
RSG Dokumentêr
365 episodes — Page 2 of 8

WEESKINDERS: DIE MENSE VAN PLATFONTEIN deur Fritz Klaaste en Johann Pieterse
Die !Xu en Khwe het in vrede en harmonie geleef in die suide van Angola en die noorde van Namibië. Die Portugese Weermag het hierdie natuurmense opgekommandeer om saam met hulle te veg in die Angolese Vryheidsoorlog van die jare 70. Met die onttrekking van Portugese troepe uit Angola, is hulle ‘n nuwe bataljon van SA Weermag, 31 Bataljon, opgeneem. In die periode voor Namibiese onafhanklikheidswording, het hulle ‘n kopseer geword, totdat die Verenigde Nasies se gesant, Martti Ahtisaari, ingestem het om hulle vry te stel sodat hulle in Suid-Afrika hervestig kon word. Die soldate en hulle gesinne is tydelik in ‘n tentedorp gevestig in Schmidtsdrift, 80 km buite Kimberley. ‘n Grondeis het die Weermag laat besluit om die gemeenskap te hervestig. Die !Xu en Khwe sou uiteindelik vir tien jaar in hierdie tentedorp leef, tot president Nelson Mandela ‘n titelakte van eienaarskap van Platfontein in Mei 1999 aan hulle oorhandig het. Hierdie hoorbeeld vertel hulle storie van ontworteling en verwerping, en hulle stryd met integrasie.

OP SOEK NA LEVONA: DIE ZEPHANY NURSE-VERHAAL deur Heindrich Wyngaard
Heindrich Wyngaard herbesoek die Zephany Nurse-verhaal. Sy is in 1997 as ‘n drie dae oue baba uit die hospitaal gesteel, en is in 2015 as ‘n matrikulant met haar biologiese ouers herenig. Haar steelma is in 2016 tot tien jaar tronkstraf gevonnis, en is ‘n jaar gelede op parool vrygelaat. Heindrich het in 2015 die eerste boek oor die gebeure geskryf, A HOME FOR ZEPHANY (Naledi Uitgewers). Hy het oor die jare met Zephany in verbinding gebly. In hierdie dokumentêr praat hy met haar, asook met Rachel Waterloo (‘n oudkollega van Levona Solomon) en die joernalis Kevin-John Brand.

DIE NALATENSKAP VAN JERRY WATT EN DIE ROCKETS deur Carla Mackenzie
Carla Mackenzie kyk na die kleurvolle geskiedenis van wyle Jerry Watt en die internasionaal bekende The Rockets. Dié groep van vyf mans het op die Kaapse Vlakte begin, maar het later jare die verhoog gedeel met internasionale musiektalent soos Usher, Luther Vandross en selfs die Spice Girls! Vir die eerste keer sedert 1971 het die groep sonder Jerry Watt die verhoog betree. Jerry Watt se kleinkind volg in sy oupa se voetspore, en sorg dat die musiek aanhou speel. In hierdie dokumentêr gesels Jerry se vrou, Alison, oor die nalatenskap wat haar oorlede man en The Rockets vir die geslagte nagelaat het. Manuel Losper, sy jarelange vriend, en lid van die Rockets gesels saam. Dr. Victor deel ook herinneringe.

VLUG NA WAAR? VLUGTELINGE IN SUID-AFRIKA deur Martelize Brink
In Desember 2023 was daar 1 334 174 asielsoekers en vlugtelinge in Suid-Afrika. Martelize Brink gee perspektief met verwysing na die internasionale konteks van vlugtelinge. Die fokus is op internasionale en plaaslike politiek, gemeenskapsorganisasies en die mense wat moes vlug. Hoe hervestig vlugtelinge hulleself, soms binne ‘n land waar hulle nie enige van die gebruikstale kan praat nie? (Die program bevat onstellende inhoud, en is nie geskik vir kinders of sensitiewe luisteraars nie. Met dank aan SABC Nuus en Al Jazeera vir nuusklank.)

AS TWEE SAAM LOOP deur Ina Strydom
Die akteurspaar, Carel Trichardt en Petru Wessels, is ses dekades in die bedryf – en net so lank getroud. Hulle vertel van hoogtepunte in hulle loopbane, rn praat oor kompetisie, toewyding en ouderdom, en die belangrikheid van stories. Hulle vertel ook hoe ‘n mens só lank getroud bly.

JONK, SWART EN AFRIKAANS deur Christelle van Tonder
Patrick Shabangu is 'n jong swart man wat Afrikaans groot geword het. Maar sy storie is nie so eenvoudig nie. Patrick se biologiese ouers het vir die Van der Bijl-gesin as huishulp en tuinjong gewerk toe Patrick se ma in 1987 swanger word met hom. In 1994 sou Patrick as sesjarige die eerste swart kind in Elarduspark Laerskool wees. Patrick vertel van sy lewe as 'n swart Afrikaner en hoe hy as gevolg van hoe mense hom sien, deur 'n identiteitskrisis gegaan het na skool.

WIK EN WEEG deur Eloise Cupido
Die meeste ouers het hulle kinders se beste belange op die hart. Deel hiervan is die kind se toekoms. Waarheen is hulle op pad, watter geleenthede kan jy hulle bied? Soms kry jy die kans om jou kind met behulp van ‘n beurs na ‘n beter skool te stuur. Of om ‘n talentvolle kind ‘n helpende hand uit hulle omstandighede aan te bied. Help dit werklik op die lange duur?

DIE VISNETMAKERS VAN DIE WESKUS deur Lizelle de Bruin
In St. Helenabaai, 'n skilderagtige vissersdorpie aan die Weskus van Suid-Afrika, is daar 'n groep vroue wat naby die hawe sit en visnette regmaak. Lizelle de Bruin het ‘n dag by hulle spandeer om meer oor die bedryf te leer. Jou eie skêr, ‘n mes, ‘n lang dik naald, groen, rooi en oranje plastiekgaring en ‘n vaardigheid wat oor jare vasgelê is, is die gereedskap van die visnetvroue, wat in wind en weer op hulle pos is om te verseker dat groot vangste veilig in die boot gepomp kan word. Lizelle het ook by Bertie Burger in Laaiplek gaan aanklop om te hoor hoekom ‘n visnet so belangrik is.

GEE PAD VOOR! deur Flip Loots
Wie ken nie padwoede nie? Wanneer ‘n voertuig voor jou inswaai of skielik rem, is dit moeilik om nie handgebare te maak en selfs te skel nie. Flip Loots praat hierooe met kliniese sielkundige, dr. Philip Janse van Rensburg, ‘n verteenwoordiger van Arrive Alive, advokaat Johan Jonck, asook ‘n paar padverbruikers.

HISTORIESE OORSIG VAN DIE JUKEBOX deur Haidee Muller-Isaacs
Haidee Muller-Isaacs neem jou op 'n nostalgiese reis na die oorsprong van die Jukebox, lank voor musiekstroomdienste beskikbaar was. Waar kom hierdie blêrkaste vandaan, en hoekom het Suid-Afrika die invoer daarvan in 1949 verbied? Daar is deesdae weer 'n oplewing van belangstelling in ouer blêrkaste onder versamelaars en entoesiaste.

MY SLIM KOLLEGA deur Elsje van Jaarsveld
Die vinnige vooruitgang van kunsmatige intelligensie is besig om die manier waarop ons werk, te hervorm. Elsje van Jaarsveld delf in hierdie fassinerende verskuiwing, deur te verken hoe alledaagse mense kunsmatige intelligensie in hulle werk en besighede integreer om produktiwiteit en doeltreffendheid te verhoog. Vir besighede bied die integrasie van KI ‘n uiters suksesvolle geleentheid om koste te bespaar. Maar wat sal die gevolge wees indien ‘n individu dit nie aanvaar en omarm nie? Wat hou dit vir so ‘n persoon in die werksplek in? Waar moet die mens steeds oordeel of die masjien reg of verkeerd is? Sal kunsmatige intelligensie uiteindelik ons werk oorneem?

WALMS VOL GEHEIME deur Ettienne Ludick
Damprook het ‘n enorme probleem onder kinders jonger as 18 in Suid-Afrika geword. Wat dit moeilik maak vir opvoeders, is dat anders as rook, damprook nie onmiddelik geruik kan word nie. Ettienne Ludick kyk na die voorkoms van damprook, die gevare en watter rol groepsdruk speel. ‘n Ma en dogter deel hulle ondervinding nadat dit aan die lig gekom het dat die kind damprook.

AL DEBBO deur Derrich Gardner
Derrich Gardner "gesels" met Al Debbo. Die SAUK se argief het 'n paar ou onderhoude bewaar, en Derrich het Al se stem gebruik om sy vrae te beantwoord. Hulle was nooit saam in die ateljee nie. Dis 'n kort reis deur die lewe van 'n geliefde legende wat Suid-Afrikaners laat skaterlag het. Tydens sy musiekloopbaan het hy ‘n groot aantal langspeelplate en solus sewes uitgereik, asook twee CD’s. As akteur was hy immergewild, en 'n wenner op die lagverhoog en silwerskerm. Hy is op 13 Julie 2011 in Bloemfontein oorlede. Hy was 87 jaar oud.

30 JAAR VAN DEMOKRASIE: BOESAK - KERKMAN EN AKTIVIS deur Jody Hendricks
Dr. Allan Boesak het ‘n groot rol in die bevrydingsstryd gespeel - in die kerk, politiek en op gemeenskapsvlak. Hy het ook internasionaal bekendheid verwerf. Hy praat oor sy reis en rol as kerkman en aktivis.

30 JAAR VAN DEMOKRASIE: ROELF SE ROL deur Jody Hendricks
Suid-Afrika het op 2 Februarie 1990 onherroeplik verander met aankondiging deur die destydse president FW De Klerk dat Nelson Mandela ná 27 jaar uit die tronk vrylaat sal word, en dat politieke organisasies soos die ANC, PAC en AZAPO nie meer verban is nie. Onderhandelinge tussen die NP, ANC en ander politieke partye het kort daarna begin oor die pad vorentoe vir ‘n nuwe Suid Afrika. Roelf Meyer kyk terug na die proses om Suid-Afrika van ‘n apartheidstaat na ‘n demokrasie te neem, en hoe hoe naby die land aan ‘n burgeroorlog was. Hy vertel ook van die impak wat FW De Klerk en Nelson Mandela op hom gehad het.

ANARGIE SONDER ANTIBIOTIKA deur Ettienne Ludick
Sedert Fokofpolisiekar hulle verskyning in 2003 gemaak het, het hulle die Afrikaanse musiekbedryf in 'n ander rigting gedwing. Terwyl konserwatiewes warm onder die kraag was, het duisende ondersteuners die groep gevolg, honger vir 'n verandering in Afrikaans en sy musiek. Fokofpolisiekar vier in 2024 hulle mondigwording… 21 jaar van nié die norm wees nie. Ettienne Ludick het met die lede gesels oor hulle reis van langer as twee dekades - die goed, die sleg, die weer begin, en die enorme impak van die vyf bendelede van Belville…

WUPPERTAL: STAP VIR STAP DIE TOEKOMS IN deur Johan Rademan
Op Oujaarsaand in 2018 breek ‘n verwoestende brand op Wuppertal in die Cederberge uit. Skaars twee jaar later oorstroom die Tra-trarivier die Morawiese sendingdorpie. Johan Rademan het die RSG-mikrofoon tot in die hartjie van die 1830-dorpie geneem, en met gemeenskapsleier Barend Salamo as gids, gekyk hoe sake nou staan. Hulle het ook van die 16 buiteposte besoek tussen asemrowende rotsgesteentes. Tussen rooibos en askoek in jou Wuppertal-vellies sal jy jubel en juig en rieldans wanneer jy die Woeperdallers hoor praat.

AS MENSE SÁÁM SING – DIE ALCHEMIE VAN KOORSANG deur Ina Strydom
Koorsang is byna so oud soos die mensdom self, en deur die eeue heen betower dit gehore en begeester sangers. Die geheim van koorsang lê in die vermoë om die verskillende sangers in harmonie te laat sing. Die kuns om dié stemsoorte en individue met verskillende agtergronde en uit verskillende kulture te laat saamsmelt tot ’n eenheid, is die kuns van die alchemis: die dirigent. Twee koorleiers wat by uitstek dié vermoë het, is die stigter van die Libertas-koor, prof. Johan de Villiers, en Renette Bouwer van onder andere die UJ-koor.

SÓ KLINK DISTRIK SES deur Haidee Muller-Isaacs
Haidee Muller-Isaacs diep stories op van vergete musiekskatte uit Distrik Ses, die kleurryke gebied in Kaapstad se middestad in die jare 60. Dit plaas die kollig op musiekstories van talentvolle musieklegendes uit dié multikulturele woonbuurt, sommiges wat in weerwil van hulle talent, nooit genoeg blootstelling gekry het nie.

DIE PADKAART VAN JOU DROME deur Flip Loots
Alle mense droom, maar nie almal onthou hulle drome nie. Wat is drome? Hoekom laat party jou glimlag, en ander word nagmerries? Het drome betekenis? Wat gebeur wanneer jy droom? Hou drome verband met wat ek elke dag beleef? Het dit ook godsdienstige betekenis? Flip Loots het by kundiges soos prof. Kobus Maree, prof. Marius Nel en Esté Geldenhuys gaan kers opsteek.

GOD DIE DIGTER, ‘N HULDIGING VAN TT CLOETE deur Ina Strydom
Tien jaar gelede, enkele dae voor die bekroonde digter en akademikus, TT Cloete, se 90e verjaarsdag, het hy met Ina Strydom gepraat oor sy lewe en werk; oor sy digterskap en ouderdom, en oor genade. Dié heruitsending van die profieldokumentêr is as huldiging van dié merkwaardige mens, wat vanjaar 100 jaar oud sou wees.

AS 'N MAN KNAK deur Elsje van Jaarsveld
Elsje van Jaarsveld ondersoek die verskynsel van uitbranding, wat al hoe meer voorkom. Profesionele persone, van sielkundiges tot mode-ontwerpers, deel hulle ervarings, wat wys dat hierdie probleem nie beperk is tot 'n spesifieke beroepsgroep nie, maar eerder 'n universele uitdaging is op verskeie lewensterreine. Daar is ook insigte van akademici en kundiges, wat 'n wetenskaplike perspektief bied.

VYF VLUGVOETIGE VOETBÔLLERS deur Heindrich Wyngaard
Die fokus van hierdie dokumentêr is rugbyspelers wat oor die X-faktor beskik is. Wat onderskei spelers met vlugvoetigheid of flair, en wie was hulle voorgangers?

MARINEMISDAAD deur Martelize Brink
Navorsing deur die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie beraam dat Suider- en Oos-Afrika jaarliks in die omgewing van R12,2 miljard aan onwettige en ongerapporteerde visvang verloor. Hulle skat verder dat 85% van visvoorrade wêreldwyd nou ten volle ontgin word, en onwettige dat visvang en van die hoofbydraers is. Wie neem die voortou om die oplossing te vind?

KONTANT OP DIE KANT deur Renaldo Schwarp
Vanaand val die soeklig op Side Hustles (oftewel kantjoppies). In ‘Kontant op die kantlyn’ ‘n dokumenter deur Renaldo Schwarp, bekyk media persoonlikheid en RSG omroeper hierdie besigheidsvorm van nader. ‘Side Hustles’ is soveel meer as net ekstra inkomste verdien, dit is ‘n manier hoe alledaagse Suid-Afrikaners hul eie verhale herskryf.

290 JAAR IN DIE SANDPUT deur Marize de Klerk
Kuier saam met gesoute joernalis, Marize de Klerk, op die jukskeibaan en vind uit hoe jukskei oor die afgelope bykans 3 eeue van uitspanspeletjie tot internasionaal erkende sportkode ontwikkel het en beoefen en geniet word.

WAT KLAP DASOE OPPI KAAPSE VLAKTE – DEEL 3 deur Flip Loots
Bendegeweld, dwelmmisbruik, intimidasie, moord en disfunksionele gesinne op die Kaapse Vlakte kom onder die vergrootglas. Inwoners van die Vlakte vertel van die gespanne en hartseer omstandighede waaronder mense daar leef. Is daar hoop?

WAT KLAP DASOE OPPI KAAPSE VLAKTE – DEEL 2 deur Flip Loots
Bendegeweld, dwelmmisbruik, intimidasie, moord en disfunksionele gesinne op die Kaapse Vlakte kom onder die vergrootglas. Inwoners van die Vlakte vertel van die gespanne en hartseer omstandighede waaronder mense daar leef. Is daar hoop?

WAT KLAP DASOE OPPI KAAPSE VLAKTE – DEEL 1 deur Flip Loots
Bendegeweld, dwelmmisbruik, intimidasie, moord en disfunksionele gesinne op die Kaapse Vlakte kom onder die vergrootglas. Inwoners van die Vlakte vertel van die gespanne en hartseer omstandighede waaronder mense daar leef. Is daar hoop?

DIVA, IN DIE WARE SIN VAN DIE WOORD deur Ina Strydom
Die sopraan, Emma Renzi, was die eerste Suid-Afrikaner wat in die La Scala Operahuis in Milaan gesing het. En om in dié heiligdom van opera suksesvol te wees, vereis baie harde werk en toewyding. Sy het op 8 April vanjaar 97 jaar oud geword.

TIK OP DIE PLATTELAND deur Martelize Brink
Goedkoop, maklik om te vervaardig, hoogsverslawend, destruktief. Tik-, of metamfetamien-afhanklikheid, verwoes Suid-Afrika se klein dorpies. Die persepsie dat dwelms meer misbruik word in Sodom en Gomorra, die groot stede van die wêreld, is ‘n mite.

‘N MOSAÏEK VAN EENDERS EN ANDERS WEES deur Lizelle de Bruin
‘n Filosofiese ondersoek na mense se eenders en anders wees, en hoe dit op verskillende vlakke van die wetenskap, taal, politiek en kuns uitspeel. In 'n wêreld waar ons toenemend met mekaar verbind word, is dit belangrik om die fundamentele vraag van menslike gelykheid en die gedeelde ervarings wat ons saambind, te ondersoek. Dis ‘n simfonie van gedagtes wat sy ontstaan het by ’n kunswerk, en wye draaie geloop het in die lewe van mense wat saam gedink het oor of ons eenders of anders is.

LANK LEWE DIE LANGSPEELPLAAT deur Haidee Muller-Isaacs
Die eerste langspeelalbums is in 1948 in die VSA uitgereik. Daar was twee formate, die 10-duim en 12-duim. Die eerste plaaslike langspeelplate is in 1954 in Suid-Afrika uitgereik. Min mense weet dat Maud Damons, ‘n boorling van Distrik Ses, die eerste Bruin vrouesanger was van wie daar ‘n album gemaak is, genaamd The Magic Of Maud. Jy kan meer uitvind oor die gespreksalbum van dr. Chris Barnard, The Human Heart Transplantation, wat op die mark verskyn het om sy geskiedkundige eerste hartoorplanting te herdenk. Haidee het ook gaan inloer by markte soos The Vinyl Faire, waar ywerige smouse hulle langspeelplate verkoop. Sy daar uitgevind hoekom mense na dese weer langspeelplate soek.

LUCY IS WEG deur Esté de Klerk
Daar is ‘n dikwels ‘n besondere verhouding tussen die mens en troeteldiere, wat soms nie in woorde omskryf kan word nie: ‘n diep liefde, geborgenheid en konneksie wat op sielsvlak plaasvind. Diere het ‘n ingebore intuïsie, is opreg, lojaal en gee liefde sonder voorwaarde. Wanneer ons troeteldiere oud of siek raak, staan ons dikwels magteloos, veral wanneer hulle lewenskwaliteit taan en ons ‘n besluit moet neem oor wanneer dit tyd is om te groet. Dis seer, en die trauma vergelyk dikwels met die verlies aan ‘n naasbestaande. Esté de Klerk skyn die lig op hierdie besondere verhouding van die mens met troeteldiere, hoe seer en traumaties dit is wanneer hulle groet, maar ook watter lewenslesse ons by hulle kan leer.

ESIAS BOSCH: 100 JAAR SE VUURKUNS UIT AFRIKA deur Johan Rademan
Johan Rademan kyk na die baanbrekerswerk en invloed van die pionier-keramiekkunstenaar, Esias Bosch, wat in Witrivier in sy ateljee, Die Randjie, gewoon en gewerk het. Johan gesels met sy drie kinders, Esra, Andre Eva en Anton. Die 97-jarige tydgenoot van Esias Bosch, dr. Pierre Volschenk, is vandag nog net so vurig oor klei. Hedendaagse figure in die kunshistoriese kleibedryf, soos Hennie Meyer, dr. Ronnie Watt en Esther Esmyol gesels saam oor Esias Bosch se ryk nalatenskap.

BEURTKRAG: ‘N DONKER SUID-AFRIKA deur Esté de Klerk
2023 is by verre Suid-Afrika se slegste beurtkragjaar ooit. In die afgelope 16 jaar, vandat beurtkrag die eerste keer in 2007 toegepas is, steier Eskom van die een krisis na die volgende. Dít terwyl die regering ‘n mandaat het om voldoende opwekkingskapasiteit aan die land te voorsien. Maar, waar en wanneer en hoekom het die regering gefaal om uitvoering te gee aan hierdie plig? Wat is die moontlike oplossings?

DIE ROYALSKOU: EINDE VAN ’N ERA deur Derrich Gardner
Derrich Gardner kyk terug na die begindae van die skou, hoe die naam "Royal" deur Engeland se Koning Edward VII in 'n dekreet aan hulle toegeken is, die drie oorloë wat die skou beleef het, Covid, konserte, en die toekoms nadat die gronde in Pietermaritzburg verkoop is.

RANDFIGURE: VERBLIND DEUR BEKENDHEID deur Johan van Lill
Johan van Lill kyk na die mense se fassinasie met omstrede- en randfigure. Kenners bespreek ons neiging om mense te aanbid wat in die openbare oog staan, of dit nou politici, akteurs, musikante of enige ander bekende is. Hoekom het ons 'n drang om na hierdie mense op te kyk en hulle as rolmodelle te sien, selfs al ken ons hulle nie persoonlik nie en weet ons nie altyd alles oor hulle lewe nie.

SOAPVOX - HENRY MYLNE EN VRIENDE deur Sue Pyler-Slabbert
Woon 'n rondetafelgesprek by met akteurs soos Gavin van den Berg, Karin Retief, Hugo Taljaard, Vinette Ebrahim, Christo Davids, Denver Vraagom en Kaz McFadden. Jy het hulle leer ken in Ballade vir 'n Enkeling, Egoli en 7de Laan. Almal is deur die jare gelei deur die talentvolle regisseur, Henry Mylne. Daarbenewens is daar verskeie verhoogproduksies soos Vaselinetjie wat vir jare by feeste op die planke was, Beauty Queen, Huis Toe, Die Baba met die Badwater, Die Vrou uit die See en soveel meer. Ons kry agter-die-skerms vertellings en staaltjies, en daar is 'n meestersklas wat aangebied word. Dis die reünie van die jaar!

WORSIE HET 'N WORS GEWORD deur Sue Pyler-Slabbert
Hy het komedie in Suid-Afrika vervolmaak. Hy het die sitkom aan Suid-Afrikaners in hulle taal bekendgestel. Willie Esterhuizen is 'n genie in komiese tydsberekening. Karakters soos Molly, Boeboe, Frikkadel, Poena, Spanner, Ouboet, Antie Poppie en vele meer het lewe gekry deur sy skryfwerk. Willie en sy broer, Pieter, maak 'n gedugte span waar Willie optree as akteur en skrywer en Pieter sorg vir die regie. 'n Paar akteurs deel hulle herinneringe. Willie deel sy storie, en sy broer Pieter praat met lof van sy broer se sukses. Met 'n koppie koffie en sjokolade koek gesels Willie Esterhuizen en Sue Pyler-Slabbert oor hoe Worsie 'n Wors geword het in die vermaaklikheidsbedryf.

GENADEDOOD: OM TE STERF MET GENADE - DEEL 2 deur Esté de Klerk
Genadedood is ‘n emosionele en omstrede onderwerp wat internasionaal én in Suid-Afrika gedebatteer word. Hoewel dit reeds in talle lande gewettig is, is dit steeds in Suid-Afrika teen die wet. Esté de Klerk ondersoek die argumente wat teen mekaar opgeweeg word in die debat vir en teen die wettiging daarvan. In die tweede deel kyk sy onder meer na etiese, morele en godsdienstienstige besware teen genadadedood, hoe dit internasionaal toegepas word, en groepe wat meen dat die wettiging daarvan in Suid-Afrika moontlik tot die misbruik van genadedood kan lei. Esté voer ook ‘n onderhoud met ‘n Kanadese burger, Amir Farsoud, wat op grond van mediese redes aansoek gedoen het om genadedood, maar erken het dat hy nie weens mediese redes nie, maar sy sosio-ekonomiese omstandighede wou sterf.

GENADEDOOD: OM TE STERF MET GENADE - DEEL 1 deur Esté de Klerk
Genadedood is ‘n emosionele en omstrede onderwerp wat internasionaal én in Suid-Afrika gedebatteer word. Hoewel dit reeds in talle lande gewettig is, is dit steeds in Suid-Afrika teen die wet. Esté de Klerk ondersoek die argumente wat teen mekaar opgeweeg word in die debat vir en teen die wettiging daarvan. In die eerste deel kyk sy onder meer na wat die Grondwet en regstelsel onderskryf, en watter sake reeds deur die howe aangehoor is. Sy vertel ook die verhaal van Johann Beukes wat in 2015 sy lewe met behulp van genadeselfdood by ‘n kliniek in Switserland beeïndig het. In ‘n onderhoud wat twee weke voor Johann se dood met hom gevoer is, vertel hy van sy worstelstryd om dié besluit te kon neem.

KANSELLASIEKULTUUR: DIE PUNTJIE VAN DIE YSBERG deur Johan Rademan
Vier proffesore - Willie Burger van Tuks, Pieter Duvenhage van Akademia, Joan Hambidge van Ikeys en Johann Rossouw van Kovsies - sit om die tafel saam met driemalige Akademiepryswenner Johan Rademan om te kyk na twee kante van die munt oor die moderne verskynsel van skrapping, uitwissing en kansellering van mense in die samelewing. Hulle besin oor die jongste vorm van sensuur, ‘n uitvloeisel van menswees, wat reeds oor eeue aankom.

WAAR NOOT EN WOORD BYMEKAARKOM deur Ina Strydom
‘n Profieldokumentêr oor Tobie Cronjé wat vanjaar 75 word. Dié geliefde akteur en regisseur se werk is welbekend, sy besondere komiese vermoëns, sy gewildste karakters en sy werk in die teater, op televisie en in rolprente. Die dokumentêr fokus op die mens ágter die akteur: sy liefde vir musiek; sy belangstelling in Zen Boeddhisme; sy siening oor tegnologie en teater, kreatiwiteit en uitdagings.

TEGNOLOGIE EN DIE IMPAK OP DIE MENS deur Jody Hendricks
Wat moet die balans tussen mens en tegnolgie wees? Navorsing wys dat indien dit nie reg bestuur word nie, kan kunsmatige intelligensie mense se werk oorneem. Jody Hendricks praat met verskeie kenners oor die gevare en geleenthede wat tegnologie vir ons inhou.

PLOOIE VAN DIE HART deur Johann Pieterse en Veronique van Heyningen
Jonna Heynken, 'n siggestremde vrou van Finland vertel hoe haar lewe verander is deur 'n prins, nie gekleed in goud en silwer nie, maar in roet en vuur. Dis 'n storie wat jou hartsnare sal roer en jou weer sal herinner dat selfs die lelike ook goedheid kan bevat. Kyk deur die oë van 'n blinde persoon, wat ongeag van haar gestremdheid, 'n kanniedood lewensfilosofie het.

DISKOERS: VAN SOKRATES TOT SOSIALE MEDIA deur Johan van Lill
Johan van Lill praat met kenners oor hoe goed ons onderleg is in die formulering van argumente en standpunte. Weet ons hoegenaamd hoe om te redeneer oor ’n saak? Om lekker oor ’n saak te kan redeneer, is deel van ons daaglikse diskoers – dit was nog van altyd af daar, maar sosiale media het vir almal van ons ’n platform gegee om ons stemme te laat hoor. En elkeen wat sosiale media gebruik, voel hulle het die reg om hulle mening oor enige aangeleentheid uit te spreek.

GROOTWORD SONDER 'N PA deur Jody Hendricks
Statistieke SA het in 2019 statistiek uitgereik wat wys dat meer as 60% van kinders wat in daardie jaar gebore is, geen besonderhede van die pa bevat het nie. TV-aanbieder Ivor Swartz, wat sonder ‘n pa grootgeword het, beskryf dit as ‘n tikkende tydbom. Jody Hendricks het met verskeie kenners en mense wat sonder ‘n pa grootgeword het, gepraat.

HARTBEESPOORTDAM, ’N EEU VAN VERWONDERING deur Elsje van Jaarsveld
Die Hartbeespoortdam vier vanjaar haar 100e bestaansjaar. Dis ’n merkwaardige mylpaal as mens in ag neem hoeveel terugslae die dam moes trotseer. Die ontwikkeling van die dam is in die vroeë 1900’s lamgelê deur politiek, vloede, oorloë, die Spaanse griep en ingenieursuitdagings. Vandag lok die dam duisende toeriste na die dorp, Hartbeespoort. Ongelukkig staar die dam ’n nuwe bedreiging in die gesig. Waterhiasint wat soms tot 40% van die wateroppervlak beslaan, moet deurgans bestry word. Die Rhodes Universiteit het egter ’n baie suksesvolle navorsingstudie onderneem om saam met die gemeenskap van Hartbeespoort dié dorp se trots te bewaar.

ALZHEIMERS, ‘N LEWE SONDER ONTHOU deur Johan van Lill
Johan van Lill ondersoek die impak wat Alzheimers en demensie het op die mense om ons. Hoe raak dit die geliefdes wat die pad saam met iemand stap wat aan hierdie siekte ly? Alzheimer is die bekendste vorm van demensie – ‘n neurologiese siekte met ‘n verlies aan algemene kognitiewe vermoëns in 'n voorheen helderdenkende persoon.