
Middagvervolgverhaal
3,020 episodes — Page 3 of 61

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 22
Cor vind vir Norman in ‘n verlate pakskuur tussen Ponta do Ouro en Ponta Milimangala. Cor bel vir Stefan om hom in te lig dat hulle op pad is, maar dat daar ‘n klein ongelukkie met een van die Mosambiekse drywers was. Rian vind vir Shorty waar hy besig is om aan ‘n trok te werk. Hy het slegs een doel voor oë – die waarheid en wraak.

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 21
Rian word uit ‘n belangrike vergadering geroep om dadelik vir Sandra van HR te sien. Shorty versoek ‘n dissiplinêre verhoor en steun vanaf die KBVA. Cor bel vir Rian met die nuus dat Norman steeds skoonveld is. Rian begin besef Shorty se stories klop nie, en hy weet dalk meer as wat hy voorgee. Met die gebruik van ‘n toep vind hulle gou Norman se laaste selfoonkoördinate. Sal Cor betyds wees?

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 20
Janine en Stefan ontspan heerlik in ‘n afgesonderde ruskamp naby Johannesburg. Janine is bekommerd as sy steeds nie vir Norman in die hande kry nie. Rian stel Stefan gerus dat alles goed afgeloop het, en hy jok flink deur te sê dat Cor en Norman besluit het om nog ‘n paar dae langer in Mosambiek te bly. Shorty het pas teruggekeer van Mosambiek. Rian konfronteer hom, en gou klap die vuiste, maar hierdie keer slaan Shorty terug...

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 19
Cor en Shorty vier die suksesvolle aflewering van hulle onwettige goedere. Cor is veral opgewonde oor hoe maklik hulle die paneelkameras kon ontduik, maar raak dan bekommerd omdat Norman nog nie tuis is nie. Shorty speel dom en sê hy het hom by die strand afgelaai soos beveel. Anika dreig Piet met ‘n verdraaide storie van hulle skelm verhouding. Piet beloof haar ‘n vakansie in Frankryk vir haar stilswye. Die telefoon lui. Dit is Cor, met ontstellende nuus...

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 18
Dit is die geselskap se eerste dag in Mosambiek. Cor geniet sy broerskind se entoesiasme en leergierigheid. Hulle meld aan vir die aflaai van die kratte. Rian bel om te hoor of die spesiale “transaksie” al plaasgevind het. Cor verseker hom dat hulle vir Norman by die strand sal aflaai voor hulle geheime ontmoeting met die smokkelbaas, Galish. Shorty laai vir Norman by die strand af, maar sommer gou sien Norman dat hy nie op ‘n see-uitstappie is nie...

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 17
Arend Fillis word ingeroep vir ‘n ontmoeting met Sandra Jakobs. Maureen stel hom gerus dat hierdie ‘n onskuldige ontmoeting is. Arend voel egter dat daar meer agter hierdie vergadering skuil as wat Sandra voorgee. Sandra laat val dat daar ongerymdhede in die werkswinkel plaasvind. Arend besef vinnig hy is nie net aangestel as motorwerktuigkundige nie.

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 16
Dit is die aand voor die groot aflewering van Mosambiek. Janine voel onrustig oor die feit dat Norman saamgaan. Sy voel dat Cor nie bevoeg is om as voog op te tree nie. Stefan stel haar gerus, en stel voor dat hulle vir ‘n naweek weggaan om te gaan ontspan en te vergeet van al die Fortuna-familiedrama.

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 15
Rian flankeer skaamteloos met Anika en maak ‘n aanbod dat sy sy persoonlike assistent kan word vir dubbeld haar salaris. Arend sien iets verdag op Shorty se lessenaar, maar speel dom. Arend noem dat mensehandel ‘n groot probleem is, en dat hy wil weet wat is die sekuriteitsmaatreëls rakende die Fortuna-trokke is wanneer hulle oor die grens gaan. Dan kry Shorty ‘n slinkse plan...

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 14
Laurinda nooi vir Janine om by haar te kom tee drink. Piet daag by die huis op met ‘n bos lelies. Laurinda kry dadelik snuf in die neus. Piet speel dom oor die geheime stemboodskap, en noem dat dit vir Cor of Rian bedoel was. Hy beskuldig Anika dat sy rooihakskene het, en dat sy ‘n romantiese verhouding met een van die twee broers wil aanknoop.

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 13
Dit is Arend Fillis, die nuwe motorwerktuigkundige van Fortuna Trans, se eerste dag. Maureen hou dadelik van hierdie onskuldige jong seun met sy mooi maniere. Shorty hou niks van die gedagte dat hy ‘n stertjie gaan kry om op te pas nie. Sommer gou stel hy belaglike eise en opdragte aan Arend, wat Arend maar gedweë moet uitvoer. Shorty kry die gevoel dat Stefan hom dophou, maar hy sien sommer gou Arend is skadeloos. Of is hy?

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 12
Anika en Piet het ‘n geheime ontmoeting waar hulle ontbyt geniet by hulle gunsteling koffiewinkel. Rian sien hulle toevallig raak, en die paartjie moet vinnig kleitrap en die ontmoeting afmaak as ’n sake-ete. Rian vind uit dat Norman saam Mosambiek toe gaan, en hy sien rooi. Cor het weer sy eie kop gevolg.

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 11
Cor wys vir Norman hoe lyk die trokke en die nuwe paneelkameras van Fortuna Trans. Hy verduidelik wat die kameras alles kan doen, en manipuleer die situasie met Norman se voorliefde en passie vir rekenaarspeletjies en elektronika tot sy voordeel. Shorty keur dit glad nie goed nie. Cor vra vir Stefan of Norman kan saamkom Mosambiek toe, en gebruik hul wankelrige verhouding as troefkaart. Sal Stefan instem?

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 10
Cor en Shorty probeer ‘n stokkie voor die nuwe paneelkameras se beeldmateriaal steek. Cor kry, met die hulp van ‘n jong IT-student, ‘n spesiale program wat ‘n gedokterde filter oor die beelmateriaal kan plaas. Cor oortuig vir Norman om van syfers en boekhou te vergeet, en liewer te fokus op die nuwe paneelkameras van Fortuna Trans. Norman is dadelik geïnteresseerd. Miskien is Fortuna Trans nie so vervelig soos wat hy gedink het nie.

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 9
Sandra, die personeelhoof van Fortuna Trans, word dringend ingeroep om aan die drywers ‘n inligtingsessie aan te bied oor paneelkameras. Shorty is nie ten gunste van hierdie instelling nie. Hy voel die drywers word dopgehou omdat hulle nie vertrou word nie. Sandra verseker hom dat dit slegs vir hulle eie veiligheid is. Stefan deel die nuus met Shorty van ‘n nuwe aanstelling, wat Shorty warm onder die kraag maak.

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 8
Die drie broers ontmoet vir ‘n vergadering om die installering van die nuwe paneelkameras te bespreek. Gemoedere vat vlam, en Rian probeer vredemaker speel. Cor en Shorty ontmoet in die werkswinkel om die paneelkameras uit te toets. Sommer gou sien hulle dat hierdie hoogs gevorderde tegnologie is, en dat hulle vinnig ‘n plan sal moet beraam om hulle smokkelary en misdrywe te pleeg. Het Cor dalk reeds ‘n oplossing?

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 7
Piet en Laurinda du Preez geniet ‘n heerlike verrassingsontbyt, wat Laurinda vir hulle voorberei het. Laurinda noem aan Piet dat daar ‘n vreemde betaling uit haar bankrekening plaasgevind het - ‘n peperduur rekening vir ‘n hotelkamer. Piet trap klei, en skuif die blaam op ‘n CA van die Kaap. Dan kry Laurinda ‘n baie interessante stemboodskap, wat nie vir haar bedoel was nie...

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 6
Anika sien toevallig vir Cor in The Drunken Sailor-kuierkroeg. Sy is woedend, en voel misbruik en seergemaak dat Cor net verdwyn het sonder om haar te laat weet waar hy is. Stefan haal vir Norman oor die kole oor sy swak punte vir rekeningkunde. Norman voel sy pa is onbetrokke, en plaas onnodige druk op hom. Janine probeer vredemaker speel, maar is onsuksesvol.

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 5
Cor is tuis. Stefan wil hom ‘n paar warm klappe gee, maar Piet tree tussenbeide. Hy beskou Stefan se gedrag as kinderagtig en onvanpas. Cor beplan ‘n gesellige braai saam met sy ouers, waar hy hulle wil bederf met springbokfilet ná sy jagekskursie. Cor ontmoet vir Shorty in ‘n kroeg om sake te bespreek. Iemand sien per ongeluk vir Cor raak...

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 4
Stefan lê klem daarop dat die maatskappy moet belê in elektroniese hulpmiddels soos paneelkameras vir elke trok. Shorty word geroep om na die nuwe paneelkameras te kyk, en hy is in die wolke want diot sal sy werk makliker maak. Shorty kry ‘n interessante oproep van ‘n spesiale vriend wat hy al jare lank ken. Dan is daar ‘n klop aan die deur...

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 3
Shorty Swanepoel is behoorlik in die warm water. Rian du Preez ontbied hom om vir hom al die inklok- en uitkloktye van elke drywer, asook die dieselstrokies van die Mosambiekse aflewering, te bring. Cor is terug, en hy en Rian bespreek die gemors waarin Shorty hulle gedompel het. Cor ontvang ‘n oproep van ‘n vreemde nommer. Dit verander hulle planne drasties.

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 2
Piet du Preez belê ‘n noodvergadering, maar nie om te gesels oor Cor se verdwyning nie. Dit gaan oor ‘n verdagte Fortuna Trans-trok wat verlate staan op die Mosambiekse grens. ‘n Stewige boete moet betaal word. Rian kry ‘n interessante oproep. Cor is dalk veel nader as wat almal dink.

FAKSIE deur Ilne Fourie – Episode 1
Daar is ‘n ligte atmosfeer in die kantore van Fortuna Trans. Dit is net nog ‘n doodgewone oggend by die Du Preez-familie se onderneming, tot Anika ‘n oproep ontvang. Piet du Preez, die sakemagnaat en eienaar van Fortuna Trans, se jongste seun word vermis. Weet Anika meer as wat sy voorgee? Waar is Cor du Preez?

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 29 (slot)
Lena kry nie klaar gehuil nie. Emma hou nie op om haar te verras nie. Die kersversierings word weer geskuif. Lena en Emma maak boeke op. Die pakkamer kry ‘n nuwe naam.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 28
Ben nooi Hannes vir koffie en skok hom. Rudolf is erg ontsteld. Hy soek raad by Oupa Krismis. Dis weer tyd vir groet en afskeid. Die kersversierings en huismense is ewe hartseer.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 27
Lena bespreek haar ontsteltenis met Hannes, wat nie raad het nie. Oupa Krismis soek naarstigtelik na ‘n oplossing vir die kersversierings se jongste krisisse. Hy is verstom om te sien wie staan nader om te help. Hy beleef ‘n aand wat hy nooit sal vergeet nie.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 26
Daar is ‘n geskarrel in die sitkamer want ‘n Kersboom word versier, en alles moontlik word gedoen om te verseker dit loop nie op ‘n deurmekaarspul uit nie. Luma neem ‘n groot besluit. Hoe goed daar ook al beplan is, eindig die dag op ‘n droewige noot.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 25
‘n Hartseer Lena soek raad by Gloria. Gloria klop dadelik by Oupa Krismis aan vir bystand. Waaroor gaan al die drama? Worsie kom uiteindelik terug van sy naweekuitstappie vanaf Daisy. Die kersversierings hou asem op. Waarmee is Lena so bedrywig?

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 24
Hannes en Emma begin met Hannes se stapoefeninge. Gloria maak seker die kersversierings weet dis Welwillendheidsdag en almal weet wat dit beteken. Laataand begelei ‘n ontstelde Rudolf vir Gloria tuin toe. Wat het hy op sy hart?

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 23
Dis Oukersaand. Ben sit half verlore in die tuin. Lena druk hom in ’n hoek, en die twee praat hulle harte leeg. Luma en Lux besluit dis tyd om Blink uit sy wroeging te help. Almal se harte moet vol van die Kersfeesgees wees. Ben het ‘n groot versoek vir Oukersaand. Daar is ‘n klop aan die deur, en pandemonium breek los in die huis.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 22
Rudolf ontpop in ‘n storieverteller. Oupa Krismis en Rudolf maak vrede. Emma bly tog te geheimsinnig, en Ben kan dit nie meer hou nie. Emma het nóg ’n verrassing, en dit neem die wind heeltemal uit Ben se seile.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 21
Lena en Hannes hou voor hulle garage stil, en is heeltemal verstom. Hulle kan nie glo wat hulle sien nie. Die Kersboom is uiteindelik versier, en dit het Lena in trane. Wie hang waar? Blink is nie op ‘n goeie plek nie. Hoekom nie? Tinsel en Worsie spring aanmekaar.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 20
Emma is nog lank nie klaar om Lena en Hannes te verras nie. Emma en Ben word onverwags na die parkie naby hulle huis genooi, en hulle beleef ‘n onvergeetlike dag. ‘n Vreemde vrou klop aan Lena-hulle se voordeur.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 19
Die kersversierings is afgehaal omdat daar net eenvoudig nie tyd is om die Kersboom te versier nie. Dis asof daar aanmekaar verskonings is dat dit nie gebeur nie. Wanneer die nuwe Hollandsprekende kersversierings boonop voorkeurbehandeling kry, is die gevestigde kersversierings in sak en as.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 18
Daar is skielik net nie ‘n einde aan Tinsel se blink idees vir pakkamerproduksies nie. Hy is vas van plan om al die kersversierings te betrek. Ben moet bontstaan om seker te maak sy ma en pa kom nie agter wat besig is om by die huis te gebeur nie. Oupa Krismis stof Rudolf die Rooineus Takbok behoorlik af.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 17
Ben moet vroeg opstaan, want meneer Eben Glas daag by die huis op met sy werksvragmotor vol verrassings. Wat het Lux oorgekom? Ben praat onverwags verrassend mooi met die kersversierings. Worsie is weer op sy ergste, en hy gee van die kersversierings hope gas.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 16
Die huisgesin stres oor Hannes. Emma moet in leketaal vir Lena beduie wat gaan vir wat. Emma voer baie planne in die mou, wat Lena en Hannes heeltemal onkant vang. Daar is goeie nuus oor Worsie. Die kersversierings bestudeer die tekening wat Emma gemaak het oor hoe sy die Kersboom wil versier. Nie een van die kersversierings hou van Emma se tekening nie.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 15
Hannes gee vir Emma grys hare. Worsie maak skandes, en dryf Lena teen die mure uit. Wat gebeur? Blink is bekommerd oor hoe sake deesdae in die huis verloop. Met wie deel hy sy kommer? Die dag kan nie op ‘n meer ontstellende noot eindig nie.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 14
Tinsel onthou sy jeugdroom, en hy glo dis tyd om dié droom vlerke te gee. Waaroor gaan dit? Daar is nog ‘n liederlike bekgeveg in die tuin. Oupa Krismis praat Luma moed in. Een van die nuwe Hollandsprekende kersversierings is besig om kop en skouers bo die ander uit te staan. Wie is hy? Wat beplan hy?

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 13
Nog ‘n kersversiering steek ‘n spoggerige toespraak af. Dis duidelik dat daar voortaan Hollands in dié huis gepraat sal word. Lena besluit sy moet iets doen om vir Hannes te help. Wie help haar? Nóg ‘n ontvoering word aangemeld, en laat die kersversierings skarrel. Oupa Krismis raak kwaai.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 12
Die chaos van die aand noodsaak ‘n netjiese toespraak. Wie steek dit af? Ben kom uiteindelik uit die hospitaal, wat beteken Rudolf, vol stories, is weer deel van die kersversierings. Daar is ‘n liederlike bekgeveg in die tuin. Gloria fnuik die volgende ontvoering. Worsie verbreek sy stilte oor sy besoek aan die veearts.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 11
Lena probeer keer dat ‘n sekere operasie gedoen word. Tinsel maak uiteindelik sy opwagting, en al die kersversierings wil weet waar Rudolf hom so goed weggesteek het. Emma se hulp word ingeroep om met Worsie te help. Sy het ook nuwe planne met die Kersboom. Die aand eindig op ‘n taamlik chaotiese noot.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 10
Oupa Krismis is erg ongelukkig oor Gloria en Blink se nagkaperjolle, en hy draai geen nie doekies daaroor om nie. Hannes kry uit die bloute ‘n vreemde versoek. Ben kry ‘n onverwagse besoek in die hospitaal. Lena is erg bekommerd oor haar hart se punt.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 9
Terwyl Worsie erg ontsteld is, is Lena weer baie opgewonde. Emma deel ‘n brokkie nuus met Lena, wat ruk aan haar moederhart. Die Kersliggies, Luma en Lux, is op ‘n missie. Hulle besluit dis tyd om ‘n bietjie sielkunde op die bullebak van die huis toe te pas.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 8
Hannes loop hom onverwags vas in iemand wat vol dreigemente en prokureursbriewe is. Dit ontstel vir Ben. Oupa Krismis verlang hom stukkend na sy jongdae. Blink is nie naastenby so opgewonde soos Oupa Krismis nie. Gloria bedink ‘n blink plan.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 7
Meneer Eben Glas doen sy jaarlikse besoek, en hy is vol verrassings. Worsie die Verskriklike skakel oor na vyfde rat, en hy gee die kersversierings ekstra gas. Daar is ‘n kersversiering wat besluit aanval is die beste manier van verdediging teen Worsie se skrikbewind.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 6
Lena krimp byvoorbaat inmekaar toe sy weer vir ‘n koffietjie met ‘n soetdingetjie genooi word. Dit draai die knop op haar maag al hoe stywer. Die skokke hou net nie op nie. Een van die kersversierings ontpop as ‘n bekwame vakman met ‘n skroewedraaier en ‘n draadstroper in die hand. Skielik is daar meer van ‘n Kersatmosfeer in die huis.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 5
Ben moet na ‘n ander hospitaal verskuif word. Hoekom? Daar is drama in die tuin wanneer die verdwene kersversiering van aangesig tot aangesig met sy hartelose ontvoerder te staan kom. Lena word genooi vir ‘n lekker koffietjie saam met ’n soetdingetjie, en sy besef gou dit was nie om dowe neute nie. Hannes kry ‘n oproep wat hom gooi.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 4
Hannes en Emma ry inderhaas Harrismith toe. Die kersversierings besluit dis tyd om Worsie aan te vat. Die situasie in Harrismith se hospitaal is vloeibaar, en lewer nie dadelik al die antwoorde op waarna Hannes en Emma so naarstigtelik op soek is nie.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 3
Die kersversierings is hoogs ontsteld oor die verdwene kersversiering. Hulle weet daar kan net een sondebok wees. ‘n Groot soektog word van stapel gestuur. Hoe suksesvol is dit? Emma kry ‘n oproep wat haar erg ontstel.

KERSVERSIERINGS VAN HOOP deur Joe Kleinhans – Episode 2
Lena besef haar kinders is nie meer beskikbaar om haar met die Kersboom se versiering te help nie. Dít en die matriekwegbreek, ruk aan haar hart. Die leënes-sindroom word al hoe meer ‘n nare werklikheid. En terwyl een kersversiering reggemaak word, verdwyn ‘n ander een spoorloos.