
Radioteater
382 episodes — Page 6 of 8

GESIGSEINDERS deur Wim Vorster
Die aspekte wat 'n blinde gemeenskap ervaar en mee worstel, is dikwels soos die van die sogenaamde normale gemeenskap, maar daar is kwessies en vrae wat hulle kwel en diep ontstig waaraan die siendes selde dink. Kwessies soos hoe droom iemand wat blind gebore is? Hoe voel die verskillende kleure? Wie blameer jy vir jou blindheid? Die drama is 'n enkele toneel waarin vyf blindes gesels oor hulle ervarings, vrese, verwyte en drome. Elke karakter ontbloot sy of haar eie donkerste hoek.

TOEKA SE DAE deur Niel Steenkamp
Grootouma Annabel vier haar honderdste verjaarsdag in 'n ouetehuis. Haar agterkleinkind Anton sou sy verlowing aan die meisie van sy drome op hierdie gedenkwaardige dag aankondig, maar familiebande verhoed hulle. Altans, so vermoed hulle...

AGTER TOE DEURE deur Perdita van Dijk du Bois
Engela is raadop omdat haar man, Willem, al sy tyd agter 'n geslote deur deurbring. Sy is aanvanklik onwillig om hom daaroor aan te vat, maar met aanmoediging en raad van 'n lewensafrigter, en ook van haar geliefde tante, skraap sy uiteindelik die moed bymekaar. Wat sy uitvind verander haar en haar man se verhouding vir altyd.

KROKODIL deur Kirby van der Merwe
'n Groepie vriende onderneem 'n toer op die spore van die destydse Grensoorlog. In Katima Mulilo, 'n dorp in die westelike deel van die Caprivistrook in Namibië en eertydse Suid-Afrikaanse weermagbasis tydens die Grensoorlog, raak hulle egter gestrand toe die ou oor-die-muur viertrekvoertuig se enjin finaal die gees gee. Terwyl hulle wag op die motorwerktuigkundige, kom 'n paar interessante onthullings aan die lig wat, sou dit algemeen bekend word, die dinamika van hierdie vriendekring permanent en ingrypend sou verander.

BOSLUISIE deur Ronel Mostert
'n Jong vrou, wat meestal by haar tante groot geword het, moet die verlies van haar ouers verwerk. Tot haar verbasing is sy die erfgenaam van 'n geliefde Bosveld vakansie-oord, en dis hier waar sy te doene kry met die werklikheid van die stropery van renosterhorings en ook haar gevoelens vir haar kêrel in oënskou moet neem. Die drama is 'n liefdesverhaal wat afspeel in die Bosveld, waar die wreedheid van die stropery van renosterhorings 'n werklikheid is.

ADOLFIE EN DIE KLAVIER deur Madelein Rust
'n Bekkige boervrou probeer allerhande plannetjies om 'n arm verstote gesin weer in die gemeenskap te integreer. Selfs die nuwe dominee is nie te heilig om by haar planne ingesleep te word nie, want dit lyk asof net 'n wonderwerk sal help. Sal sy slaag? Sal die gemeenskap bereid wees om die vreeslike verlede te begrawe en te vergewe? En indien wel, waarvandaan sal die wonderwerk kom?

PADKAARTE
Padkaarte is 'n samestelling van drama, poësie en prosa, spesiaal vir die radio opgevoer deur sewe van die agt finaliste van die Nasionale Toneelspelkompetisie van 2016. Dit is 'n nuwe konsep om jong talent aan RSG se luisteraars bekend stel.Die jong akteurs is Tomley van Vuuren, Wian Taljaard, Cantona James, Mia van der Merwe, Rene Cloete, Jana van der Merwe en Jeani Heyns. Hulle reis onder andere deur Adam Small se “Krismis van Map Jacobs”, Odette Schoeman se roman “Swartskaap”, Elisabeth Eybers se “Portret”, Jeanne Goosen se “Paw-paw vir my darling” en Tilla Diedericks se “Jong Dames Dinamiek”. Die Nasionale Toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerlinge word jaarliks deur die Hoërskool Bellville aangebied, onder leiding van Herman van der Westhuizen.

POINTE-NOIR (EK EN DIE MAJOOR) deur Jan Lampen
Suid-Afrikaanse huursoldate word in die Kongo gevange geneem ná 'n mislukte operasie. Hulle word onder haglike omstandighede in 'n gevangenis in Pointe-Noire, in die suide van die land, aangehou. Uiteindelik, na twee jaar, slaag die laaste twee oorlewende soldate om te ontsnap. Net een oorleef om hulle storie te vertel.

DIE KIND deur Janine van der Linde
'n Jong ma van die Kaapse Vlakte rou steeds oor haar seun wat op sy sewende verjaardag spoorloos verdwyn het. Sy bly glo dat hy sal terugkom en dat hy nie dood is, soos almal glo nie.

NAGMAAL VIR TWEE deur die Gebruikerskomitee van die Moot Biblioteek, Pretoria
'n Bejaarde Afrikaanse plaasboer en sy swart jeugvriend, 'n oudplaaswerker, bevind hulle saam in dieselfde ouetehuis. Op die vooraand van die kerkbasaar besluit die boer om 'n paar lekkernye te gaps om langs die rivier te gaan braai. Met brood en wyn wag hulle vir die hout om kole te word, maar die gesprek neem 'n wye draai terug tot in die verlede, met verreikende gevolge vir albei. Dit is 'n sensitiewe drama wat met groot deurdagtheid en menslikheid geskryf is.

KOPSKOOT deur Gerda Kriel
'n Verbitterde en onstabiele polisiekaptein wat 20 jaar laas bevorder is, beland by 'n professionele sielkundige met 'n praktyk êrens in Johannesburg. In die spreekkamer word daar dramatiese onthullings gemaak, en skielik neem die storie 'n heel ander wending...

VOOS GESKAAF deur Joe Kleinhans
Cor Gericke en sy vrou, Lynn, (dis 'n tweede huweliksituasie) besluit om op hulle eie vakansie te gaan hou. In werklikheid het albei van hulle skelm verhoudings en wil vakansie hou by hulle huis. 'n Soort wittebrood in die kleine. Lynn en haar liefde, Theo Barlow, is eerste daar. Tweede wat opdaag is Ria Rupert, Cor se vriendin, en nou begin die spreekwoordelike poppe 'n dansie uitvoer waaraan almal nie graag deelneem nie.

DIE SOMER VAN SES EN VYFTIG deur Engela van Rooyen-Linde
Twee oumense wag tevergeefs vir hulle seun wat ná die Tweede Wêreldoorlog as vermis aangegee is. In hulle hartseer raak hulle vervreemd van vriende en familie, maar elke Kersfees word die Kersboom hoopvol versier en in die voorkamer uitgestal vir die groot hereniging.

DIE SNEEUMAN deur Cecilia du Toit
'n Seun met Down-sindroom word op 'n Vrystaatse plaas deur sy ouma en oupa grootgemaak. Elke jaar verbeel hy hom dat sy pa, wat hy nog nooit ontmoet het nie, met Kersfees daar sal opdaag. Die spesifieke Kersfees hou hy vol dat sy pa ook saam met hom 'n sneeuman sal bou. Wanneer daar dan wel 'n man sy opwagting op die plaas maak, word die grootouers met verlies en pynlike herinneringe gekonfronteer. Die drama handel onder andere oor vooroordele, veral weens onkunde en dan ook oor vergifnis.

MET EEN VOET IN DIE GRAF deur William Oosthuizen
'n Groep plaaswerkers kry die ontstellende nuus dat daar net een graf oop is in hulle begraafplaas. Hulle sal self moet besluit watter een van hulle die gesogte rusplek verdien. Elkeen wil met waardigheid die tydige met die ewige verwissel, maar om jou eie stukkie 'grond' te bekom, moet daar dalk eers 'n paar ou koeie uit die sloot gegrawe word... Tydens die dinamika wat volg, word universele menslike gedrag uitgebeeld met die tong in die kies en 'n heerlike kinkel in die kabel.

ONOPGESLOSTE SAAK deur Barbara MacArthur
Wat maak van 'n mens 'n moordenaar, selfs 'n reeksmoordenaar? En is dit hoegenaamd voorspelbaar dat iemand moord sal pleeg? Of kan iemand wat gewoon voorkom, en 'n gewone lewe ly, moord pleeg sonder dat iemand ná aan die persoon dit voorsien of verwag? Hoe goed ken ons werklik ons geliefdes?

DAG VAN DIE REUSE deur Pieter Pieterse
ʼn Agtienjarige Portugese seun met ʼn lam voet word in Mosambiek groot tydens die burgeroorlog in die middel jare sewentig. Sy pa is verskeur tussen die rebelle en die regeringsmagte. Wanneer sy pa verdwyn, ontmoet hy ʼn wit Afrikaanse meisie wat ʼn busramp oorleef het. Saam takel hulle die Mosambiekse bosse met al sy gevare aan. Dan hom hulle op ʼn gewonde olifant af wat die jong João (Merlin Balie) moet probeer gesond maak. Elena (Ansu Visser) reis saam met hom na veiligheid. Sal hulle dit lewend maak?

DAGBOEK VAN ‘N WURM deur Martyn le Roux
“Liewe Dagboek, Ek weier om 'n slagoffer van my omstandighede te wees...” Cassandra Viljoen is n belowende jong liggaamsbouer wat die sportsoort gebruik om bo haar omstandighede uit te styg. Nie almal in haar familie ondersteun haar egter nie. En dan is daar haar albatros...

SJARRAP EN EET JOU KOS! deur Ilné Fourie
Al ooit gewonder hoekom mense kelners word? Of wat deur hulle gedagtes gaan, veral as hulle met dom vrae bestook word? Of hoeveel dit van 'n kelner verg om net 'n klein gunsie vir iemand te doen, soos om 'n foto (of ses) te neem? Maak nader kennis met die psige en die stresvolle lewe van 'n kelner.

DIE WITTEBROOD 2 deur Riana Scheepers
Vir drie dae moet Lucas en Klara noodgedwonge in 'n omgewing vol paradyslike skoonheid, maar terselfdertyd lewensgevaarlike omstandighede, probeer oorleef. In die tyd dat hulle wag op 'n moontlike reddingspoging, gestroop van enige denkbare gerief of kos, kom die verskille in hulle persoonlikhede, asook elkeen se sterk en swak punte, dramaties na vore. Hulle bevraagteken hulle verhouding en wonder of daar vir hulle 'n toekoms saam is. Die tradisionele geslagsrolle word omgekeer, en hulle leer hulleself en mekaar werklik ken. Dit is 'n tydperk wat bepaal of hierdie trauma die einde van hulle huwelik beteken, of dalk 'n nuwe begin…

DIE TIKMASJIEN deur Pirow Bekker
Met sy jongste radioteater probeer Pirow Bekker 'n verband lê tussen die tikmasjien en die waterboormasjien. Albei soek na water – die boormasjien regstreeks, die tikmasjien onregstreeks met die skep van lewe deur die woord. Water is immers lewe. Die liefde speel 'n prominente rol, veral die ontluikende liefde tussen twee jongmense. Maar die liefdesdraad kan ook verknoop raak en die boor- en tikmasjiene in wapens verander. 'n Veelfasettige drama waar die poëtiese inslag oorheers: 'n ode aan water.

AMADEUS deur sir Peter Shaffer
Antonio Salieri is die afgetrede hofkomponis van die keiser Josef II, maar nou sit hy in sy blyplek in Wene en besluit om iets te bely... Hy vertel van sy eerste ontmoeting met 'n ander komponis, Wolfgang Amadeus Mozart. Mozart was 'n wonderkind en van jongs in aanvraag regoor Europa. Salierie, daarenteen, was 'n bra gemiddelde komponis en die tweestryd tussen hom en Mozart is iets wat nou nog by hom spook. Net voor sy finale belydenis speel die werklikheid hier reg voor hom af...

LITTEKENS deur Karien Polley
Langs Coetzenburg het nie net 'n waterstroom gevloei nie, maar #SteveBiko is tragies dood in '76, en die #lawstudente en #dramastudente het #gerebel. Van hulle het onder #StilleWaters die #Duiwels laat ronddraai. 'n Storie van #Spioene vir en teen. #Veiligheidspolisie wat bedrywig was en #Liefde omgeskakel het in #Verraad en #Verwyt.

REISIGER NA KIMBERLEY deur Dolf van Niekerk
Karen is 'n aktrise en geniet die wêreld van voetligte en applous. Haar man, Johan, bevind hom in die sfeer van die landbou en die wetenskap. Totdat hulle besef dat hulle huwelik nie meer is wat dit was nie. In die middel is hulle talentvolle veertienjarige dogter, Annelie. Hoe moet sy sin maak van die skielike nuus dat haar ouers se paadjies gaan skei? Intussen word Karen gekonfronteer met die keuses wat sy voorheen in haar lewe gemaak het. In 'n slim spel tussen die hede, verlede en toekoms en die treinreis wat Karen onderneem, neem die skrywer Dolf van Niekerk die luisteraar op 'n emosioneel ontroerende storiereis. Dit is Van Niekerk se eerste nuwe radiodrama in sowat 34 jaar.

AS ONS TWEE EERS GETROUD IS deur Gerhard J. Beukes
Frans en Malie van der Merwe is op die vooraand van hulle silwer huweliksherdenking, maar besef dan dat hulle nie 'n huweliksertifikaat het nie. Is hulle werklik getroud, of leef hulle al die jare in “sonde” saam? Die klein Kallie het boonop sy “dieretuin”, bestaande uit 'n koggelmander, muis, spinnekop, padda en slang, in die voorkamer laat ontsnap. Wat is Oupa besig om uit sy broek te skud? En wat kruip oor die kussing? Midde hierdie konsternasie probeer Malie en haar twee dogters, Santjie en Annelise, om van Oupa ontslae te raak. Sal die weduwee, mevrou Bloom, die stuitige oupa uit hulle pad en sake kry?

KANNA HY KÔ HYSTOE deur Adam Small
Kanna is die grootmaakkind van Makiet, 'n arm bruin vrou uit die werkersklas. Kanna se aanneem-ouers sien sy potensiaal raak en moedig hom aan om 'n opvoeding te kry en te ontsnap van die onderdrukking in Suid-Afrika en Distrik Ses.Hy presteer bo verwagting, maar in die buiteland. Vir Makiet, sy vriende en sy familie word sy terugkeer 'n simbool van hoop. Die drama wentel rondom hierdie afwagting van Makiet dat Kanna eendag sal huistoe kom. Uiteindelik kom hy huis toe – maar net vir Makiet se begrafnis. Kanna kan nie meer inpas by die leefwyse van sy Suid-Afrikaanse verlede nie...

RAGEL deur Fanie Viljoen
Luan Loots hou daarvan om ander mense se weggooigoed by pandjieswinkels te koop. Hy beplan om alles te verkoop wanneer hy aftree, om vir hom en sy vrou te sorg vir hulle oudag. Dan kom hy op iets af wat hy dalk liewers op die winkelrak moes gelos het, want vandat hierdie ding in sy huis staan, gebeur daar vreemde goed... soms sommer helder oordag!

LEWE NA DIE NOOT deur Wilken Calitz
Uit die pen van Wilken Calitz kry ons 'n verhaal van 'n sukkelende jong opkomende sanger, Johnny (Andre Terblanche), wat eers teologie studeer het en agv sy seksuele voorkeure in konflik met die kerk se gay-beleid kom. Sy lewensmaat, James (Marlow Minnaar) word gediagnoseer met kanker en dit is waar die papaja die waaier tref, want hulle het dringend geld nodig vir die chemo-behandeling. Hiervoor is Johnny bereid om buite die boks te dink en sy eie dood te vervals om post mortem tantieme uit 'n lied te ontvang, wat dan aan sy geliefde vir sy mediese behandeling kan gaan.

TEERLING 6: DIE PES deur PG du Plessis
'n Dominerende skoolhoof ontvang 'n dringende SMS van haar onderdanige broer, wat as 'n laboratoriumassistent werk, om hom by 'n sekere adres in 'n krotbuurt te ontmoet. Uit die staanspoor is alles nie pluis nie, veral nie wanneer hy 'n video-opname van 'n nuusberig oor 'n reeksmoordenaar aan haar voorspeel nie...

SIEMBAMBA deur Marion Erskine
Elri is Bertus en Rentia se enigste kind, en haar pa se oogappel. Hy sal enigiets vir haar doen, maar dit gaan nie goed tussen Bertus en Rentia nie, en vir Rentia is dit moeilik om te aanvaar dat hulle huwelik op die rotse is…

DIE WITTEBROOD deur Riana Scheepers
Lucas en Klara is pas getroud. Lucas het die romantiese droom om sy bruid 'n ongerepte deel van Afrika te wys. Hy beplan hulle wittebroodsbestemming as 'n verrassing vir haar, wel wetende dat sy nie 'n natuurmens is nie, en dat sy eintlik hou van gerieflike vakansies in “beskaafde” plekke. Iets onverwags gebeur en hulle bevraagteken hulle verhouding. Hulle leer ken hulleself en mekaar, dalk vir die eerste keer. Dit is 'n nag wat sal bepaal of hulle wittebrood ook die einde van hulle huwelik is, of dalk 'n nuwe begin.

DIE REBELLIE VAN LAFRAS VERWEY deur Chris Barnard
Lafras is 'n Jan Alleman wat vasgevang is in 'n burokratiese stelsel. Hy is 'n dromer en begin mettertyd lugkastele bou om van die sleurwerk te ontsnap. By die werk word hy gespot en hy sluit uiteindelik by 'n groep ondergrondse rebelle aan. Hy vervaardig vir hulle plofstof en smokkel wapens vir 'n rewolusie wat kom. Wanneer Lafras op sy fiets ry of selfs die badkamer besoek, marsjeer hy saam met die rebelle en staar hy die vyand in die gesig. Hy ontmoet later vir die swanger Petra, wat hy op sy fiets hospitaal toe neem vir haar bevalling, maar wanneer hy terugkeer huis toe neem sy lewe 'n skielike wending.

JANE EYRE deur Charlotte Brönte
Jane Eyre is 'n weeskind, maar ook 'n goewernante, wat later in Thornfield vir die jong Franse meisie, Adele, private klasse aanbied. Hier raak sy op meneer Rochester verlief. Die veel ouer Rochester vra haar om te trou, maar hulle troudag ontaard in 'n nagmerrie wanneer 'n gas aanvoer dat Rochester steeds met 'n ander vrou getroud is... Sal Jane en meneer Rochester ooit skuiling in mekaar se arms vind?

VERGIFNIS deur Charles J. Fourie
Muriel, 'n ouerige vrou, kom woon op Touwsrivier. 'n Jong werker help haar in die tuin en steel haar beursie, omdat hy ook graag iets luuks en lekkers by die vulstasie wou gaan koop om te eet. Hy spandeer 'n nag in die tronk, en Muriel trek die saak van diefstal teen hom terug, mits... Wie is die eksentrieke vrou en hoekom het sy op Touwsrivier kom aftree?

GENADE deur Marita van der Vyver
Kas Stuurman is 'n afgetrede koerantman en lief vir woordspeletjies, wyn, blokkiesraaisels en sy vrou. Door Stuurman is 'n afgetrede Afrikaans-onderwyseres en lief vir lees, reis, dans en haar man. Hul seun, Vic, woon in Kalifornië en is ver van sy geliefde ouers wanneer hulle lewens stadig maar seker begin verbrokkel weens Door se stadige agteruitgang.

DIE NAG VAN DIE WYSES deur Zenobia Kock
Die drama, wat die derde plek behaal het in die RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie vir 2015, handel oor ʼn wanaangepaste oujongnooi (wat sommige simptome toon van Asperger se sindroom) wat die wêreld van ʼn afstand beloer. Dan gebeur iets wat haar buitengewoon laat optree en almal rondom haar verstom. Dit is ʼn soort Kersverhaal met heelwat kinkels en onthullings.

DIE EKSENTRIEKES deur Erica Harris
'n Vereensaamde vrou in 'n ouetehuis en 'n jong, eksentrieke student, wat nie aanklank vind by haar medestudente nie, bevriend mekaar toevallig en beïnvloed en begeester mekaar se lewe.

DIE IDEALE MINNARES deur Niel Steenkamp
Is die romanse uit jou huwelik of verhouding? Dan gaan hierdie drama dit vir jou terugsit! Dit was een van die inskrywings vir die RSG/SANLAM Radiodramaskryfkompetisie van 2012 wat die aandag getrek het met sy tema waarmee baie volwasse luisteraars sal kan identifiseer. En daar is 'n verrassende slot...

BLINDEMOL deur Chris Barnard
Om Chris Barnard te eer, saai RSG sy bekroonde drama Blindemol uit. In 2008 het hy die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir radiodrama daarmee ontvang. Barnard het die medium baie goed geken en verstaan en het die stemmingsvolle werk oor 'n blinde klavierstemmer, Dolf, geskep. Dolf is reeds oorlede. Nou kan hy die kleindorpenaars sien en met hulle in gesprek tree, veral met die vroue wat hom liefgehad het. Een van die aanhaalbare stukke dialoog in die teks is dalk nou besonder relevant: “Só baie om oor bly te wees – so bitter min blydskap. Hoe kry 'n mens hulle oë oop vir alles om hulle?”

‘N KERSSPEL VIRRIE KIND deur Willem Fransman Junior
Die Kaapse Bergies, Miester Brand, Myra en Bekkies, besluit om 'n Kersspel op te voer vir 'n jong seun wat gom snuif.

TUSSEN STASIES deur Henriette Fowler
Die drama kyk na die lewe van 'n sestienjarige tweeling, Santie en Rika, wie se ouers oorlede is. Hulle beland by 'n tante en haar geweldadige dronklap minnaar. Santie neem die leiding neem aangesien Rika in die ongeluk waarin hulle ouers gesterf het, breinbeserings opgedoen het. Wanneer dit te ondraaglik raak by hulle tante, klop hulle by die buurvrou aan om hulp. Hulle lewe word egter net moeiliker, en Santie se oplossing daarvoor is 'n hartseer een.

WILDE ROOSMARYN deur Daleen Krüger
'n Violis kom uit die buiteland terug na Suid-Afrika en die dorpie waar hy sy geliefde verlaat het om 'n loopbaan in die buiteland te bou. Hier ontdek hy dat soveel veranderinge plaasgevind het, maar dat daar tog baie is wat herinnerings by hom oproep.

HASHTAG HASEPAD deur Marion Erskine
'n Pragtige jong kelnerin bedien die man van haar drome by die restourant waar sy werk. Hulle raak aan die gesels en dit blyk gou dat sy 'n meisie met ambisie is. Sy wil verder studeer, reis en meer met haar lewe doen as om kelnerin te speel. Maar sy weet ook wanneer 'n droomman niks meer as net 'n droom sal bly nie. Min het sy egter kon raai dat haar toekoms reeds besig was om te verander... Die spelers is Joey Meissenheimer, Marlo Minnaar, Kim Heyns en Andre Samuels.

BLOEDLYN deur Martyn le Roux
Kaptein Eugene de Vries word een nag wakker gebel en opgekommandeer om 'n onverklaarbare geval in Duiwelskloofpas te ondersoek. Die verhaal wat ontvou is een van feite en fantasie waarin die volmaan die hoofrol speel. Die akteurs is Robbie Wessels, Marina Coetzee, Johny Klein, Karen Wessels, Rouel Beukes, Bradley Olivier en Sue Pyler.

VAN DIE VLEES deur van Karien Polley
Frans Kleinhans het 'n jong slawevrou, Rosiena, gelyfeien soos dit in 1706 aan Die Kaap van Storms bekendgestaan het. Buiten 'n ander slawemeisie, Dina, wat hy swanger gemaak het, dwing hy hom ook op aan Rosiena en nog 'n swangerskap lê op hande. Sy onvrugbare vrou Anna wil van hom skei, maar in ware geskrifte uit 1706 waarop die drama gegrond is, word daar aangehaal: “Moederskap is 'n feit; Vaderskap 'n kwessie van opinie…” Nou kom kerk, regter, toordokter en slawe ingedrang.

NAGRIT NA KEETMANSHOOP deur Christoff Blaauw
'n Verhaal gebaseer op ʼn ware gebeurtenis wat hom een koue nag meer as 30 jaar gelede in die destydse Suidwes-Afrika afspeel. ʼn Dienspligtige kry ʼn rygeleentheid na Keetmanshoop, maar die noodlot bepaal dat sy pad met die van ene Lone Ranger van Tsumeb kruis.

GEPIEKEL deur Schalk Scoombie
GEPIEKEL deur Schalk Scoombie

OORSEE deur Tertius Kapp
OORSEE deur Tertius Kapp

DIE BARON OP DIE BOME deur Italo Calvino
DIE BARON OP DIE BOME deur Italo Calvino

MOOI MARIA deur Pieter Fourie
MOOI MARIA deur Pieter Fourie