om vir ’n onbepaalde tyd in Soes se losieshuis te bly om rus te vind ná onlangse gebeure in die stad. ’n Moord in ’n woning naby die losieshuis is egter net die begin van ’n reeks ontstellende situasies. Spoke uit die verlede sal ook binnekort by Leandri kom aanklop – met mening… Die spelers is Nadia Valvekens, Rika Sennett, David Louw, Claudia Jones, Botha Enslin, Zane Meas en Elzabé Zietsman. Die regisseur is Christelle Webb-Joubert.

PLASTON: DNS-KIND deur PG du Plessis
Plaston (Grieks vir ‘hy wat gemaak is’) is ‘n 19-jarige, beeldskone jong man wat kunsmatig deur wetenskaplikes geskep is. Hy kom op die afgeleë dorpie, Aardendal, aan waar hy in die gemeenskap geïntegreer word, en terselfdertyd fyn dopgehou word. Hy ontmoet vir die eerste keer ander mense, soos die dorpsidioot, die mooi jong meisie, Kotie, en die predikant Genopen. Plaston is 'n wese in wie daar geen kwaad is nie, maar wat juis 'n diep begeerte het om mens te word, pyn en liefde te ervaar, en probeer om bo sy programmatiese self uit te styg. 'n Professor en sy personeel hou elke beweging wat hy maak fyn dop, en luister na elke woord wat hy sê. Hulle raak onthuts wanneer Plaston afwyk van sy programmatiese beheer, en sy nuutgevonde vryheid besef en begin geniet. Plaston word vertolk deur Richard van der Westhuizen. Ander veterane sluit in Rina Nienaber, Hennie Oosthuizen, Marcel van Heerden, Gert van Tonder, Kosie Eloff, Lochner de Kock, Johannes Slabbert, Johan van der Merwe, Riana Wilkens, Emgee Pretorius en Bettie Kemp. Die regisseur is Robert Young.

JAKARTA MAMMA deur Lee Doubell
JAKARTA MAMMA is ‘n hartroerende verhaal oor die krag van ‘n ma (in hierdie geval ‘n paar ma’s) se liefde. ʼn Swanger Suid-Afrikaner word in Indonesië gevang met ʼn tas vol dwelms, en tot tronkstraf gevonnis. Haar ma, familie en vriende probeer desperaat om ten minste haar baba terug te bring huis toe. Sal hulle dit regkry, en sal almal veilig tuis wees op Moedersdag? Die spelers is Joanie Combrink, June van Merch, Miché van Wyk en De Klerk Oelofse. Frieda van den Heever is die regisseur.

SHIRLEY SE SKULD deur Anene Loots
In weerwil van die feit dat die bejaarde Rina in ‘n aftreeoord woon, wil sy steeds avonture aanpak en haar lewe geniet. Wanneer dit lyk of daar ‘n kans is dat sy, soos Shirley in die rolprent Shirley Valentine, op ‘n Griekse eiland kan gaan vakansie hou, is haar opgewondenheid groter as haar gesonde verstand. Onverwagse wendinge bring drama en konsternasie, met komiese gevolge. Die spelers is Susanne Beyers, Elsabe Daneel, Nic de Jager, Zenobia Kloppers, Dean Balie en Roeline Daneel. Die regie is deur Joanie Combrink behartig. Anene Loots het in 2023 die merieteprys met hierdie drama gewen in die RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

‘N BLOMMEKROON VIR BELINDA deur Almé Swart
Elke middag om klokslag half twee kom Belinda by die winkel in. Dan soek sy die tafel teen die muur, want sy wag vir haar man. En wanneer kom haar man? Hy kom nie... Dit is Nadia, die nuwe kelnerin by die koffiehuis op die dorp, beskore om die raaisel van Belinda se jarelange gewag op haar man op te los. Maar nie voordat haar eie geheim ook op die lappe kom nie... Die spelers is Anna-Mart van der Merwe, Elanza Swart, Ronel Geldenhuys, Stefan Vermaak, Chloe van Rooyen en Melt Sieberhagen. Die regisseur is Amor Tredoux. ’N BLOMMEKROON VIR BELINDA is die wenner in die kategorie Beste Jong Skrywer in die 2023 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

TAAISPUL deur Madeleine Venter
Ou liefde roes nie, lui die spreekwoord. As dit jou het, het dit jou. Daar is nie wegkomkans nie. Die liefde is ‘n taaispul. Dirk kry op sy oudag spyt oor die skoolliefde wat hy 40 jaar gelede deur sy vingers laat glip het. Hy glo vas dat die glibberige Eben destyds vir Lea van hom afgerokkel het, en besluit dat dit nou die tyd is om haar terug te wen. Die eksentrieke Katrien, ‘n Help-‘n-senior-vrywillige, help hom – teen betaling natuurlik. Sal Lea haar man, Eben, los vir Dirk? Dirk glo die inligting wat hy oor Eben het, sal Lea oortuig. Die spelers is Anton Dekker, Anton Schmidt en Elma Potgieter. Die jonger weergawes van die karakters is vertolk deur Charlie Bourguenon, Izel Bezuidenthout, Christene Voorendyk en David Louw. Die regie is behartig deur Mari Snyman. TAAISPUL is die wenner van die derde prys in RSG se 2023 radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

VERRAAD deur Anneli du Preez
Jaco en Phillip, ʼn getroude paartjie, kom voor ‘n uitdaging te staan wanneer een van die partye erken hulle voel nie meer dieselfde nie. Soos wat die middag verloop en die twee koppe stamp en mekaar konfronteer, leer ons die karakters beter ken. Altwee het geheime wat hullr ronddra en ontknoop. Die een se geheim het dalk goeie bedoelings, en die ander een s’n saai verwoesting. Die rolverdeling is is Philru van Achterberg, Botha Enslin, Christo Campion en Mandi Baard. VERRAAD het die tweede plek behaal in die 2023 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

TWEEGESIG deur Lena Nel
‘n Mens moet nooit te maklik vertrou nie. As dit blyk te goed om waar te wees, is dit gewoonlik so. Sake neem ‘n dramatiese wending wanneer Alexander Brink gewond word, en in die hospitaal wakker word. Skielik staan die pragtige Hanri van Wyk staan langs sy bed. Sy beweer dat hulle verloof is. Dis maar net die begin van die oëverblindery... Met Karen Wessels, Charlie Bouguenon, Antowan Nothling, Shemane Harris, Solomon Cupido, Ria Smit en Eddie de Jager. Tweegesig is die wenner van die 2023 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

LAM VIR DIE PASE deur Nico Luwes
400 jaar van stilte word verbreek. Sal jy trek of sal jy agterbly? Is die opoffering die moeite werd? Hierdie ou verhaal speel af in die tyd van die Israelitiese slawerny in Egipte. Dit trek die baadjie aan van gewone mense wat voor moeilike besluite te staan kom. Menslikheid en geloof ontmoet mekaar in ‘n verhoogteks uit 1990, keurig verwerk vir die radio dur Nico Luwes. Die spelers is Duncan Johnson, Henriëtta (Gryfenberg) Plattner, Elzabé Zietsman, Claudia Jones, Kaz McFadden, Francois van Rensburg en Dihan Keun.

VIER DAE VOOR KERSFEES deur Estel de Beer
Ons vier Kersdag op ‘n plaas in Suid-Afrika. Ontmoet die Scheepers-familie waar hulle op hul plaas woon en werk. Een broer is pas klaar studeer, die ander reeds jare op die plaas. Die Scheepers-familie gaan Kersdag op die plaas vier en voorbereiding is in volle swang. En dis in hierdie tyd wat die baas van die plaas aandring oo ‘n familievergadering om die toekoms van die familieboerdery te bespreek.

DIE SKULDIGE IS DUS... deur Eleanor Lombard
Adjudant-offisier Lokkie Homes en sy assistent, sersant Jamie Watson, ontvang ‘n oproep: ‘Julle moet dadelik kom. Ek dink iemand is vermoor!’ Soos hulle ondersoek vorder blyk dit dat die slagoffer se hele huishouding motief het om hom vankant te maak. Wie is die skuldige? Dit mag jou verras!

NOLS D'AMUS deur Hendie Grobbelaar
Nols D’Amus, deur Hendie Grobbelaar, vertel die storie van Nols wat per ongeluk in 1999 in die Vallei van Tussen-In beland. Daar ontmoet hy ‘n paar interessante mense – maar hulle leef nog in 1989! Hy benut egter die geleentheid om ‘n paar transaksies vas te knoop met beloftes van groot winste iewers in die toekoms. En wanneer hy die Vallei verlaat, “spring hy weer oor die almanak” soos Santjie (Elzabe Zietsman) dit noem, en beland tot sy skok en ontnugtering in 2020.

DIE BELOFTE deur Paula Hartzenberg
Alet ly aan ’n traumatiese toestand wat klaarblyklik onbewustelik van haar ma af op haar oorgedra is. Ten tyde van die ma se heengaan, is dit Alet se ouer suster, Jana, wat haarself met ’n belofte verbind tot die taak om uit te vind wat presies in hulle ma se lewe gebeur het wat hiertoe kon gelei het. Toe iemand eendag by hulle deur kom aanklop, kry die soektog momentum, maar onverwagse hindernisse kom terselfdertyd oor haar pad. Uiteindelik beland Jana by ’n punt waar sy ’n riskante besluit oor haar eie lewe moet neem voordat die waarheid tydens ’n bonatuurlike reis hopelik aan die lig kan kom.

GELDJIE ASSEBLIEF deur Casper Lourens en Henry Jacobs
“Ek is maar net ‘n inconvenience by die verkeerslig,” ‘n Lewe op straat is alles behalwe maklik. Dries, Koos en Fridge, is drie boemelaars wat op straat agter die winkelsentrum woon en hul daaglikse bestaan maak. Hulle word ondersteun deur die kerk met ‘n broodjie so nou en dan en die dominee wat af en toe kom inloer. Maar hierdie goedhartigheid van die dominee kom teen ‘n prys...

VOOR EK VERGEET deur Karen Marx
Hendrien moet skuif van haar woonstel, na ‘n kamer in die aftreeoord waar sy bly. Sy is gediagnoseer met vroeë tekens van demensie. Daarby het haar pragkind, haar talentvolle seun Johan, se kanker teruggekeer. Hierdie is ‘n storie van oudword, afskaal, twyfel, verlies en vergeet. Amanda Strydom en Hannes van Wyk, wat destyds die rolle vertolk het in die verhoogproduksie, kan in hierdie drama gehoor word. Die ander akteurs is Dawid Minnaar, Nadia Valvekens en Eddie de Jager.

LANK LEWE DIE KEISER deur Maria Vos
‘n Groepie akteurs repeteer aan ‘n moderne weergawe van Shakespeare se Julius Caesar. Die veeleisende regisseur blyk baie ongewild te wees, en wanneer daar boonop ‘n kragonderbreking is, begin die poppe dans. Die spelers is Wessel Pretorius, Roeline Daneel, Anrich Herbst, Hannah Borthwick, Marion Holm, Adriaan Havenga en Ira Blanckenberg.

SOETE DROME deur Karen Wessels
’n Liefdesverhaal van twee mense met bagasie uit die verlede, wat mekaar toevallig ontmoet en deur omstandighede deel word van mekaar se lewe. Die gesoute akteur en stemkunstenaar, Karen Wessels, maak haar debuut as skrywer met hierdie werk, en sy speel ook die hoofrol teenoor die ewe ervare kunstenaar, Robbie Wessels. Die ander akteurs is Altus Theart, Johny Klein, Renske Jacobs en Marina Coetzee.

TIENER IN DIE SUBURBS deur Luan Jacobs
Elkeen dra geheime, angs, bagasie en neurose met hulle saam. Antonie verkoop komberse om aan die lewe te probeer bly, en Jasmyn doen haar voor as medium wat kamtig met dooies kan kommunikeer. Hulle maak op dié onortodokse manier geld uit mense, wat ‘n geliefde verloor het. Maar oneerlikheid haal hulle in. Tog kan hulle nie vals oor die liefde wees nie, en blom hulle romanse onder uiterste en dikwels tragiese omstandighede. Die akteurs is Izél Bezuidenhout, Luan Jacobs, Tobie Cronjé, Ria Smit, Sulette Thompson, Antowan Nothling en Mandie du Plooy.

DIE STOMME MOSES deur Albert Short
‘n Kaal man word in die vlak water van ‘n rivier gevind. Hy is bewusteloos en kan nie praat nie. Wie is hy? Of meer belangrik – wát is hy? Want die Anglo-Boereoorlog is in volle swang. Is hy Boer of Brit? Vriend of vyand? Tussendeur raak die verpleegster verlief op hom. En iemand raak jaloers – en die stomme Moses, al kan hy nie ‘n vinger lig of ‘n woord sê nie, verkeer in doodsgevaar! DIE STOMME MOSES is ‘n absurde komedie wat afspeel teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog wat vanaf 1899 tot 1902 in Suid-Afrika gewoed het. Dit was Boer teen Brit, en om in daardie tyd sonder identiteit te wees, moes waarskynlik ‘n erge probleem gewees het. Die akteurs is Karli Heine, De Klerk Oelofse en Wessel Pretorius.

'N MOOI SONDAGMIDDAG IN SEPTEMBER deur Ugo Betti
Mev. Adriana is 40 en verveeld. Dit voel vir haar asof die lewe na 'n einde beweeg, tot sy hoor dat sy 'n ouma gaan word, en dat 'n nuwe lewe gaan begin. Die spelers is Anneke Keyter, Johann Nel, Johann Esterhuysen, Christo Gerlach, Joanie Combrink, Alewyn Lee, Pierre Louw, Edward Turner, Neels Engelbrecht en Nicci van Noordwyk.

BEURTKRAG deur Leon van Nierop
‘n Riller oor die uitwerking wat beurtkrag het. Albert beman bedags (en soms snags) ‘n noodlyn waarheen mense skakel indien hulle ‘n krisis het. Beurtkrag veroorsaak meer trauma as wat besef word. Om die waarheid te sê, dit word onderskat. En dit kring wyer uit na mense se persoonlike lewe, wat dan om berading aanklop. Die probleem is dat die tradisionele vraag- en antwoordsessie nie altyd help nie. Veral nie in hierdie geval nie... Die spelers is Bettie Kemp, Antowan Nöthling en Luan Jacobs.

HOLMRUGGERY deur Marion Holm
Marion Holm se loopbaan het weens die Covid-pandemie skielik tot ‘n einde gekom. Soos talle ander kunstenaars is sy deesdae weer volstoom aan die arbei en spin. Haar ervaring hiervan is vasgevang in ’n eenvrouvertoning. Dis ‘n intieme kykie in haar lewe voor, tydens en ná die pandemie.

LAERSKOOL NOORD deur Ilne Fourie
Drie onderwyseresse beplan ‘n verrassingsafskeidspartytjie vir hulle skoolhoof se aftrede. Met die netbaljuffrou, Zelda de Wet, se vreesaanjaende fluitjie, Bets du Preez se chaotiese administrasie en die vredemaker Marietjie(tjie) wat as die taalsuiweraar optree, is die kantoor ‘n tikkende tydbom. En dan wag hulle vir meneer van der Watt om aan te kondig wie die nuwe hoof van Laerskool Noord is... Die spelers is Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie, Neels Coetzee en Albert Maritz.

DEUR DIE VUUR VIR JOU deur Adriaan Havenga
Die verhouding tussen ‘n akademikus-pa en sy matriekdogter, Heilie, is stram. Hulle kommunikeer nie goed nie, en daar is wedersydse verwyte. En albei mis Heilie se ma wat in ‘n motorongeluk dood is. Hulle word deur ongewone omstandighede gedwing om hulle verhouding in oënskou te neem. Die spelers is Rene Cloete en Ivan Abrahams. Die produksie word aangebied met die vergunning van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans.

DIE KOMPETISIE deur Joe Kleinhans
Wat doen jy as jy 'n daaglikse sukkelende bestaan in 'n klein saai ou dorpie voer? As jy die pastoor van die fiktiewe dorpie Putfontein is, organiseer jy ’n kompetisie wat om Paasfees gesentreer is, met ongelooflike pryse wat R10 000 kontant, ‘n trollie kruideniersware en 'n skaap insluit. En voor jy kan sê bliksemstraal, gons die hele dorpie oor die kompetisie... en dit maak ook die geldgod in sommiges wakker. Hulle sal selfs nie eers skroom om afpersing te gebruik om hulle hande op die prysgeld te kry nie, met skreeusnaakse gevolge. Die spelers is Johny Klein, Denver Vraagom, Ilse Klink, Shemaine Harris, Mari Molefe van Heerden, Solomon Cupido en Bradley Olivier.

SLANG IN DIE GRAS deur Chris Madjiet
Slang en sy groepie helpers tel kosbaarhede by die asgate op om te verkoop. Hulle stel veral belang in koper en aluminium. Hulle was almal in die tronk, en lede van die tronkbendes. Die hiërargie op die asgate is duidelik: Slang sê… en die res moet luister. En daar is min genade vir dislojaliteit. Die spelers is Chris Madjiedt, Charlton George, Marlo Minnaar, Rayston Stoffels en André Samuels.

IEWERS IN DIE GRYS deur Adriaan Havenga
'n Drama wat die vriendskap van twee plattelandse hoërskoolleerders, Heather en Gideon, ondersoek oor 'n tydperk van 16 jaar. Skoolkinders het groot drome, maar hoe word ’n lugkasteel bo gehou in ’n land waar onregverdigheid en regverdigheid so eenders lyk? Hierdie radiodrama is 'n verwerking van die teaterteks wat by die 2023 kykNET Fiëstas bekroon is met die toekennings vir Beste Nuutgeskepte Teks en Beste Opkomende Kunstenaar. Die spelers is René Cloete en Adriaan Havenga.

WESVILLE LAER deur Nisa Smit
Ná afloop van ‘n ouervergadering by Wesville Laer, waar die hoof onder andere die nuwe skoollied bekend gestel het, gaan spreek twee ouers vir Juffrou Calitz in haar klaskamer. Die twee sit glad nie langs dieselfde vuur nie, en die arme Juffrou het haar hande vol om die vrede te handhaaf. Sy het egter haar eie bekommernis, en kan eintlik nie fokus op wat die twee op die hart het nie. Want sy wat Juffrou Calitz is, is dalk swanger... en die hoof is dalk die pa... Die spelers is Mandi Baard, Izel Bezuidenhout, Estel de Beer en Botha Enslin.

EN SORG TOG MOOI VIR BUKS deur William Oosthuizen
Thérèse Terblanche se gesin is disfunksioneel, en haar onverwagte besluit om te begin draf, laat hulle glo sy wil probeer gewig verloor. Sy oorreed eers Lisa en daarna Hardus om saam te draf en selfs aan georganiseerde padwedlope deel te neem. Maar die wáre rede vir haar skielike besluit is glad nie wat Thérèse se gesin verwag het nie... Die akteurs is Susan Erasmus, Rudolph Torlage, Micke Hannay, Henko de Goede, Helmi White, Anita Torlage, Barry Tolmay en Annemarie van Dyk. EN SORG TOG MOOI VIR BUKS was ’n finalis in die RSG Radiodrama-skryfkompetisie van 2019.

HARTSEERHERFS deur PJ Haasbroek
Voorman is die leier van die klein gemeenskap tussen die wingerde en vrugteboorde. Daar leef hy enTant Kwaai en Oumama saam met die jongklomp Ratseknaap, Soetlief en Koggeljan te midde van daaglikse vreugdes, probleme en teleurstellings. Maar hulle gemeenskap word bedreig deur ontwikkelings op verskeie vlakke. Die akteurs is Deon Lotz, Marlo Minnaar, Liz Archer, Joanie Combrinck en Riaan Visman. Die drama word uitgesaai ter viering van die skrywer se 80e verjaarsdag.

HOUVAS deur Lee Doubell
Dis die verhaal van drie mans wat saam op die grens was - Vingers, Soete en Bul – en wat van hulle geword het. ‘n Plan wat hulle almal moes ryk maak, het verreikende gevolge… Met Deon Lotz, Anton Dekker, Denver Vraagom en die 12-jarige Malea Avis wat haar radiodebuut maak. HOUVAS is die wenner van die 2022 Radiodramaskryfkompetisie.

VYFTIEN MINUTE VAN ROEM deur Francois Bloemhof
Die 32-jarige Danie is ’n bleeksiel wat nie veel vir homself te sê het nie – tot hy op ’n dag vir George van Vuuren aangesien word. George het pas ’n groot sangkompetisie gewen en is hipergewild. Nou doen Danie alles in sy vermoë om nét soos George te lyk en selfs op te tree. Hy begeer dieselfde graad van bekendheid en sukses. Hy sal egter gou agterkom hoe bedrieglik die vermaaklikheidswêreld is, en dat daar groot gevaar agter al die glans kan skuil. Die akteurs is Adriaan Havenga, Pietie Beyers, Chloe van Rooyen, Roeline Daneel, Karli Heine en Erica Wessels. Vyftien minute van roem is die naaswenneer in die 2022 Radiodrama-skryfkompetisie.

DIE VLEK VAN MENSWEES deur Adelle van Wyk
Die drama handel oor die uiterstes waartoe mense sal gaan om te kry wat hulle wil hê, As ‘n mens iets graag genoeg wil hê, is geen prys te hoog nie. En dít is die vlek op ‘n mens se siel. Die spelers is Mandi Baard, Shemane Harris, Karin Retief, Anton Dekker, Sulette Thompson, Rina Nienaber en Sue Pyler-Slabbert. Die drama het die derde plek verower in die 2022 Radiodramaskryfkompetisie.

MOT deur Almé Swart
Mot, oftewel Mathilda, het 'n moeilike lewe ná haar ouma se dood. Haar vriend, Liam, probeer help waar hy kan, maar kan nie altyd 'n buffer wees tussen Mot en haar huislike omstandighede nie. Dan ontdek Mot 'n geroeste koekblik met sleutels en 'n adres in. Sy en Liam besluit om te gaan uitvind wie se adres dit is... en hulle maak 'n ontdekking wat albei se lewens verander. Met Hanna Borthwick as Mot en Wessel Pretorius as Liam. Ander stemme wat gehoor word, is die van Ira Blanckenberg, Lee-Ann van Rooy en Nic de Jager. Regie deur Anrich Herbst. MOT is die wenner in die afdeling vir Jong Skrywers in die 2022 Radiodramaskryfkompetisie.

WIE IS BANG VIR DIE GOEIE WOLF? deur Engela van Rooyen-Linde
'n Herlewingsdrama vir almal wat smag na vernuwing. Hoop beskaam nie. Beleef in Paastyd hoe ons Verlosser ons kleinmenslike traumas met wonderwerke heeltemal omkeer. Die akteurs is Richard van der Westhuizen, Sulette Thompson, Christo Compion en Karen Wessels. Die regisseur is Helena Hugo.

TROUFOTO’S deur Karin du Toit
Tersia en Leon is met vakansie in Amsterdam. Hulle sien ‘n kelner wat op ‘n druppel water lyk soos hulle vriendin Nadia se oorlede man Pieter… Troufoto’s bevat gewoonlik pragtige mense wat gelukkig glimlag, met die hele skoonfamilie wat ook iewers in die prentjie is. Maar iets is nie pluis nie. Pieter en Nadia glimlag net te breed op ‘n troufoto. Wat is hier aan die gang? Met Lelia Etsebeth, Kaz McFadden. Renske Jacobs en Stefan Vermaak. Die regisseur is Leon van Nierop. Wenner van die Merietetoekenning in die 2022 Radiodramaskryfkompetisie.

PENNIEGRYPER deur Charles Dickens
Vir die radio vertaal en verwerk deur Aart de Villiers en Don Lamprecht. Dit is Oukersaand. Ebenezer is ‘n suinige prokureur en knorpot wat geen sin in die feesvieringe rondom Kersfees sien nie. Hy wil skaars vir Karel Kroukamp, sy klerk, toestemming gee om tyd saam met sy gesin deur te bring. Maar dan ontvang hy ‘n paar besoekers in sy slaap wat hom laat besef wat die invloed van sy knorrigheid op ander is. Die spelers is André Rossouw, Ivan Abrahams, Christo Gerlach, Theresa Cloete, Randall de Jager en André Samuels. Die drama is in 1992 opgevoer.

VONDELING deur Liesl Bekker
Jerome Fortuin, die nuut aangestelde voorman op die deftige en welgestelde Mildred Malan se kleinhoewe, maak vroegoggend ‘n rare vonds wat hy versigtig versteek. Hy probeer vir homself ‘n nuwe lewe skep ná traumatiese kinderjare in ‘n kindersorgsentrum en ‘n onverdiende botsing met die gereg. Tydens ‘n storm een nag, ontdek Mildred die versteekte verrassing, en hy smeek haar om sy geheim te bewaar. Sy willig teësinnig in en ‘n ongewone vriendskap ontwikkel tussen hulle. Soos die waarheid ontvou kry albei beter begrip en insig in die polariteite van mekaar se wêrelde en sienswyses. Dit is egter nie so maklik om van ‘n mens se verlede te ontsnap of stereotipes te besweer nie. Ná ‘n ongelukkige voorval op die werf, verloor Jerome sy werkgewer se vertroue, sy nuwe lewe en sy kosbaarste vonds. Mildred verloor ook haar rigiede denkwyses, en saam ontdek hulle die pyn van verwerping en verraad en die hoop wat vergifnis bring. Die akteurs is Dean Balie, Susanne Beyers, Lindie Stander, Marlo Minnaar en Lee-Ann van Rooi.

'N PA VIR GIEL deur Euna Easton
‘n Familiegeheim word onthul, wat Giel se lewe op sy kop draai. Al wat Giel weet is dat sy pa dood is toe hy klein was. Sy ma maak hom alleen groot, maar wanneer sy doodgaan begin hy opnuut wonder oor die pa wat hy nooit geken het nie. ‘n Vreemde man nader Giel op die dag van sy Ma se begrafnis, maar Giel kan nie na die man luister nie. Hy het immers sy enigste ouer verloor. Daar is familielede wat vir Giel ondersteun, maar sommige weet meer oor die verlede as ander. En die man by die begrafnis, is toe nie heeltemal ‘n vreemdeling nie. En Giel leer: “miracles is vir almal”. Die spelers is Elma Potgieter, Pietie Beyers, Rina Nienaber, Donovan Pietersen, Christine Voorendyk en Johny Klein.

DIRK LIGTER deur Albert Maritz
Daar is baie stories oor Dirk Ligter, ‘n legende van die Tankwa Karoo. Wat waar is en wat nie, is nie altyd duidelik nie. Twee skrywers tree met mekaar in gesprek oor hulle onderskeie weergawes van Dirk Ligter en sy lewe. Die spelers is Nic de Jager, Waldimar Schultz, Dean Balie, Zenobia Kloppers, Wessel Pretorius, Riaan Visman, Marion Holm en Frieda van den Heever.

DIE SEEKAT deur Tienkie Albertyn
Katie en Annie is twee afgetredenes wat die wêreld vanaf hulle balkonne beskou. Oorkant hulle is Die Seekat, ‘n gewilde kuierplek. Die lawaai wat daarvandaan kom, dryf die twee ou dames egter tot raserny en hulle besluit om ‘n plan te maak… Die spelers is Rina Nienaber, Shemane Harris, Simon Bruinders, Philru van Achterberg, Izel Bezuidenhout en Johny Klein.

ONDERHOUD MET 'N BOEMELAAR deur Karin du Toit
Hoe beland ‘n mens op straat en word ‘n boemelaar? Veral as jy ‘n professionele, gegradueerde mens is met ‘n gesin. Einstein is so ‘n mens. Hy en sy vriend Skerf woon in ‘n park onder ‘n boom. En dan, een middag daag daar ‘n joernalis en haar vriend op. Sy soek ‘n storie. En Einstein soek antwoorde. Die spelers is Sue Pyler-Slabbert, Donovan Pietersen, Pietie Beyers, Johny Klein, Karen Wessels en Eloise Cupido.

WIE NIE WIL HOOR NIE deur Maria Vos
Waarskuwing: Sekere tonele en taalgebruik mag sensitiewe luisteraars aanstoot gee. Die kunssinnige Janina is saam met haar boesemvriend, Anton, in matriek. Een middag vra hy haar om vir hom ’n prentjie van hulle streng onderwyseres, Mevrou Steyn, te teken. Anton is gaande oor die karikatuur waarmee sy vorendag kom, en wil dit graag as ’n aandenking hou. Maar Janina sou nooit kon raai wat Anton met haar stukkie tekenkuns beplan nie. Nog minder kan Anton 17 jaar later voorsien wat op hom wag wanneer hy Janina toevallig op ’n trein in Engeland raakloop... Die drama was ‘n finalis in die RSG/SANLAM Radiodrama-Skryfkompetisie van 2021. Die akteurs is Helmi White, Rudolph Torlage, Abigail Kuhn, Pieter van Romburgh en Anelle Engelbrecht.

DOOD VAN 'N SKRYWER deur Hannes Pieterse
Familiekonflik en verhoudings, die nagevolge van die pandemie en die vervlakking van die samelewing weens sosiale media is temas wat in die drama weerklink. Maar eerstens is dit ‘n misdaadverhaal: Wie het die moord gepleeg? Die spelers is June van Merch, Johan Nel, Hanna Borthwick, Melt Sieberhagen, André Weideman en Kay Smith.

DIE GLASDEUR deur Henriëtte Grové
Die drama vertel die verhaal van drie oujongnooiens wat op ‘n afgeleë plaas woon. Dan kom ‘n jonger familielid by hulle aansterk. Sy teenwoordigheid krap ou wonde oop oor ‘n ander jongman wat baie jare gelede ook by hulle aangesterk het nadat hy in die oorlog gewond is. Die tweemalige Hertzogpryswenner, Henriëtte Grové, sou vanjaar 100 jaar oud wees. Die drama word as huldiging uitgesaai. Hierdie opname van Die Glasdeur is in 1957 uitgesaai. Die spelers is Anna Neethling-Pohl, Aletta Gericke, June Seymour en Pieter de Bruyn.

SOU DIE STERRE LUISTER deur Lee Doubell
RSG bied ‘n spesiale opdragwerk aan om 85 jaar van Afrikaans op die radio te herdenk. Die drama word 'n spel, nie net met tyd nie, maar ook met ruimte waarin die hedendaagse RSG, kompleet met U eie keuse (die oudste radioprogram in Suid-Afrika) as springplank vir die intrige gebruik word. Griekse mitologie, vermeng met hedendaagse, ondermaanse gegewe, soos die Karoolandskap, sy inwoners en radiopersoneel wat reis in die omgewing vir opnames (omroeper en klankman) en ’n tipiese ou en nuwe Suid-Afrika skep die verhaal. Die drama is ‘n ode aan klank. Die spelers is Anna-Mart van der Merwe, Marissa Claasen, June van Merch, Dean Balie, Johann Nel, Anrich Herbst en Willem Pelser.