
Radioteater
382 episodes — Page 1 of 8
‘N ONVERWAGSE KRISMISBOKS deur Christo Davids
BLOED VAN MY deur JJ Roberts
KALAHARI STERRE deur Adam Willemse
SUIKERBEK deur Ingrid Penzhorn

GEBAKTE PERE deur Karin du Toit
Marnus se eerste dag op universiteit kon nie met ’n groter skok begin het nie. Emma daag ná maande se stilswye skielik by die woonstelblok waarin hy sal tuisgaan op met die nuus dat hy die pa van ’n kind is. Sy laat die baba in die drie woonstelmaats se sorg, en sê sy het die fopspeen in haar motor vergeet. Sy kies die hasepad. Vyf dae lank het die drie probeer huishou met klein Peertjie, en uiteindelik bel Adriaan sy tante Magda om te vertel van Marnus se gebakte pere. Magda kom haal die kind, en vier jaar later by die gradeplegtigheid, is dit duidelik dat Marnus en Emma versoen is, en met Magda se hulp, die trotse ouers van die vierjarige Nathan is. Karen du Toit is as gesamentlike naaswenner aangewys in RSG se 2025 Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met ATKV. Die regisseur is Lelia Etsebeth, met Christopher van der Westhuizen, Dihan Keun, JJ Roberts, Izel Bezuidenhoud, Marina Coetzee en Gretha Brazelle in die rolverdeling.

DIE HERBERGIER deur Esta Steyn
Die herbergier van Betlehem wat vir Maria en Josef skuilplek gegee het en saam met sy gesin die geboorte van Jesus meegemaak het, woon in Jerusalem by sy oudste seun toe Jesus 33 jaar later gekruisig word. Hulle word gekonfronteer met die onvermydelike van sy teregstelling, maar ook met konflik in der midde as hulle jongste seun saam met die tempelwag optrek om Jesus gevange te neem. Die regisseur is Helena Hugo met Cobus Visser, Gigi Strydom, Martin Jansen, Bertha le Roux-Wahl, Eswé Bruwer en Anrich Herbst in die rolverdeling.

MEEU-RUS deur Jana Nortier
Stefan, Dawid de Kock se buite-egtelike kind, erf die familieplaas ná sy afsterwe. Elna en Hein, Dawid se kinders uit sy huwelik, betwis die testament, en roep die hulp in van Landi Arendse. Landi het egter ‘n geheim van haar eie. Die spelers is Ryno Hattingh, Kim Cloete, De Waal Stemmet, Stephanie Baartman, Christine Voorendyk en Francois van Rensburg. Die regisseurs is Christelle Webb-Joubert en Juanita de Villiers. Die drama is derde plek-wenner in die 2025 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

'N WONDERWERK VIR KERSFEES deur Riana Scheepers
Die “wonderwerk” in hierdie drama is gebasseer op 'n werklike gebeurtenis. Dit het regtig so gebeur dat tannie Bettie Nysschen, 'n bekende en geliefde figuur van buite Wildernis, haar huisdeur se sleutel gebruik het om haar bakkie oop te sluit en weg te ry nadat haar huis aan die brand geslaan het. (Egter nie tydens Kersfees nie.) Die res van die gebeure en karakters is fiktief. Tannie Sara is ’n weduwee, Sy bedryf ‘n padwinkel wat groente, vrugte, tuisgemaakte produkte, melk en eiers verkoop. Wilhelm, haar seun, help haar op die plot. Sy ideaal is om eendag sy ma te ondersteun. Hy is begaafd en wil graag gaan studeer met die bietjie geld wat hy en sy ma bymekaar kon maak. Marie is Sara se dogter, en hoog swanger. Wilhelm het nie een goeie woord vir sy suster en haar kêrel, Chrisjan nie. Chrisjan identifiseer homself as ‘n profeet wat gedurig die Woord voorhou as sy morele kompas. Hy sien ‘n eienaardige ooreenkoms tussen Marie se swangerskap en dié van Maria met die geboorte van Jesus. Hy en Marie is nie getroud nie, maar onderneem om die kind groot te maak asof hy die Messias is. Dis Oukersdag, ‘n boom word versier, kerse word aangesteek, en ‘n feesmaal word voorberei vir die klein Barnard-gesin en Chrisjan. Die karakters wens elk vir hulle eie wonderwerk, en dit is die katalisator wat ‘n wonderwerk vir almal laat gebeur. Vir sommiges goed en vir ander minder goed. Die spelers is Joanie Combrink, Mariechen Vosloo, Anrich Herbst, Dean Balie en Rolanda Marais. Johan Rademan is die regisseur.

PENDORING (EDMS) BEPERK deur Ampie van Straten
Die eksentrieke kopieskrywer, Gert Klopper se passie, Afrikaans, wat hy liefderik as sy “meisie” beskryf, bots met konvensionele taalreëls. Sarie, ’n jong vrou wat by Gert kom werk, is geboei deur sy ongekunstelde, avontuurlike taalgebruik, en sy sjarmante uitlatings oor sy taalliefde én haar gemmerkoekies!. Hulle humoristiese en hartlike verhouding is die hooffokus van die verhaal. Die rolverdeling is Katinka Heyns, Matthys du Toit, Arno Kotze, Martie Lee, Paul Eloff, Francois Nel, Hennie Oosthuizen, Will Bernard, Francois de Bruin, Willie Pretorius, en Allewyn Lee. Roelf Jacobs het die regie behartig. Die klankbaan is opgeneem met ‘n lewendige orkes onder leiding van Theo Erasmus.

MISVERSTAND deur Anene Loots
Elna probeer haar wankelrige huwelik red deur vir haar man, Bert, ‘n verrassingspartytjie te reël om sy 60ste te vier. Bert raak agterdogtig, en kom tot sy eie gevolgtrekkings... Die spelers is Joanie Combrinck, Albert Maritz, Nic de Jager en Ané Fourie. Thomas van Niekerk debuteer as regisseur.

VLUGVOOS deur Ronel Mostert
Die weduwee Cumi was maar vir enkele maande met André getroud voor sy hom dood op die sitkamervloer aangetref het. Hulle het mekaar in Viëtnam ontmoet waar sy op vakansie was, en is ná ‘n blitsromanse getroud. Skielik is daar verskeie geheime wat nou op die lappe kom, soos dat haar oorlede man ‘n broer en ‘n ouma het waarvan sy nie geweet het nie. Hulle was ook nie van haar bestaan bewus nie. Sy weet ook nie eintlik wat André vir ‘n lewe gedoen het nie... En nou is sy die hoofverdagte in die moord. Wat het André weggesteek, en wat was die aard van sy transaksies in Viëtnam? Is Cumi so onskuldig soos wat sy voorgee? As sy nie die moord gepleeg het nie, wie het dan en hoekom? Die spelers is Juanita de Villiers, Mariëtte Engelen, Anton Engelen, Andreas Jordaan en Claudia Jones. Die regisseur is Ina Strydom.

VERMIS, OPHELIA deur Maria Vos
Nella kuier op ’n klein kusdorp om haar ouers te help intrek, maar nadat sy met die uitpakslag ’n klompie glase breek, besluit haar ma sy wat Nella is moet eerder die plaaslike kerkbasaar se reëlings oorneem. Dié eenvoudige guns ontaard in ’n besonder stresvolle geleentheid toe ’n boer met die verkeerde soort skenking opdaag, en die buurdorp se oorbedrywige polisiesersant die kleinvee aan die stert beetkry. Met Lizelle Pike, Pietie Beyers, Elzette Maarschalk, Hannes Brümmer, Nana Stapelberg en DeWaal Stemmet. Juanita de Villiers het die regie behartig.

EINDFLUITJIE deur Albert Short
Waar was jy tydens die 1995 Rugby Wêreldbeker-eindstryd? Onthou jy nog Stransky se skepskop? Regisseur Johan Rademan was saam met Heinrich Marnitz 30 jaar gelede in die kommentaarspan, en al die aksie en drama word verweef in Albert Short se radioteater, EINDFLUITJIE. ‘n Seun wie se droom om eendag die groen-en-goud te dra, het nie kaartjies vir die eindstryd nie, maar beland langs die Ellispark-rugbystadion waar hy wonderwerke beleef en ‘n liefde ontdek in ondernemende geselskap. Die drie skoliere word vertolk deur Stefan Vermaak, Jane de Wet en Eloff Snyman. Wilhelm van der Walt, Roeline Daneel en Deon Lotz verteenwoordig die ouer garde. In hierdie drama, onder regie van Johan Rademan, beleef jy saam die 15-12 Springbok-oorwinning oor die All Blacks, en al die skoppe, waarvan drie skepskoppe.

DESEMBERSTERRE deur Helena Hugo
Die lewe van bekende sepiesterre prikkel die verbeelding van Jan Alleman. Voorblaaie vertel die stories van hulle lewe agter die kameras. Deesdae neem sterre die storie in hulle eie hande, en deel dit op sosiale media. Dit vertel steeds net geselekteerde en soms gepoetste weergawes van wat die sterre en die vervaardigers met ons wil deel. DESEMBERSTERRE bied ‘n humoristiese kyk op die regte lewe van ‘n paar sepiesterre, en ons leer meer oor hulle persoonlike en professionele uitdagings. Die spelers is Lizelle Pike, Dihan Keun, Botha Enslin, Mia-Anne O’Kennedy, Sean Brebnor en Rian Terblanche. Estel de Beer het die regie behartig.

DAAR LEEF MENSE DAAR deur Athol Fugard
Die drama speel af in ‘n vervalle losieshuis in Johannesburg. Millie, die middeljarige eienaar van die losieshuis, wat afgesonder en onvergenoegd voel, probeer tevergeefs die aandag van ‘n lang verlore kennis trek. Sy beraam planne om vir die buitewêreld te wys dat haar lewe en haar huis nog ‘n plek is waar mense kan leef. Die loseerders word opgekommandeer om haar met hierdie planne by te staan. Don is ‘n filosoof van aard, wat sy intellektuele vermoë laat geld deur gedurig Millie se geestestoestand te ontleed. Shorty, ‘n ongeskoolde posbode, loseer saam met sy vrou, Sissy, by Millie. Op die vooraand van haar verjaarsdag besluit sy om 'n partytjie saam met haar loseerders te hou, in 'n poging om te bevestig dat "mense daar woon", dat hulle lewe betekenis het ten spyte van hulle onbekendheid en eensaamheid. Soos die aand ontvou, verander die partytjie in 'n rou, emosionele konfrontasie oor mislukking, veroudering en die behoefte aan menslike verbintenis. In die rolverdeling is Deidre Wolhuter, Johann Nel, Wessel Pretorius en Hannah Borthwick. Marko van der Colff het die drama in Afrikaans vertaal. Margot Luyt het dit vir die radio verwerk, en die regie behartig.

TWEE GRAFGRAWERS EN ‘N MELKHOUT deur Jaco Versveld
Bruce en Brendan grawe saam grafte. Albei om verskillende redes. Bruce spaar vir ‘n operasie sodat sy siek kind weer kan loop. Brendan dien gemeenskapsdiens uit vir bedrog. Of só sê hy... Wanneer Brendan skielik agterdogtige vrae begin vra oor die begraafplaas en hoe dinge daar werk, begin Bruce wonder of daar meer as net ‘n kis en ‘n kluit by Brendan se belangstelling betrokke is. Die drama is die wenner van die merieteprys in die 2024 RSG-radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV. Die spelers is Phillru van Achterbergh, Mortimer Williams, Kevin Smith, Francois Stemmet en Izette Blignaut. Die regisseur is Renske Jacobs.

GENADE, PROFESSOOR! deur Nico Luwes
Die Rachmaninoff-liefhebbende professor Weiss is peinsend besig met die taak om sy geliefde musiekdepartement te probeer red. Met die soeke na oplossings word dit baie duidelik dat nie alles in sy departement se kluis pluis is nie: kontant-kaartjieverkope by konserte verdwyn spoorloos. Dit word sy en sy kollega, mev. Schimper, se taak om die raaisel op te los, maar daar is ‘n moontlikheid dat hulle twee dalk meer as net romantiese vonke met mekaar deel. So word ons heldin, mej. Stamper, ook in die misterieuse sage ingetrek. Sy is die lojale sekretaresse van prof. Weiss, maar kan sy haarself neutraal hou sodat die ware skobbejak vasgetrek word? As ‘n toegewyde katliefhebber verkies sy haar Mephistophelies se geselskap bo haar mededepartementslede se leuens en verdagte gedrag. Maar wie is die werklike geldgierige skuldige? Die spelers is André Odendaal, Bertha le Roux-Wahl, Sulette Thompson, Botha Enslin en Mada Oosthuizen. GENADE, PROFESSOOR! was ’n finalis in die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie. Die regie word behartig deur Karen Wessels.

‘N STASIE IN DIE NIET deur Chris Barnard
Chris Barnard het hierdie radiodrama in 1970 geskryf. ’n Man se huwelik is op die rotse. Hy knoop ‘n verhouding aan met ‘n veel jonger vrou. Dit speel af in ‘n hotel langs die see, met deurlopende terugflitse. Die trein word ingespan as leitmotief en bindende metafoor. Die akteurs in hierdie “herverbeelde” radiodrama is: Anrich Herbst, Karli Heine en Neels van Jaarsveld. Frieda van den Heever het die regie behartig.

DIE BESOEKER deur Herman Cronjé
‘n Dertienjarige meisie is dood in ’n tref-en-trap-ongeluk in die jare 90. Die ongeluk het naby Truida en Karel Conradie se huis plaasgevind. Die twee moet iets van die ongeluk weet, want Karel neem sy eie lewe, en Truida word jare later gediagnoseer met ’n erge geestessiekte. Marko, hulle seun, vind die waarheid uit wanneer hy en ’n vriend ‘n toegeboude agterdeur in die kombuis ontdek. Hierdie deur laat hom teruggaan in tyd, en so vind hy uit hoekom sy pa sy eie lewe geneem het, en waarom sy ma opeindig in Neurobergh, die psigiatriese hospitaal op die dorp. En ook wie verantwoordelik is vir die meisie se geheimsinnige dood. Die spelers is Rina Nienaber, Ilse Klink, Donovan Pietersen, James Borthwick en Johan Joubert. Johny Klein het die regie behartig.

DIE DAMHUIS deur Reinet en Dirk Nagtegaal
Wat deesdae die Damhuis-restaurant op Melkbosstrand aan die Weskus is, was nagenoeg 240 jaar gelede deel van die plaasopstal van ene kaptein Christiaan Brand. Toe die kaptein, sy vrou Gesina, en twee slawe, Kassien April en ’n jong vrou genaamd Mali, n die laat 1700’s daar aangekom het, was daar niks. Net melkbosse. Hulle het jare lank aan ’n woonhuis en ’n visskuur gebou waarin die Brands soutvis gedroog het – net soos wat daar vandag nog aan die Weskus bokkoms gemaak word. Die verhaal strek oor etlike dekades – van Christiaan en Gesina se troudag, tot ver verby hulle afsterwe. Dit speel af teen die agtergrond van ’n baie verwarrende era in die geskiedenis, toe die Kaap binne ’n kwessie van tien jaar eers onder Nederlandse, toe Britse, toe Bataafse en toe wéér Britse bewind was. Hierdie politieke skommelinge, onsekerhede oor grondbesit en die moontlike bedreiging van ’n oorlog waarna Christiaan as oud-offisier dalk weer opgeroep kan word, sorg vir ’n spannende storielyn. Dit vertel ook hoe die hegste familiebande soms niks met bloed te make het nie. In die twee vroulike hoofrolle is Erica Wessels en Lee-Ann van Rooi. Die ander spelers isn André Terblanché, David Isaacs, Èmil Haarhoff, Nienke Geldenhuys en Albert Smit. Vir die radio verwerk deur Henriëtta Gryffenberg. Die regisseur is Sophia van Taak.

DIE LAASTE ONTSNAPPING deur Stefaans Coetzee en Annerle Barnard
Lupin, ʼn gewese restauranteienaar (65), hou die rekord vir die meeste ontsnappings uit Suid-Afrikaanse tronke. Hy wil nie in die tronk sterf nie, maar is te oud om te ontsnap. Hy vra vir Roux Steyn, die antiheld van Sel 6, om hom dood te steek. Roux weier – hy is immers ‘n bendelid en dwelmsmous, nie ’n moordenaar nie. Hy besluit om eerder vir Lupin te help ontsnap. Maar, gevangenes kan tot twee jaar af kry as hulle ‘n ontsnapping rapporteer. Sal Lupin daarin slaag om te ontsnap, of sal Roux sy vriend doodsteek? Die spelers is André Odendaal, JJ Roberts, Phillru van Achterberg, Donoven Pietersen, Mortimer Williams en Cassius Davids. Eddie de Jager het die regie behartig.

BROODLYN deur Hein Poole
As kind het Franklyn die besluit gemaak om nooit weer onder die broodlyn te lewe nie. Hy sal self bepaal waar die broodlyn lê. Maar regverdig die doel altyd die middele? As enkelouer het hy altyd sy seuns eerste geplaas, maar dié twee het hulle eie agendas. Hoe gemaak as jou gesag skielik bevraagteken word, jou naastes jou verraai, en dit lyk asof jy nie eers op jou eie geheue kan staatmaak nie? Hierdie vrae maal in Franklyn se kop... Die spelers is André Samuels, Hein Poole, Angelo Bergh, Ingrid Vraagom, Lee Roodt en Karli Heine. Die regie is behartig deur Chloè van Rooyen.

HOSPITAALSAAL IN BLOEM deur Albert Maritz
Die drama speel af in ‘n psigiatriese saal van ‘n hospitaal, waar ‘n klompie dienspligtiges tydens die apartheidsjare hulle bevind. Die jong mans se ervaring van die grensoorlog en die posttraumatiese stres wat dit tot gevolg gehad het, word belig. Sommiges was recces, 32 bataljon geharde soldate, en sommiges wou graag grens toe gaan, maar is medies ongeskik verklaar. Die drama bevat volwasse inhoud en taalgebruik wat sensitiewe luisteraars kan ontstel. Die spelers is Viljee Maritz, Wessel Pretorius, Pieter van Zyl, Carel Nel, André Terblanche, Pedro Camara en Tanja Franzen. Die regisseur is Joanie Combrink.

ROOI PAPAWER deur SD Fourie
Thea en haar suster Anna se verhouding is problematies. Thea verstaan nie hoekom Anna oorbeskermend teenoor haar optree nie, en sy kom in opstand daarteen. Sy glo Anna het haar te jonk in ‘n huwelik ingedwing. Thea ervaar trauma en sy beland in ‘n senukliniek. Om haar te help herstel, neem Anna haar Ciprus toe vir ‘n vakansie. Daar ontmoet sy iemand wat uiteindelik verstaan hoe sy voel. Sy sien ook wat volgens die Griekse mitologie die geboorteplek van Afrodite, godin van skoonheid en liefde, is. Sy het nog altyd gevoel asof sy ‘n spirituele band met Afrodite het. Wanneer sy vier maal om die godin se rots in die see by Pafos probeer swem, het dit verreikende gevolge – sowel groot hartseer as verligting. Die spelers is Elma Potgieter, Anton Dekker, Charlie Bouguenon, Louise Eksteen en Stephanie Baartman. Die regisseur is Mari Snyman.

MY JAPAN deur Schalk Schoombie
Op 11 Maart 2011 het ʼn verwoestende tsoenami Japan getref. ʼn Onderwyseres wat Engels in Japan gee, Angelique Naudé, het die ramp eerstehands meegemaak. Sy het haar ervarings en indrukke met die bekende joernalis, Schalk Schoombie, gedeel. Schalk het dit in ʼn pryswennende jeugdrama verwerk, en toe as radiodrama. Die verwoestende gebeure word deur verskeie karakters se oë uitgebeeld. Die spelers is Donna-Lee Roberts, Rolanda Marais, Melt Sieberhagen, Stefan Vermaak, Christine Voorendyk en Ursula Vorster. Die regisseur is Leon van Nierop.

AS KLUISE KON PRAAT deur Marion Erskine
Die verhaal is losweg gebaseer op die 1977 Krugersdorp-bankroof, wat tot vandag toe nog nie opgelos is nie. Vier mynwerkers besluit hulle gaan die grootste bankroof in die Suid-Afrikaanse geskiedenis uitvoer. Hulle beplanning was so fyn dat geen spoor agtergelaat is nie - net ‘n paar rooi gesigte en vier Elvis-maskers. Charlie Bouguenon, Karen Wessels, Kaz McFadden, Estelle Grobler, Kevin Smith, Christopher van der Westhuizen en Hannes Brümmer is te hoor in hierdie raaiselagtige drama. Leon van Nierop is die regisseur.

KEN JY VIR FYTJIE ELAND? deur Eben Cruywagen
Dit is die jaar 1913. Iewers tussen Griekwastad en Campbell boer Johannes Eland en sy broerse met skaap en bees. Sy vrou, Katrina, is ’n nasaat van die groot Adam Kok I. Hulle sestienjarige dogter, Fytjie, is verlief op Tariq Mentoor, ’n man van minstens tien jaar haar senior, wat vir ’n diamantdelwer aan die oewer van die Garieprivier in die omgewing van Douglas werk. Wanneer Johannes haar verbied om enige kontak met die man te hê, verdwyn sy skielik een nag. Sonder geld, maar met die vaste geloof dat hulle Fytjie sal opspoor, lei hulle soektog te voet na Douglas en vandaar na Kimberley met die hulp van ’n transportryer. Vandaar ry hulle (onwettig) per goederetrein na Kaapstad, waar Jamila Allie hulle in die Bo-Kaap werk en huisvesting bied. Ná tien jaar en ’n vrugtelose soek na Fytjie, sterf Jamila in Desember 1923 aan maagkanker, en word Johannes en Katrina op grond van Jamila se getuigskrif onderskeidelik as tuinier en kok aangestel in diens van senator Christiaan Brand en sy vrou, Francina, ’n maatskaplike werkster. Sestien maande later op 8 Mei 1925 kan Christiaan Brand die oorwinning vir Afrikaans as amptelike taal met dankbaarheid en trots deel met Johannes Eland, met wie hy ’n noue band oor die verloop van daardie tydperk ontwikkel het. Maar wanneer sou Johannes en Katrina dan kon ophou om die Kaapse strate te deurkruis en feitlik elke mens, vol hoop en geloof die vraag te vra: Ken jy vir Fytjie Eland? Die rolverdeling sluit in Johny Klein, Eloise Cupido, Claudia Jones, Solomon Cupido, Shemane Harris, Allan Dyssel en Marintha Labuschagne. Gavin Mathys het die aksentafrigting behartig. Die regisseur is Lelia Etsebeth.

KONNEKSIE deur Marion Erskine
Verbeel jou jy is in 2050 waar kunsmatige intelligensie tot jou voordeel... of nadeel kan strek. Dawid le Roux is ‘n rekenaarprogrammeerder. Hy is nie te vinde vir te veel geselskap nie, en is tevrede net met Amanda. Hy word egter gekonfronteer met die kunsmatige wêreld wat hy vir homself skep. Verkies jy eerder ʼn kantoor vol mense en ’n lewensmaat, of beheerde eensaamheid? ‘n Wêreld van tegnologie het voordele, maar ook uitdagings. Die stryd tussen mens en masjien is nog lank nie verby nie. Die spelers is Deon Lotz, Sharfa du Plessis, Anrich Herbst, Denver Vraagom, Ilne Fourie, Karli Heine en June van Merch. KONNEKSIE is die wendrama van die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV. Die regisseur is Johan Rademan.

LENIESGIF deur Hendie Grobbelaar
Benjamin de Kai is ʼn uitgebrande en ontnugterde liefdesverhaalskrywer wat probeer om ʼn ernstige roman die lig te laat sien. Sy uitgewer se nuwe assistent, Dania, dwing hom om by Leniesgif, haar afgeleë familiehuis langs die Kaapse Suidkus, te gaan werk sodat hy kan fokus en sy manuskrip voltooi. Leniesgif is egter die woonplek van ʼn paar spoke, soos Benjamin tot sy ontsteltenis ontdek. Lenie Kruger, haar stiefdogter Hanna, die bekkige Franse matroos Thomas en die pratende hond Goebbels het elkeen ʼn geheim en ʼn versugting om afsluiting. Dan is daar natuurlik die weggesteekte skat, en hoe pas Benjamin in Dania se slinkse plan? Amor Tredoux is die regisseur met Carel Nel die rol van Benjamin vertolk. Lochner de Kock, Ronel Geldenhuys, Conradie van Heerden, Talana Rossouw en Anene Loots voltooi die ensemble.

LYNE WAT KRUIS deur Wilmi Wheeler
Janine is 19, vol twyfel en vars in die grootmenswêreld. Haar eerste werk - ’n oproepsentrum vir ’n versekeringsmaatskappy - voel eerder soos ’n daaglikse toets wat sy net nie kan slaag nie. Twee maande in en sy het nog nie ’n enkele polis verkoop nie. Lindsay, ’n meer ervare kollega, gooi vir haar ’n reddingsboei: ’n lys van kliënte wat aanlyn oor lewensversekering navraag gedoen het. Heel bo aan die lys: Maggie Grove. Janine verwag nog ’n standaard oproep, nog ’n ongemaklike of ongeskikte "nee dankie", maar wat sy kry, is iets heel anders. Lyne wat kruis deur Wilmi Wheeler, is die derde plek wenner van die RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

DIE VRYWORDING VAN EGBERTUS LODEWIKUS APPEL deur Manie Groenewald
Dit is Stella se 64e verjaardag in ‘n aftreeoord. In ‘n toestand van neerslagtigheid het sy niemand vir die geleentheid genooi nie, en wil ook nie vir enige besoeker regstaan nie. Haar buurman daag op en slaag daarin om haar uit haar depressie te kry. Maar dan daag ‘n tweede gas op, wat al die goeie pogings van die buurman tot niet maak, en Stella dwing om met die familiegeraamtes in haar kas na vore te kom. Die regisseur is Johny Klein, en die spelers is Rika Sennet, Tobie Cronjé en Luan Jacobs. Die drama is die merietewenner van die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

DIE VERSAMELDE DAGBOEKE VAN ENE PROFESSOR WEIDEMANN deur Shawn Day
Shawn Day is die wenner van die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV, in die Jong Skrywer-kategorie. ‘n Joernalis ondersoek die verdwyning van ‘n professor in kriptosoölogie nadat sy dagboeke deur sy vrou gepubliseer is. Daar is ‘n magdom vrae wat die joernalis nie kan beantwoord nie, en die enigste oplossing is om saam met een van sy kollegas Karoo toe te reis om die antwoorde te gaan soek. In hierdie dorre omgewing moet hy dan eindeloos soek vir die misterie wat sy lewe begin domineer. Die spelers is Hannes Brümmer, Mari Molefe van Heerden, Sulette Thompson, Francois van Rensburg, Elzabé Zietsman en Francois Stemmet.

KYSBRIEWE deur A.R. Gurney
Andrew en Melissa skryf vir sowat ses dekades lank vir mekaar briewe. Dit is ‘n wipplank- en uitdagende verhouding, wat veroorsaak dat hulle al hoe verder van mekaar wegdryf. Maar op papier blom die liefde steeds. Met Johann Nel, Juanita Swanepoel en Ronel Geldenhuys. Die regisseur is Eben Cruywagen.

DIE STER VAN BETHLEHEM deur Ludwig Emil Gryffenberg
Die drama speel af tydens die regering van die Romeinse Keiser Augustus, waartydens die Joodse volk, Israel, deel was van die Romeinse Ryk. Dit word vertel uit die oogpunt van 'n jong gestremde skaapwagter, wat in die buitewyke van Bethlehem skape oppas, terwyl sy vader snags die nagwake uitroep. In die ou dae voordat daar van horlosies gebruik gemaak is, was die gebruik dat die wagte op die mure om die stad, die stand van die sterre snags dophou om só die tyd te bepaal. Die skaapwagter, Mefiboset, se leergierige pa, Shamar, bestudeer en dokumenteer egter ook die stand van die sterre. Die verhaal skop af as 'n vreemde ster met 'n langstert sy verskyning op die horison maak. Die spelers is Hendré Henning, Charlie Bouguenon, Lizelle Pike, Kaz McFadden, Duncan Johnson, Antowan Nothling, Rian Terblanche en Henriëtta Gryffenberg. Eddie de Jager het die regie behartig. Die oorspronklike teks, WAGTERS OP DIE MURE, is verwerk vir die radio deur sy dogter, Henriëtta Gryffenberg.

DIE ONGEBAKTE ALASKA deur Johanna Steyn
Estelle en Hennie berei voor vir ‘n Kersmaal in hulle piepklein woonstelletjie. Haar ma en dié se vriend is genooi om die Kerstyd by hulle te kom deurbring. Sy wil graag haar ma beïndruk, maar dinge werk nie heeltemal uit soos wat Estelle dit beplan het nie. Die spelers is Hannah Borthwick, André Terblanche, Susanne Beyers, Albert Maritz en Conradie van Heerden. Joanie Combrink het die regie behartig.

MAMMIE SE VOORHUIS deur Erin Patience
Wanneer Mammie se deur vir almal oop staan, kan dit nogal bietjie erg raak vir Tamia. Dit voel of Mammie al haar aandag aan die bure skenk, en nie op haar fokus nie. Dit veroorsaak dat Tamia die goeie nuus wat sy ontvang het, van haar ma en haar pa weerhou. Maar, ook net omdat haar ma haar gedurig in die rede val. Tog verstaan sy dat die dood van haar broer, nie so maklik vir haar mammie was om te verwerk nie. Die spelers is is Zenobia Kloppers, René Cloete, Simoné Benjamin-Carolissen, Sharfa du Plessis, Cole Wessels en Enrico Hartzenberg. Die regisseur is Denver Vraagom.

GRENSGEVAL deur Rita Swanepoel
Wanneer Janet en Arno gaan kamp, word hy oorweldig deur herinneringe aan sy tyd op die grens tydens sy dienspligjare. Die spelers is Roeline Daneel, Eben Genis, Waldemar Schultz, Wessel Pretorius en Susanne Beyers. Die regisseur is Joanie Combrink.

WYSIE OOR DIE WATER deur Albert Short
Wysie oor die water is opgeneem en vervaardig deur siggestremdes in die ateljee van Innovation for the Blind op Worcester. Dis ‘n stormagtige nag op ‘n skip. ‘n Meisie bevind haar op die skeepsdek, alhoewel sy weet dat die veiligste plek eintlik haar kajuit sou wees. Nogtans bly sy, en ontmoet sy ’n geheimsinnige jong man. Dadelik is dit asof hulle mekaar ‘n leeftyd al ken. In die verwarring van golwe, seewater en wind raak dit al hoe moeiliker om helder te dink. Wanneer reuse golwe oor die dek spoel, en jy skaars kan sien wat om jou aangaan, is dit maklik om perspektief te verloor. Later wonder jy: waar is ek, en hoe lank is ek al hier? Maar net soos wat ‘n storm op die see vrees en verwarring bring, bring dit later ook kalmte en rus. En nuwe geleenthede. Ander dinge om te beleef. Die spelers is Sanna Antonie en FC Smit. Die viool is gespeel deur Morné van der Merwe. Die vervaardiger is Gavin Grundlingh, met regie deur Sarel van der Westhuizen.

MEVROU DOMINEE deur Riëtte Heslinga
Mevrou Dominee hunker, soos op menige ander Maandagoggende, na Sondag se oorskot-nagmaalwyn. In dominee se afwesigheid, pleit Gabriël by haar om nie in die versoeking gelei te word nie. Hy maak homself tuis op die pastorie se kombuiskaste, vanwaar hy alles beskou wat mevrou aanvang. Hy aanskou ook haar tweestryd: sy sukkel om die gemeentelede tevrede te hou, ten koste van haarself. Onse Mevroutjie, soos die klein dorpie se mense graag na haar verwys, se rug knak onder die las van verwagtinge, en dan sus die wyn in die yskas haar ergste pyn. Met Gabriël se leiding worstel sy deur haar eie verlede om alkoholvrye oplossings te vind vir haar hede. Die spelers is Cindy Swanepoel, André Stolz, Doctor Khasu, Gretha Brazelle en Tobie Cronjé. Die regisseur is Lelia Etsebeth.

DIE NAGSKUIT KOM deur Anton Treurnich
Abraham Cloete sukkel voort op sy plaas in die Sandveld ná sy vrou se dood. Sy dogter kom help hom na haar terugkeer uit Kaapstad, waar sy gekwalifiseer het as verpleegster. Dit is ‘n laat Saterdagmiddag, Junie 1940, en ‘n storm is aan die broei oor die Weskus. Ryk Swanepoel die polisiesersant kom verby met stories oor ‘n Duitse duikboot wat in die omgewing gesien is. Die storm beweeg in, en almal moet help om die diere van die rivier se bank af in te bring. Daar sien hulle die nagskuit met die waterstroom afkom. Eers lyk dit of daar niemand in is nie, dan sien hulle ‘n man wat in die boot lê. Hulle help hom tot by die huis. Die sersant vertel hulle dat die rivier sy banke oorstroom het. Die man van die nagskuit word wakker. Die perfekte storm... Die spelers is Deon Lotz, Estelle Grobler, June van Merch, Jacques Bessenger, André Samuels en Stefan Vermaak. Die regie is behartig deur Johan Rademan.

SOETE WRAAK deur Karen Wessels
As Lisa Bruwer by ‘n kamer instap, straal haar aura nie elektriese seksualiteit nie. Sy word gesien as ‘n moederfiguur, ‘n vriendin, die ouer sussie op wie se knoppie jy enige tyd kan druk. Ons het ons heldin al in die radioteater, Soete Drome, ontmoet, en haar leer ken as die versorger, die maatskaplike werker wat lojaal haar gemeenskap dien. Maar daar is ‘n punt in enige een se lewe waar jy die mantel as ewige vriend van jou skouers wil aftrek, en jouself wil oopmaak as iemand se wederhelfte wat saam in die liefde kan deel. Sersant Tiaan Malherbe probeer nou al vir jare die moed bymekaar skraap om Lisa uit te vra, homself weerloos te maak, en sy eie hart in die spervuur van verwerping te plaas. Sal sy die kans waag en haar hart aan die onbekende ontbloot? Of veilig in die bekende rus, en die onsekerheid wat met risiko gepaard gaan ontglip? Die spelers is Pierre Breytenbach, Marina Coetzee, Kevin Smith, Donovan Pietersen, Casper Lourens en Reginald Hufkie. Die regisseur is Karen Wessels.

PUTSONDERWATER deur Bartho Smit
Die drama speel af op ’n denkbeeldige gehuggie in ’n afgeleë woestynstreek van die land. Maria, ’n swanger tiener, word deur die gesagsfigure van die dorp – die dominee, die koster, die polisiesersant en die dokter – seksueel misbruik. Sy glo haar enigste hoop is om uit Putsonderwater te ontsnap, maar telkens word haar hoop verskuif na nuwe uiterstes wanneer die realiteit van haar omstandighede tot haar deurdring. Wanneer sy aan die einde van die drama ’n wiegeliedjie vir haar ongebore baba sing, word dit ’n metafoor vir die verwagte koms van die Verlosser van die wêreld. Bartho Smit se klassieke drama is destyds in Suid-Afrika verbied, maar word weer uitgesaai ter viering van die skrywer se 100ste verjaardag. Die spelers is Frieda van den Heever, Marlo Minnaar, Petrus du Preez, Johan Botha, Nic de Jager, Neels Coetzee en Johann Nel. Die regisseur is Eben Cruywagen.

SLAG deur Adriaan Havenga
Theunis Kriegler en sy dogter Willa woon op ‘n plaas, en boer met skape. Hulle leef afgesonderd, en kry nie dikwels besoekers nie. Daar daag een nag tydens ‘n storm ‘n vreemdeling op. Die vreemdeling, wat vir Theunis ontstellend bekend lyk, word ingenooi, met verreikende gevolge. Die akteurs is Tobie Cronjé, Juanita de Villiers en Donovan Pietersen. Ina Strydom is die regisseur.

IKARUS deur Sophia van Taak
’n Verhouding word 'n troebel terrein wanneer ’n paartjie nie meer openlik met mekaar gesels nie. Ná baie jare saam voel haar lewensmaat skielik vir Mari soos ’n vreemdeling. Wat het geword van die partydier-Dirk, die prettige ou vir wie sy destyds geval het? Toegegee, hulle het albei sedertdien groot geword, middeljarig geword… Maar sy gedrag is die laaste tyd só eienaardig dat Mari vir sy sielkundige gesondheid begin vrees. Hy is so afsydig en sy weet nie eens meer aldag waar hy heen gaan nie. As Dirk maar net wil práát! Sy bedink ’n plan wat hom forseer om een hele Saterdag saam met haar by die huis te wees, maar dan loop dinge lelik skeef. Die spelers is Jana Kruger, Wilhelm van der Walt, Bianca Flanders, Angelo Bergh, Johan Rademan en Marion Holm. Die regisseur is Sophia van Taak.

NAG VAN DIE LUIPERD deur Joe Kleinhans
Christo Kirsten en sy vriend, Buks Botha, vier hulle 50ste verjaarsdag in die Kgalagadi met ‘n sewe-dag toer. Hulle jarelange vriendin, die ryk weduwee Delia Dirksen, rëel alles en word deel van die verjaarsdagvieringe. Buks en Amy Botha is onbewus van wat op hulle een donker nag in die Bosobogolo-kamp wag. Wat is gevaarliker in die afgeleë Kgalagadi? ‘n Jarelange wrok tussen vriende, of ‘n uitgehongerde luiperd? Die spelers is Francois Stemmet, Jacques Gombault, Lizz Meiring, Marina Coetzee en Carl Trautman. Die regisseur is Estel de Beer.

EENDAG IN ALICANTE deur Mari Snyman
Toe Mira se man, David, dood is, onttrek sy haar. Sy hou op werk, vermy haar beste vriendin, Katrien, antwoord nie haar foon nie, en sy gaan nêrens heen nie. Katrien gee egter nie moed op nie. Sy ondersteun haar vriendin, en die twee deel herinneringe uit hulle verlede. Hulle dink onder andere terug aan 'n besoek aan Alicante, in Spanje, waar hulle vakansie gehou het, en waar Mira vir David ontmoet het. Dit was liefde met die eerste oogopslag. Mira en David het saam 'n tuinboubesigheid bedryf, en hulle visdam met 'n spuitfontein is vir haar baie belangrik. Wanneer die spuitfontein se pomp breek, roep sy die hulp van 'n nutsman in. Dis hoe sy Lourens ontmoet. Hy het al swaargekry in sy lewe en, sonder dat Mira dit beplan of voorsien, begin sy met hom gesels. Sy vertel hom van David, en begin stadig maar seker vrede maak met haar geliefde se dood. Maar dit bly nie net by gesels nie... Daar is heelwat kinkels in die kabel voordat Mira finaal kan afskeid neem van David. Die spelers is Elma Potgieter, Anton Dekker, Anton Schmidt en Heidi Mollentze. Die regisseur is Mari Snyman.

GELYKHEID EN BROEDERSKAP deur dr. Abel Coetzee
Ons toneel speel af in die Johannesburg van die 1930's, rondom 'n tafeltjie in ’n kafee waar 'n joernalis en sy fotograaf-vriendin sit. Die joernalis het 'n ontmoeting met 'n bedelaar gehad, wat 'n groot indruk op hom gemaak het. Na aanleiding sy vertelling aan sy vriendin, ontgin die twee hoofkarakters gedagtes op die vraag of ons, as mense, uiteindelik tog maar ongelyk is, en slegs 'n broederskap handhaaf met die mense van dieselfde stand. Die spelers is Carel Nel, Cintaine Schutte, Richard van der Westhuizen, Pieter van Zyl en Stefan Vermaak. Anrich Herbst is die regisseur. Vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen.

OU LEEUMELKER deur JWF Grosskopf
Oom Hansie is trots op sy kennis en ervaring as jagter, selfs al word hy deur die jonger geslag onderskat. Sy liefde vir die ou tradisies bots met die moderne wêreld rondom hom, en hy probeer sy plek daarin behou. Oom Hansie simboliseer die einde van 'n era, maar vasgevang in sy eie tradisie en trots. Die spelers is Cobus Venter, Christelle Webb-Joubert, Francois Stemmet, Rian Terblanche, Christopher van der Westhuizen en Hannes Brümmer. Juanita de Villiers is die regisseur. Vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen.

O, DIE DONKIE deur Pietman Geldenhuys
Die Pauw-tweeling (Jacques Bessinger en DeKlerk Oelofse) erf ’n plaas. Die padstal-duo (Richard van der Westhuizen en Anrich Herbst) vorm ‘n teenpool van blootstellings met die tweeling wat nie weet waar die klok se klepel hang nie. Rolanda Marais is die prokureur van die stad, wat die plaas toeken aan die metro-tweeling. Miché van Wyk is die barmhartige samaritaan op die platteland, met ‘n ondeundheid in haar. Die regisseur is Johan Rademan.

WRINGKRAG KINNERS deur Hein Henry Poole
Op ‘n plattelandse dorp is daar ʼn diep geheim wat John Junior en Nessa gaan skok. Hulle ouers verkies om dit stil te hou, omdat dit regtig nie saak maak nie. John Junior, nes die res van die gemeenskap, is versot op vinnige motors. Junior kry ʼn geleentheid om by ‘n motorwerktuigkundige ‘n ambag te doen. By sy huis, sukkel hy om sy groot liefde uit die kloue van sy neef, ʼn groot bendeleier, te red. Wat dit moeilik maak, is dat sy ware liefde, Nessa, aan dwelms verslaaf raak, en hy alles in sy vermoë doen om haar te probeer red. Die polisieman is kop in een mus met die bendeleier. Die skok wat die ouers tref wanneer hulle sien hoe die lewe hulle kinders insluk, ruk die mat onder hulle voete uit. Die akteurs is Hein Poole, Veronique Jephtas, André Samuels, Lee-Ann van Rooi, Cole Wessels, Albert Maritz en Merlin Balie. Die regie is behartig deur Frieda van den Heever.