PLAY PODCASTS
RSG Dokumentêr

RSG Dokumentêr

352 episodes — Page 4 of 8

KATOT MEYER EN SY OORLOG TEEN INDRINGERBOME deur Mariska Spoormaker

Ontmoet Katot Meyer, 'n gewese landbou-wateringenieur, wat al 20 jaar lank sy eie oorlog voer teen indringerbome en -plante in die Suid-Kaap. Mariska Spoormaker het hom in sy Pietersrivier-natuurreservaat gaan opsoek, en baie meer verhale as net die van dorstige indringerbome gekry.

Mar 12, 202021 min

DIE GESKENK VAN AANNEMING deur Jacqui January

Alhoewel die Wet op Kindersorg (Wet 38 van 2005) baie duidelik en voorskriftelik is, is daar baie vooroordele en stigmas oor paartjies van dieselfde geslag wat kinders aanneem. Drie maatskaplike werkers deel hulle kundigheid en ervarings van ouers van dieselfde geslag, wat kies om kinders onvoorwaardelik aan te neem. 'n Gay pa vertel van die voorreg en groot vreugde om drie kinders te kon aanneem. En 'n Lesbiese paartjie praat oor hulle aangenome seuntjie wat nie dieselfde ras as hulle is nie.

Mar 5, 202027 min

CARLOS VAN DIE ROOIBERG deur Johan Rademan

Fossiele van pofadders, werktuie van die Khoi en San-inwoners van honderde jare gelede wat in die oorvloed van die omgewing gedeel het, en 'n inspirenende Afrikaanssprekende Portugees, Carlos Araujo, wag op jou wanneer Johan Rademan saam met hom die pad vat.

Feb 27, 202027 min

SO RY DIE TREIN deur Martelize Brink

Ná drie jaar en verskeie vertragings is die eerste deel van Kaapstad se treinroete na Eersterivier op 13 Februarie 1862 geopen. Martelize Brink kyk na die afgelope 158 jaar van treindienste in die Wes-Kaap - van die eerste klein platform wat as treinstasie gedien het, die groot opwinding van die 2010 Sokkerwêreldbeker, lojale pendelaars van die noordelike en suidelike roetes wat na die treindrywers omsien, tot die toekoms van die treindiens in onseker tye. Hoor ook die verhaal van Enjin nommer 9 wat liefdevol bekend gestaan het as Blackie, en uiteindelik sy rusplek in die voorportaal van die stasie gevind het.

Feb 20, 202026 min

BLINDEKOL deur Haidee Muller

Haidee Muller het op Worcester die blinde en swaksiende krieketspan, Die Worcester Victorians, ontmoet. Die span bestaan uit vyf spelers wat blind is en 13 at swaksiende is. Om krieket te speel, was 'n groot droom vir Gerhard Trollip, wat net tussen lig en donker kan onderskei. Hy het in 1999 mense nadergehark om krieket te demonstreer aan die blindes en swaksiendes, en so het Die Worcester Victorians ontstaan. Bradley Arendse wou nog altyd 'n blinde span afrig, en vandag doen hy dit na die beste van sy vermoë.

Feb 13, 202028 min

KYALAMI - DIT DREUN WEER IN ONS HUIS deur Fritz Klaaste

Kyalami is 'n lewende museum wat die Suid-Afrikaanse motorsportgeskiedenis sedert 1961 uitbeeld. Die wêreld se grootste name het al hier gery. In die ses dekades van sy bestaan het Kyalami geblom, gebloei, gesteier, geval en weer opgestaan. In November 2019 is die eerste internasionale wedren in 37 jaar daar aangebied, en Fritz Klaaste was daar.

Feb 6, 202026 min

DIE TOEBROODJIE-MENEER deur Mariska Spoormaker

Op Uitenhage vind n mens die sonderlinge verhaal van 'n toebroodjie-meneer, wat jare gelede 'n arm, uitsiglose outjie só geïnspireer het, dat hy vandag skoolhoof is. Hy is Stephen de Bruin, hoof van die John Walton Sekondêre Skool op Uitenhage. Hy pas dieselfde beginsels op sy leerlinge toe as sy toebroodjiemeneer, het Mariska Spoormaker gehoor toe sy die skool besoek het.

Jan 30, 202025 min

LEIPOLDT SE POLFYNTJIE deur Ina Strydom

C. Louis Leipoldt was een van die veelsydigste en invloedrykste skrywers van sy tyd. Sy bekendste drama is waarskynlik Die Heks, wat steeds as 'n klassieke drama in Afrikaans bestudeer en opgevoer word. Sy gedigte sluit in Oom Gert Vertel, Slampamperliedjie, Wys my die plek en Op my ou ramkietjie, waarvan verskeie getoonset is. As medikus het hy die skoolgesondheidstelsel in die destydse Transvaal gevestig, en as koskenner was sy etes en onthale legendaries. Ins Strydom kyk na enkele van hierdie aspekte, en sy nalatenskap vir vandag.

Jan 23, 202028 min

DIE SILWER SNAAR deur Hennie Maas

Jan van Rooyen is 'n voormalige regsakademikus wat van jongs af die klank van die viool bestudeer en daarmee gewerk het. Hy vertel hoe hy die eerste keer vir Jascha Heifetz oor 'n krappige radio op Lindley in die Vrystaat gehoor het, en hoe hy sy hart verloor het. Vir hom is die klank van die viool die belangrikste – nie noodwendig die ouderom of afkoms van die instrument nie. Daarom het hy 'n studie gemaak van vioolklanke en hoe om 'n bepaalde klank uit 'n viool te kry. Jan gesels ook oor hoe belangrik die hout is waaruit 'n viool gemaak word – liefs van hout wat in wind en weer in die Karpatiese Berge gevind word. Sy veredelde viole het 'n goeie vastrap plek in Amerika gekry – in so 'n mate dat die bekende violis, Joshua Bell, daarop aangedring het dat hy een van Jan se viole wil koop, want die instrument klink na 'n Italiaanse viool wat 300 jaar oud is!

Jan 16, 202028 min

MAJESTEIT DIE KAT deur Johan Rademan

Johan Rademan gesels met die digter Lina Spies oor haar liefde vir katte. Die akteur en voorleser Nic de Jager sit saam om met voorlesings om die tafel haar werke in te kleur. Lina Spies is op 6 Maart 1939 - die jaar waarin die Tweede Wêreldoorlog begin het, gebore. Haar liefde vir katte is alombekend, maar 'n sekere siklus en sluiting oor die naamgewing van haar katte is nou voltooi. Die naam slaan reguit terug uit haar eerste digbundel, Digby Vergenoeg, wat in 1971 verskyn het uit die vers Vir Anne Frank van de Achterhuis in die strofe, “weer moes Peter maar vir Mouschi streel.” Lina Spies het in 2019 haar 80ste verjaardag gevier.

Jan 9, 202026 min

STUKKIES IN DIE LEGKAART VAN DIE LEWE deur Ina Strydom

Die veelsydige en veelbekroonde Dolf van Niekerk het in 2019 90 jaar oud geword. Die stukke van die legkaart van sy lewe sluit onder meer sy loopbaan as omroeper en radiodramaturg in; sy loopbaan in die Departement van Landbou; sy doktorsgraad in die filosofie, en as voorloper en vernuwer in die letterkunde, is hy deel van die Sestigers. Uit sy pen verskyn poësie, prosa en drama. Onlangs is sy jeugherinneringe in 'n bundel vervat met die titel Legkaart van 'n jong lewe wat die kort huldigingsprogram geïnspireer het. Kom “luisterkuier” na voorlesings en vertellings oor van die invloede en indrukke wat die legkaart van sy lewe vorm.

Jan 2, 202037 min

ABDOEL SE AMG-PERDE deur Haidee Muller

Hy het talle pryse by landbouskoue gekry, vertel Abdoel Absolom van Kalksteenfontien. Haidee Muller het meer gaan uitvind van Abdoel se skouperde, wat hy in die perdestalle huisves by Freedom Farm in Belhar. Abdoel verwys na hulle as AMG-Mercedes perde. Drie seuns vertel ook hoe die wêreld van perde vir hulle nuwe betekenis aan die lewe gee. Al woon hulle in plakkerskampe en het hulle min, is hierdie ponies hulle trots. Sielkundige Quinton Adams praat ook oor perde en hulle terapeutiese waarde.

Sep 26, 201927 min

OUMA LEER SKRYF deur Mariska Spoormaker

Op 64-jarige ouderdom sit ouma Johanna Wewers van Despatch vir die eerste keer in haar lewe in die klas, en dít omdat sy, nes haar kleinkinders, wil kan skryf. Mariska Spoormaker het by die klas, waar ander vroue ook leer lees en skryf, gaan inloer.

Sep 19, 201924 min

BREYTEN BREYTENBACH – ‘N ANDER SKAKERING deur Johan Rademan

Ter viering van die bekende Suid-Afrikaner, Breyten Breytenbach, Johan Rademan 'n spesiale program saamgestel wat die fokus verplaas van sy skrywerskap, waarvoor hy alom bekend is in Suid-Afrika, na sy skilderkuns, drama en musikaliteit. In 'n eksklusiewe onderhoud met Breyten brei hy uit oor sy ondergewaardeerde sy in Suid-Afrika, en hoe dit eintlik 'n onontbeerlike komponent vorm van sy kunstenaarskap. Renaissance-kunstenaars het dikwels as filosowe, digters, beeldhouers, skilders en skrywers alle genres oorskry. Breytenbach is een van die enkele Suid-Afrikaners wat so 'n Renaissance-kunstenaar is. Luister na die kunsinnige sagte Breyten en die geharde rebel en heethoof, saamgesmelt in een program wat toegelig word met vriende en kenners, wat die genres saam met hom verken het.

Sep 12, 20191h 3m

PROEFKONYN deur Christelle van Tonder

Kan dit as eties beskou word om diere te gebruik vir navorsing om die mens se lewe te verbeter of te vergemaklik? As jy die keuse gegee word om te kies dat jou kind se lewe gered word, of dat 'n rot sy lewe gee om mediese vooruitgang te help, wat sal jy kies? Wat gee mense die reg om diere te gebruik? Hierdie vrae en meer word in diepte bespreek veeartse, aktiviste en akademici. Christelle van Tonder kyk na die gebruik van diere vir wetenskaplike navorsing.

Sep 5, 201928 min

MET DIE MAAN GEPLA deur Hennie Maas

Die mensdom is al van eeue gelede af met die maan gepla, en verlede maand het die wêreld die vyftigjarige herdenking van die eerste mens op die maan gevier. Hennie Maas kyk met 'n ander oog na die aarde se enigste natuurlike satelliet – die maan. Die eerste optekening van die maan is millenia gelede gedoen. Dit het destyds 'n sentrale rol in die godsdiens gespeel. Prof. Alex Duffey verduidelik hoe die maan die denke van die destydse mense beïnvloed het. Verskeie kenners soos Willie Koorts, prof. Matie Hoffman, Johan van den Berg, prof. Pieter Meintjies en dr. Japie van Zyl lewer ook insette.

Aug 29, 201927 min

DIE VERLORE SPRINGBOK deur Jody Hendricks

Die Shields-familie van die Strand het geen bekendstelling in rugbykringe nodig nie. Daar is ses broers wat almal rugby gespeel het. Dit was veral die jongste broer, Hennie, wat plaaslik en internasionaal presteer het. Hy was die eerste Bruin speler wat vir die WP uitgedraf het, maar die Springbokspan was hom nooit beskore nie. Hennie het deesdae amper niks met rugby te doen nie. Hy vertel vir Jody Hendricks van sy loopbaan, die droom om die gesogte groen-en –goud-trui oor sy kop te trek, en die politiek wat destyds 'n groot rol in sy loopbaan gespeel het.

Aug 22, 201927 min

LANK LEWE LANGARM deur Haidee Muller

Langarm-dans was reeds in die koloniale tydperk in die Kaap as ʼn vorm van ontspanning en vermaak bekend. Dit het mettertyd al hoe gewilder geword in die Bruin-gemeenskap, en is beïnvloed deur ʼn verskeidenheid dansstyle en musiek, waaronder Engelse kontradans (oftewel 'Country dancing'), kadriel-danse, militêre dansgroepe en Kaap-Maleise Kadrieldans-groepe. Haidee Muller het by 'n paar groot langarm-geeste in die Kaap, Worcester en Grabouw gaan praat, waar langarm uiters gewild is. Sy het ook met 'n paar ander langarm-liefhebbers gesels oor hoekom hierdie dansvorm hulle so na aan die hart lê.

Aug 15, 201927 min

DIE KAFEE OP DIE HOEK deur Esté Gross

Wanneer laas het jy 'n draai gemaak by die kafee op die hoek? Die winkels, wat gewoonlik generasies lank in die familie is, word al hoe skaarser. Almal het hulle eie idee van hoe die tipiese kafee lyk, of dit nou vars vis en skyfies is, of die taai toffies wat in rye uitgestal word op die toonbank. Este Gross besoek 'n paar hoekkafees om meer uit te vind van die geskiedenis, die lang ure, die kultuur en hoekom al hoe minder kinders bereid is om met die familiebesigheid voort te gaan.

Aug 8, 201925 min

'N BAIE SPESIALE PLEK deur Fritz Klaaste

Die Woodside Tehuis in Cottesloe in Johannesburg sien om na 86 mense met buitengewoon intellektuele gestremdhede. Die inwoners kan nie na hulleself omsien nie en benodig totale verpleegsorg, Van hulle het die breinkapasiteit van 'n pasgebore baba tot vier jaar oue kind. Hulle ouderdomme wissel van drie tot 64 jaar oud. 'n Groep professionele verpleegkundiges versorg die inwoners, en laat jou toe om 'n blik te kry op hulle werksaamhede en die lewe van die inwoners.

Aug 1, 201923 min

TUIS BY DIE HUIS deur Christelle van Tonder

Tuisonderrig is eers in 1996 in Suid-Afrika gewettig, alhoewel baie ouers dwars oor die land reeds vir baie jare voor die wet verander is, hulle kinders by die huis “skool” gegee het. Met die wettiging van tuisonderrig moet elke kind wat nie by 'n skool ingeskryf is nie, by die Departement van Onderwys registreer. Slegs 1% van die meer as 100,000 tuisonderrig-leerders in 2019 is geregistreer. Rolspelers, ouers, aktiviste en kinders beantwoord vrae soos: Wat is tuisonderrig? Wat van die kinders se sosiale lewe? Is daar struktuur? En is dit net vir hoogs begaafde kinders?

Jul 25, 201920 min

LEES IS SIEN deur Jacqui January

Jacqui January vertel die storie van die SA Biblioteek vir Blindes wat vanjaar sy 100e bestaansjaar vier. Die biblioteek is in 1919 deur Josephine Wood in 'n kamer in haar huis begin, en spog 100 jaar later met 24,000 boeke in hulle versameling. Tegnologie het die bandhulp vir blindes 'n hupstoot gegee, maar die 200-jaar oue skryf en leesstelsel, Braille, is steeds 'n integrale deel van die bemagtiging vanr blindes. Hierdie diens word sedert 1953 gratis verskaf aan siggestremde en blinde persone.

Jul 18, 201926 min

WAT IS 'N HUIS SONDER 'N CLAERHOUT? deur Johan van Lill

Johan van Lill bring hulde aan die bekende skilder, Vader Claerhout, wat in 2006 oorlede is. Hy sou vanjaar sy honderdste verjaardag gevier het. Hy was bekend vir die kwistige kwashale waarmee hy donkies, sonneblomme en Afrika-tonele geverf het, en ook vir sy houtskooltekeninge waarvan daar amper in elke huis een hang. Die oorspronklike onderhoud met Vader Claerhout wat in die dokumentêr gebruik is, is deur Diena Smit opgeneem en in 1993 uitgesaai. Die stemme van die volgende mense word gehoor: Rina Els (jarelange vriendin), Charlene Hern, Floris Kotze, Pieter van Jaarsveld, Henk van de Walt, Ilza Roggeband en Dana Snyman.

Jul 11, 201925 min

OM DIE TSITSIKAMMABOS MET HEINEY TE BELEEF deur Mariska Spoormaker

Net soos Daleen Matthee die Knysnabosse vir ons oopgeskryf het, só praat Heiney Jacobs, natuurgids van die Tsitsikamma, die bos vir ons oop. Só passievol deel hy die Tsitsikammabos en alles wat daarin leef en beef, dat ‘n mens voel jy wil jou tentpenne daar inslaan en nooit weer terugkeer na die stad nie.

Jul 4, 201925 min

NOOIT TE OUD VIR BALLET NIE! deur Mariska Spoormaker

'n Mens raak skoon uitasem om op die spoor van Louie-Anna Nel, hiperaktiewe ouma van Mosselbaai, te probeer bly. Hierdie 78-jarige vrou swem 'n uur en 'n half lank op 'n slag. Sy doen joga, volg 'n rou vegandieet en is kliphard besig met haar matriek-wiskunde. Drie jaar gelede, toe Louie-Anna 75 was, het sy selfs met balletklasse begin. Mariska Spoormaker het haar in só 'n klas, al dansende tussen die ander bo 60's, aangetref.

Mar 28, 201922 min

WIPPLANK: TOBIE CRONJÉ 70

Tobias Jurgens Cronje het in November 2018 sy 70ste verjaardag gevier. Hy het drama aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Sy professionele loopbaan het al in 1972 begin in die Truk-produksie van The Fantastics. Na meer as vier dekades in die bedryf word hy steeds onthou vir rolle soos die van Willem, in die gelyknamige TV-reeks. Hy was ook te sien in flieks soos Kootjie Emmer en Babbelkous en Bruidegom, terwyl hy op die verhoog bekend is om sy talle “dames” in Janice Honeyman se jaarlikse pantomimes. Saam met sy vriendin en die aktrise Grethe Fox en die regisseur Andre Stolz, kuier die drie saam om Tobie se lewe en loopbaan te vier. Die program sluit in werke van Chris Barnard, Breyten Breytenbach en Anton Tsjechof.

Mar 20, 201930 min

VAN DIE MOND NA DIE HAND deur Esté Gross

Die getal haweloses in Johannesburg neem daagliks toe. Hierdie mense se selfwaarde word afgebreek deur die uitmergelende omstandighede van 'n lewe op straat en elke dag se bakhand staan. Dis moeilik om uit die kringloop te breek, maar daar is hoop. Este Gross besoek die Gereformeerde Kerk in Linden, Johannesburg, se sopkombuis wat nie net kos gee nie, maar ook mense ophef deur vir hulle kunsvaardighede aan te leer. So kan hulle produkte maak uit herwinbare materiaal, wat hulle kan verkoop vir inkomste om vir hulle self te sorg, veral tydens die Desemberakansie wanneer die sopkombuise toe is. Este praat ook met 'n Phumlani, wat deur middel van die kunsklasse sy liefde vir kuns herontdek het, en in die proses sy eerste opdrag vir 'n groot muurskildery gekry het.

Mar 14, 201925 min

GIVE A LITTLE LOVE, DIE STORIE VAN IBRAHIM KHALIL SHIHAB deur Martelize Brink

Musieklegende Ibrahim Khalil Shihab, voorheen bekend as Chris Schilder, maak in die ouderdom van 72 'n terugkeer na die verhoog met die hulp van Ramon Alexander, wat Ibrahim as 'n held beskou. Geïnspireer deur 'n musikale familie en sonder enige formele opleiding, het hy van die grootste Suid-Afrikaanse treffers van die jare 70 en 80 geskryf, maar was grootliks as klavierspeler, in die skaduwee van die hoofsangers en ander musikante.

Mar 7, 201928 min

VAN EEKHORING TOT SPRINGBOK deur Jody Hendricks

Op 18 Augustus 2018 maak Damian Willemse sy debuut vir die Springbokke. Sodoende word hy ook die eerste Springbok wat Somerset-Wes Metodiste Primêre Skool opgelewer het. Jody Hendricks kyk Damien se pad tot by die groen en goud.

Feb 28, 201927 min

SKRIF TEEN DIE MUUR deur Lizelle de Bruin

Graffiti laat sommige mense steier, en ander staan in verwondering. Lizelle de Bruin gesels met graffitikunstenaars en kunstenaars wat deur die Graffiti Renaissance beïnvloed is. Graffiti bring kleur en betekenis na die mees onwaarskynlike plekke.

Feb 21, 201926 min

KINNERS VAN DIE WELFARE deur Christelle van Tonder

Volgens die grondwet het alle kinders die reg om beskerm te word teen alle vorms van geweld. Ongelukkig word te veel kinders in Suid-Afrika se regte geskend. Mareli Venter is 'n statutêre maatskaplike werker van Johannesburg wat gereeld kinders uit hulle ouerhuise moet verwyder as gevolg van mishandeling, seksuele geweld en dwelm- en alkoho misbruik deur die voog. Die kinders word weggeneem, maar waarheen gaan hulle dan? Wat is die proses om die kind te rehabiliteer en 'n “normale” lewe te gee tot die kind teruggeplaas kan word in sy ouerhuis?

Feb 14, 201928 min

Strijdom van der Merwe se klankskildery

Johan van Lill maak saam met landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe 'n klankskildery wat daardie oomblik uitbeeld wanneer 'n kunswerk gebeur en gedokumenteer word.

Feb 7, 20192 min

KUNS VIR 'N OOMBLIK deur Johan van Lill

Strijdom van der Merwe is 'n bekroonde Suid-Afrikaanse landskapkunstenaar. Sy werk verken die brose wisselwerking tussen mens en natuur. Die meeste van sy kunswerke vat 'n oomblik in tyd vas, omdat dit deur natuurelemente verweer word, en later tot niet gaan. Ons leer ken die kunstenaar, en maak saam met hom 'n klankskildery wat daardie oomblik uitbeeld wanneer 'n kunswerk gebeur en gedokumenteer word.

Feb 7, 201928 min

NAGEBOORTE NAELSTRING deur Jacqui January

Die Sweedse navorser, Annemarie Widstrom, het navorsing gedoen oor die vel-tot-vel kontak tussen 'n pasgebore baba en mamma. Daar is vasgestel dat daar nege stadiums is in die eerste uur of twee na geboorte. Dit is ingebore en instinktiewe fases vir die baba. Dit wil voorkom of al daai “ouvrou-stories” beproefde oorlewingsfeite is!

Jan 31, 201926 min

EEN VAN DIE LAASTE VUURTORINGMANNE deur Mariska Spoormaker

Suid-Afrika se vuurtoringwagters is besig om te verdwyn want tegnologie het hulle taak oorgeneem. Martin Peterson, vuurtoringwagter van die Groot Vispunt-vuurtoring buite Port Alfred in die Oos-Kaap, is een van die laaste vier in die land wat nog die beroep beoefen. Mariska Spoormaker het by hom gaan kuier.

Jan 24, 201923 min

PORTRET VAN 'N SKRYWER deur Ina Strydom

Die Sestiger-skrywer Chris Barnard sou vanjaar 80 jaar oud geword het. Hy was een van die veelsydigste skrywers in Afrikaans, en het merkwaardige werk gelewer in verskeie genres: die roman, die kortkuns, die drama en die hoorspel sowel as skrywer van rolprent- en televisiedraaiboeke. Barnard is twee keer met die Hertzogprys bekroon.

Jan 17, 201929 min

KATRINA, DIE DANSENDE TAAL deur Jacqui January en Coenie de Villiers

Hierdie klankweergawe van die gelyknamige ballet, vertel die verhaal van Ouma Katrina Esau, die laaste vlotspreker van die oeroue N/UU-taal. Sy vertel haar lewensverhaal in haar eie woorde, met musiek deur Coenie de Villiers. Die produksie is oorspronklik aangebied in samewerking met KunsteKaap as deel van die teater se Erfenisjaar-produksies in 2018. Die choreografie vir die produksie is gedoen deur Kirvan Fortuin. Die verhoogproduksie word ook in 2019 by die Woordfees in Stellenbosch aangebied.

Jan 10, 201922 min

WAYNE MANSFIELD: VAN VRUGTESMOUS TOT SUURLEMOENBOER deur Haidee Muller

Wayne Mansfield van Pniel is verlede jaar aangewys aan die Wes-Kaapse Opkomende Boer van die Jaar. Hy is nege jaar gelede deur die wynlandgoed, Fairview, genader oor 'n geleentheid om 'n suurlemoenboerdery op 'n stukkie grond op die landgoed te begin. In die tyd was hy 'n vrugtesmous wat tweedeklasvrugte gekoop, verpak en aan markte verkoop het. Vandag strek sy Fruitfield Farming se suurlemoenboorde oor 11,9 hektaar, waaruit sowat 280 ton vrugte geoes word. Sowat 80% van Wayne se suurlemoene word uitgevoer na Europa, Rusland, die Midde-Ooste en die Verre-Ooste. Hy verskaf werk aan ses permanente werkers, terwyl sy tydelike werkers bestaan uit 'n pluk- en snoeispan van sowat 40 mense.

Jan 3, 201922 min

EEN DAG OP 'N SLAG deur Esté Gross

Volgens die 2014-kankerregister word daar elke jaar as 100,000 mense in Suid-Afrika met kanker gediagnoseer. Die kans is dus goed dat jy dalk iemand ken wat kanker het. Waardeur gaan jou geliefde wat die stryd met kanker voer? Hoe kan jy die pad vir iemand ligter maak?

Sep 27, 201825 min

DIE SON STAAN NIE STIL NIE deur Chris Swanepoel

Dit is bekend dat die Egiptenare en die Babiloniërs reeds met behulp van sonwysers nie alleen tyd bereken het nie, maar ook die gang van die seisoene kon bepaal. In Suid-Afrika is daar ook verskeie historiese sonwysers, onder andere in die Kasteel, die Slawelosie en die Kompanjiestuin waar daar ongelukkig as gevolg van vandalisme, 'n replika van die oorspronklike opgerig moes word. Chris Swanepoel vertel hoe sonwysers werk, en vandag nog deur entoesiaste vervaardig word.

Sep 20, 201825 min

DIE STORIE VAN MARK PURNELLE deur Jacqui January

Mark Purnelle is met outisme en disleksie gediagnoseer. Dit het hom ongeletterd gelaat, en die stigma van gestremdhede het baie deure vir hom toegemaak. Hy werk al 30 jaar lank by 'n ingenieurswerkswinkel, en ry elke oggend met sy fiets werk toe. Mark sukkel sy lewe lank met depressie en angsaanvalle. Drie jaar gelede het hy besluit hy wil studeer. In weerwil van al die uitdagings van disleksie, slaag hy elke eksamen met onderskeiding. Hy is 'n ware inspirasie, en wil ander mense met gestremdhede help waar hy kan.

Sep 13, 201822 min

FELICIA LESCH – MEER AS NET MUSIEK deur Johan van Lill

Die naam Felicia Lesch is sinoniem met die ontwikkeling van musiek en talent. Leer ken hierdie besondere vrou, wat deur al haar studente as 'n ma-figuur gesien word, van naderby. Vir haar gaan dit oor meer as net musiek – dit gaan oor die mens.

Sep 6, 201827 min

HIER KOMMIE BOKKE... JULIAN THERON SE BOKKE! deur Johan Rademan

Julian Theron word beskou as die top Springbokteler in die land en waarskynlik op die planeet. Prof. Piet Eloff van Hoe verklaar jy dit?-faam het as onderwyser by Paul Roos Gimnasium besef dat Julian, wat deur party mense as dom beskou is, eintlik briljant is. Hy is met disleksie gediagnoseer en moes daarom werk om die hoogste prestasies te behaal. In 'n stadium het hy die top 10 posisies op die Safari Club International se lys van tophoringlengte springbokke behaal. Sy veld-en-dier kennis is weergaloos. Die span om hom, soos sy vrou Martisan, Noppie en Nico in die veld en Truitjie se uithaler kookkuns in die plaaskombuis van Jewels of the Karoo tussen Richmond en De Aar, maak dit 'n wenkombinasie. Sy topprestasie, 'n ram van R1,65 miljoen wat tydens 'n veiling behaal is, is te danke aan sy besluit van bykans 30 jaar gelede om skietkampe om te skakel in teelkampe. Kom vier die Springbok, Suid-Afrika se nasionale simbool, saam met 'n besoek aan die Karoo deur Johan Rademan.

Aug 30, 201825 min

MAMA SOWETO deur Christelle van Tonder

Op 80 jaar is Estelle Bester liewer vir Soweto en sy mense as ooit. Haar verhouding met die township strek ver terug. Sy word deur sommige toergidse beskou as die moeder van soweto wat toerisme betref. Orals waar sy gaan, herken die mense haar en knoop hulle geselsies met haar aan. Maar waar het dit begin? Hoe het 'n middeljarige wit vrou in die middel jare 80 in Soweto beland? Christelle van Tonder stap saam met haar deur die strate van Soweto en leer meer oor hierdie unieke township.

Aug 23, 201828 min

OM ‘N TWEEDE LEWENSKANS TE VIER deur Mariska Spoormaker

Talle Suid-Afrikaners lei 'n lewe van dankbaarheid en aktiewe sport nadat hulle jare lank siek was. Hulle benut die tweede lewenskans wat 'n orgaan- of weefselskenking aan hulle gebied het ten volle, en het in die hartjie van die winter aan die Suid-Afrikaanse Oorplantingspele in Port Elizabeth deelgeneem. Mariska Spoormaker was daar en het baie verhale van hoop, toewyding en selflose liefde gehoor.

Aug 16, 201825 min

SIYABONGA SUSTER CHRISNA, SIYABONGA deur Martelize Brink

Suster Chrisna du Plessis het 16 jaar gelede iemand buite 'n kliniek gesien op die grond lê, wat besig was om te sterf weens MIV/VIGS-komplikasies. Sy het daar en dan besluit dat daar 'n plek in haar gemeenskap moet wees waar mense in nood kan aanklop om hulp. Sy het toe die Siyabonga Care Village op Vredenburg op die been vebring. Dit is 'n plek van veiligheid vir mishandelde vroue, 'n tuiste vir gestremdes, 'n skool vir gestremde kinders, en bied palliatiewe dienste aan pasiënte in die laaste dae van hulle lewe. Martelize Brink het suster Chrisna gaan ontmoet.

Aug 8, 201825 min

'N GELEEFDE LEWE deur Ina Strydom

John Miles word vanjaar 80, maar steur hom nie aan die ouderdom nie. Hy woon en werk in die Noord-Kaap waar hy hom ná sy aftrede as akademikus gaan vestig het. Hy is 'n ywerige leser en skryf omdat hy gedwing word. Ina Strydom kyk na die bekroonde skrywer se lewe en werk.

Aug 2, 201828 min

DIE SHACK-BOUER EN FREEDOM FARM SE MENSE deur Haidee Muller

Haidee Muller het die lief en leed van die inwoners van die Freedom Farm-plakkerskamp op die Kaapse Vlakte gaan ervaar. Sy het daar vir Lluwellyn Adams, alombekend as Ten Thousand, en sy twee perde ontmoet, saamgery op sy perdekar om te kyk hoe hy, soos hy sê, 'n living maak. Sy het gehoor van die eina's van die gemeenskap, maar daar is ook 'n storie van hoop en dankbaarheid om te vertel. Toe kruis Haidee se pad met die opvoedkundige sielkundige, Quinton Adams, oftewel Die Shack-bouer. Hy het hom oor die inwoners van Freedom Farm ontferm en uit sy hart, en meestal ook sy eie sak, vir hulle hutte gebou. En, ten spyte van armoede en haglike omstandighede, is hier ook 'n trots wat die harte van Freedom Farm se inwoners weer laat warm klop.

Jul 19, 201825 min

DIE WORTEL VAN ALLE KWAAD deur Christelle van Tonder

Transitiorooftogte het van 2016 tot 2017 met 43% toegeneem. Meer as 90% van hierdie rooftogte gebeur met die hulp van informante aan die binnekant. Onskuldige mense word in die spervuur vasgevang, en sekuriteitswagte boet met hulle lewens deur net hulle werk te doen. Volgens voormalige transito-veligheidswag Mark Austin, is daar altyd iemand aan die binnekant betrokke. Mark het nege jaar lank op die geldwaens gewerk, tot hy verplig was om na 'n ander department te skuif as gevolg van posttrauntiese-stres. Hy was die slagoffer van ses transitorooftogte! Christelle van Tonder kyk na die trauma wat die veiligheidswagte daagliks beleef. Kenners op die gebied, dr. Alice Maree en dr. Hennie Lochner gee insig oor hoe die rooftogte beplan word.

Jul 12, 201830 min

DIE PINK RODS WIELEWAAI IN DIE BAAI deur Marika Spoormaker

Noem dit stampkarre, ovaalbaanwedrenmotors, stock cars of net wat jy wil, maar sorg dat jy minstens een keer in jou lewe gaan kyk hoe jaag die mense in hulle omgeboude motors teen mekaar. Presisie en tydsberekening , met die lepel diep ingetrap, is alles. Mariska Spoormaker het die opwindende motorsport in Port Elizabeth gaan kyk, en uitgevind dat die Pink Rods, 'n spesiale kategorie vir vroue, ook daar laat wielewaai.

Jul 5, 201826 min