
Taaldinge
759 episodes — Page 2 of 16

Taaldinge 12 Oktober 2025
Alet Cloete en Gerhard van Wyk van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is weer saam met Ina Strydom in die ateljee om luisteraars se taalnavrae te beantwoord. Hulle beantwoord onder meer ‘n vraag oor die gebruik van “sny” vir rentekoerse; en verduidelik waar iets soos oliekolonie vandaan kom, en wat dié verskynsel genoem word.

Taaldinge 5 Oktober 2025
Die Afrikaanse Taal- en Letterkundevereniging is onlangs in Bloemfontein gestig. Die voorsitter van die ATLV, dr. Janien Linde van die NWU, vertel vir Ina Strydom wat die doel van die vereniging is, en waarom rolspelers dit tot stand gebring het.

Taaldinge 28 September 2025
Wat is ‘n goeie Afrikaanse vertaling vir ‘n “wake”; en is dit korrek om te praat van ‘n driedubbele moord? Is huidiglik aanvaarbaar? Dié en ander taalnavrae word deur Gerhard van Wyk en Alet Cloete van die WAT beantwoord.

Taaldinge 21 September 2025
Die deskundige getuienis van ‘n forensiese taalkundige, dr. Karien van den Berg van die NWU, het onlangs daartoe gelei dat die EFF-leier Julius Malema, in die Gelykheidshof skuldig bevind is aan haatspraak. Sy vertel vir Ina Strydom hoe taalkundige metodes en beginsels gebruik word om uitlatings te ontleed.

Taaldinge 14 September 2025
Rolprentkenner Leon van Nierop vertel vir Ina Strydom wanneer vloek of kru taal in onder meer rolprente aanvaarbaar is. Hy praat oor geloofwaardigheid en konteks, en ook oor wanneer die gebruik van vloekwoorde onvanpas is of gewoon dui op ‘n lui skrywer. Hulle praat na aanleiding van die nuwe Afrikaanse rolprent MY F*K MARELIZE!

Taaldinge 7 September 2025
Milanie Vosloo van Afrikaans.com vertel vir Ina Strydom meer oor hulle werksaamhede, wat hulle alles aanbied, en van hulle jongste toevoeging, kunsmatige intelligensie in Afrikaans.

Taaldinge 31 Augustus 2025
Jana Luther van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal vertel vir Ina Strydom hoe die Klassieke Tale, Grieks en Latyn, tale soos Afrikaans, Engels, Nederlands en Frans beïnvloed het. Hulle praat oor ontlening wat nie net die woordeskat van Afrikaans, maar ook die ander tale, verryk en vergroot het.

Taaldinge 24 Augustus 2025
Ina Strydom praat verder met prof. Angelique van Niekerk van die Universiteit van die Vrystaat se Departement Afrikaans, Nederlands, Duits en Frans oor advertensies, na aanleiding van haar professorale intreerede. Alet Cloete en Gerhard van Wyk beantwoord ‘n klompie luisteraarsvrae wat oorgestaan het, onder meer oor die verskil tussen kritiek en krities, en die weglating van met in sekere konstruksies.

Taaldinge 17 Augustus 2025
Ina Strydom praat met prof. Angelique van Niekerk van die Universiteit van die Vrystaat se Departement Afrikaans, Nederlands, Duits en Frans oor advertensies, n.a.v. haar professorale intreerede. Hulle praat in die eerste deel van die gesprek oor taal en betekenis in advertensies, en watter inligting uit advertensies verkry kan word.

Taaldinge 10 Augustus 2025
Waar kom die uitdrukking, so mal soos ’n haas, vandaan? Wat is die verskil tussen klant en kliënt? Dié en ander luisteraarsvrae word deur Alet Cloete en Gerhard van Wyk van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal beantwoord.

Taaldinge 3 Augustus 2025
Die oorklanking van televisiereekse en rolprente vereis sowel taalvaardigheid as geslypte vaardighede van die akteurs. Die akteur en stemkunstenaar, Elma Potgieter, vertel vir Ina Strydom van oorklanking in die vroeë jare van televisie, en hoe dit nou gedoen word.

Taaldinge 27 Julie 2025
Die bestuurshoof van die Afrikaanse Taalmonument en -museum, Michael Jonas, vertel vir Ina Strydom meer oor die Neville Alexander-eerbewyse waarvoor benoemings ingewag word; die ATM se program vir die res van die jaar; en hulle uitreikaksie in die Noord-Kaap. Hulle praat ook oor die bevordering van moedertaalonderig, en wat nodig is om Afrikaans te bewaar.

Taaldinge 20 Julie 2025
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het op 17 Julie sy 10de bestaansjaar gevier. Die besturende direkteur, Marlie Coetzee, vertel vir Ina Strydom hoe en hoekom VivA tot stand gekom het, gee ‘n oorsig oor van hulle projekte, en vertel van hulle toekomsplanne.

Taaldinge 13 Julie 2025
Het die naguil die regte naam gekry in Afrikaans? Wat het geword van die woord oponthoud? Dié en ander luisteraarsvrae word beantwoord deur Alet Cloete en Gerhard van Wyk van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

Taaldinge 6 Julie 2025
Die voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Suléne Pilon, vertel vir Ina Strydom meer oor die hersiening van die Woordelys en Spelreëls waarmee hulle tans besig is.

Taaldinge 29 Junie 2025
In die tweede deel van ‘n gesprek oor die taalgebaseerde spanning in Indië, praat Ina Strydom verder met die taalkundige, prof. Ernst Kotze, oor die taalsituasie in die land. Hy vertel onder meer oor taal en identiteit en die verskillende tale se gebruiksvlakke, en praat oor wat Suid-Afrika by Indië kan leer oor die hantering van taalverskeidenheid.

Taaldinge 22 Junie 2025
Na aanleiding van ‘n onlangse Litnet-artikel praat Ina Strydom met die taalkundige, prof. Ernst Kotze, oor die taalsituasie in Indië – ‘n land met veel meer amptelike en nasionale tale as Suid-Afrika se 12! Hy praat in die eerste van twee programme oor onder meer oor die hantering van taaldiversiteit.

Taaldinge 15 Junie 2025
As deel van die Afrikaans Amptelik 100 se vierings, was daar ‘n projek oor die Afrikaanse kunslied, Die Kuns van die Afrikaanse kunslied. Die samesteller van die program was die mezzosopraan, dr. Linette van der Merwe. Sy vertel vir Ina Strydom meer oor die kunslied; die Afrikaanse skatkis van kunsliedere, en waaraan die teks moet voldoen om geskik te wees vir dié kunsvorm.

Taaldinge 8 Junie 2025
Wat is die herkoms van die woord kenterweer? En hoekom skryf ‘n mens in Engels White House, maar Withuis in Afrikaans? Alet Cloete en Gerhard van Wyk van die WAT beantwoord hierdie en ander luisteraarsvrae saam met Ina Strydom.

Taaldinge 1 Junie 2025
Is dit reg om te praat van ronde gholf, of rondte gholf? Wat is die herkoms van die uitdrukking “iets is ‘n tameletjie”? Dié en ander taalnavrae word beantwoord wanneer Alet Cloete en Gerhard van Wyk van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal by Ina Strydom aansluit.

Taaldinge 25 Mei 2025
Taalkundige prof. Wannie Carstens was onlangs vir ‘n tydperk in Antwerpen om vir ‘n groep derdejaarstudente klas te gee ingevolge ‘n ooreenkoms tussen die Noordwes-Universiteit se Skool vir Tale en die Universiteit van Antwerpen. Hy vertel vir Ina Strydom hoe hy dié kursus benader het, en waar Afrikaans elders in Europa gedoseer word.

Taadinge 18 Mei 2025
Afrikaans Wikipedia groei fluks, danksy ‘n handvol lojale en entoesiastiese vrywilligers. Wat is die waarde van Wikipedia in Afrikaans? Die direkteur, Deon Steyn, vertel vir Ina Strydom hoe hulle gehalte verseker, watter onderwerpe reeds ver ontwikkel is, en hoe dit vir skoolkinders van waarde kan wees.

Taaldinge 11 Mei 2025
Die medesameroepers van ProVARIA, dr. Gerda Odendaal en Marius Swart, vertel vir Ina Strydom meer oor dié projek oor die variëteite van Afrikaans, en hulle portaal wat op VivA se webwerf bekendgestel is.

Taaldinge 4 Mei 2025
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se akademiese tydskrif, die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, fokus in sy Maart-uitgawe op Afrikaans se 100 jaar as amptelike taal, 'n viering en 'n besinning. Die bestuurshoof van die Akademie, dr. Annelise de Vries, die uittredende hoofredakteur, prof. Ina Wolfaarst-Grabe, en die twee gasredakteurs, proff. Nerina Bosman en Wannie Carstens, vertel vir Ina Strydom van die belang van die uitgawe, en watter onderwerpe gedek is.

Taaldinge 27 April 2025
Die bekende joernalis en vervaardiger, Erns Grundling, vertel vir Ina Strydom meer oor die televisiereeks, Die stories van Afrikaans. Die reeks ondersoek die ontstaansgeskiedenis en ontwikkeling van Afrikaans.

Taaldinge 20 April 2025
Afrikaans as amptelike taal is vanjaar 100 jaar oud, maar die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans strek veel verder as een eeu gelede. Die voormalige hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, dr. Willem Botha, gaan haal die verhaal by die begin. Dit is deel 2 van die gesprek met Ina Strydom.

Taaldinge 13 April 2025
Afrikaans as amptelike taal is vanjaar 100 jaar oud, maar die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans strek veel verder as een eeu gelede. Die voormalige hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, dr. Willem Botha, gaan haal die verhaal by die begin. Dit is deel 1 van die gesprek met Ina Strydom.

Taaldinge 6 April 2025
DF Malherbe was die eerste professor in Afrikaans in die land, en wel by die destydse Grey Universiteitskollege, die voorloper van die Universiteit van die Vrystaat. Dié Universiteit vier Afrikaans se 100 jaar as amptelike taal met ‘n spesiale DF Malherbe-gedenklesing. Dr. Francois Smith en prof. Henning Pieterse van die UV se Departement Afrikaans, Nederlands, Duits en Frans vertel vir Ina Strydom meer oor dié geleentheid.

Taaldinge 30 Maart 2025
In die aanloop tot die feesvierings om Afrikaans se 100-jarige bestaan as amptelike taal te vier, val die fokus op ‘n projek oor vroeë gesproke Afrikaans, en die tekste van die jare 1820 en verder. Die vryskutakteur, Zach Botha, vertel vir Ina Strydom waar die belangstelling vandaan kom, en wat die projek behels.

Taaldinge 23 Maart 2025
Die eindredakteur van die WAT, Gerhard van Wyk, en die Senior Mederedakteur, Alet Cloete, is saam met Ina Strydom in die ateljee om luisteraars se taalnavrae te beantwoord. Hulle bespreek onder meer die los en vas skryf van woorde; en die herkoms van woorde soos huigel en runderpes.

Taaldinge 16 Maart 2025
Een van die heel voorste terminoloë in Afrikaans, dr. Mariëtta Alberts, vertel vir Ina Strydom meer oor die noodsaaklikheid van terminologieontwikkeling, hoe terminologie in Afrikaans ontwikkel het sedert die eerste vakwoordeboek in 1918 verskyn het, en watter gebreke daar tans is.

Taaldinge 9 Maart 2025
Wat gebeur met die “met” in ‘n konstruksie wat al meer teëgekom word: “ek gaan saam my vriende braai” – terwyl dit eintlik “ek gaan saam met my vriende braai” behoort wees, en wat veroorsaak die weglating? Ina Strydom se gas is die taalpraktisyn en skrywer, Sophia Kapp.

Taaldinge 2 Maart 2025
Sê ‘n mens iets in Afrikaans, of op Afrikaans? Waar kom die uitdrukking "die reën stuif neer" vandaan? Dié en ander taalnavrae word beantwoord. Die senior mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Alet Cloete, en die eindredakteur, Gerhard van Wyk, is saam met Ina Strydom in die ateljee.

Taaldinge 23 Februarie 2025
‘n Baanbrekerwerk oor Afrikaans het onlangs verskyn: Afrikaans Linguistics – a contemporary perspective, onder die redakteurskap van proff. Nerina Bosman en Wannie Carstens. Dis ‘n handboek oor die Afrikaanse taalkunde, in Engels geskryf. Hulle vertel vir Ina Strydom waar die idee vandaan gekom het, wie bygedra het, en wat die doel van die boek is.

Taaldinge 16 Februarie 2025
In die laaste in die reeks van drie programme oor houers, vertel Jana Luther van die WAT vir Ina Strydom meer oor woorde en uitdrukkings wat met blik en blikgoed verband hou.

Taaldinge 9 Februarie 2025
Die nuwe bestuurshoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, dr. Annelise de Vries, praat oor die eerste paar maande van die jaar: die Geskiedenissimposium en JBM Hertzoggedenklesing, ‘n studentesimposium, en wat hulle beoog vir Internasionale Moedertaaldag.

Taaldinge 2 Februarie 2025
Ina Strydom en die taalkundige, prof. Wannie Carstens, neem bestek op van die stand van Afrikaans in 2024. Watter positiewe dinge het gebeur, wat is bestendig, en waar flikker die rooi ligte?

Taaldinge 26 Januarie 2025
Die handboek, Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde, se derde, hersiene uitgawe is pas vrygestel. Die redaksie, proff. Adri Breed, Nerina Bosman en Wannie Carstens, vertel vir Ina Strydom meer oor die veranderinge, die waarde en die medewerkers. Die boek is ook nie net vir studente bedoel nie, maar sal vir enigeen met ‘n belangstelling in Afrikaans van waarde wees.

Taaldinge 19 Januarie 2025
Jana Luther van die WAT vertel vir Ina Strydom meer oor bottels en flesse, vate en balies en kuipe – en hoe dié woorde in Afrikaans neerslag vind. Dit is die tweede program in ‘n kort reeks oor houers of holgoed.

Taaldinge 12 Januarie 2025
Beteken kwes en kwets dieselfde? Wat is die verskil tussen verseker en vir seker, en hoe word dit gebruik? Dié en ander taalnavrae word beantwoord saam Gerhard van Wyk en Alet Cloete van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

Taaldinge 5 Januarie 2025
Aktrise Cindy Swanepoel vertel vir Ina Strydom meer oor twee ATKV-projekte waarby sy betrokke was. Een het oor idiome gehandel en die ander oor limerieke.

Taaldinge 29 Desember 2024
Waarom word internasionale plekname soos Albania in Afrikaans as Albanië vertaal, en wat is die beginsels wat toegepas word? Wat is die verskil tussen leerling en leerder? Gerhard van Wyk en Alet Cloete van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal beantwoord luisteraars se taalnavrae saam met Ina Strydom.

Taaldinge 22 Desember 2024
Die mens berg en versamel al van die vroegste tye af in kruike en kalbasse en ander hol goed. ‘n Mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Jana Luther, vertel vir Ina Strydom meer oor dié houers, en hoe die woorde in Afrikaans neerslag gevind het in uitdrukkings en spreekwoorde.

Taaldinge 15 Desember 2024
Ina Strydom praat met Nadine Fouché-Karsten, VivA se projekbestuurder: Afrikaans-grammatika vir die onderwys, oor bysinne.

Taaldinge 8 Desember 2024
Waar kom Afrikaanse vloekwoorde vandaan? Die taalkundige, Prof. Gerhard van Huyssteen van die NWU, vertel vir Ina Strydom meer oor die herkoms van karnallie, maaifoedie en gigolo; en hy praat ook oor vloekwoorde as belangrike aanduiders van taalverandering.

Taaldinge 24 November 2024
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) bied ‘n groot aantal dienste en projekte aan, en dié lys groei jaarliks aan. Die bestuurshoof, Marlie Coetzee, vertel vir Ina Strydom wat alles die afgelope jaar gebeur het.

Taaldinge 17 November 2024
Verskeie studies het reeds die groot leesbegripprobleem by Suid-Afrikaanse skoolkinders uitgewys. Prof. Elize Vos van die vakgroep Afrikaans in die NWU se Fakulteit Opvoedkunde, vertel vir Ina Strydom meer oor die probleem, die strategieë om dit op te los, en watter rolspelers betrokke is en moet wees.

Taaldinge 10 November 2024
Baie taalgebruikers sukkel met die los en vas skryf van woorde, en dikwels word gesê “een begrip is een woord”, maar dit is nie ‘n goeie maatstaf nie. VivA se projekbestuurder: skoolgrammatika vir die onderwys, Nadine Fouche-Karsten, verduidelik aan Ina Strydom watter meer doeltreffende maniere daar is om te bepaal of woorde los of vas geskryf moet word. En dan is daar nog altyd die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls!

Taaldinge 3 November 2024
Die dood op 25 Oktober van die akademikus en skrywer, prof. Hans du Plessis, laat ‘n reuseleemte in die Afrikaanse leefwêreld. In dié huldigingsprogram word 'n onderhoud wat Ina Strydom in Junie 2019 met hom gevoer het, weer uitgesaai. Dit fokus onder meer op taalverskeidenheid; Afrikaans as ‘n inheemse gedekoloniseerde taal; en die ontstaan van Afrikaans.

Taaldinge 27 Oktober 2024
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal moet teen 2028 voltooi wees. Die gedeelte oor die letter U, is pas afgehandel en aanlyn bekend gestel. Die eindredakteur van die WAT, Gerhard van Wyk, vertel vir Ina Strydom hoe die proses verloop, lig 'n paar interessanthede uit wat in die gedeelte voorkom, en vertel ook wat gebeur as Z voltooi is.