
RSG Dokumentêr
352 episodes — Page 5 of 8

GEPLAK EN GESTEMPEL deur Chris Swanepoel
Seëlversamelaars vertel waar die gogga hulle gebyt het, watter tipe seëls hulle versamel, wat 'n seël waardevol maak, en hoe seëls georden en geberg moet word.

DIE BLOM VAN HANOVER PARK deur Martelize Brink
Bendeaktiwiteite het leerders en personeel in die verlede genoop om plat te val sodat hulle nie slagoffers van geweld in die gemeenskap word nie. Blomvlei Laerskool in Hanover Park is 'n bioom van koestering van kinders in die omgewing om hulle beste lewe te lei en die valstrikke in die gemeenskap vry te spring.

DIE VIOOLMAKER: FYN BESNAARD deur Jacqui January
Die viool is fyn besnaard, maar tog hardebaard. Die strykinstrument word eeue lank beskou as die maatstaf waarteen alle ander instrumente gemeet word, al is daar geen oortuigende bewyse hiervoor nie. Vioolmakler Evehardus Esterhuizen vertel van die gesofistikeerde kuns van vioolmaak wat reeds eeue gelede deur die ou meesters vervolmaak is.

HANS DU PLESSIS: STORIEVERTELLER VAN DIE MOOIRIVIER deur Ina Strydom
Ina Strydom kyk na die taalkundige en skrywer se navorsing oor variasietaalkunde en skryf in 'n ander taalvariëteit, die geskiedenis as storiebron, en Afrikaans.

EDUARD GREYLING: IN BEWEGING deur Johan van Lill
Eduard Greyling, die eertydse dansmaat van Phyllis Spira, het op 15 Februarie sy 70ste verjaardag gevier. Hy was in die buiteland op verskeie verhoë te sien. In Suid-Afrika is hy 'n ballet-ikoon, bekend vir sy bydrae as danser en resensent.

SPIRITUALITEIT deur Jacqui January
Mense raak al hoe meer bewus van hulle spiritualiteit en ander skram weg daarvan. Vir baie is dit deel van hulle godsdiens en vir ander is dit 'n leefwyse.Wat beteken dit Spiritualiteit? Deelnemers vertel van hulle soeke na daarna in eeu-oue geloofspraktyke en in die Christendom. Kom hoor van die interssantheid van die God-Kol en hoe innerlike stilte in spiritualiteit beoefen word.

ADAM KOK III SE VOETSPORE IN PHILIPPOLIS deur Johan Rademan
Adam Kok III se Griekwas het vir bykans vier dekades floreer in die Philippolis-gebied, voordat hulle uiteindelik voor 'n paar magte moes swig - die Engelse en Duitse dendelinge, Britse oorheersing, die Trekboere, die Voortrekkers en ander vigilante-groepe wat amper soos in die Wilde Weste geleef het. Prof. Doreen Atkinson skets die agtergrond waarteen gebeure in die tydperk afgespeel het. Kaptein Johannes Kraalshoek, 'n Griekwa-leier in die Vrystaat, en oom Booitjie Derisen en sy vrou Katriena vul saam met amateur-historikus met 'n regsagtergrond, sakeman Deon Beneke, die prentjie in. Kom stap saam met Johan Rademane in Adam Kok III se voerspore in Philippolis en hoor hoe die nalatenskap en leefwyse van die Griekwas vandag herdenk word in die Adam Kok III-staproete in Philippolis.

WITBOORDJIEBOKS deur Jody Hendricks
Witboortjieboks is 'n nuwe fiksheidsuitdaging wat deur duisende Suid-Afrikaners beoefen word. Dit gee Jan en San Alleman die kans om ná 'n lang dag by die werk, van hulle frustrasies ontslae te raak. Van hulle klim selfs in die kryt en veg teen mekaar. Jody Hendricks het by 'n paar van die boksgimnasiums in Gauteng gaan inloer om meer hieroor uit te vind.

DIANA FERRUS: VROU VAN DIE GROND deur Haidee Muller
Haidee Muller bring aan jou die verhaal van Diana Ferrus, digter en kortverhaalskrywer. In 1999 verwerf sy haar B.A. Honneurs-graad in vrouestudies, en skryf dan in vir 'n meestersgraad oor “Swart Afrikaanse vroueskrywers – die vreugde en frustrasies van die skryfproses”. In 2003 is sy 'n finalis vir die toekenning van Suid-Afrika se Vrou van die Jaar. Haar passie vir die ontwikkeling en bemagtiging van swart vroueskrywers word uitgebeeld in die aanbieding van “Swart Afrikaanse skrywers: die skryfproses”, wat sy in 2004 by die Woordfees op Stellenbosch aanbied. In 2005 neem sy deel aan die Winternachtfees in Den Haag, en toer saam met ander digters deur die Nederlandse Antille. In dieselfde jaar besoek sy Suid- en Noord-Korea, waar sy aan die Internasionale Poësiefees vir Wêreldvrede deelneem.

CITY DEEP, JOHANNESBURG deur Fritz Klaaste
Die Johannesburg Varsproduktemark in City Deep het nederig in 1893 begin, maar spog vandag met 'n omset van R5-miljard. 'n Miljoen ton se groente en vrugte word jaarliks daar verhandel, en 10 000 mense is elke dag daar om handel te dryf. Jy kan by 20 000 geregistreerde handelaars, wat 5 000 boere verteenwoordig, kies en keur tussen 341 variëteite. Die mark is 'n werkskepper soos min, en sorg dat daar elke dag vars produkte op jou etenstafel is. Fritz Klaaste het deur hierdie besig mark geloop...

DIE WATERDRAERS deur Esté Gross
Volgens statistiek van die Donkey Sanctuary in die Verenigde Koninkryk is daar wêreldwyd nagenoeg 44-miljoen werkende donkies. Niemand weet werklik hoeveel donkies daar in Suid-Afrika is nie. Die meeste mense is onbewus van die die nood en omstandighede waarin die donkies moet oorleef. Este Gross het in die platteland na 'n verafgeleë township gegaan om uit te vind...

'N FAMILIE-AFFÊRE deur Christelle van Tonder
Die Malan gesin van Louis Trichardt is uniek. Felix en sy twee dogters Ziamay (15) en Danieka (17) is aldrie onder die top 200 fikste Crossfit-atlete in die wêreld. Ma, Lee Malan, bestuur die familie se skedules, en sorg dat almal se mae vol is. Christelle van Tonder het by hierdie fikse familie gaan kuier, en gaan uitvind hoe sake verloop in 'n huishouding waar drie kompeterende atlete woon.

GEMEENSKAPSBOU OP ‘N HOË NOOT deur Mariska Spoormaker
Port Elizabeth se noordelike voorstede is bekend vir bendegeweld. Min mense is egter bewus van die groot rol wat kore as gemeenskapsbouer in die gebied speel. Mariska Spoormaker het meer hieroor gaan uitvind, en koorlede oor drie generasies heen gevind wat al singende brûe van hoop, liefde en heling bou.

80 JAAR SE SPORT OP RADIO - DEEL 4 deur Johann Russouw
1990 – 2017: Onder die Suid-Afrikaanse sporthoogtepunte wat deur die SAUK se Afrikaanse radiostasie, RSG, uitgesaai en in die program ingesluit is, is Suid-Afrika se terugkeer na die Olimpiese Spele in 1992, Suid-Afrika se Rugby Wêreldbeker oorwinnings in 1995 en 2007, Suid-Afrika se sukses in die Afrika Nasies Sokkerkampioenskap van 1996, Hansie Cronje se Protea-krieketspan se oorwinnings oor Pakistan in 1997 en 1999, en Wayde van Niekerk se wêreldrekord toe hy die goue medalje in die 400 m by die 2016 Olimpiese Spele gewen het. Daar word ook hulde gebring aan sportkommentators soos Heinrich Marnitz, Pieter van den Berg, Johan Rademan, Chris Swanepoel en Niekie van den Berg.

80 JAAR SE SPORT OP RADIO - DEEL 3 deur Johann Russouw
1975 – 1989: Onder die Suid-Afrikaanse sporthoogtepunte wat deur die Afrikaanse Radiodiens van die SAUK uitgesaai en in die program ingesluit is, is die Springbokke van Wynand Claassen se rugbytoer na Nieu-Seeland in 1980, die heel eerste Miljoen-Dollar Gholftoernooi op Sun City in 1981, die rebelle toere van die Engelse-, Wes-Indiese en Australiese krieketspanne na Suid-Afrika tussen 1983 en 1986, Gerrie Coetsee se wêreldtitel boksgeveg in 1983, Brian Mitchell se wêreldtitel boksgeveg in 1986 en die reeks van die Internasionale Rugbyraad se Wêreld 15-tal teen Jannie Breedt se Springbokke in 1989. Daar word ook hulde gebring aan sportkommentators soos Gerhard Viviers, Johannes van der Walt, Retief Uys, Christo Olivier, Andre Coetzee en Chris van Onselen.

80 JAAR SE SPORT OP RADIO - DEEL 2 deur Johann Russouw
1962 – 1974: Onder die Suid-Afrikaanse sporthoogtepunte wat deur die Afrikaanse Radiodiens van die SAUK uitgesaai en in die program ingesluit is, is die Springbokke se dramatiese kriekettoetsreeks van 1964 in Australië, die eerste droommyl wat in Suid-Afrika gehardloop is, Karen Muir se wêreldswemrekord in 1967, Paul Nash se atletiekwêreldrekord in die 100-meter, en die Springbokke se rugby-toetsreeks teen Brian Lochore se All Blacks in 1970. Daar word ook hulde gebring aan sportkommentators soos Johan de Bruyn, AW Labuschagne, Pierre Marais, Edwill van Aarde, Hendrik du Bruyn, Jan Snyman en Gerhard Viviers.

80 JAAR SE SPORT OP RADIO - DEEL 1 deur Johann Russouw
1937 – 1961: Luister na die heel eerste regstreekse sportkommentaar wat deur die destydse Kanaal 2 van die SAUK uitgesaai is. Onder die Suid-Afrikaanse sporthoogtepunte wat in die program ingesluit is, is die Olimpiese Spele van 1948, die All Blacks se rugbytoer na Suid-Afrika in 1949, die Engelse krieketspan se reeks teen Clive van Ryneveld se Springbokke in 1958 en Sandra Reynolds se wedstryd teen Maria Bueno in die eindstryd van die Wimbledon-tenniskampioenskap van 1960. Daar word ook hulde gebring aan die baanbrekers van Afrikaanse sportkommentaar soos Jannie Fourie, Dana Niehaus, Paul Bothma, Steve de Villiers, Johan de Bruyn, Nic Naude en AW Labuschagne.

WAAR KOM EK VANDAAN? deur Chris Swanepoel
Gedurende die twintigste eeu het die belangstelling in familiegeskiedenis met rasse skrede toegeneem. Vandag is dit een van die gewildste tydverdrywe in die westerse wêreld. Een van die redes hiervoor is waarskynlik omdat daar al hoe meer klem geplaas word op die individu se plek, betekenis en regte in die samelewing. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het die gewildheid van genealogiese navorsing elke tien jaar ongeveer verdubbel.

RASTA - AGTER DIE ROOKSKERM deur Johan Rademan
Judah Square is die grootste Rastafari-gemeenskap in Suid- Afrika. Johan Rademan het die nedersetting met 27 gesinne in Khayalethu buite Knysna besoek, waar hy die waardes, lewensbeskouing, simboliek en menswees van die Rastafari ondersoek het. Nadat die munisipaliteit in 1993 grond aan die gemeenskap toegeken het, het dit 'n produktiewe en in 'n groot mate selfvoorsienende gemeenskap geword. Skool, kerk, behuising, m.a.w. al die normale behoeftes van mense, tref 'n mens hier aan, maar die geestelike ingesteldheid en lewensbeskouing lewer interresante ontdekkings op. Broer Zebulon Afrikaner lei ons deur die gemeenskap en ons ontmoet Hoofman Maxie wat vertel van Bob Marley en Haille Selasie I van Ethiopië se motivering in hulle daaglikse handel en wandel. Die oudstes, die vroue, onderwysers en kunstenaars gesels saam. 'n Besoek aan die altaar met lofprysinge is ook aangrypend. Rasta-lokke en dagga-dampe wat Broer Jabu al 27 maal met die gereg laat bots het, word ook bespreek.

EBENHAESER SE MENSE deur Haidee Muller
Ebenhaeser is 'n klein sendingdorpie anderkant Vredendal in die Wes-Kaap. Haidee Muller het daar gaan kuier. Sy vertel die stories van die mense wat daar woon, en hoekom hulle hulle hartsplek koester.

UIT DIE BOKS GELEEF deur Fritz Klaaste
Gemeenskapsport is een van die maniere om waarde toe te voeg tot die gemeenskapslewe, maar 'n boksklub in Lenasia, suid van Johannesburg, het alle verwagtinge oortref. Aman Khan het die klub op 1 Junie 1961 gestig, en vandag, ná drie generasies, is die klub steeds bedrywig. Fritz Klaaste kyk na die klub se aktiwiteite en die dryfkrag daaragter, Imran Khan, wat vroeër vanjaar gesterf het.

AL DANSENDE VAN MACCASSAR TOT ROTTERDAM deur Johan van Lill
Kirvan Fortuin is jong danser en choreograaf, wat in Macassar op die Kaapse Vlakte grootgeword het en wat sy passie as 'n beroep gekies het. Hierdie passie het hom gelei na verhoë, oorsee en plaaslik.

SEUNSKOOR deur Christelle van Tonder
Die wêreldbekende Drakensberg Seunskoor vier vanjaar sy 50e bestaansjaar. Die skool het in 1967 begin met 20 seuns, en 50 jaar later spog hulle met 120 seuns van graad 4 tot graad 9. Die woord broederskap word graag deur die onderwysers en die seuns gebruik om hulle verhoudings te beskryf. Christelle van Tonder het twee dae saam met die seuns spandeer, en uitgevind wat dit beteken om 'n Drakie te wees.

DIE LIPIZZANERS deur Esté Gross
Die Lipizzaners, ook bekend as die dansende witperde, is 'n ras met 'n unieke geskiedenis wat oor eeue heen strek. Die pronkperde is reeds sedert 1948 in Suid-Afrika en het deur die jare 'n integrale deel van die land se erfenis geword. Este Gross het gaan uitvind hoe die pronkperde opgelei word.

IN DIE BOL GETIK deur Jacqui January
Die ewig groeiende, bose kringloop van dwelms verwoes die lewens van die afhanklikes, hul geliefdes en kring boonop uit na die res van die gemeenskap. Eersterust in Pretoria is geen uitsondering nie, maar die gemeenskap rol hul moue op, staan saam en soms ook nie. Híer is oorlog teenoor dwelms verklaar! Die dokumentêr, In die Bol geTik deur Jacqui January, handel oor die mense van Eersterust en die dwelmkwessie wat hulle gemeenskap teister.

'N ONDERSTEBO WÊRELD deur Christelle van Tonder
Op 17 November 2011 het Lerika en Deon du Plessis die nuus ontvang dat hulle vierjarige seun Gian outisties is. Die is hulle verhaal van 'n onderstebo wêreld - Christelle van Tonder se dokumentêr oor outisme.

ONS DIEN DIE MENSDOM deur Christelle van Tonder
Dr. Imtiaz Sooliman het 25 jaar gelede 'n organisasie gestig, wat tot op hede meer as R2 miljard se noodlenigingshulp aan 42 lande gegee het. Gift of the Givers is 'n nie-regeringsorganisasie wat 21 projekte bestuur, van gesondheid, opvoeding en lewensvaardighede tot voedingsprogramme en werkskepping.

DIE HART VAN MY HUIS deur Jacqui January
Jozi, Egoli, Goudstad... Na al die jare is Johannesburg steeds 'n plek waar duisende mense hulle rykdom kom soek. Jacqui January fokus op 'n groepie jongmense by 'n organisasie in die middestad. Die jongmense se hoofdoel is om met 'n positiewe houding, uitreikwerk in die middestad te doen.

TWEE PASIËNTE deur Marí Hudson
Elke dag word daar in staat- en private hospitale honderde operasies gedoen. Pasiënte word hospitaalnommers, maar Marí Hudson neem jou op 'n kort reis van drie dae saam met twee pasiënte – van opname tot die dag ná die operasie. Die twee pasiënte is nie familie van mekaar nie, maar het tog iets gemeen.

JAN POHL: 'N 100-JAAR GOUD deur Johan Rademan
“Daar onder in die vlei stap 'n mannetjie, hy is so klein en so skraal. Hy dra 'n ou klein koffiekannetjie en stap na die werk vir die hondertste maal.” Jan Pohl sou vanjaar 100 jaar oud gewees het. Hy is op 80-jarige ouderdom oorlede in Phillipolis waar hy en sy vrou gaan aftree het. Sy is nou 88 en woon steeds daar.

DIE VRYSTELLING VAN DIE SLAWE deur Chris Swanepoel
Volgens Britse wetgewing is alle slawe aan die Kaap op 1 Desember 1834 vrygestel, maar hulle moes vir vier jaar as inboekelinge by hulle voormalige eienaars aanbly om hulle op vryheid voor te berei. Die datum is met groot opgewondenheid deur die vrygestelde slawe afgewag. Daarenteen het dit groot onsekerheid by die koloniste gewek – amper soos wat baie Suid-Afrikaners in 1994 ervaar het. En toe die dag uiteindelik aanbreek, het daar iets gebeur wat baie mense as 'n teken uit die hemel gesien het, hoewel die koloniste en die vrygestelde slawe nie dieselfde betekenis daaraan geheg het nie. Chris Swanepoel probeer meer lig werp op hierdie lotsbepalende gebeurtenis in Suid-Afrika se geskiedenis.

SHAYGAM VAN HANGBERG: DIEREREDDER deur Martelize Brink
Teen die hange van Hangberg in Houtbaai het die 23-jarige diereredder, Shaygam Newman, 'n plek van veiligheid geskep vir diere, wat soos hy, eens op 'n tyd in die lewe tweede gekom het.

CONRAD THEYS: LAASTE KAAPSE IMPRESSIONIS deur Johan van Lill
Conrad Theys staan bekend as een van die laaste Kaapse impressioniste. Johan van Lill het by hom in sy huis in Bellville-Suid gaan kuier. Hierdie geliefde Suid-Afrikaanse kunstenaar is al met vele pryse vir sy skilderwerk vereer, onder meer 'n eredoktorsgraad, 'n medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en onlangs die Suidoosterfees en die ATKV se toekenning vir 'n lewensbydrae in kuns.

DIE LUXORAMA deur Johan van Lill
Johan van Lill bring hulde aan die gewilde en omstrede Luxurama-teater in Wynberg in die Kaap. Soveel Kaapse kunstenaars wat later groot internasionale name sou word, se loopbane het in hierdie teater begin. Giempie Vardien, Terry Fortune en Terry Hector Smith het almal van jongs af in die Luxurama opgetree en deel hulle herrinneringe van hierdie teater.

THANDI KLAASEN 1931 - 2017 deur Johan Rademan
Johan Rademan was in 2006 bevoorreg om 'n spesiale aand tydens die Kanasiefees in Canmore, Kanada, in die geselskap van Thandi Klaasen en haar dogter Lorrainne deur te bring. Sy het juis die “The Woman of Distinction Award” sewe jaar tevore in Kananda ontvang vir 50 jaar se werk in die bedryf. Haar dogter Lorrainne het uit Montreal, waar sy meer as 35 jaar lank al bly, kom kuier. Lorrainne is self 'n gerekende sanger in Kanada en het in 2014 as liedjieskrywer-sanger die 2014 Montreal SOCAN-toekenning in die kategorie wêreldmusiek verower. Karen Zoid, Randall Wicomb en Thys die Bosveldklong was ook by die huispartytjie waar hulle van Kanadese yswyn tot Suid-Afrikaanse Pinotage geniet het. Hoe later hoe kwater. Langarm en sokkie met Lorraine en Thandi… en toe die mikrofoon en 'n meesleurende verhaal van geloof en ongeloof wat vertel word deur Thandi en Lorrainne ten aanhore van Suid-Afrikaners wat in die simbole van biltong en braaivleis saamgeluister het. Verbeel jou jy's daar tussen die sederhoutbome in 'n gesofistikeerde houthuis in Canmore aan die voet van die Rockies net buite die vakansiedorp, Banff, met die Bowrivier wat diepblou deur die voormalige steenkoolmyndorpie vloei. Die De Wets, sielkundige en mediese-dokter-egpaar, het sag gestoomde salm op die spyskaart, en die lieflike soet tongval van Suid-Afrika is by hulle en nou ook by jou...

CALITZDORP SE MENSE deur Haidee Muller
Haide ry altyd deur Calitzdorp om by haar tuisdorp, Oudtshoorn, uit te kom. Sy het altyd gewonder oor die mense hier - wat hulle doen en wie hulle is? Sy maak toe 'n draai op die dorpie, wat onder inwoners as die Port-hoofstad bekendstaan. Ander verwys ook na die dorp as Kallieklip. Haidee het 'n hele paar mense se stories gehoor, en vertel vir ons meer van plaasboer Klokkie, die taxi-man met die rastalokke, Neale Coetzee, en 'n hele spul ander kleurryke mense wat op hierdie klein Karoordorpie woon.

AGTER DIE GORDYN deur Martin Headger
Ballet dateer so ver terug as die 15de eeu toe die Italiaanse adelstand mekaar wou beïndruk met uitspattige en oordadige partytjies. 'n Nuwe vorm van vermaak het begin toe 'n groep passies uitgevoer het, wat 'n swaardgeveg naboots. Dit het in die eeue daarna ontwikkel tot 'n klassieke kuns. Hierdie dansvorm is deesdae nie net klassiek nie - baie balletgeselskappe het moderne produksies in hulle repertoire, soos Joburg Ballet se jaarlikse Studio Soirees. Martin Headger het agter die gordyn gaan kyk wat dit verg om 'n 21ste eeu balletproduksie op die planke te sit…

AS DIE KLOK LUI deur Esté Gross
Dit is gewoonlik op die onwaarskynlikste plek waar die grootste skat versteek is. Die Johannesburg Girls Preparatory School is in Berea, 'n armoedige deel van Johannesburg geleë. In weerwil van die gevaarlike omgewing en sommige leerders se moeilike huishoudelike omstandighede, palm die skool se koor gereeld goue medaljes in. Om alles te kroon sing hulle hoofsaaklik in hulle derde taal, Afrikaans. Maar dit gaan nie eintlik oor wen nie. Dit gaan oor trots. Oor toegewyde en passievolle onderwysers wat 'n verskil maak. Die behoefte aan 'n veilige hawe vir 'n kind. Die leemte wat kultuur en naskoolse aktiwiteite vul vir 'n kind wat nie vanmiddag wil huis toe gaan nie. Dit gaan oor alles wat jy reg kry... as jy sing.

MAMRÉ, ALTAAR VAN GOD deur Haidee Muller
Mamre in die Wes-Kaap is as 'n militêre veepos gestig om die Europese setlaars se vee te beskerm teen diefstal deur die inheemse bevolking. Die dorpie is in 1808 aan die Morawiese sendelinge oorgedra, wat 'n sendingstasie daar gebou het. Mamre se historiese geboue is vandag nasionale gedenkwaardighede. Haidee Muller het die besonderse dorpie en sy mense gaan ontmoet.

’N BESOEK AAN DIE ELSIESRIVIER DAGHOSPITAAL deur Martelize Brink
Hulle bedien 'n gebied met 'n bevolking van 90,000 mense. Die 123 personeellede van die Elsiesrivier Daghospitaal het 'n groot taak om aan die gemeenskap se mediese behoeftes te voorsien. Die hospitaal is al langer as 40 jaar 'n baken van hoop vir mense wat mediese hulp benodig. Martelize Brink vertel van die lief en leed van die personeel van die daghospitaal en die mense van Elsiesrivier en omliggende gebiede wat die hospitaal besoek.

HERRY DIE STRANDLOPER - OPPORTUNIS OF ONDERDRUKTE? deur Chris Swanepoel
Toe Jan van Riebeeck en sy volgelinge in April 1652 in die Kaap voet aan wal sit, is Herry en sy Strandlopers die eerste mense van Suid-Afrika met wie hulle kennis maak. En sommer al op 7 April 1652 word Herry deur Van Riebeeck op die Dromedaris onthaal. Hierna volg 'n rits gebeure wat daartoe lei dat Herry teen vergoeding as tolk vir Van Riebeeck optree in ruiltransaksies en onderhandelinge met die inheemse groepe aan die Kaap. Herry en sy volgelinge vermoor egter ook die Kompanjie se veewagter en verdwyn met al die vee. Nog oortredings volg later en telkens keer Herry na 'n lang afwesigheid doodluiters terug en word deur Van Riebeeck vergewe. Uiteindelik word hy wel deur Van Riebeeck na Robbeneiland verban, maar slaag daarin om te ontsnap en weer sy verskyning by die fort te maak.

SOPHIATOWN SE KUNSSKRIF TEEN DIE MUUR deur Jacqui January
Jacqui January besoek die museum in Sophiatown, Johannesburg, opsoek na die geskiedenis en oorsprong van die kuns en kultuur van die omgewing. Die ikoniese gebied se kultuurgeskiedenis strek wyer as die grense van Johannesburg tot diep in Afrika en Europa. 'n Hegte gemeenskap het rondom die kultuur van musiek, literatuur en die kerk ontstaan. Dis juis in die Anglikaanse kerk waar daar 'n lewens grootte kunswerk teen muur agter die altaar deur 'n non geskilder is… en dit is waar die storie begin.

VONKE OP DIE PAD deur Fritz Klaaste
Die elektriese motor het diep in die harte van sy nuwe eienaars gekruip, maar vir die res van ons is dit nog 'n duur item, en baie vra word gevra oor die werking en volhoubaarheid van so 'n motor. Nuwe litiumbatterytegnologie het die reikafstande van die motor verbeter en daar word voortdurend nuwe navorsing hieroor gedoen. Dit maak van die elektriese motor die ideale alternatiewe vervoermiddel vir die nabye toekoms. Die realiteit is dat fossielbrandstof mettertyd uitgeput sal raak.

LIDA VAN GROOTDERM deur Margot Luyt
Die veelbekroonde aktrise Lida Botha het die groot agt onlangs agter haar geplaas. Margot Luyt gesels met haar oor haar kleurvolle lewe en die interessante draaie wat sy die afgelope 80 jaar deur gelag het, want min mense kan lag soos Lida van Grootderm.

LAG EN HUIL LÊ LANGS MEKAAR deur Ina Strydom
Die dramaturg en skrywer PG du Plessis sê 'n mens moet die mensdom in sy geheel 'n bietjie liefhê, anders kan jy nie skryf nie. Hy praat oor deernis en oor luister; oor mense en oor Fees van die Ongenooides. PG het op 14 Julie vanjaar 82 jaar oud geword.

STAP SAAM DEUR DIE KAAP, DIE BO-KAAP deur Haidee Muller
Stap saam met Haidee Muller van Distrik Ses tot by die Bo-Kaap. Die kleurvolle Bo-Kaap was nog altyd 'n integrale deel van Suid-Afrika se geskiedenis, en vandag is dit steeds springlewendig. Haidee vertel van kos, kleur en kultuur van hierdie besonderse woonbuurt in die Kaap.

COMART – KUNSTE WAT ’N VERSKIL MAAK deur Johan van Lill
Virginia Davids en haar man John het in 1997 die kunsteorganisasie Community Arts Association, beter bekend as ComArt, in Elsiesrivier in die Wes-Kaap gestig om deur die kunste 'n verskil in die lewens van talle mense van hierdie gemeenskap te maak.

DIE VONDS IN DIE VULLIS deur Esté Gross
Hulle word skarrelaars, krappers, trolliemense en vullisrapers genoem. Navorsers beskou hierdie mense as 'n moeilik opspoorbare en definieerbare bevolkingsgroep. Dit is moeilik om hulle vas te pen, want hulle is nie een dag op dieselfde plek nie. Hulle verdwyn gou agter hulle trollies. Dit is ook moeilik om te sê hoeveel mense werklik so 'n bestaan maak. Hulle is die armstes van die armstes, maar speel 'n baie belangrike rol in die samelewing. Hierdie is 'n storie van 'n groep vullisherwinnaars in een straat in Johannesburg.

DIE WÊRELD VIR 'N GLIMLAG deur Christelle van Tonder
Cristelle van Tonder was 'n week lank in Madagaskar saam met die liefdadigheidsorganisasie, Operation Smile. Dit is 'n groep vrywilligers van dwarsoor die wêreld wat mense met haaslippe en gesplete verhemeltes opereer.

JOHAAR MOSAVAL deur Johan van Lill
Johaar Mosaval is een van Suid-Afrika se bekendste en roemrykste balletdansers wat Suid-Afrika opgelewer het. Johan van Lill leer die legendariese ikoon van nader ken.